die misterie van die heilige doop gebed by die …vaar. vrees god, op wie se bevel die aarde...

23
1 DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE OPNEEM VAN 'N KATKISANT Die priester, geklee in rason, epitragilion en felonion, blaas oor die gesig(te) van die persoon/persone wat gedoop gaan word en maak drie maal met die hand die teken van die Kruis op sy/haar/hul voorkop en bors: Priester In die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. (3x) Volk Amen. Priester Geseënd is ons God, immer, nou en altyd en tot in ewigheid. Volk Amen. En na hy sy hand op die hoof van die een/diegene wat gedoop gaan word gelê het, bid hy die volgende gebed. Priester Laat ons bid tot die Heer. Volk Here, ontferm U. Priester In u naam, o Here, God van die waarheid, en van u eniggebore Seun, en van u Heilige Gees, lê ek my hand op u dienaar(s) (N.) wat waardig geag is om toevlug te neem tot u heilige naam, en bewaar te word onder die skadu van u vleuels. Verwyder van hom (haar/hulle) daardie dwaling van ouds, en vul hom (haar/hulle) met geloof in U, en met hoop en liefde, sodat hy (sy/hulle) mag weet dat U die enige God is, die ware God, saam met u eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus, en u Heilige Gees. Gee dat hy (sy/hulle) in al u gebooie mag wandel, en die dinge wat U behaag mag bewaar, want as 'n mens hierdie dinge doen, sal hy daardeur lewe. Skryf hom (haar/hulle) in in u Boek van die Lewe en voeg hom (haar/hulle) by die kudde van u erfdeel; mag u heilige naam en dié van u geliefde Seun, ons Here Jesus Christus, en van die lewendmakende Gees in hom (haar/hulle) verheerlik word. Mag u oë altyd in barmhartigheid op hom (haar/hulle) gevestig wees, en ook u ore, om die stem van sy (haar/hulle) smeking te hoor. Laat hom (haar/hulle) vreugde vind in die werke van sy (haar/hulle) hande en heel sy (haar/hulle) nageslag, sodat hy (sy/hulle) u groot en mees verhewe naam mag bely, aanbid en verheerlik, en U altyd mag prys al die dae van sy (haar/hulle) lewe. Want al die kragte van die hemele besing U, en aan U behoort die heerlikheid, aan die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen. EERSTE EKSORSISME

Upload: others

Post on 13-Feb-2020

3 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

Page 1: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

1

DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP

GEBED BY DIE OPNEEM VAN 'N KATKISANT

Die priester, geklee in rason, epitragilion en felonion, blaas oor die gesig(te) van die persoon/persone wat gedoop gaan word en maak drie maal met die hand die teken van die Kruis op sy/haar/hul voorkop en bors: Priester In die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. (3x)

Volk Amen.

Priester Geseënd is ons God, immer, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen.

En na hy sy hand op die hoof van die een/diegene wat gedoop gaan word gelê het, bid hy die volgende gebed.

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester In u naam, o Here, God van die waarheid, en van u eniggebore Seun, en van u Heilige Gees, lê ek my hand op u dienaar(s) (N.) wat waardig geag is om toevlug te neem tot u heilige naam, en bewaar te word onder die skadu van u vleuels. Verwyder van hom (haar/hulle) daardie dwaling van ouds, en vul hom

(haar/hulle) met geloof in U, en met hoop en liefde, sodat hy (sy/hulle) mag weet dat U die enige God is, die ware God, saam met u eniggebore

Seun, ons Here Jesus Christus, en u Heilige Gees. Gee dat hy (sy/hulle) in al u gebooie mag wandel, en die dinge wat U behaag mag bewaar,

want as 'n mens hierdie dinge doen, sal hy daardeur lewe. Skryf hom (haar/hulle) in in u Boek van die Lewe en voeg hom

(haar/hulle) by die kudde van u erfdeel; mag u heilige naam en dié van u geliefde Seun, ons Here Jesus Christus, en van die lewendmakende Gees in hom (haar/hulle) verheerlik word. Mag u oë altyd in barmhartigheid op hom (haar/hulle) gevestig wees, en ook u ore, om die stem van sy (haar/hulle) smeking te hoor. Laat hom (haar/hulle) vreugde vind in die werke van sy

(haar/hulle) hande en heel sy (haar/hulle) nageslag, sodat hy (sy/hulle) u groot en mees verhewe naam mag bely, aanbid en verheerlik, en U altyd

mag prys al die dae van sy (haar/hulle) lewe. Want al die kragte van die hemele besing U, en aan U behoort die heerlikheid, aan die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

EERSTE EKSORSISME

Page 2: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

2

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester Die Here bestraf jou, o Duiwel, want Hy het in die wêreld gekom en onder mense kom woon, om jou tirannie te vernietig en die mensdom te bevry, Hy wat aan die Kruis oor die vyandige magte getriomfeer het, toe die son verduister is en die aarde geskud is en die grafte oopgemaak is en die

liggame van die heiliges opgewek is, Hy wat die dood deur die dood vernietig het, en die krag verbreek het van hom wat die heerskappy oor die dood gehad het, van jou, die Duiwel. Ek besweer jou in die naam van God, wat die boom van die lewe bekend gemaak het en die Gerubim aangestel het asook die vlammende swaard wat in die rondte draai om dit te bewaar.

Wees bestraf en gaan weg, want ek besweer jou in die naam van Hom wat op die see gewandel het, soos op droë grond, en die stormwinde bestraf het, wie se blik die Dieptes laat opdroog en wie se dreiging die berge laat wegsmelt. Want Hy self beveel jou nou deur ons: Wees bevrees, kom uit en gaan weg van hierdie skepsel(s) en keer nooit weer na hom (haar/hulle) terug nie, skuil nooit weer in hom (haar/hulle) nie, loop hom (haar/hulle) nooit weer raak nie en werk nooit weer op hom (haar/hulle) in nie en maak geen inbreuk op hom (haar/hulle) nie, nie bedags nie en nie snags nie en ook nie oor die middaguur nie, maar gaan terug na jou eie onderwêreld, tot die groot dag van die oordeel wat voorberei is. Vrees God wat sit op die Gerubim, en wat op die Dieptes afkyk. Vir Hom sidder die Engele, Aartsengele, Trone, Heerskappye, Vorstedomme, Magte, Kragte, die veelogige Gerubim, en die sesvlerkige Serafim. Vir Hom sidder die hemel en die aarde, die see en alles wat daarin is. Gaan weg en gee pad van die geseëlde, pasgekose soldaat (soldate) van Christus ons God; want ek besweer jou in die naam van Hom wat wandel op die wieke van die winde, wat sy Engele geeste maak en sy Dienaars 'n vlammende vuur. Kom uit en gaan weg van hierdie skepsel(s), saam met al jou krag en jou engele. Want verheerlik is die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

TWEEDE EKSORSISME

'Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester God, die heilige, die ontsagwekkende en glorieryke, wat onbegryplik en

ondeurgrondelik is in al sy werke en krag, Hy wat jou, o Duiwel, bestem het vir die vonnis van die ewige straf, beveel jou en al die kragte wat met jou

saamwerk, deur ons sy nuttelose dienaars, om te wyk van hom (haar/hulle) wat pas geseël is in die naam van ons Here Jesus Christus, ons ware God. Dus besweer ek jou, al-bose, onreine, besoedelde, afskuwelike en vreemde gees, deur die krag van Jesus Christus, wat alle gesag in die hemel en op aarde het, wat vir die doofstomme demoon gesê het: "Gaan uit hierdie mens

Page 3: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

3

uit en kom nooit weer in hom nie," Gaan heen, erken jou vergeefse krag, wat nie eens gesag oor die swyne gehad het nie.

Dink aan Hom wat jou, op jou versoek, beveel het om in die trop varke te vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal (Jes. 40:12), en die sand as 'n grens gestel het vir die see en 'n veilige pad in die siedende see, wat die berge aanraak en hulle laat rook, wat Hom met lig omhul soos met 'n kleed, wat die hemele uitspan soos 'n tentdoek, wat sy solders met waters bedek, wat die aarde gegrond het op sy grondveste, sodat dit nie sal wankel tot in ewigheid nie, wat die water van die see oproep en dit uitgiet oor die aangesig van die hele aarde. Kom uit, gaan weg van hom (haar/hulle) wat vir die heilige verligting voorberei word. Ek besweer jou deur die verlossende lyding van ons Here Jesus Christus, deur sy kosbare Liggaam en Bloed, en deur sy ontsagwekkende Wederkoms. Want Hy sal kom en nie talm nie, om heel die aarde te oordeel, en hy sal jou en die krag wat met jou saamwerk straf in die hellevuur, nadat Hy jou oorgegee het aan die buitenste duisternis, waar die wurm is wat nie slaap nie, en die vuur nie geblus word nie. Want die krag behoort aan Christus ons God, saam met die Vader en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen

DERDE EKSORSISME

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester Here Sabaot, die God van Israel, wat alle siektes en alle swakhede genees, kyk neer op u dienaar(s), deurvors en ondersoek hom (haar/hulle) en dryf uit hom (haar/hulle) uit alle werkinge van die Duiwel. Bestraf die onreine

geeste, en verdryf hulle, en reinig die werk(e) van u hande, en met die aanwending van u snelle ingryping, vergruis die Satan vinnig onder sy (haar/hulle) voete, en laat hom (haar/hulle) oor hom en sy onreine geeste seëvier, sodat hy (sy/hulle) met die verkryging van u barmhartigheid die onsterflike, hemelse misteries waardig geag mag word, en tot U die lof omhoog mag stuur, tot die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en

altyd en tot in ewigheid. Amen.

'N GEBED

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester O Heer en Meester, U wat is, wat die mens na u beeld en gelykenis geskape het, en hom die aanleg vir die ewige lewe geskenk het, wat hom, toe hy deur die sonde weggeval het, nie verag het nie, maar deur die menswording van u Christus verlossing vir die wêreld voorsien het: Aanvaar in u hemelse Koninkryk hierdie skepsel(e) van U, wat U uit die slawerny van die vyand

Page 4: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

4

verlos het. Open die oë van sy (haar/hulle) verstand, sodat die verligting van u Evangelie in hom (haar/hulle) mag skyn. Gee hom (haar/hulle) 'n stralende engel as metgesel vir sy (haar/hulle) lewe(ns), om hom (haar/hulle) te verlos van alle sameswerings van die teenstander, alle blootstelling aan die bose, die demoon van die middaguur, en van bose gesigte.

Daarna blaas die priester drie maal oor sy (haar/hulle) gesig(te) en maak die teken van die Kruis met sy hand oor sy (haar/hulle) voorkop(pe), mond(e) en bors, terwyl hy elke keer sê: Priester Verdryf uit hom (haar/hulle) alle bose en onreine geeste, wat hulle in sy

(haar /hulle) hart verberg en tuis gemaak het. (3x) Die gees van dwaling, die gees van boosheid, die gees van afgodery en alle hebsug, die gees van die leuen en alle onreinheid, wat werk deur die leer van die Duiwel. En maak hom (haar/hulle) 'n met rede bedeelde skaap (met rede bedeelde skape) in die heilige kudde van u Christus, 'n eerbare lid (eerbare lede) van u Kerk, 'n geheiligde werktuig (geheiligde werktuie), 'n kind (kinders) van die lig en erfgenaam (erfgename) van u Koninkryk, sodat hy(sy/hulle), waar hy (sy/hulle) volgens u gebooie gelewe het, en die seël ongeskonde, en die kleed onbevlek bewaar het, in u Koninkryk deel mag kry aan die saligheid van die Heiliges. Deur die genade en medelye en mensliewendheid van u eniggebore Seun, met wie U geloof word, saam met u alheilige, goeie en lewendmakende

Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Die priester versoek die katkisant(e) en sy (haar/hulle) doopgetuie(s) om na die Weste te draai en hy vra hom (haar/hulle) drie maal:

Versaak jy die Satan? En al sy werke? En heel sy diens? En al sy engele? En al sy prag? (3x)

En die kandidaat (kandidate) en/of die doopgetuie(s) antwoord elke keer:

Ek versaak hom.

Die priester vra weer drie maal:

Het jy Satan versaak? (3x) En die kandidaat (kandidate) en/of die doopgetuie(s) antwoord elke keer:

Ek het hom versaak.

En die priester sê vir die kandidaat (kandidate) en/of die doopgetuie(s):

Blaas en spoeg dan op hom.

En die kandidaat en/of die doopgetuie(s) blaas en spoeg drie maal. Die priester vra die kandidaat (kandidate) en/of die doopgetuie(s) om na die Ooste te kyk en hy vra drie maal.

Page 5: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

5

Sluit jy jou by Christus aan? (3x)

En hy (sy/hulle) antwoord:

Ek sluit my by Hom aan.

En die priester vra weer drie maal:

Het jy jou by Christus aangesluit? (3x)

En hy (sy/hulle) antwoord:

Ek het my by Hom aangesluit.

En weer vra die priester vir hom (haar/hulle): En glo jy in Hom?

En hulle antwoord:

Ek glo in Hom as Koning en God.

En hulle sê die Geloofsbelydenis:

Ek glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sigbare en onsigbare dinge. En in een Here, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye. Lig uit Lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur Wie alle dinge ontstaan het. Wat ter wille van ons, mense, en ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemele, vlees geword het deur die Heilige Gees en die Maagd Maria en mens geword het. Wat vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, en gely het en begrawe is, en op die derde dag weer opgestaan het, volgens die Skrifte. Wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader. Wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die lewendes en die dooies. Wie se Koninkryk geen einde sal hê nie. En in die Heilige Gees, die Here, die Lewendmaker, wat van die Vader uitgaan; wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word; wat gespreek het deur die profete. En in een Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk. Ek bely een doop tot vergewing van sondes. Ek verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomende ewigheid. Amen.

En wanneer die geloofsbelydenis klaar gesê is, vra die priester weer drie maal:

Het jy jou by Christus aangesluit? (3x)

Page 6: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

6

En hy (sy/hulle) antwoord:

Ek het my by Hom aangesluit.

En die priester sê:

Buig dan in aanbidding voor Hom neer.

En hy (sy/hulle) buig en sê:

Ek buig in aanbidding voor die Vader, die Seun en die Heilige Gees, die Drie-eenheid, een in wese en onverdeeld.

Priester Geseënd is ons God, Wie se wil dit is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

En hy bid die volgende gebed:

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester O Heer en Meester, ons God, roep u dienaar(s) tot u heilige verligting, en ag hom (haar/hulle) die groot genadegawe van u heilige Doop waardig. Ontdoen hom (haar/hulle) van die ou weë en vernuwe hom (haar/hulle) tot die ewige lewe, en vervul hom (haar/hulle) met die krag van u Heilige Gees, tot eenheid met u Christus; om nie meer 'n kind van die vlees te wees nie, maar 'n kind van u Koninkryk. Deur die welbehae en genade van u eniggebore Seun, met Wie U geloof word, saam met u alheilige en goeie en lewendmakende Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Page 7: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

7

DIE DIENS VAN DIE HEILIGE DOOP

Priester Geseënd is Koninkryk van die Vader en van die Seun en van die Heilige

Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen.

Priester Laat ons in vrede bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U (en na elke bede)

Priester Om die vrede van bo en die redding van ons siele, laat ons bid tot die Heer.

Om vrede vir die hele wêreld, die welsyn van die heilige Kerke van God, en die eenheid van almal, laat ons bid tot die Heer.

Vir hierdie heilige Huis, en vir hulle wat dit met geloof, eerbied en die vrees van God betree, laat ons bid tot die Heer.

Vir ons vader, pous en patriarg, (N.), ons aartsbiskop en herder, (N.), vir die eerbiedwaardige priesterskap, die diakonaat in Christus, vir alle geestelikes en die hele volk, laat ons bid tot die Heer.

Dat hierdie water geheilig mag word deur die koms en die krag en die werking van die Heilige Gees, laat ons bid tot die Heer.

Dat die genade van die verlossing en die seën van die Jordaan daarop mag neerdaal, laat ons bid tot die Heer.

Dat die reinigende werking van die bo-wesenlike Drie-eenheid op hierdie water mag neerkom, laat ons bid tot die Heer.

Dat ons verlig mag word met die verligting van kennis en vroomheid, deur die koms van die Heilige Gees, laat ons bid tot die Heer.

Dat bewys mag word dat hierdie water beskerming bied teen alle sameswerings van sigbare en onsigbare vyande, laat ons bid tot die Heer. Dat hy (sy/hulle) wat daarin gedoop word, die onverganklike Koninkryk waardig mag wees, laat ons bid tot die Heer.

Vir hom (haar/hulle) wat nou nader tot die heilige Verligting en vir sy (haar/hulle) redding, laat ons bid tot die Heer. Dat hy (sy) 'n kind (hulle kinders) van die Lig en 'n erfgenaam (erfgename) van die ewige goeie dinge gemaak mag word, laat ons bid tot die Heer. Dat hy (sy/hulle) ingeplant mag word in, en deel mag hê aan die dood en opstanding van Christus ons God, laat ons bid tot die Heer.

Page 8: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

8

Dat hy (sy hulle) sy (haar/hulle) doopkleed en die pand van die Gees onbevlek en onberispelik mag bewaar op die vreesaanjaende Dag van Christus ons God, laat ons bid tot die Heer. Dat hierdie water vir hom (haar/hulle) die Bad van die Wedergeboorte mag word, tot vergifnis van sondes en 'n kleed van onverganklikheid, laat ons bid tot die Heer.

Dat die Here God die stem van ons smeking mag hoor, laat ons bid tot die Heer.

Om sy (haar/hulle) en ons bevryding van alle verdrukking, toorn, gevaar en nood, laat ons bid tot die Heer.

Help ons, red ons, ontferm U oor ons en bewaar ons, o God, deur u genade.

Terwyl ons ons alheilige, onbevlekte, hooggeseënde en glorieryke Meesteres, die Theotokos en immermaagd Maria, saam met al die heiliges gedenk, laat ons onsself en mekaar en ons hele lewe toevertrou aan Christus ons God.

Volk Aan U, o Heer.

Dan lees die priester in stilte die volgende gebed:

Priester Laat ons bid tot die Heer

Volk Here, ontferm U.

Priester O Medelydende en barmhartige God, wat harte en niere ondersoek, U alleen ken die geheime van mense, want niks is vir U verborge nie, maar alles lê oop en bloot voor u oë. U wat alles van my weet, verafsku my nie, en wend u aangesig nie van my af nie, maar sien my oortredinge in hierdie uur oor, U wat die sondes van mense oorsien met die oog daarop dat hulle hulle bekeer, en was die vuilheid van my liggaam en die besoedeling van my siel af, en heilig my volkome deur u onsigbare krag en geestelike regterhand; sodat ek nie, terwyl ek vryheid aan ander verkondig en dit met die volmaakte geloof in u onuitspreeklike mensliewendheid skenk self as dienaar van die

sonde verwerp mag word nie. Nee, o Meester, wat alleen goed en

mensliewend is, mag ek nie vernederd en beskaam weggewys word nie, maar stuur my krag van bo, en versterk my vir die bediening van hierdie

groot en hemelse Misterie van U. Laat u Christus gestalte aanneem in hom

(haar/hulle) wat op die punt staan om deur my, in my ellendigheid, wedergebore te word. En bou hom (haar/hulle) op die fondament van u

Apostels en Profete, en breek hom (haar/hulle) nie af nie, maar plant hom

(haar/hulle) as 'n plant van die waarheid in u Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk, en trek hom (haar/hulle) nooit uit nie. Sodat ook hy (sy/hulle), namate hy (sy/hulle) in vroomheid toeneem, u alheilige naam mag verheerlik van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Page 9: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

9

Wanneer die vredesgebede voltooi is, bid die priester die volgende gebed hardop, in die vrees van God en met 'n verbryselde hart: Priester Groot is U, o Here, en wonderbaar u werke, en geen woord sal voldoende

wees om u wonders te besing nie. (3X)

Volk Eer aan U, o Heer, eer aan U. (elke keer)

Priester Want U het deur u wil die heelal uit die niet in aansyn geroep, deur u mag hou U die skepping in stand, en deur u voorsienigheid regeer U die wêreld. Nadat U die skepping uit vier elemente saamgestel het, het U die jaarkring met vier seisoene gekroon. Voor U sidder al die geestelike Kragte; die son besing U; die maan verheerlik U, die sterre tree by U in, die lig gehoorsaam U; voor U sidder die dieptes; die fonteine dien U. U het die hemel soos 'n tentdoek uitgespan; U het die aarde gegrondves bo die waters; U het die see met sand omring; U het die lug vir asemhaling uitgegiet. Die engelekragte dien U; die kore van Aartsengele aanbid U; die veelogige Gerubim en die sesvlerkige Serafim, terwyl hulle om U staan en vlieg, bedek hulleself uit ontsag vir u ontoeganklike heerlikheid. Want, hoewel U die onbegrensde God is, beginloos en onuitspreeklik, het U na die aarde gekom en die gestalte van 'n dienskneg aangeneem, en aan die mense gelyk geword. Want deur u medelydende barmhartigheid kon U dit nie verduur om die geslag van die mens onder die tirannie van die Duiwel te aanskou nie, maar U het gekom en ons gered. Ons bely u genade, ons verkondig u barmhartigheid, ons verberg nie u weldadigheid nie. U het die geslagte van ons natuur bevry; U het die Maagdelike skoot deur u geboorte geheilig; heel die Skepping het u verskyning besing. Want U, ons God, het op die aarde verskyn en met die mens omgegaan; U het die waters van die Jordaan geheilig, deur u Alheilige Gees vanuit die hemel daarop neer te stuur, en U het die koppe van die drake wat daarin nes maak verbrysel.

En hy maak drie maal met sy hand die teken van Kruis in die water, terwyl hy sê: Priester O mensliewende Koning, wees U dan nou self teenwoordig deur die koms

van die Heilige Gees en heilig hierdie water. (3x)

Volk Amen. (elke keer)

Priester En verleen dit die genade van die verlossing, en die seën van die Jordaan. Maak dit 'n bron van onsterflikheid, 'n gawe van heiliging, 'n losmaak van

sondes, 'n beskerming teen siektes, 'n vernietiger van demone, ontoeganklik

vir vyandige magte, vervul met die krag van die engele. Laat hulle wat teen u skepsel(s) saamsweer van hom (haar/hulle) af wegvlug. Want ek het u

naam aangeroep, o Here, wat wonderbaar en glorieryk en vreesaanjaend vir vyande is.

En die priester blaas drie maal op die water (in die vorm van 'n Kruis) en hy seël dit drie maal (met die hand) met die teken van die Kruis, terwyl hy die volgende gebed sê:

Page 10: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

10

Laat alle vyandige kragte verbrysel word deur die teken van die vorm van u

kosbare Kruis. (3x)

Volk Amen.

Priester Laat alle onsigbare skimme wat in die lug is van ons af padgee, en laat geen

demoon van die duisternis onder hierdie water wegkruip nie, en ons bid U, o Here, laat geen bose gees, wat verduistering van die gedagtes of verwarring van die verstand bring, saam met hom (haar/hulle) wat gedoop word

neerdaal nie. Maar wy U, o Meester van die heelal, hierdie water tot water van verlossing, water van heiliging, 'n reiniging van vlees en gees, 'n losmaak van boeie, 'n vergifnis van oortredinge, 'n verligting van die siel, 'n bad van wedergeboorte, 'n vernuwing van die gees, 'n gawe van aanneming tot kindskap, 'n kleed van onverganklikheid, 'n bron van lewe. Want U het gesê, o Here: "Was julle en word rein, verwyder die booshede uit julle siele." U het ons van bo die wedergeboorte deur water en die Gees geskenk. Verskyn aan hom (haar/hulle), Here, en gee dat hy (sy/hulle) wat daarin gedoop word herskep mag word, om die ou mens af te lê wat bedorwe is deur bedrieglike begeertes, en om beklee te word met die nuwe, wat vernuwe word na die beeld van sy skepper; sodat hy (sy/hulle), met U verenig in die gelykenis van u dood deur die doop, ook 'n deelgenoot aan u opstanding mag word; en sodat hy (sy/hulle), nadat hy (sy/hulle) die gawe van u Heilige Gees bewaar het, en die pand van genade vermeerder het, die beloning van sy (haar/hul) hoë roeping mag ontvang, en getel mag word onder die eersgeborenes, wie se name opgeskryf is in die hemel, in U ons God en Here, Jesus Christus. Want U kom toe die heerlikheid, krag, eer en aanbidding, soos ook u beginlose Vader, en u alheilige, goeie en lewendmakende Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen.

Priester Vrede vir almal.

Volk En vir u gees.

Priester Laat ons ons hoofde buig voor die Heer.

Volk Voor U, o Heer.

Hier word die dopeling ontklee, en die doopgetuie staan aan die noordekant van die vont, en hou 'n flessie olyfolie in sy (haar) hande. Die priester staan wes van die vont en blaas drie maal oor die olie terwyl hy drie maal die teken van die Kruis daaroor maak, en die gebed van die olyfolie lees:

Priester Laat ons bid tot die Heer. Volk Here, ontferm U.

Priester O Here en Meester, die God van ons Vaders, U wat aan hulle in Noag se Ark

Page 11: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

11

'n duif gestuur het met 'n olyftak in sy bek, as simbool van versoening en redding uit die vloed, en daardeur die Misterie van die genade voorafgebeeld het; wat die vrug van die olyf voorsien het vir die vervulling van u heilige Misteries, en daardeur hulle wat onder die Wet was met die Heilige Gees vervul het en die wat onder die genade staan vervolmaak: Seën U self ook hierdie olie deur die krag en werking en koms van u Heilige Gees, sodat dit 'n salwing van onverganklikheid mag word, 'n wapen van geregtigheid, 'n vernuwing van siel en liggaam, 'n beskerming teen alle duiwelse inwerking, tot bevryding van die kwade, vir almal wat in die geloof daarmee gesalf word, of daaraan deel het. Tot lof van U, en van u eniggebore Seun, en van u alheilige, goeie en lewendmakende Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen.

Die priester neem die flessie met olyfolie en giet drie maal 'n bietjie daarvan in die doopvont in die vorm van 'n Kruis, terwyl hy elke keer sing: Priester Laat ons aandag gee. (3x)

Volk Halleluja. Halleluja. Halleluja. (3x)

Priester Geseënd is God wat elke mens wat in die wêreld kom verlig en heilig, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen. Die priester versoek die doopgetuie om sy/haar hande oor die vont bak te hou (die regterhand oor die linkerhand), en hy giet 'n bietjie olie daarin. 'n Helper (gewoonlik 'n ouma) bring die ontklede kindjie na die linkerkant van die priester (tussen die priester en die doopgetuie), sodat dit op 'n handdoek op sy/haar rug lê met sy/haar kop op die regterarm van die helper. Die priester neem olie uit die hand van die doopgetuie met die duim en eerste twee vingers van sy regterhand en salf die kind in die vorm van 'n Kruis, op sy voorkop, ken en wange, en ander dele van sy liggaam, terwyl hy sê:

Priester Gesalf word die dienaar van God (N.) met die olie van blydskap, in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Daarna seël hy die verskillende dele van die liggaam, terwyl hy sê:

Op die neus: Tot 'n welriekende geur.

Op die ore: Tot die hoor van die geloof.

Op die mond: My mond sal wysheid spreek.

Op die bors: Tot genesing van siel en liggaam.

Op die voete: Om in u voetstappe te wandel.

Onder die voete: Om op slange en skerpioene te trap, en op al die krag

Page 12: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

12

van die vyand.

Op die hande: U hande het my gemaak en my gevorm.

Op die rug: Wie agter My wil aankom, laat hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.

Dan hou die priester die kind onder die armholtes oor die vont, met beide wat na die Ooste, d.w.s. na die Heilige Tafel, kyk, terwyl die doopgetuie die kind se liggaam salf met die olie in sy/haar hande. Daarna onderdompel die priester die kind drie maal in die water, terwyl hy sê:

1ste onderdompeling: Gedoop word die dienaar van God (N.) in die naam van die Vader. Amen.

2de onderdompeling: En van die Seun. Amen.

3de onderdompeling: En van die Heilige Gees. Amen.

Daarna plaas hy die kind in 'n wit laken wat tussen die arms van die doopgetuie uitgestrek is, bo-op 'n handdoek.

Volk: Welgeluksalig is hulle wie se oortredinge vergewe is, en wie se sondes

bedek is. (3x) (Psalm 31:1).

Die priester en die doopgetuie was daarna hulle hande in die doopvont, en terwyl die dopeling aantrek of aangetrek word, op sodanige wyse dat die mironsalwing daarna steeds op sy/haar gesig, bors, nek, hande en voete kan plaasvind, lees die priester die volgende gebede:

Sien ook die Katavasias van die Kruis en die Opstanding wat gewoonlik nou gesing word, afhangende van die kerklike jaargety, aan die einde van hierdie teks.

GEBED VOOR DIE MIRONSALWING

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester Geseënd is U, o Here God Almagtige, die bron van die goeie, die Son van

Geregtigheid, wat die lig van heil laat skyn het deur die verskyning van u

eniggebore Seun, ons God, en aan ons, die onwaardiges, die salige reiniging deur die Heilige Doop geskenk het, asook die goddelike heiliging deur die lewendmakende Miron; U wat dit nou ook behaag het om U dienaar(s) (N), die nuutverligte(s), herbore te laat word deur water en die Gees, en aan hom (haar/hulle) die vergifnis van sy (haar/hulle) opsetlike en onopsetlike sondes te skenk. O Meester, Koning van almal, vol medelye, skenk hom (haar/hulle)

Page 13: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

13

die seël van die gawe van u Heilige en almagtige en aanbiddelike Gees, asook deelname aan die heilige Liggaam en die kosbare Bloed van u Christus. Bewaar hom (haar/hulle) deur u heiliging; bevestig hom (haar/hulle) in die Ortodokse geloof; verlos hom (haar/hulle) van die bose, en van al sy weë en bewaar sy (haar/hulle) siel(e) deur u heilbringende vrees in onskuld en geregtigheid; sodat hy (sy/hulle) U welgevallig mag wees in woord en daad en 'n kind (kinders) en erfgenaam (erfgename) van u hemelse Koninkryk mag word. Want U is ons God, die God van barmhartigheid en verlossing en tot U stuur ons die lof omhoog, tot die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Die priester doen dan die salwing van die kind met die Heilige Miron, deur die teken van die Kruis daarmee te maak op sy/haar voorkop, ken, wange, neus, mond, ore, bors, bene, voete, hande en rug, terwyl hy elke keer sê:

Priester Die seël van die gawe van die Heilige Gees. Amen.

Daarna seën die priester die doopklere en plaas dit bo-op die dopeling, terwyl hy sê:

Priester Beklee word die dienaar van God (N.) met die kleed van geregtigheid in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Amen. En die Volk sing die volgende troparion drie maal, in toon 8:

Skenk my 'n stralende kleed, U wat Uself met lig omhul soos met 'n kleed, o Christus ons God wat vol barmhartigheid is. (3x)

Die priester bewierook die pasgedoopte(s) en die doopgetuie(s) wat oorkant hom staan, terwyl hulle drie maal om die doopvont beweeg, en die volgende in die eerste toon sing:

Julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Halleluja. (3x)

Eer aan die Vader en aan die Seun en aan die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Het julle met Christus beklee. Halleluja.

Priester Met krag: Julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Halleluja.

Prokimenon. Toon 3

Leser Die Here is my verligting en my Redder.

Priester Laat ons aandag gee.

Page 14: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

14

Leser Die Here is die beskermer van my lewe.

Priester Wysheid.

Leser Die Lesing uit die Brief van Paulus aan die Romeine (6:3-11).

Priester Laat ons aandag gee.

Leser Broeders, ons almal wat in Christus gedoop is, is in sy dood gedoop. Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.

Priester Vrede vir jou, leser.

Volk Halleluja. Halleluja, Halleluja.

Priester Wysheid. Laat ons opstaan. Laat ons luister na die heilige Evangelie. Vrede vir almal.

Volk En vir u gees.

Priester Die lesing uit die heilige Evangelie volgens Matthéüs. (Hoofstuk 28:16-20) Volk Eer aan U, o Heer, eer aan U.

Priester In daardie tyd het die elf dissipels na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het. En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. En Jesus het nadergekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Volk Eer aan U, o Heer, eer aan U. In hierdie stadium word die kind(ers), nou geklee, deur die doopgetuie na die voorkant van die doopvont gebring, waar die priester die diens van die afwassing doen. Hy maak die

Page 15: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

15

hoek van ‘n handdoek nat met skoon water en besprinkel die gesig van die kind(ers), terwyl hy sê:

GEBED VAN DIE AFWASSING Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester Deur die heilige Doop het U aan u dienaar(s) die verlossing van sondes

gegee, en aan hom (haar/hulle) die lewe van die wedergeboorte geskenk; laat dit U behaag, o Here en Meester, om die verligting van u aangesig altyd in sy (haar/hulle) hart(e) te laat skyn; bewaar die skild van sy (haar/hulle) geloof teen aanvalle deur die vyand; bewaar onbevlek en onbesoedeld in hom (haar/hulle) die kleed van onverganklikheid wat hy (sy/hulle) aangetrek het; hou deur u genade die geestelike seël ongeskonde in hom (haar/hulle), en wees hom (haar/hulle) en ons barmhartig volgens die oorvloed van u medelye. Want geseënd en verheerlik is u aleerbiedwaardige en verhewe naam, van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester O Here en Meester, ons God, wat deur die doopvont die hemelse verligting

aan die dopelinge skenk; wat u dienaar(s), die nuutverligte(s), wedergeboorte gegee het deur water en die Gees, en hom (haar/hulle) die

vergifnis van opsetlike en onopsetlike sondes geskenk het, lê u magtige

hand op hom (haar/hulle), en bewaar hom (haar/hulle) deur die krag van u goedheid; bewaar sy (haar/hulle) pand onskendbaar, en maak hom (haar/hulle) die ewige lewe en u welbehae waardig.

Want U is ons heiliging, en tot U stuur ons die lof omhoog, tot die Vader en

die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Vrede vir almal.

Volk En vir u gees.

Priester Laat ons ons hoofde buig voor die Heer.

Volk Voor U, o Heer. Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U. .

Priester Hy (sy/hulle) wat hom (haar/hulle) met U, ons Christus en God, beklee het, het sy (haar/hulle) hoof(de) saam met ons voor U gebuig; bewaar hom

Page 16: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

16

(haar/hulle) as 'n onoorwinlike kryger (as onoorwinlike krygers) teen hulle wat sonder rede 'n vyandige stryd teen hom (haar/hulle) en ons voer, en verklaar ons almal aan die einde met u onverganklike segekrans die oorwinnaars. Want aan U behoort dit om barmhartig te wees en ons te red, en tot U stuur ons die lof omhoog, soos ook tot u beginlose Vader en u alheilige, goeie en lewendmakende Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Priester Jy is geregverdig, jy is verlig.

En die priester neem ‘n skoon handdoek en droog die kind(ers) se gesig(te) af. Priester Jy is gedoop, jy is verlig, jy is gesalf met Miron, jy is geheilig, jy is gewas

in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.

GEBED BY DIE KNIP VAN DIE HARE

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Volk Here, ontferm U.

Priester Meester, Here ons God, wat die mens met u beeld vereer het toe U hom

saamgestel het uit 'n redelike siel en 'n welgevormde liggaam, sodat die

liggaam die redelike siel mag dien; wat die hoof in die hoogste posisie

geplaas het, en daarin die meeste van die sintuie gevestig het, sonder dat hulle mekaar belemmer; wat die hoof met hare bedek het, sodat dit nie deur

veranderinge in die weer geskaad sal word nie, en wat al die ledemate, op 'n

geskikte wyse vir elkeen aangebring het sodat hy U, die uitnemende vakman, deur dit alles mag dank: O Meester, wat ons deur u uitverkore vat, Paulus, die Apostel, beveel het om alles tot u eer te doen, seën u dienaar(s) (N.), wat saam met sy (haar/hulle) doopgetuie(s) gekom het om 'n eersteling offer te bring deur die knip van die hare van sy (haar/hulle) hoof(de), en gee dat hulle u wet in alles mag oordink en die dinge mag doen wat U behaag. Want U is 'n barmhartige en mensliewende God, en tot U stuur ons die lof omhoog, tot die Vader en die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

Volk Amen.

Priester Vrede vir almal. Volk En vir u gees.

Priester Laat ons ons hoofde buig voor die Heer.

Volk Voor U, o Heer.

Priester Laat ons bid tot die Heer.

Die priester lê sy hand op die hoof(de) van die pasgedoopte(s) en bid die volgende gebed:

Page 17: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

17

Priester Here, ons God, wat deur u goedheid hulle wat in U glo uit die volheid van die

doopvont geheilig het, seën u kind(ers)/dienaar(s)) hier teenwoordig, en laat u seën op sy (haar/hulle) hoof(de) neerdaal. En soos U Koning Dawid deur die Profeet Samuel geseën het, seën ook die hoof(de) van u dienaar(s) (N.) deur die hand van my, sondaar, deur hom (haar/hulle) te besoek deur u Heilige Gees, sodat hy (sy/hulle), namate hy (sy/hulle) ouer word en grys en bejaard, aan U die lof omhoog mag stuur, en die goeie dinge van Jerusalem mag aanskou, al die dae van sy (haar/hulle) lewe(ns).

Want U kom toe alle heerlikheid, eer en aanbidding, Vader, Seun en Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid. Amen.

En hy knip 'n paar hare af van die hoof van die kind in die vorm van 'n Kruis, terwyl hy sê:

Priester Geknip word die hare van die dienaar van God (N.), in die naam van die

Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Amen.

Priester Wees ons barmhartig, o God, volgens u groot barmhartigheid, ons smeek U, hoor ons en wees barmhartig. Volk Here, ontferm U. (3x)

Priester Ook bid ons om barmhartigheid, lewe, vrede, gesondheid en heil vir u dienaars, die nuutverligte(s) (N.), sy (haar/hulle) doopgetuie(s), ouers, familielede en almal hier teenwoordig.

Volk Here, ontferm U. (3x)

Priester Want U is ‘n barmhartige en mensliewende God, en tot U stuur ons die lof omhoog, tot die Vader, en die Seun, en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Volk Amen.

DIE WEGSENDING

Priester Eer aan U, o God, ons hoop, eer aan U.

Mag Christus ons ware God, wat Hom verwerdig het om ter wille van ons redding in die Jordaan deur Johannes gedoop te word, deur die gebede van sy al-onbevlekte, al-onskuldige, heilige Moeder, van die eerbiedwaardige, glorieryke Profeet, Voorloper en Doper, Johannes, van die heilige, glorieryke en alomgeëerde Apostels, (van die heilige(s) wie se naam die nuutverligte(s) aangeneem het) en van al die Heiliges, Hom oor ons ontferm en ons red, want Hy is goed en mensliewend.

En die priester verleen deelname aan Heilige Kommunie aan die pasgedoopte(s) en hang ‘n Kruisie om sy (haar/hulle) nek(ke).

Page 18: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

18

Priester Deur die gebede van ons heilige vaders, Here Jesus Christus ons God, ontferm U oor ons, en red ons.

Volk Amen.

Page 19: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

19

Die Katavasias van die Kanon van die Kruis

Toon Ag

Eerste Ode

Moses het die onoorwinlike wapen, die Kruis, op die water geteken deur met sy staf 'n reguit lyn te trek en die Rooi See in twee te deel vir Israel wat te voet gegaan het, en deur dit daarna dwars te hou, het hy die see bymekaar laat kom

en Farao se strydwaens getref. Laat ons daarom sing tot Christus ons God, want Hy is verheerlik.

Derde Ode

Aäron se staf word as voorbeeld van die geheimenis gesien, want deur te bot het dit getoon wie priester moes wees, En in die Kerk, wat voorheen onvrugbaar was, het die kruishout nou gebloei, tot haar krag en standvastigheid.

Vierde Ode

Ek het die geheimenis van u heilsbestel gehoor, o Here, ek het u werke oordink en u Godheid verheerlik.

Vyfde Ode

O driemaalsalige Kruishout waarop Christus, die Koning en Here, uitgestrek is! Deur jou het die bedrieër tot 'n val gekom wat die mensdom met die boom verlei het. Hy is in die strik gevang gestel deur God, Hy wat in die vlees op jou gekruisig is en ons siele die vrede skenk. Sesde Ode

In die buik van die seemonster het Jona sy arms in die vorm van 'n Kruis uitgestrek

en duidelik die verlossende lyding voorafgebeeld. Deur na drie dae daaruit te kom het hy die wonderbaarlike Opstanding uitgebeeld

die Opstanding van Christus ons God wat in die vlees gekruisig is, en wat die wêreld verlig het deur sy Verrysenis op die derde dag. Sewende Ode

Die sinnelose bevel van die goddelose tiran het die mense verwar,

Page 20: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

20

deur dreiging en Godslastering te adem wat God haatlik vind. Dog, nog dierlike woede nog die tierende vuur het die Drie Jongelinge verskrik, maar saam in die suisende bries wat soos dou verfris, het hulle saam in die vuur gesing: O God van ons vaders en ook ons God, wat op verhewe wyse besing moet word, lofwaardig is U.

Agste Ode

O Jongelinge, gelyk in getal aan die Drie-eenheid, loof God die Vader en Skepper, besing die Woord wat neergedaal en die vuur in dou verander het, en verhef bo alles tot in ewigheid die Alheilige Gees, wat lewe aan almal gee.

Neënde Ode

O Theotokos, U is 'n mistieke paradys, uit wie, soos uit 'n onbewerkte land, Christus gespruit het, Hy deur Wie die lewebringende Boom van die Kruis in die aarde geplant is. Deur die verheffing daarvan vandag, aanbid ons Hom en verheerlik ons u. Die Katavasias van die Kanon van Pasga

Toon Een

Eerste Ode Dit is die dag van die Opstanding! Laat ons straal van vreugde, o Volke! Pasga, die Pasga van die Here. Want vanuit die Dood na die Lewe, en vanaf die aarde na die hemel, het Christus God ons gebring, terwyl ons die lied van oorwinning sing.

Derde Ode Kom, laat ons die nuwe drank drink, nie meer wonderbaarlik voortgebring uit 'n dorre rots nie, maar 'n bron van onverganklikheid, wat opgewel het uit die graf van Christus, in Wie ons gegrondves is.

Vierde Ode

Mag God se profeet Habbakuk saam met ons op die heilige waak staan,

Page 21: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

21

en laat hy die stralende Engel aandui, wat met 'n weerklinkende stem verklaar: “Vandag is daar verlossing vir die wêreld, want Christus het opgestaan as die Alvermoënde.”

Vyfde Ode

Laat ons vroeg in die môre opstaan en vir die Meester 'n loflied in plaas van mirre bring, en ons sal Christus, die Son van Geregtigheid, sien wat lewe vir almal laat opkom.

Sesde Ode

U het afgedaal, o Christus, na die dieptes van die aarde, en die ewige grendels verbrysel wat die geboeides opgesluit gehou het, en op die derde dag, soos Jona uit die walvis, het U uit die graf uit opgestaan. Sewende Ode

Hy wat die Jongelinge uit die oond verlos het, word mens en ly as sterweling, en deur sy lyding beklee Hy die sterflike met die heerlikheid van onverganklikheid: die alleenloflike en hooggeëerde God van ons vaders.

Agste Ode

Hierdie uitverkore en heilige dag is die eerste onder Sabbatte, die koningin en meesteres, die fees van feeste en feesdag van feesdae, waarop ons Christus loof tot in ewigheid.

Neënde Ode

Die engel het geroep tot haar wat genade ontvang het: Wees bly, wees bly, o reine maagd. En weer sê ek: wees bly U Seun het na drie dae Uit die graf uit opgestaan en met Homself al die dooies opgewek wees bly, wees bly, alle mense! Word verlig, word verlig, o nuwe Jerusalem. want die heerlikheid van die Here het oor u opgekom

Page 22: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

22

dans nou, dans nou en wees bly, o Sion. en verheug u, o reine Theotokos, in die opstanding, die opstanding van u Seun.

Page 23: DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP GEBED BY DIE …vaar. Vrees God, op Wie se bevel die aarde gegrondves is bo die waters, wat die hemel geskep het, en die berge geweeg het met 'n weegtoestel

23

DIE MISTERIE VAN DIE HEILIGE DOOP

In die oorspronklike volgorde