cynanchum viminale was voorheen sarcostemma viminale) · 2018-01-23 · field guide to succulents...
TRANSCRIPT
Cynanchum viminale (was voorheen Sarcostemma viminale)
E: Caustic vine ,Milk rope A: Bobbejaantou, Melktou, Spantoumelkbos D: H: Eninga
Een van die eienaardigste plante in die veld is die
bobbejaan- of melktou of spantoumelkbos. Dit
klim op in bosse of struike net om dan af te
hang. Dikwels draai die takke om mekaar soos ‘n
koord.Gewoonlik lyk dit deurmekaar. Hier op die
foto hang dit sommer teen die putmuur af tot op
die grond. Partykeer groei dit struike en/of bosse
heeltemal toe. Die plant blyk slegs uit planttoue
te bestaan. Blare is baie selde sigbaar, gewoonlik
is die toue kaal. In die somer dra dit pragtige
klein gelerige blommetjies wat lekker ruik.
Daaruit kom horingagtige peule wat later
uitdroog, oopbars en saadjies met vlieg-sydrade
aan een kant vrystel. Die wind versprei die
sade.
Hierdie plant is in die suidelike Afrika wyd verspreid. As jy een van die toutakke breek, vloei
daar melk of lateks uit. As dit nie gereën het nie, kom daar min lateks uit en die toutakke kan
nie gebreek word nie (soos bv. in winter). Moontlik is hulle dan deur mense as spantoue
gebruik. Hulle is dan nogal taai. As hulle vol sap is, breek hulle makliker en baie sap vloei uit.
Daar word beweer dat die plant giftig is, maar diere sal dit slegs vreet, wanneer daar niks
anders vreetbaars meer is nie. In sentrale Afrika word dit tog ook as dierevoeding gebruik. Daar
is wel vrektes a.g.v. vergiftiging met Cynanchum viminale gerapporteer (RSA en
Australië,hoofsaaklik onder kleinvee), maar dit gebeur selde. Dit kan wees, dat dit moontlik nie
altyd giftig is nie OF dat dit in verskeie areas verskillend giftig is. Dit word hier in suidelike Afrika
EN in Australië so ondervind, ‘n oortuigende verklaring daarvoor is nog nie gekry nie.
soos ‘n koord gedraai bo-op die struik se kroon draai om sy eie toue
Inheemse bevolkingsgroepe gebruik wel hierdie plant medisinaal en vir rituele. Boesmans bv.
berook die plek waar iemand afgesterwe het met smeulende takke. Takke word daar dan ook
in stukkies gebreek en uitgestrooi om bose geeste weg te hou.
Om melkvloei te stimuleer by ‘n ma wat babavoed, word die borste liggies met die toutakke
geslaan.Dan word die toutakke om die vrou se borskas gebind. Daar is ook bevolkingsgroepe
waar ‘n aftreksel van die plant vir melkstimulering ingeneem moet word. Ovahereromense
verwyder vratte met die plantmelk. Ander gebruike is wondbehandeling met die
plantmelk.
Boesmankinders teken op hulle arms en bene
patrone met stukkies gebreekte tak, waar die
melk uitkom. As dit gedroog het, vryf hulle
houtskoolstof daaroor om die lyne swart te
maak. So aap hulle die grootmense na, wat
snymerke op hulle liggame aanbring om een of
ander siekte af te weer of om ‘n suksesvolle
jagtog te dokumenteer of net om dit te versier.
Dit werk, ek het getoets! (Water of seepwater
haal dit nie af nie, net ‘n borseltjie).
’n Heel ander baie interessante aspek van hierdie plantsoort is sy verspreiding: Dit is regtig baie
wyd verspreid, hele Afrika en alles oos daarvan tot in Australië. In Australië het die plant (so
meen ek) gedurende die jare wat dit van sy oorspronklike landmassa (Afrika) weggebreek en
oos gedryf het, ietwat verander en ‘n eiesoortige plant geword: Cynanchum australe. Daar is
altans nog BAIE ooreenkomste, soveelso, dat vir my oog op Google se prentjies die plant
dieselfde lyk.
Cynanchum viminale subsp. viminale Cynanchum viminale subsp. australe
Hier by ons groei daar nog ‘n klein “nefie” van Cynanchum viminale, nl. Cynanchum
orangeanum. Dit word maar een voet hoog, is moeilik sigbaar tussen die gras en groei ook nie
elke jaar nie, seker afhangende
van die reën. In herfs
droog die plant weg tot
daar, waar die
horingagtige saadkapsule
gevorm het. Moontlik loop
die plant met die volgende
groeiseisoen weer uit die
houtagtige wortelstok uit
(ek kon dit nog nie
waarneem nie, sien die
plant nie dikwels genoeg nie).
Hoewel by die Boesmans nie algemeen bekend nie, word dit tog medisinaal gebruik teen hoes,
ook tering en nekpyn. ’n Aftreksel van die wortels moet gedrink word.
Inligtingsbronne: Heil-, Gift- und Essbare Pflanzen in Namibia (E.v.Koenen) Wildflowers of the Central Highlands of Namibia (Coleen Mannheimer) Kalahari Truffle & Gemsbok Bean (Arno Leffers)
Poisonous Plants of South Africa (B-E v.Wyk, F.v.Heerden, B.v.Oudshoorn) Field Guide to Succulents in Southern Africa (Gideon F.Smith, Neil R.Crouch, Estrela Figueiredo)
Wild Flowers of Namaqualand (Annelise le Roux) People’s Plants (Ben-Erik van Wyk, Nigel Gericke)
https://en.wikipedia.org/wiki/Cynanchum_viminale
Fotos Cynanchum viminale subsp.viminale en C. viminale subsp.australe : Google
Teks en res Fotos: Anka Januarie 2018