esther hofmeyr...esther hofmeyr blackie badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. voorwoord...

19
Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het — liewer laat as nooit nie! Se nou ek skop die emmer eerste — die handlanger vóór ou Bewonder en Bewaar. Wie gaan dan vir ’n nuwer geslag Montaguers vertel wie was “Ou Vlam”, die Engelse onnie met die rooi hare vir wie die boerseuns so skrikkerig was? Weggebêre in laaie lê vele jare se foto’s, briewe, kaartjies, albums en plakboeke — niks is ooit weggegooi nie. O, watter kruis om te versamel! Hierdie is geensins die lewensverhaal van ’n merkwaardige vrou nie. Nee, dis sommer vertellings uit ’n wonderlike skeppende tydperk in ons klompie se lewens. Die boek móet opgedra word aan al die vriende van die Montagu Museum. Daar was eens ’n hele 380 stuks van hulle, met ’n nuusbrief kwartaalliks. Ons kon maar net sê of vra! Ek het elkeen se adres uit my

Upload: others

Post on 27-Jun-2020

1 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

Page 1: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

Esther Hofmeyr

Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf.

Voorwoord

Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het — liewer laat as nooit nie!

Se nou ek skop die emmer eerste — die handlanger vóór ou Bewonder en Bewaar. Wie gaan dan vir ’n nuwer geslag Montaguers vertel wie was “Ou Vlam”, die Engelse onnie met die rooi hare vir wie die boerseuns so skrikkerig was?

Weggebêre in laaie lê vele jare se foto’s, briewe, kaartjies, albums en plakboeke — niks is ooit weggegooi nie. O, watter kruis om te versamel! Hierdie is geensins die lewensverhaal van ’n merkwaardige vrou nie. Nee, dis sommer vertellings uit ’n wonderlike skeppende tydperk in ons klompie se lewens.

Die boek móet opgedra word aan al die vriende van die Montagu Museum. Daar was eens ’n hele 380 stuks van hulle, met ’n nuusbrief kwartaalliks. Ons kon maar net sê of vra! Ek het elkeen se adres uit my

Page 2: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

2

kop geken en presies geweet op wie se knoppie, en vir wat, ek moes druk. Vir my het hulle altyd soos een groot familie gevoel. Vandag is hulle net meer as 80, maar dit gaan baie goed met die museum, en ons kan rustig slaap.

En Esther kan tevrede ’n glasie muskadel lig as sy kyk oor die see en sien hoe verdwyn die son agter haar geliefde Hottentots-Holland berge.

En ek lig my glasie port terwyl ek hoër opkyk as sy. Vandag na die Swartberge waaragter my hart se punt lê — die ou Karoo: ons albei terug na ons wortels van lank geleë.

Blackie.

Februarie 2014

Esther Hofmeyr voor haar vertrek na Somerset-Wes, saam met Blackie Badenhorst voor haar smaakvol-gerestoureerde woning, die dorp se eerste poskantoor.

“Die Post Huys”, Montagu se eerste poskantoor

Page 3: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

3

ESTHER

“She who seeks to kindle a fire must have a spark within herself”

Esther Hofmeyr kan tereg beskou word as die grande dame van bewaring en restourasie van ou geboue in Montagu.

Die befaamde argitek Revel Fox, met sy noue bande met ons dorp, het gesê: “Montagu is een van die beste voorbeelde van Kaapse plattelandse argitektuur in Suid-Afrika.”

En hy het die argitek Thibault aangehaal: “South African domestic architecture is of the most beautiful in the world.”

Esther Hofmeyr het al die woorde verstaan. Haar helder oë kon sien Montagu, haar dorp, is lieflik uitgelê, die dorpsplasies, so eie aan die streek, het ’n gemeenskap gekoester wat na aan die grond en hul vrugte en groente was en nie verlang het na die hoë geboue van stede nie.

Sy het die plattelandse argitektuur so waardeer dat sy 61 jaar van haar lewe gewy het om die huise en museums hier te help bewaar.

Esther is nou in haar jare, maar eendag nie ver van nou, sal ons een van haar gunsteling-aanhalings oor haar sê:

“She who seeks to kindle a fire must have a spark within herself.”

Die vertrek van Esther Hofmeyr in 2002 na ’n aftree-oord in Somerset-Wes was die einde van ’n era in Montagu. Na 61 jaar was dié merkwaardige mens, wat so ’n sigbare stempel op ons dorp afgedruk het, nie meer ’n daaglikse teenwoordigheid in ons gebied nie.

BEGINJARE

Laat Blackie Badenhorst ons vertel van haar verbintenis met Montagu en die vriendskap met Esther Hofmeyr:

My verbintenis met Montagu begin op 28 September 1969, slegs 48 uur na die verwoestende aardbewing wat die Boland en die Klein-Karoo geskend het. Dit was die Saterdag ná die noodlottige dag van 26 September. Ek het saam met my man, Piet, en ons drie jong seuntjies vanaf Greyton na Montagu gery. Hy wou vir my die mooiste huis daar wys. Weens sy werk moet ons eers Zolani in Ashton aandoen. Die mooie huis op Montagu sou om 10 uur opgeveil word en ons was twee uur laat.

David Sandler, die afslaer van die manjifieke landgoed Qui-si-sana met sy pragtige woning, geleë by Badshoogte, was teen dié tyd besorg, want daar was nog geen bod nie: 17 mans het rondgestaan, nuuskierig soos ons, en het erg ongemaklik gevoel. Dat ons ’n miljoenêrswoning sou bekom, sou ons nooit voorsien het nie!

Ons bod van R12 000 is aanvaar en teen eenuur was die Schlessinger-landgoed ons s’n. Ons twee was albei 26 jaar oud, met drie seuns voorskools. Piet, ’n boorling van ’n skaapplaas in Colesberg, was die enigste kontrakteur vir die maak van brandpaaie in die Boland en moes, met sy 84 swart arbeiders, jaarliks 17 tenders afhandel. Hy het elke jaar verby die landgoed gery na die Koo en geïnteresseerd geraak in die verwaarloosde eiendom.

Die besoekersboek is vandag ’n bewys dat elke tweede Montaguer in 1970 en daarna die stofpaadjie uitgery het om te kom kyk hoe lyk die huis met sy sewe slaapkamers, sewe badkamers en banketsaal.

Page 4: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

4

Piet was selde tuis en ek het dit erg geniet om soveel besoekers en aandag te kry, trouens soveel so dat ek vandag steeds van aandag hou!

Een van die eerste gaste was Esther Hofmeyr en haar vriendin Sheila Pienaar. Met ’n klein Mini Minor het hulle kom kennis maak. Nie lank daarna nie was ek betrokke by die Montagu Reklamevereniging, waaruit die Montagu Museum ontstaan het.

MONTAGU MUSEUM

Ek was my hele lewe lief vir ouer mense, mooi goed, optel-en-heelmaak. En bewaar.

Ek was al jong mens betrokke; die spannetjie het bestaan uit Esther, Kosie en Sally la Grange van Octavia, Aletta du Plessis van die Boschrivier-skooltjie, Kobus Kriel van Pietersfontein en die mooi predikantsvrou, Jeanne Weideman.

Die museum het gou tot stand gekom, met Johan de Kock se hulp. Hy was ’n Pietersfonteiner, Oom Kobus sy oom en Esther sy oud-onderwyseres in Engels.

Die Montagu Museum - Ou Sendingkerk Langsaan blom een van die laaste appelkoosboorde in die straat,

vroeër bekend vir sy appelkoosplase met statige Kaaps-Hollandse opstalle

’n Kuratorspos vir die Montagu Museum word geadverteer. Geen aansoeke nie. Weer geadverteer, sonder sukses. Die spannetjie het nou geheet die Trusteeraad en daar word besluit dat ek, die enigste jongeling — ook genoem sekretaresse — sal uithelp tot die regte persoon opdaag.

Niemand daag op nie, behalwe ’n laatlammetjie vir my, genaamd Maraja — 10 jaar na haar boeties. Sy word genoem die “museumbaba” en word grootgemaak in die museum, tussen al die bedrywighede. Sy woon saam met haar ouers alle museumkongresse, -konferensies en -werkswinkels by.

In 2015 word Maraja 40 jaar oud, en so ook die Montagu Museum. Die museum se eerste tjekboek, kwitansieboek en kasboek is vandag stille getuies van haar kunstalent op die ouerdom van 18 maande. Deesdae gee sy onderwys in kuns by een van die Waldorf-skole in die Weskaap. (Samestellersnota: Maraja is intussen as kunsonderwyseres by Hoërskool Montagu aangestel.)

Page 5: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

5

Montagu Museum se eie baba, Maraja Badenhorst

DIEP KANT IN — ONS SWEM!

Van boeke gepraat: die eerste ouditeur daag op, ’n mooi jong man, mnr. A. Heath van ’n ouditeursfirma in Bredasdorp. Hy soek ons boeke en slaan sy hande in verbystering saam om te hoor “ons het nie boeke nie”. Ek en baba word summier in sy motor gelaai en na Brink Broers — ons eie Garlicks daardie jare — gebring en ’n rekening word geopen vir die museum. En so leer ek van kasboeke, kwitansieboeke en selfs ’n tjekboek van Volkskas Bank!

Ek en die ouditeur word kennisse oor die volgende jaar of twee, maar agter my rug vertel hy vir Piet dat hy opsien na my “Chinese boekhouding” elke jaar — wat dit ookal mag beteken het.

En so kry ek eendag ’n oproep van Hoofkantoor om te vra waar is ons begroting vir die jaar — al die ander 52 museums s’n is al in. Begroting? Nog nooit van so iets gehoor nie.

Hy pos dadelik die groot bruin koevert. Binne-in is ’n reusegroot vel papier, amper so groot soos Esther se kombuistafel. Sy maak ’n groot pot tee en ons bekyk die affêre so saam-saam:

Heel bo staan groot geskrywe: Calitzdorp-museum. Die papier is in twee gedeel: Inkomste en Uitgawes. Onder elkeen van die twee woorde is verskeie hofies met bedrae geld ingevul, soos bv. “gronde”, “geboue”, “skoonmaakmiddels”, “pos- en telegraafdienste” en “munisipale dienste”. Voeg hierby vreemde woorde soos “diverse” en “kontra”.

Esther sê sy sal vir Pikkie — haar man Montie, senior vennoot in die prokureursfirma van Zyl & Hofmeyr — vra wat dié woorde beteken. Hy is baie slim, sê sy.

Ons is verbysterd: Die Calitzdorp-museum se begroting vir die jaar 1975-76 is meer as R9 000! Saam besluit ons dat dit darem te dik vir ’n daalder is, ons kan dit nie toelaat nie. In ons twee se oë is Calitzdorp maar ’n baie eenvoudige ou dorpie en kan nie vergelyk word met montagu nie, en ons “wysig” die bedrae geld tot ons by die mooi ronde getal uitkom: R12 000.

Baie in ons skik en in my mooiste handskrif trek ons ook so ’n begroting op — net ons papier is kleiner as Hoofkantoor s’n. Ons pos dit. Twee dae later lui die telefoon om 3nm. “Blackie!”

Dis Johan de Kock. Hy wil weet wat het ons aangevang en waarmee sit hy hier voor hom. Ek verduidelik: sien Johan, ek en Tannie Es het gedink Calitzdorp is so ’n kommin ou dorpie ons kan nie toelaat dat hulle so baie geld kry per jaar nie, daarom soek ons die bedrag van R12 000.

Hy bly lank stil en sê toe stadig en afgemete: “Luister baie mooi wat ek vir jou se, Blackie. Sê jy vir daardie Tannie Es van jou, julle twee gaan nog julle gatte sien daar op Montagu, want Blackie: Calitzdorp-het-

Page 6: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

6

nie-’n-museum-nie.”

Toe sit hy die telefoon neer.

Drie weke later ontvang ons ons eerste tjek deur die pos. Ons begroting vir die jaar: R1 000.

Ons word ’n instelling op die groot stuk grond regoor die apteek waar Shoprite vandag staan: elke Saterdag verkoop ons ou klere en sop-en-brood. Na 12 uur verkoop ons uit teen R2 vir “enigiets”. As dit reën skuiwe ons na die slaghuis oorkant die straat. Basie en Alta Truter, die eienaars, stuur vir ons warm tee in die wintersmaande. “Dupie” die stadsklerk se vrou is ons regterhand — sy sou ys aan ’n Eskimo kon verkoop. So ook Susan, ons skoonmaker.

Susan Minnaar, die museum se eerste skoonmaker, babawagter en ontvangdame

DIE PAMPOENSTORIE

Aan die agterkant van die museum lê ons die mooiste roostuin in die dorp aan en noem dit gepas die Esther Hofmeyr-roostuin. Ons verkoop rose teen 10c per steel. Reg in die middel van die roostuin verskyn eendag ’n pampoenplant. ’n Paar weke later sien Esther dit en sê: “Blackie, die pampoen moet uit — hy gaan ons rose doodgroei.” Ek luister maar hoor nie. Wat is nou mooier as ’n pampoenblom?

Nog ’n paar weke later is die hele roostuin onder pampoenblare en jy sien net geel pampoenblomme waar jy kyk. Ek sien ons skatryk word uit die pampoene wat ons Saterdae gaan verkoop. En toe daag Esther een oggend op. Haar rooi hare vat behoorlik vlam.

“Blackie, is hierdie die Esther Hofmeyr-roostuin of die Blackie Badenhorst-pampoenland? Carel, bring die vurk dat ek jou help...”

Deur die jare kry ek toe ook ’n bynaam op die dorp, nie baie vleiend nie...

OU BEWONDER EN BEWAAR

Een oggend in Januarie 1981 stop Esther om my op te laai. Hoog ontstoke — die Tiekiebad en die Badhuisie by die Warmbron gaan gesloop word, ’n opdrag van die Munisipaliteit aan Piet Butler. Piet was ’n deeglike man en ’n ware platjie. Ongelukkig moes hy sy opdragte uitvoer en hy en Esther was gedurig

Page 7: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

7

in ’n stryd om bewaring.

Ons ry Bad toe, vind Piet en sy manne hard aan die werk by die kliphuisie waar jy vroeër kon sit en jou voete baai teen ’n tiekie per persoon. Terwyl ons aangestap kom sê Piet hard en luid: “Sit neer julle ‘tools’, manne, hier kom ou Bewonder en Bewaar, en haar handlanger is by haar”.

’n Paar jaar later verskyn ’n pragtige artikel van Esther Hofmeyr in die Sarie tydskrif. Sy sit op ’n rystoel in die ingang na die museum tussen die twee sipresbome. Die fotograaf was Cloete Breytenbach. En daar lees ek toe met my eie twee oë dat ek op Montagu bekend staan as “ou Bewonder en Bewaar se handlanger.”

Vir die wat nie weet nie, of vergeet het: “Bewonder en Bewaar” was ’n rubriek wat verskeie jare in Die Burger verskyn het, geskryf deur dr. Douglas Hey, direkteur van die Departement van Natuurbewaring. Daardie jare het die 53 museums in Kaapland aan dié departement behoort.

Toe dr. Hey na baie jare aftree word daar besluit om vir hom ’n boek te maak en as geskenk te gee. Elke museum is verantwoordelik vir een bladsy. Ek skrywe, op my mooiste, ’n verhaal van Oom Koos Kok, gerekende kurator van ons Natuurtuin en ’n ou vriend van dr. Hey. Ek gebruik die bekende ets van Koos Kok geskilder deur sy buurman François Krige, en kry ’n oproep van Johan de Kock van Hoofkantoor om ons te komplimenteer: ons bladsy is die mooiste en oorspronklikste in die afskeidsboek vir dr. Hey.

Ek stap oor na Esther om haar die mooi verhaaltjie te vertel, en op die hoek loop ek my vas in ons ou vriendin en buurvrou Sylvia Krige, François se vrou. Sy het ’n afskrif van die bladsy by die drukker gesien.

“Waar kom julle aan die reg om François se tekeninge te gebruik, besef julle dat julle gedagvaar kan word ...!”

En so meer dae, en al meer dinge.

JOUBERTHUIS

Montagu se sierraad - Jouberthuis

Om Jouberthuis te bekom en te restoureer was sekerlik die opwindendste tydperk van my lewe.

Laat in die 1980s vestig dr. Thelma Gutsche haar in Langstraat. (Om oor haar te skrywe sal nog ’n boek in beslag neem...)

Page 8: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

8

Weens haar statuur ken sy net die regte persone; en een so ’n persoon kruis ons pad in 1981: Mnr. Ken Birch, afgetrede argitek van die Anglo American Corporation. Die vloed van 25 Januarie 1981 laat ons dorp in ’n ellendige toestand, en so ook die oudste huis op die dorp, nl. Langstraatr 25.

Die huis, bekend vir die 1882-onthaal toe pres. Paul Kruger, genl. Piet Joubert en ds. S.J. du Toit daar ontvang is en oorgebly het, word ongeskik verklaar as woonhuis. Om alles te kroon verkeer die eienaar in die Robertson-gevangenis, gevonnis tot ’n paar maande weens dronkbestuur.

Ken Birch bied aan om die woning vir die museum te koop, en die dokumente moet geteken word — in die gevangenis.

Esther Hofmeyr (voorsitter), Annatjie Keller (trusteeraadslid) en die uwe as kurator sal die taak verrig. Die “museumbaba” van 1975 is teen die tyd al ’n regte klein snip — sy wil saamgaan Robertson toe, maar mag nie. Dikbek bly sy agter en vra vir oulaas: “Hoekom kan Annatjie ‘Kelder’ dan gaan en nie ekke nie?”

Ek word afgevaardig om Kaap toe te gaan en mnr. Birch te ontmoet in die pas geopende en deftige Dorpshuis-hotel. Hy wil al die nodige dokumente sien voordat hy betrokke raak. Esther ken hom reeds maar ek is ’n vreemdeling.

Ek wag terwyl hy net na 4 nm geroep word en taamlik deur die slaap opdaag. Hy vra waarmee ek gekom het en ek antwoord ’n Peugeot 404. Hy sê ons moet iets gaan oplaai voor ons koffie drink. Ons ry al hoër en ’n paar blokke ver tot in Oranjezicht tot voor ’n baie groot, imposante hoekhuis en hou stil.

Daar, op die hoek, in die tuin, staan ’n groot aalwyn met ’n paar kleintjies om die stam. Hy het dit die oggend gesien toe hy gaan stap het en wil een van die kleintjies hê vir sy tuin in Johannesburg.

Toe haal hy ’n klein tuinvurkie wat hy gekoop het uit ’n plastieksak en met die sak en vurk stoot ek die hekkie oop. Hy vlieg dieselfde aand terug (met die dokumente en die aalwyn). Hy hou nogal die kardeur vir my oop sodat ons vinnig kon wegkom!

Einde 1981 ontvang Esther Hofmeyr die beker as Montaguer van die Jaar vir haar bydrae tot die kulturele erfenis van die dorp. Die jaar daarna — 1982 — ontvang Piet Badenhorst die toekenning vir die restourasie van Jouberthuis, Eyssenhuis en die oprigting van die ou watermeul in Donkerkloof. Hierdie toekenning van die Rapportryersbeker elke jaar was ’n prestige-geleentheid en werklik die hoogtepunt in die museum se 10-jarige bestaan.

Esther Hofmeyr en Piet Badenhorst met die Montaguer van die Jaar trofee, in 1981 deur Esther verower, en in 1982 deur Piet

Page 9: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

9

BELONING VOLG

In hierdie jare word Esther beloon vir haar verbete stryd om as vrou op die platteland te veg vir haar dorp se bewaring, in die besonder vir ons geboue — waarvan toe al 24 as Nasionale Gedenkwaardighede verklaar is. Sy ontvang die gesogte toekenning van die Drie Eeue Stigting. Ook prof. David Poole van Kruik-Ballet het dieselfde jaar die toekenning ontvang.

Ek ry Kaapstad toe met die “museumbaba” en haar jongste broer om die spoggeleentheid in die SA Kunsmuseum in die Laan in die Kompanjiestuin by te woon. Hulle is die enigste twee kinders teenwoordig en vergaap hulle aan die prag en praal van die ou meesterwerke en vergulde rame van die B. J. Robinson-versameling — die lokaal waar die funksie plaasvind.

Ek sal Esther altyd dankbaar bly vir die wonderlike en interessante persone wat ek deur haar toedoen ontmoet het en van wie baie van ons vriende geword het.

As ek aan ’n paar moet dink was daar James Walton, Hans Fransen, Ken Birch, Thelma Gutsche, Ters en Miems van Huyssteen, Audrey Blignault, Miems Botha, Cato Meaker, Alba Bouwer en soveel ander...

Ons het verskriklik hard gewerk en soms soggens 4 vm huis toe gestap, regoor die museum, waar ons vier slapende kinders was. Die drie seuns was gewoond daaraan om ons naweke af te los sodat ons kon rus en hulle sakgeld kon verdien.

Die gedugte driemanskap - Esther, Piet en Blackie (Julie 1983)

ESTHER SE GESIN

Van Esther se gesin moet ek ook melding maak.

Soos hul ma erf Amanda en Willem hul rooi hare en deur die jare raak ek die twee gewoond soos my eie. Trouens, Willem word die eerste paar maande ná die opening van die museum gevra om elke middag as hy saam met sy maat, De Villiers Brink, op die bane agter die museum gaan tennis speel, die museum se besoekersboek te kom teken sodat dit lyk asof ons veel meer besoekers ontvang.

Vandag is Div die eienaar van Esther se laaste huisie op Montagu, die Posthuys in Kerkstraat. Hy is ’n bekende argitek in Bloemfontein. (Samestellersnota: Die Posthuys is vandag die tuiste van Route 62 Brouery.)

Page 10: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

10

Willem, ’n ingenieur van Port Elizabeth, het die skrywe en uitgee van die boek oor sy ma moontlik gemaak. Amanda is ’n sakevrou in die Strand.

Ek en Maraja het dikwels saam met die Hofmeyrs in Novembermaand op Waenhuiskrans gekuier. November was my bronchitis-maand en Esther het my see toe geneem om te herstel.

Wonderlike herinneringe! Oom Montie het soggens vroeg gaan swem en met Die Burger teruggekeer. Met ’n koppie koffie het hy voor die venster gaan sit en lees. Ek was baie jare lank Die Burger se korrespondent en het met ’n groot swak vir my oggendkoerant oor sy skouer geloer en gelees.

Die derde oggend kom hy terug met twee koerante.”Blackie, ek laat nie my eie vrou toe om my koerant saam met my te lees nie, hier is jou eie.” En so het ons twee saam gelees tot ons heel laaste vakansie saam.

Die etes aan die geelhouttafel van die Hofmeyrs in Kerkstraat sal my ook die res van my lewe bybly; niks kon daarmee vergelyk word nie.

Esther Hofmeyr met haar seun Willem en dogter Amanda Haasbroek, tydens Esther se 95ste verjaarsdag in 2012

“Monte Vista”, Montie en Esther Hofmeyr se woning in Kerkstraat

Page 11: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

11

SOMERSET-OOS MUSEUM

In 1985, toe die museum 10 jaar oud was, op 1 September, is ek oorgeplaas na die Somerset-Oos Museum. Hierdie museum, geleë in die Ou Pastorie van die Hofmeyrs, is vandag steeds een van die mooiste, mees elegante en geskiedkundige plekke in ons land. Drie geslagte Hofmeyrs het hier gewoon en gewerk as predikante, en ds. Jan Hendik Hofmeyr se standbeeld staan voor die Otto Hagen-kerkgebou in Somerset-Oos.

Slegs twee predikante in Suid-Afrika is verewig voor hul kerkgeboue, nl. ds. Hofmeyr en sy skoonvader Andrew Murray.

Die ou Pastorie is later verkoop aan mnr. Ken Birch van Johannesburg. Hy het dit intensief gerestoureer en geskenk as ’n museum. Hy het dikwels vir my kom kuier, en ons het groot vriende geword en het tot sy dood met mekaar gekorrespondeer. Hy het die mooiste handskrif gehad en was ’n bekende waterverfkunstenaar. Hy het ’n portfolio uitgegee oor al die Anglo American-myne wat hy geskilder het. Beide die Montagu Museum en die Somerset-Oos Museums beskik oor eksemplare.

Soos hul ouers deel ons kinders ons passie vir museums (asook begraafplase!) en drie van die vier kinders het een of ander tyd in museums in die Oos-Kaap gewerk. Emile is vandag die hoofgeskiedkundige van die Port Elizabeth Museum, nou genoem die Nelson Mandela Metropolitaanse Museum. (Samestellersnota: Emile Badenhorst is tans die bestuurder by Montagu Museum.)

Sy moeder is nou 70 jaar oud en het twee jaar gelede verhuis na Calitzdorp waar sy werk as kurator van die Calitzdorp-museum.

Ja, julle lees reg...

Oktober 1997 keer ek terug na Montagu om “uit te help vir drie maande”....

MEDISINALE KRUIETUIN

Die grootste projek wat ons ooit aangepak het en wat vandag steeds as een van die suksesvolste museumprojekte in die land beskou word, is die aanlê van ’n inheemse medisinale kruietuin agter Jouberthuis in Langstraat.

Hier is baanbrekerswerk verrig en in die totstandkoming daarvan gaan alle eer aan Oom Kobus Kriel van Pietersfontein — ons grootste kruiekenner ooit — en aan Hannetjie, ’n nooi De Kock van die Keisie.

Esther Hofmeyr is na 15 jaar as voorsitter opgevolg deur Jeanne Biesenbach — soos Esther voor haar, die Engels-onderwyseres by die plaaslike hoërskool, met dieselfde vurige rooi kop en ’n onblusbare geesdrif vir bewaring, die museum en die medisinale kruieprojek. Eers onder Jeanne se leiding het die kruieprojek behoorlik vlamgevat en vandag word kruie op groot skaal by die museum bewerk.

Die inkomste uit dié projek was verlede jaar (2012) R201 500 (ver verwyder van die R1 000 begroting van 1975-76!)

WONDERLIKE MENSE

Self kon ek berge versit die afgelope aan-en-af 40 jaar in museums, maar niks sou ek ooit kon regkry sonder die hulp, bystand en inspirasie van dié twee rooikop-vroue nie — die grootste voorreg wat my ooit beskore was, is die feit dat ek albei vriendinne kan noem.

Page 12: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

12

Dis net logies dat daar baie beroemdes en berugtes oor die museum se drumpel verskyn het, en ek wil twee spesiaal uitsonder. Die eerste was Uys Krige, broer van François, ons museum se beskeie buurman. Uys is destyds in Pretoria deur ’n motor raakgery en het kom aansterk op Montagu — onthou ons het helende waters by die Warmbron.

Uys wou drie keer per dag jellie hê om te eet, aldus sy skoonsus Sylvia. Soms groen, soms rooi, soms geel en soms oranje. Sylvia kom kla by die museum. Die ma van drie tienerseuns en ’n babasussie gee raad: koop ’n ronde visbak. Maak vier verskillende jellies apart aan. Sodra gestol, breek op met ’n vurk en gooi die klomp jellie in die visbak.

Jong, dit lyk mooi! Plaas terug in die yskas en Uys kan dag en nag daaraan smul. Eendag daag hy op: Sylvia het hom weggejaag; hy moet by Blackie gaan kuier. Hy staan goed ’n uur op die deur se drumpel, hy wil nie inkom nie, hy hou nie van museums nie, maar is gek na kunsgalerye.

Ek vra hom om die besoekersboek te teken en hy wil weet wat sê die ander mense van die museum. Hy blaai deur die boek en lees oor en oor die opmerkings. “Interessant, interessant, interessant, internes (verkeerd gespel) sant ... Interes (verkeerd gespel)... God, wat ’n vervelige woord!”

Toe skrywe hy: “Bravo! Uys”.

Die ander besoeker was baie spesiaal en die teenoorgestelde van Uys. Sy het my drie keer in my kantoor kom besoek. Drie-uur die middag. Die drumpel van die museum was stukkend en Oom Andrew le Roux, die eerste museum-assistent — hy het ook die roostuin uitgelê en die bougainvillea geplant — het ’n blikplaatjie op die stukkende vloerplank vasgekap.

As ’n besoeker die museum binnestap het die plaatjie geklap en jou aankoms is aangekondig.

Sy het lig en vinnig gestap tot by my kantoordeur wat agter die konsistorie was. Ek het al die kere opgekyk as sy by die deur kom, maar sy was nie daar nie.

Die museumgebou, vroeër die Sendingkerk, is in 1918 omskep in ’n hospitaal en dosyne matrasse is op die vloere gegooi. Dit was die jaar van die Groot Griep en volgens geskrifte “het die mense in die kerk gesterf soos vlieë ...

Die Trusteeraad, verantwoordelik vir die restourasie van Jouberthuis asook Eyssenhuis, en die oprigting en bou van die watermeul in Donkerkloof, 1983.

Agter: Willie van der Merwe, Antoinette Esterhuyse, Jeanne Biesenbach, Sally la Grange; Voor: Kosie la Grange, Blackie Badenhorst, Esther Hofmeyr, Piet Badenhorst.

Page 13: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

13

ONS RED DIE TOERISME-GEBOU

In die vroeë oggendure van 10 Februarie 1982 is Esther Hofmeyr wakker gebel deur Blackie Badenhorst, wat haar vertel dat Badstraat no. 24 — die huidige Toerisme-gebou, gesloop word.

Dit was nie later as 6 vm nie, maar Esther, Blackie en haar man Piet, asook prof. Arthur Wegelin, voorsitter van die Bewaringskomitee, moes die voorman glo met die polisie dreig aangesien sy verweer was dat hy in opdrag van die Stadsraad optree.

Om 8 vm het die afvaardiging opgeruk na die Stadsraad se kantoor, waar hulle saaklik vertel is die burgemeester is nie beskikbaar nie.

Met ’n heen-en-weer gebel is die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede gekontak, wat beveel het dat die sloping van die gebou vir ses maande uitgestel moes word.

Later dieselfde dag het ’n telegram van die RNG aangekom om te sê daar is besluit om die gebou te proklameer. Die moontlikheid van sloping was dus geheel en al onmoontlik. Die bouer moes ook dele van die dak wat verwyder is, terugplaas.

Later is ontdek dat die Stadsraad, aan wie die gebou behoort het, tydens ’n aandsessie die vorige aand, op 9 Februarie, besluit het om die hele kompleks, insluitende die Hofmeyrsaal, te sloop. Slegs een lid van die Stadsraad het teen die sloping gestem.

“Ek moet byvoeg dat stadsrade sedertdien verander het,” het Esther ruimhartig bygevoeg, “en deesdae is hulle baie bly dat die gebou gered is.”

Dis is van sulke stoffasie waarvan die formidabele Esther Hofmeyr gemaak is. Dié tenger vrou het tot vandag die statuur van reus in die bewarings- en restourasiekringe van Montagu.

Onder haar ander prestasies was die ontvangs in 1984 van ’n toekenning deur die vermaarde Kaapse Drie Eeue-stigting. Die sertifikaat met prysgeld van R500 is op 27 April in die Nasionale Kunsmuseum aan haar oorhandig.

Esther is gevra om die name van 20 gaste wat sy wou saambring, vooruit te stuur. Die geleentheid is bygewoon deur lede van die Stigting, die pers en ander genooide gaste.

Dis skaars nodig om by te voeg dat die uittog vanuit Montagu na die Kaap ’n triomfantelike reis was! In dieselfde jaar is Esther ook verkies tot “Montaguer van die Jaar”.

Onder Esther se ander suksesse was die bewaring van Langstraat 50, destyds in besit van die Koöperatiewe Wijnbouers Verening, oftewel die KWV, wat die gebou wou sloop. ’n Deputasie is inderhaas na die Paarlse hoofkwartier van die KWV, waar Esther die hoof van die finansiële afdeling so vurig aangespreek het dat hy uiteindelik verklaar: “Sy is darem vir jou knaend, daardie mev. Hofmeyr!”

Dit was ook onder Esther se leiding dat die Montagu Museum verklaar is tot ’n museum van die Kaaplandse Provinsie, wat beteken dat dit kwalifiseer vir ’n jaarlikse regeringsbydrae.

Dat dié bydrae bitter min was, en steeds is, aangesien museums laag op die regering se prioriteitslys pryk, het Esther niks afgeskrik nie, maar slegs tot groter hoogtes aangespoor.

DIE MOOIE ESTHER

Maar wie is die mooie Esther wat die dorp vir 61 jaar so verryk het?

Laat Esther Johanna Haumann, later Hofmeyr, self uit ’n brief in haar eie handskrif vertel:

Page 14: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

14

Ek is op 22 September 1917 gebore in die ou, klein dorpie Campbell en word groot as plaaskind op Dons, die plaas waar Jozua en Anna in 1911 begin boer het met vee. (Ons almal, hul afstammelinge, het 100 jaar later, in 2011, daar reünie gehou by Martha, wat steeds daar boer — die inisiatief het gekom van Tielman, haar seun.)

My kinderjare was so gelukkig, vol liefde en geborgenheid, doodnatuurlik, kaalvoet speel te lekker met die bruin kinders op die plaas. Dikwels saam met vader in die veld, help lammers aankeer, gee die hanslammers bottel, trap die wol en staan dan saam in die ry met die skeerspan met my lootjie om ook betaling te kry vir my “werk”.

Tot moeder sê: “Nee, die skeerhok is nie die plek vir my dogtertjie nie.”

My ouers was opregte Bolanders. Vader plant dadelik bome, maak groentetuin; moeder woeker met die blomtuin.

Saans soms skottels vol groenmielies, dan altyd huisgodsdiens, lees, salig warm voor die kaggel in die winter.

Maar ek dink my ouers het dit hotagter gehad. Dit was soos pioniersdae. Albei het op groot wingerdplase, Franschhoek en Paarl grootgeword. En na die Anglo-Boereoorlog moes hulle van vooraf begin. Geld was skaars, maar al boer vader vooruit, druk die droogte en depressie swaar. Wol was tot sikspens die pond!

Ten spyte van die swaarkry was Pieter (12 jaar ouer as ek), Miems (agt jaar ouer as ek) en Paul (vyf jaar my senior) almal na Bolandse skole gestuur — Paul Roos & Bloemhof vir hul hoërskooljare.

Die Haumann-familie van Dons, Campbell, 1929. Agter: Miems (later Van Huyssteen), Rootman (die onderwyser), Pieter en Paul;

Voor: Vader, Moeder, en Esther.

Ons vier Haumanntjies was lewenslank baie lief vir mekaar, kleintyd het ons soms gestry, Miems en Paul span saam, Pieter wat al meer volwasse was, dan te heerlik, kies oënskynlik my kant. Ons was mal oor mekaar, het ook saam verjaar, en as ek stout is, spreek hy net die towerwoorde: “Ek verjaar

Page 15: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

15

nie weer saam met jou nie” en ek word suikerklontjie.

Pieter was vol humor. Had ook besonderse aanleg vir masjinerie en finansies. Hy trou met Kit de Villiers, Oom Jors van Kuilsrivier se dogter. Hy het eers aanhou boer nadat ons in 1929 vanaf Dons getrek het. Maar later kom hy saam Boland toe, begin koelkamers vir appels en eiers, ’n roomysfabriek en word ’n wakker besigheidsman op Somerset-Wes. Ongelukkig sterf hy toe hy 42 was.

Paul was ’n goeie atleet en het veral in die langafstande uitgeblink. Hy het beslis boerdery in sy bloed gehad en het op Dons gebly. Is toe getroud met Martha Bosman, my skoolmaat. Tesame was hulle ’n eersteklas span en boer Dons met groot sukses.

Hy het later heeltemal doof geword as gevolg van baie teëspoed met sy been en toe te veel tetrasiklien-medikasie wat hy ontvang het. Dit het sy gehoorsenuwee aangetas. Martha het horn wonderlik bygestaan en nadat hy oorlede is, aangehou boer. Dons is vandag ’n moderne plaas om op trots te wees. En almal kuier so graag by die liewe Martha, nou reeds oor 90.

Gelukkig boer my oudste broer Pieter se seun saam op die plaas by haar. Tielman, haar eie seun, is ook kort-kort daar om alles by te staan.

Miems gaan na die Universiteit Stellenbosch en begin skoolhou op Kirkwood, waar sy Ters van Huyssteen ontmoet en later met hom trou. Hulle bly lewenslank op Stellenbosch en speel ’n groot rol in bewaring- en kultuursake. Hy was vise-rektor van Paul Roos en word later aangestel as kulturele attaché in Keulen, Duitsland.

Twee keer het ek daar vir hulle gaan kuier, en een keer het ek saam met hulle gegaan op ’n wonderlike toer oor die Alpe en na Sicilië, daar waar die Mafia vandaan kom!

Montie kon ongelukkig nooit saamgaan nie, maar Miems, Ters en ek was sulke groot maats. Hulle albei was vol humor, had wye belangstellings en het my in baie opsigte inspireer en beïnvloed.

Maat, eintlik Margaret Roux, was Moeder se lieflike suster van die Paarl, nog iemand wat my met wysheid en liefde help vorm het. Sy kom kuier vir ses weke by ons en bly 12 jaar!

Dit het so gekom: Pieter moes skooltoe. Moeder huil: “My ou seuntjie is nog so klein en moet nou al koshuis toe.”

Maat sê: Ek sal vir Pietie leer.

Dit doen sy, en so goed dat ons later op die plaas in ’n buitegebou ’n behoorlike plaasskool het, van sub A tot Std 6, en die leerders van die bure en bywoners kom almal soontoe. Ek ook, tot std. 2, toe sy terug is Paarl toe — ek en almal baie hartseer, huil lang trane.

Ek is gebore toe sy reeds goed gevestig was by ons — en ek het TWEE liefdevolle ma’s gehad. Daar was altyd ’n spesiale band tussen ons.

Al het ons gereeld koerante per pos gekry, het sy nogtans so baie gedoen om leeslus by ons en die gemeenskap te bevorder.

Kaalkol se plaasskool

Toe getalle later val, moes ek soontoe. Die onderwysers het altyd by ons loseer, dan ry ek en hy soggens met ’n perdekarretjie met ’n kortpad deur die groot kamp soontoe.

Page 16: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

16

Kerk

Gereeld Sondae is ons na Campbell se kerk. Kleintyd as ons net sit, trek ek dadelik my blink skoene uit, haal die nuwe wit hoedjie af en slaap stroopsoet deur die diens met my kop op Moeder se skoot.

Visboerdery

In een van die twee groot damme wat Vader gebou het, het palmiet gegroei en hope klein vissies het daar uitgebroei. Hy adverteer in die Farmers’ Weekly en verkoop landwyd 25 vissies in gepaste paraffienblikke vir 25 sjielings. As die vissies gevang moes word, was dit vir my salig om so met modder tussen die tone te help. Met visgeld, sê Vader, maak ons al vier matriek.

Kalkoene

Moeder boer met kalkoene vir die Kersfeesmark. Ek was soms bang vir die goed met hul rooi kopklosse wat so staan en pronk. Hulle gaan drink water by ’n dam, sit op ’n ry en as een inval, foeter die ander agterna. Almal hol om hulle te red en huis toe te bring om droog te vryf.

Dan vryf ons warm as onder die vlerke, anders vrek hulle!

Groot trek Boland toe

In 1929 trek ons na Somerset op ’n klein plasie direk langs die Hoërskool Hottentots-Holland wat net ingewy word. Ek het toe pas Std. 5 gemaak, maar ons bly dan langs die skool, toe word ek sommer in Std. 7 gesit! Dit was ’n groot aanpassing, ook by die wêreldwyse Strand kinders, en ek ’n rooikop vol sproete!

Maar ek het mak geword, moes aanpas en later heerlike maats gehad. Baie Saterdae het ons gaan bergklim — Helderberg — of na die Steenbrasdam of die riviermond, met ons maats.

Ek was vier jaar op die Universiteit Stellenbosch. Daarna het ek twee jaar in Alexandria skoolgehou en toe op Montagu kom skoolhou. Hier trou ek in 1945 met Montie Hofmeyr en uit ons huwelik word gebore Amanda in 1953 en Willem in 1955.

Ek het 61 jaar op Montagu gewoon!

DIE VEELSYDIGE ESTHER

Esther was in haar Montagu-dae daarvoor bekend dat sy almal geken het en in almal belanggestel het. Niks en niemand het haar verveel nie. Haar deernis vir ander straal uit haar briewe.

Haar verwysings na familiesake en die doen en late van vriende oor die hele land spreek van ’n ruimhartige gees en lewendige belangstelling in die wêreld om haar.

Esther se briewe aan ’n vriendin soos Blackie Badenhorst sprankel van ’n onblusbare gees — selfs op haar hoë ouderdom! Dis dié dat Esther klink soos iemand vele jare jonger as sy. Haar geheue verstom jou en steek mense 40 jaar jonger as sy in die skande!

Een van haar groot passies was en is boeke en lees. Dit is seker geen oordrywing nie om te sê Esther Hofmeyr het Montagu aan die lees gekry en aan die lees gehou!

So was sy ook in 1946 die medestigter van die Montagu Leesunie. In 1996, toe die Leesunie sy 50ste bestaansjaar vier, was sy weer die voorsitter. Sy was ook op die biblioteekkomitee wat dit reggekry het

Page 17: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

17

om ons dorpsbiblioteek ’n provinsiale instelling te maak.

Uit haar interessante briewe aan haar troue vriendin Blackie Badenhorst kry mens ’n groter insig in die aard van dié merkwaardige vrou.

Hier is nog ’n brief wat sy aan Blackie geskryf het (geredigeer).

14 Februarie ‘12 Hallo liefste BlackieOp hierdie Valentynsdag, 14 Februarie 2012 wil ek weer met jou gesels. Ons twee was so ’n groot deel van mekaar se lewens — en nou is ons so ver van mekaar — letterlik. Gelukkig nie figuurlik geproke nie.Ek wil ook vir jou skryf, maar jy weet, my lewe is deesdae hier in Vonke-huis baie egalig. Min groot gebeurtenisse en veranderings soos met jou die geval is. Maar ek is steeds baie gelukkig en het heerlike maats, ook Elmarie Goosen wat oorspronklik van Montagu kom. Sy is nie net ’n uitmuntende verpleegster nie, wat my bystaan met my allerhande skete. Sy is ook ’n lekker vriendin.Dan neem Jolean Pienaar my elke Donderdag saam vir hare doen, inkopies, apteek toe, dokter as dit nodig is, gelukkig nou net ’n besoek vir pille.Soos jy weet is ek ’n groot fliekvlooi en gelukkig is die lieflike Frieda Bosman wat my gereeld saamnooi as daar iets besonders draai. Frieda, terloops, is Montagu se Jean Haarkapper se tante.Ons groep oud-Montaguers kom ook elke twee maande bymekaar, baie lekker, soms groot sports. Partykeer gaan ons na die Natuur-reservaat, salig lekker op die gras onder groot borne — na aan die natuur. ’n Yslike skilpad kom soms en stap gedweë reg deur onse kring en vreet te lekker aan ’n groen blaarslaaitjie wat iemand hom aanbied.Een keer het ses blesbokke behoorlik ’n paar tree van ons kring om (?kom) lê, kompleet soos vriende! Te pragtig, jy weet hoe mal is ek oor diere en die natuur. Maar ek wonder of jy baie van die groep sal ken. Baie was ook vir my vreemd aan die begin. Vir een het ek skoolgehou, die ander baie jonger, wat op die een of ander manier ’n Montagu-konneksie het.Maryna Kellerman (nou Brits) bel my so af en toe. Sy het onlangs slegte nuus gehad oor Gawie, wat baie siek is. Ai, ek dink weer aan François Krige se lyding. Mens kan net vir hom bid.Wat vir my vreeslik lekker was, was Sandra se besoek — en die allerheerlikste vrugte, perskes en kersies! L.g. is mos baie spesiaal en ek kan uitdeel en my pelle was almal so bly.Ek was net so vreeslik spyt dat jy nie saamgekom het nie. Maar ek weet jy is baie bedrywig by jou huis,Yvonne en ek gesels baie keer en sy het my vertel hoe jy jou huis verander. Dit lyk glo wonderlik. Nou ja, ou maat, ek ken jou mos — oorspronlik en spesiaal!Dit bring my by jou verjaarsdag. Baie geluk, met liefde daarby.Ek is so bly dat Michael (van Rooyen) nou beter is na die kwaai siekte. Julle het seker groot kwellings gehad toe hy die pyne kry.Ai, daar is mos glad nie so iets soos ’n lekker pyn nie. En reken dat die verbrande tand al die dinge geaktiveer het. Ek hoop nou rerig hy word, (of is reeds) homself. Hy is so ’n mooi jong kêrel, soos jy self sê, en so vol lewe, en kan my amper nie voorstel dat hy so siek kon wees nie. Gee hom ’n klapsoen van my.Ek het lekker gelag vir jou kuier op Bloemfontein saam met jou vaal klasmaats en jy met jou leerboetse en motorfietsmondering!En nou gaan al die François Krige-skilderye, ateljee, alles oor. Skilderye na die Kaap. Eintlik die einde van ’n era, laat my half hartseer voel. Maar Montagu is ook al erg aan die verander, baie Engels en is PRAGTIG — ek is so trots op onse dorp, en alte dankbaar vir die nuwe mense wat oorgevat het.Ek los ook nou die Montagu Mail, daar gebeur wel allerhande dinge, maar ek ken amper niemand meer nie.En nou leef jy ook in twee wêrelde — Montagu en Calitzdorp! Van al die rêrige ou pelle is net Yvonne oor — en Jacomi.Ja, ek is so bly dit gaan so goed met Maraja en die nuwe man — en dat sy ’n baba verwag. Wonderlik! Laat weet my, hoor.Vir Amanda sien ek gereeld. Sy en Frans is albei baie bedrywig en besig. Die huisverkopery is ook ’n veeleisende werk. Ek was die naweek by hulle. So heerlik om so bederf te word. Jy weet dat Servaas en Anneri verloof geraak

Page 18: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

18

het! Vreeslik verlief die twee, groot maats ook. Praat van trou later in die jaar.Jana werk hard en moet vanjaar haar laaste groot eksamen skrywe. Sy en ’n maat, Nicole, deel ’n woonstel, maar ek kom glad nie daar nie, dis drie stelle trappe en daarvoor sien ek nie kans nie, Maar dis glo baie lekker en mooi. Pragtige omgewing.Ons is so bly Francois het nou ’n vaste aanstelling gekry by WEG-tydskrif en hy geniet sy werk baie. Ons hou ook van die meisie wat hy nou het.Hy het ’n woonstel in Mowbray. So al die kinders uit die huis by Frans en Amanda, maar hulle is kort-kort daar, en het al drie oulik uitgedraai. Ek sien nou baie minder van hulle, almal so bedrywig met hul eie werk en lewe. Ek wonder so oor jou aandeel in die winkel op Calitzdorp. Hoop dit werk. En oor die kleinhoewe — dis erg opwindend en ek is so bly jy het die woonstel op Montagu verkoop en dat jou huis op die dorp tog darem deel van jou lewe gaan wees.Blackie, ek dink so baie aan jou — en dan beleef ek weer van die manewales wat ons saam deurleef en deurlag het. Was baie interessant. Maar ek dink Montagu mis jou geweldig, hoor!O ja, ek wou nog sê ek het Kersfees heerlik gekuier by Willem en Maria op Jeffreys die hele week. Dit gaan baie goed met hulle. Hulle hele ingenieursfirma landwyd is deur buitelanders oorgeneem. Willem bly aan in sy ou hoedanigheid. Hulle wou hom verplaas na Johannesburg of oorsee — gelukkig sê hy toe nee, en ek so bly hy weet waar sy geluk lê, nie net in ekstra geld of posisie nie.Maria het ’n lastige kwaal in die vorm van ’n seer tong ontwikkel, maar uiteindelik was dit beter. Charl op Bermuda het ook sy Achilleshiel se sening geskeur en hy moet hom nou ’n ruk doodstil hou en vir hom is dit erg.Ek lees baie, en is so bly my oë hou. Die Burger elke dag en drie of vier aande speel ons Scrabble — baie lekker.Baie liefdevolle gedagtes aan jou en MichaelEs

LAASTENS

Gedurende 2005 en tydens die Montagu Museum se 30ste verjaarsdag skrywe Heinie Heydenrych ’n boek getiteld Montagu en sy Mense. Hy dra die boek op aan Esther Hofmeyr, stigter en eerste voorsitter van die Montagu Museum se Trusteeraad.

Hierdie boek bevat ’n pragstorie oor Esther se 61 aktiewe jare op Montagu. Die skrywer publiseer hierna Nog Stories oor Montagu en sy Mense (2007). Hierin is ’n hoofstuk oor die Hofmeyr-vroue van Montagu.

Enigeen wat meer oor Esther wil weet of lees kan hierdie twee boeke steeds vandag by die Montagu Museum koop.

B.B.

Februarie 2014

8

Page 19: Esther Hofmeyr...Esther Hofmeyr Blackie Badenhorst het hierdie artikel in 2013 geskryf. Voorwoord Dit was ’n onlangse “terugslaggie in gesondheid” wat my laat besluit het —

19

Februarie 2013 ’n Heildronk op Blackie se 70ste verjaarsdag

Groenfontein, Calitzdorp