fotografie, die begin · fotografie, die begin deur pieter pretorius welkom by "fotografie,...
TRANSCRIPT
Fotografie, Die Begin Deur Pieter Pretorius
Welkom by "Fotografie, Die Begin"
Jare gelede het ek ‘n intermediêre fotografie kursus aangebied. Ek bied nie meer die kursus aan nie, maar
het hierdie boek se inhoud op daardie kursus baseer. Daarom sal u soms praktiese oefeninge aan die einde
van ‘n hoofstuk vind. Die doel van hierdie oefening is dat u vertroud met u kamera kan raak. Onthou: daar is
geen beter manier om te vorder in fotografie, as oefen nie!
Een van die mees algemeenste probleme van fotografie vandag is dat mense nie hulle kamera's gereeld
genoeg gebruik nie. U gaan tog nie 'n duur Duitse motor koop en slegs twee of drie maal per jaar daarmee
ry nie, wel dit is hoeveel keer die algemene kamera tuis gebruik word.
Die foto's, wat ter illustrasie in hierdie kursus gebruik is, is almal by 'n lae resolusie geskandeer ten einde
die lêergrootte van die kursus so klein moontlik te hou en sodoende die aflaaityd te verlaag. Dit behoort op
u skerm goed te vertoon, maar sal nie suksesvol uitgedruk kan word nie. Die foto's sal op hul beste vertoon
wanneer u skerm se resolusie as ten minste 800X600 gestel is.
Belangrik: U sal sien dat ek nog baie na ou film kameras in hierdie boek verwys. Die basiese beginsels van
fotografie soos fokus, beligting, diepte van veld en komposisie bly diselfde, maak nie saak of jy ‘n digitale
kamera of ‘n ou film kamera gebruik nie. Die enigste verskil tussen die ou film kameras en digitale kameras
is die manier waarop dit die beeld vaslê.
Die Geskiedenis van Fotografie
Die
Jaar Wat het gebeur
200
BC
Die Kamera Obskura (Camera Obscura) is gebruik om mense te vermaak deur die
Griekse aristokrasie.
1400 Leonardo de Vinci en sy kollegas eksperimenteer met lense ten einde 'n skerper
beeld met die "Camera Obscura" te verkry.
1700 Johann Zahn, 'n Duitse monnik, maak die eerste werkende kamera. Dit werk op
dieselfde basis as vandag se enkellens reflekskamera's.
1827
Nicephore Niepce, 'n Franse amateur wetenskaplike, vervaardig die eerste foto. Hy
gebruik 'n kamera wat op die Zahn prinsiep gebaseer is en belig 'n piouterplaat wat
met bitumen en judea bedek is. Die beligtingstyd vir die foto was ongeveer agt ure.
1835 Die eerste negatief is deur Fox Talbot in die Verenigde Koninkryk vervaardig.
1855
Die eerste oorlogsfoto's word geneem:
a."Crimean War"
Fotograaf - Robert Fenton
b.Amerikaanse Burgeroorlog
Fotograaf - Matthew Brady
1870
Peter von Voighlander, 'n glasmaker van Duitsland, ontwerp en bou die eerste
moderne lens met ingeboude verstelbare lensopeninge (apertures). Die lens het as
die "German Lens" bekend gestaan.
1890 George Eastman stig die Kodak maatskappy en stel fotografie aan die publiek
bekend. Sy spreekwoord was "You press the button, we do the rest."
1914
Oscar Barnack, 'n wetenskaplike, werksaam by die Leitz optiese maatskappy,
ontwerp die eerste 35mm kamera, genaamd die Leica. (Lei vir Leitz en ca vir
camera.)
1937 Exacta van Duitsland vervaardig die eerste enkellens reflekskamera met
vervangbare lense.
1963 Dr Land stel sy Land kamera bekend wat die Polaroid film gebruik wat ook deur
hom ontdek is.
1970 Vir die eerste keer in die geskiedenis verkoop kleurfilm meer as swart en wit film.
1985 Video tegnologie, 'n alternatief tot tradisionele Silwerfotografie.
1995 Elektroniese en digitale beelde vir die toekoms.
Films en Witbalans (digitaal)
In 'n digitale kamera vervang die CCD van die kamera die film wat ons in ou kameras gekry het. Dit is egter
baie belangrik om te weet hoe films gewerk het en watter tiepese films bekikbaar was. Dit gaan jou help om
sommige verstellings van die digitale kamera beter te verstaan.
Die proses om die beeld vas te lê bly min of meer dieselfde vir beide film en digitaal. Die lig tref die CCD en
word deur die CCD opgeneem. In die geval van 'n film tref die lig die film en die silver partikels reageer
daarvolgens.
Digitale kameras het ook 'n sensitiwiteit verstelling. By 'n film kamera koop ons vinniger of stadiger films,
met 'n digitale kamera verstel ons die filmspoed soos dit ons of die lig omstandighede pas.
Daar is verskillende tiepes film beskikbaar. Jy kry film met verskillende lig sensitiwiteit en jy kry ook films vir
verskillende kleur skakerings. Die sensitiwiteit word deur die ASA of ISO waarde aangedui. ‘n 100 ASA is die
mees algemeenste film. ‘n 800 ASA is byvoorbeeld ‘n baie meer sensitiewe film wat vir hoëspoed fotografie
soos sport fotografie gebruik word. Indien jy fotos in ‘n lae lig situasie sou neem, soos skoolkonsert, sou jy
ook ‘n vinnige film soos ‘n 800 ASA gebruik.
Net so kry jy ook op jou digidale kamera ‘n verstelling waar jy die ISO of ASA van die CCD kan verstel.
U mag dalk wonder hoekom ons nie die kamera dan sommer op die vinnigste filmspoed gebruik ten einde
te verseker dat daar altyd genoeg lig is nie?
Daar is voor en nadele aan alles in die lewe. Die nadeel om ‘n hoëspoed film soos 800 ASA te gebruik is dat
jou foto baie grynerig mag wees en die kwaliteit is nie so goed soos wat dit met ‘n lae spoed film
(verstelling) sou wees nie.
Presies dieselfde geld vir digitale kameras. Hoewel jy jou kamera kan stel tussen 100 en 3200 ASA (sommige
kameras) sal die fotos wat jy by 3200 ASA neem nie naastenby die kwaliteit wees as die wat jy by 100 of 200
ASA neem nie.
Waar ons in die ou dae ‘n daglig of tungsten film gekoop het ten einde te kompenseer vir die verskillende
tipes lig, beskik vandag se digitale kameras oor ‘n “witbalans” funksie waar ons die kamera kan verstel
volgens die lig kondisies.
Die foto hieronder illustreer die uitwerking van verskillende lig kondisies. Hierdie fotos was nog met gewone
sonlig film geneem.
Die onderwerp is binnenshuis met ‘n gewone tungstenlig (gewone ou gloeilamp) geneem. Dit het ‘n warm geel
skynsel. By die foto aan die regterkant het ons ‘n flits (flash) gebruik.
Die meeste digitale kameras het ‘n verstelling waar jy kan kies tussen “sunlight”, “indoor”, “fluorescent”, etc
wat hiervoor gaan kompenseer. Jy kan daarvoor kompenseer indien jy akkurate kleure in jou foto moet hê,
maar indien jy juis die warm gevoel van die geel lig wil vasvang gaan jy sukkel.
Om dit met ‘n digitale kamera reg te kry sal jy jou wit balans “manually” moet stel in sonlig (sien jou kamera se
handleiding). Dan moet jy op daardie verstelling jou onderwerp onder tungstenlig fotografeer.
Foto geneem in gewone
tungsten en kerslig.
Dieselfde foto met 'n flits
(flash) geneem.
Lêer Tiepes (file types)
‘n Digitale kamera stoor die beeld op ‘n geheu-kaart in die kamera. Meeste goedkoop kameras verwerk die
beeld en stoor dit as ‘n JPG (spreek uit “jay peg”)lêer. Die meer professionele kameras kan die rou data net
so stoor sonder om dit te verwerk of hulle kan die data as ‘n TIFF lêer stoor. ‘n TIFF se kwaliteit is baie beter
as die van ‘n JPG, maar die lêer is gewoonlik baie groot en dit is waarom JPG algemeen gebruik word.
Rou data word op die kamera as RAW aangedui.
Indien die kwaliteit van jou foto krities is, is dit altyd beter om die fotos in RAW of TIFF the neem en dit later
op jou rekenaar om te skakel na JPG. Die rede daarvoor is dat die omskakelings sagteware op die kamera
self nie so goed is soos die wat jy op jou rekenaar installeer nie. Die kamera se omskakeling na JPG is dus nie
so goed soos wat jy op die rekenaar kan doen nie.
Wat se resolusie om te gebruik?
Benewens die lêer tiepe waarvan u kan kies sal u kamera u ook die keuse gee om die resolusie te kies. Hoe
laer die resolusie hoe kleiner die lêer grootte, maar ook hoe laer die kwaliteit. Indien u sommer net ‘n foto
neem om op ‘n webtuiste te plaas of vir ouma per epos te laat weet hoe Sarie op haar eerste skooldag gelyk
het, is dit nie nodig om ‘n hoë resolusie foto te neem wat 3Mb groot is nie. Om u ‘n aanduiding te gee, fotos
wat op ‘n webtuiste gebruik word is selde groter as 600 pixels breed. Kyk nou na onderstaande tabel en u
sal sien dat selfs die laagste resolusie reeds groter is as wat jy vir ‘n webtuiste nodig het. Die uitsondering is
natuurlik indien u iets soos ‘n fotografie webtuiste het waar die absolute kwaliteit van belang is.
Digitale kameras dui die resolusie op baie verskillende maniere aan. Sommige het ‘n een stêr, twee stêr en
drie stêr, ander gebruik sommer net low, medium en high. Een van my kameras dui die megapixel waarde
aan wat ek dink ‘n baie goeie manier is om dit te doen. Hoewel dit ‘n 6 megapixel kamera is kan jy kies
tussen 1, 2, 3, of 6 megapixel verstelling. Dit maak nie saak of jou kamera ‘n stêr gradering, die “low
medium high” of die megapixels aandui nie, almal is vir jou ‘n aanduiding van die resolusie waarop jy die
foto gaan neem.
Die onderstaande tabel gee ‘n aanduiding van tipiese lêer groottes en die grootte foto wat hy daarvan kan
laat druk.
Uitdruk grootte
(mm)
Beeld Grootte
(pixels)
Rou of TIFF lêer
grootte)
Gekompakteerde
JPG Grootte
Kleinste digitale
kamera benodig
90x150 1050x1500 1.5Mb 50Kb 1 Megapixel
100x150 1200x1800 6Mb 65Kb 1 Megapixel
125x175 1500x2100 9Mb 95Kb 2 Megapixel
150x200 1800x2400 12Mb 130Kb 2 Megapixel
150x230 1800x2700 14Mb 145Kb 2 Megapixel
200x250 2400x3000 20Mb 210Kb 2.5 Megapixel
200x300 2400x3600 24Mb 252Kb 2.5 Megapixel
250x300 3000x3600 31Mb 315Kb 3 Megapixel
300x380 3000x4500 38Mb 390Kb 3 or better
Megapixel
Uit bostaande tabel kan u sien dat selfs ‘n 3 Megapixel kamera goed genoeg is om ‘n A4 groottee foto te
druk.
Die Kamera
Daar is drie hoofsoorte kamera's wat tans nog algemeen gebruik word. Al drie soorte is beskikbaar in
digitaal of film formaat:
Medium Formaat – Professioneel – Dit is nou soos hou Hasselblad kameras.
Enkellens reflekteer - Professioneel en algemeen. Die Engelse afkorting SLR (single lens reflex) word
algemeen gebruik en mag vir sommige van julle bekend lyk.
Deur-die-lens - Algemeen. Die mik-en-druk soos ons hulle in die ou dae geken het. Hierdie kamera's is tans
baie meer verfynd en gesofistikeerd as 'n jaar of twee gelede.
Ons sal hoofsaaklik eers na die SLR en mik-en-druk tipes kyk. Die medium formaat en digitale kamera's sal
meer breedvoerig in die meer gevorderde kursusse bespreek word.
Ten einde die oefeninge in hierdie kursus te voltooi, sal u 'n basiese SLR kamera benodig.
Die SLR tipe kamera
Ons bespreek hier die werking van ‘n film kamera. Die werking van ‘n digitale kamera is dieselfde. Die
enigste verskil is dat die beeld by ‘n digitale kamera op die CCD vasgevang word en by ‘n filmkamera op
film. Die digitale kamera meet steeds die lig en bepaal ‘n sluiterspoed.
Hierdie kamera's is gewoonlik van die tipe waarvan die lens van die kamera vervangbaar met 'n ander
grootte lens is. Die onderstaande diagram toon 'n skematiese voorstelling van so 'n kamera. Hoewel hierdie
een van die ou manual tipe kamera's is, is die basiese meganiese werking van die meer moderne
outomatiese kamera's dieselfde.
Die beeld wat deur die loervenster (view finder) van die kamera sigbaar is, word deur 'n spieël (14) op 'n
dowwe glasplaat (15) gereflekteer. Hierdie spieël beweeg op en uit die pad sodra die
sluiterloslaatknop(shutter release button) gedruk word. Dit is waarom die beeld in die loervenster swart
raak sodra jy die foto neem. Die sluiter meganisme is agter hierdie spieël geposisioneer. Sodra die
sluiterloslaatknoppie gedruk word, sal die sluiter oop en toe beweeg teen die spoed waarteen die kamera
gestel is. Deur die spoed waarteen die sluiter oop en toe maak te beheer, kan die hoeveelheid lig wat die
film bereik, beheer word. Hierdie spoed word die sluiterspoed (shutter speed) genoem. In die lens kom 'n
verstelbare diafragma meganisme voor. Hierdie meganisme maak dit moontlik om die grootte van die
lensopening (f-stop) te verstel. Hierdie f-stop bepaal nie net die hoeveelheid lig wat deur die lens beweeg
nie, maar ook die diepte van veld van die foto. Met hierdie tipe kamera kan die fotograaf die fokus self
verstel. Meer moderne kamera's beskik ook oor 'n outomatiese fokus funksie.
Die drie belangrikste verstellings tydens die neem van 'n foto is die sluiterspoed, f-stop en die fokus.
Wenk
'n Basiese SLR is baie meer geskik vir ernstige fotografie as 'n basiese mik
en druk kamera.
Vir meer gevorderde fotografie, soek 'n SLR kamera met 'n "diepte van veld
voorskou" (depth of field preview) funksie.
'n Kamera met te veel spesiale outomatiese funksies kan verwarrend en
moelik om te gebruik wees.
Voor jy 'n spesifieke maak kamera koop, bestudeer eers die koste van die
gepaste lense, batterye en ander bybehore. ‘n Kamera wat standaard
“penlight” batterye (AA) gebruik kan jou baie geld op die langeduur spaar.
Die deur-die-lens tipe kamera
Hierdie kamera word ook die mik-en-druk kamera genoem, aangesien dit normaalweg ten volle automaties
is. Dié tipe kamera was oorspronklik ontwerp vir die beginner fotograaf, maar soos tegnologie gevorder het,
het dit baie meer gesofistikeerd geraak en kan baie goeie resultate vandag met hierdie kameras verkry
word. Die fotograaf het egter steeds nie baie tot geen beheer oor die verstellings van die kamera nie. Die
fotograaf hoef dus geen verstellings aan die kamera te maak om te verseker dat die korrekte hoeveelheid
lig die film bereik sodra hy die foto neem nie. Die onderstaande illustrasie dui 'n eenvoudige mik en druk
kamera aan. Meer gesofistikeerde kameras is vandag algemeen beskikbaar.
Met ou film kameras was die beeld is direk deur 'n loervenster sigbaar gewees, maar vandag se digitale
kamers vertoon die beeld op ‘n skerm aan die agterkant.
U kan wel ‘n mik en druk kamera gebruik. U kan goeie resultate met moderne digitale mik en druk kameras
kry, maar dit is nie die ideale kamera om te gebruik indien u ernstige fotos wil neem nie. Die grootste
probleem met mik en druk kameras is dat u baie min beheer oor funksies soos sluiterspoed en f-stop het.
Oefening
U behoort nou min of meer die basiese werking van die kamera en fotografiese proses te verstaan.
Aangesien ons eers in die volgende modules met meer ernstige werk begin, is hierdie oefening slegs om u
meer vertroud met u kamera te maak.
Tydsbeligting
Mens kan selfs in die aand, sonder kunsmatige beligting, baie mooi foto's neem. Ons noem hierdie foto's
"tydsbeligtings-" of "time exposure" foto's. Die beste tyd om hierdie foto's te neem is ongeveer 15 tot 20
minute voor sonop en 15 tot 20 minute na sonsondergang. Indien jy hierdie foto's neem wanneer dit reeds
donker is, sal daar groot donker areas in jou foto voorkom. Indien die foto in die voorgeskrewe tyd geneem
word, sal die donker areas met donker blou/grys areas vervang word en sal daar steeds bietjie detail in die
donker areas sigbaar wees. U kamera moet ‘n “bulb” funksie he om hierdie oefening te kan doen.
Volg die volgende stappe:
• Laai u kamera met 'n 100 ASA film of stel die digitale kamera op 100ASA
• Vind 'n interressante voorwerp met helder ligte.
• Monteer u kamera op 'n driepoot. Deur u "bulb" funksie op u kamera en 'n stophorlosie te gebruik,
neem ses foto's van elke toneel op die voorgeskrewe kondisies soos in die tabel hieronder
uiteengesit (Die "bulb" funksie van u kamera, maak dit vir u moontlik om die sluiter van die kamera
oop te hou, solank as wat u die sluiter-loslaat-knop druk).
• Indien u 'n afstand beheer meganisme vir u kamera het, gebruik dit, andersins moet u die kamera
so stil as moontlik probeer hou.
• Stel die sluiterspoed verstelling van u kamera op die "bulb" funksie. Hierdie funksie word gewoonlik
met 'n "b" aangedui.
• Stel die lensopening van u kamera op f8.
Deur die "bulb" funksie van u kamera te gebruik, neem nou een foto van elke toneel met elk van die
volgende tye:
2 sekondes 4 sekondes 8 sekondes 15 sekondes 30 sekondes 60 sekondes
Fotografeer vier verskillende tonele ten einde u film vol te maak.
Onthou tog asseblief dat u in Suid-Afrika bly. Moet asseblief nie hierdie oefening alleen gaan uitvoer nie,
neem 'n vriend of vriendin saam. Dit gebeur ook soms dat, terwyl u op u foto konsentreer, u kamera-sak
wegraak. So, die vriend of vriendin is nie net daar vir veiligheidsredes nie, maar ook vir ekstra oë.
Tydsbeligting
Hierdie foto is slegs met behulp van kerslig en
'n gewone flitslig (nie flash, mini Maglite)
geneem.
Behalwe vir die kerse wat in die foto sigbaar
is, is addisionele kerse om die tafel gerangskik.
Nadat die kerse gerangskik was, het die bak 'n
baie sterk skaduwee op die tafel gemaak.
Geen detail was in die donker skaduwee
sigbaar nie. Die foto is geneem met 'n f-stop
van f 22 en sluiterspoed van 70 sekondes.
Tydens die beligting is 'n flitslig geneem en
slegs die skaduwee van die bak is "ingekleur"
deur die lig van die flits heen en weer in die
skadu area te beweeg.
Aangesien die maksimum diepte van veld vir
die foto verlang was, is op 'n punt, ongeveer
by die skaduwee van die glas, gefokus.
Let op hoe die lyne, wat deur die krake in die
tafel gevorm word, jou aandag op die bak
vrugte vestig.
Die "f-stop" - wat is dit en hoe werk dit
Net soos die pupil van die oog grootter en kleiner word ten einde die regte hoeveelheid lig deur te laat, net
so het die kamera 'n meganisme wat die hoeveelheid lig wat deur die lens beweeg, beheer. Wanneer 'n
mens in 'n donker vertrek is, sal sy pupil groot wees ten einde meer lig deur te laat.
Binne-in die lens van die kamera kom 'n verstelbare diafragma voor. Die doel van hierdie diafragma is om
die lensopening van die lens te verstel. Deur die lensopening te verstel kan nie slegs die hoeveelheid lig wat
die film bereik beheer word nie, maar ook die diepte-van-veld van die foto. Die f-stop is die eenheid waarin
die lensopening gemeet word. Die f-stop nommer is omgekeerd eweredig aan die grootte van die
lensopening. So sal 'n f22 'n baie klein lensopening wees, met 'n baie groot diepte van veld en 'n f4.5 sal 'n
baie groot lensopening wees, met 'n baie klein diepte van veld. Met 'n groot lensopening en 'n klein diepte
van veld, sal meer lig die film bereik. Dit maak 'n groot lensopening dus meer geskik vir fotografie in
swakker ligomstandighede, maar ongelukkig met die verlies van diepte van veld. Sien ook die onderstaande
illustrasie. Die f-stop nommer is gelykstaande aan die diameter van die opening relatief tot die diameter
van die voorste lenseenheid. 'n F-stop van f16 sal dus 1/16 (een sestiende) van die diameter van die voorste
lenseenheid wees.
Wenk
Haal die lens van jou kamera af. Hou dit in so 'n posisie dat u van agter deur die lens
kan kyk. Draai nou die f-stop verstelring op die lens heen en weer. U sal sien hoe die
lensopening verander soos u die ring draai.
U sal merk dat die verskil in f-nommers gewoonlik ongeveer twee maal soveel as die vorige nommer is (f5.6,
f8, f16, f32). Dit word 'n vol-stop verstelling genoem. Indien u lens verstellings tussen-in het, word dit 'n
halfstop verstelling genoem (f4.5, f5.6, f8, f11, f16, f22, f32). Soms is daar nie 'n waarde op die halwe stop
aangeteken nie, u sal net merk dat daar 'n haakplekkie vir die f-ring tussen twee waardes is. Hierdie tipe
lense is gewoonlik baie meer akkuraat as vol-stop verstelling lense en is dus gewoonlik ook 'n beter opsie
wanneer u lense gaan koop. Op ouer kamera's sal die f-stop op die f-stop ring op die lens voorkom. Op
nuwer, meer moderne kameras sal die f-stop waarde ook op die lens voorkom en dan ook in die LCD
vertoonskerm. In hierdie skerm sal dit as Av of A aangetoon word ("A" vir Apperture).
Beeld kwaliteit
Algemene foto-kwaliteit kan deur die f-stop beheer word
wanneer van algemene lense gebruik gemaak word. Aangesien
lense 'n minuskus vorm, sal die beeld wat aan die buiterand
van die lens val, effens vervorm. 'n Beter beeldkwaliteit kan
dus verkry word deur 'n kleiner lensopening te gebruik en die
beeld sodanig te dwing om nie deur die rand van die lens te
beweeg nie. Dit is ook nie raadsaam om die minimum
lensopening te gebruik nie, aangesien u probleme met te min
lig kan ondervind. 'n Goeie riglyn is om 'n f-stop in die middel
van die lens te gebruik. Indien u lens se minimum lensopening
f32 is, gebruik dan f16 om te verseker dat u 'n skerp beeld sal
verkry. Duurder lense is meer sorgvuldig gesny en hierdie
probleem is nie sigbaar in foto's wat met 'n duurder lens
geneem is nie.
Diepte van veld
Nog 'n vreemde term, maar ook 'n baie nuttige hulpmiddel. Die diepte van veld van 'n foto beteken die
afstand wat verskillende voorwerpe in die foto in fokus is. Indien alles in die foto in fokus is, het ons 'n
oneindige diepte van veld. Indien jy 'n portret van 'n persoon neem en slegs haar neus en oë is in fokus,
maar die res van haar gesig is uit fokus, het ons 'n baie klein diepte van veld. Sien ook die meegaande figuur
1.
Waarvoor gebruik ons die diepte van veld ?
Soos reeds bespreek, word die lensopening verstel ten einde die korrekte hoeveelheid lig na die film deur te
laat. Die verskil in diepte van veld kan soms egter baie kreatief gebruik word. Twee uiterste voorbeelde is:
1. Indien jy 'n landskapfoto neem en graag alles in die foto in fokus wil hê ten einde die maksimum detail te
toon. In hierdie geval sal u die f-stop na die maksimum nommer verstel (die kleinste lensopening) en
verkieslik die kamera op 'n driepoot monteer.
2. Indien u 'n voorwerp wil afneem wat u nie kan skuif nie, maar 'n steurende agtergrond verhoed u om die
voorwerp af te neem. In hierdie geval sal u die lensopening na 'n geskikte lensopening stel. Die f-stop in
hierdie geval sal afhang van die tipe lens wat u gebruik en ook die afstand tussen u voorwerp en die
agtergrond. In hierdie geval sal dit baie nuttig wees indien u kamera 'n diepte van veld voorskou funksie
het. Indien u kamera nie oor 'n diepte van veld voorskou funksie beskik nie, sal u meer as een foto moet
neem. Indien u 'n persoon wil afneem, met 'n standaard 50mm lens wat ongeveer 10 meter van die
agtergrond af is, sal u ongeveer 'n f 5.6 moet gebruik.
Wenk
Onthou dat die sluiterspoed altyd saam met die f-stop aangepas moet word. Indien u
die korrekte lesing vir 'n betrokke toneel verkry het en u verstel die f-stop een
nommer kleiner (een stop meer lig) moet u die sluiterspoed een stop hoër (vinniger)
gestel word. As u dus f 8 en 1/250 verstelling gehad het en u verstel dit na f 5.6, moet
u die sluiterspoed dienooreenkomstig na 1/500 verstel.
In die eerste foto (f 4) is slegs een klawer in fokus, in die tweede foto (f22) is meer as
drie in fokus.
Die tweede foto het dus 'n grootter diepte van veld as die eerste foto.
Maksimum diepte van veld
Uit bostaande skets is dit duidelik dat 'n groter area aan die agterkant van die voorwerp in fokus gaan wees
as aan die voorkant. Hierdie verdeling is gewoonlik een derde voor en twee derdes agter die voorwerp.
Indien u dus 'n voorwerp wil fotografeer waar u 'n maksimum diepte van veld verlang, is dit altyd raadsaam
om op 'n denkbeeldige punt te fokus. Om die denkbeeldige punt te bepaal kan u die volgende probeer:
Fokus op die punt naaste aan u. Let op die posisie van die fokusring. Fokus nou op die verste punt van die
voorwerp. Let weer op die posisie van die fokusring. Draai die fokusring nou ongeveer twee derdes van die
afstand terug. Indien u nie 'n diepte van veld voorskou funksie op u kamera het nie, sal die foto in die
meeste gevalle nou uit fokus lyk. Kies u maksimum lensopening (f 22 of f 32). Neem die foto. Hoewel die
beeld deur die loervenster uit fokus gelyk het, behoort die foto meestal in fokus te wees. Hierdie probleem
word groter hoe nader u aan die voorwerp beweeg en veral wanneer u 'n makrolens gebruik.
Onthou dat die beeld in die loervenster nooit jou resultaat gaan verteenwoordig nie. Wanneer u deur die
loervenster kyk en fokus, sal die diafragma binne u lens altyd op 'n maksimum grootte wees. Wanneer u die
f-stop verstel, gaan die diafragma nie verstel nie. Die lens beskik oor 'n meganisme wat die diafragma na die
korrekte grootte verstel sodra u die foto neem. Die rede hiervoor is dat u soveel moontlik lig tot u
beskikking het ten einde die fokus en komposisie proses te vergemaklik. Die enigste tyd wanneer u sal sien
hoe u foto regtig gaan lyk, is wanneer u kamera met 'n diepte van veld voorskou funksie toegerus is. Moet
dus nie moed verloor as u diepte van veld deur die loervenster te min lyk nie.
Fokus
Die lens is toegerus met 'n ring wat u kan draai ten einde een of meer van die lenseenhede vorentoe en
agtertoe te skuif en dus die fokusafstand van die lens verander. 'n Beeld is in fokus wanneer u die skerpste
beeld waarneem.
Ek weet meeste mense vandag vertrou totaal en al op die outomatiese fokus funksie van die kamera. Dit is
egter nuttig om te weet hoe om die manual fokus funksie te gebruik. Daar gaan soms situasies wees waar
die kamera op verkeerde voorwerp wil fokus, dan is dit beter om eerder die fokus werk self te doen.
Die meeste ouer kamera's het 'n ingeboude hulpmiddel wat u kan help om akkuraat te fokus. In die middel
van die loervenster sal u 'n dowwe kring waarneem. Indien u die kring mooi beskou, sal u merk dat die
middelste gedeelte van die kring in twee helftes gedeel is met die skeidslyn horisontaal. Wanneer u nie
seker is oor die fokus van die beeld nie, moet u poog om 'n vertikale lyn in die middel van die venster te
posisioneer. Indien die beeld uit fokus is, sal die lyn gebreek wees en die punte nie ooreenkom nie. Die
prisma-ring, wat om hierdie gedeelde area voorkom, sal ook baie duidelik wees. U beeld is in fokus wanneer
die punte van die vertikale lyn inlyn met mekaar is en die prisma-ring met die beeld saamsmelt. Sien die
onderstaande illustrasie.
Uit Fokus In Fokus
Moderne kamera's beskik oor 'n outomatiese fokusfunksie. Hierdie funksie kan u erg in die steek laat indien
dit nie reg gebruik word nie.
In die middel van die loervenster sal u gewoonlik twee hakies waarneem wat min of meer so lyk: [ ]. Soms
kom daar ook 'n kol in die middel van die hakies voor. Hierdie hakies toon die punt, of area, aan waarop die
kamera gaan fokus. Indien die kamera met 'n "spot meter" funksie toegerus is, is dit dan ook waar die
kamera sy ligmeterlesing gaan neem. Nadat u die laaste module van hierdie kursus voltooi het (komposisie),
sal u sien dat die outomatiese fokusfunksie ons normaalweg verhoed om die onderwerp van belang in die
middel van die foto te plaas. Hoe nou gemaak? Sodra jy die kamera skuif, fokus dit weer op 'n ander plek.
(Vandat outomatiese fokus kamera's uitgekom het, is 'n voorwerp van belang in die middel van die foto, 'n
baie algemene gesig). Om die probleem te oorkom, gaan soos volg te werk:
U sal merk dat die lens begin draai sodra u die sluiterloslaatknop halfpad indruk. Posisioneer die voorwerp
waarop u wil fokus sodat dit tussen die twee hakkies is. Indien u 'n persoon fotografeer, sorg dat een of
albei haar oë tussen die hakkies is. Druk nou die sluiterloslaatknop (shutter release) halfpad in sodat die
kamera op die voorwerp kan fokus. Moet nie die knop los nie. Terwyl u nou die knop halfpad ingedruk hou,
skuif die kamera ten einde die verlangde komposise te verkry. Indien u gelukkig is met die komposise, druk
die knop verder in sodat die sluiter losgelaat kan word. Let wel: sodra u die knop los en weer indruk, sal die
kamera op die voorwerp tussen die hakkies fokus.
Wanneer u verkies om 'n outomatiese fokus kamera met die hand te fokus, beskik dit normaalweg oor 'n
funksie wat 'n biep geluid sal maak sodra die voorwerp tussen die hakkie in fokus is. U kan dus dubbel seker
maak dat u fokus akkuraat is.
Met behulp van die fokusfunksie en die korrekte lensopening kan u dus kies watter gedeelte van u foto in
fokus moet wees. Dit kan baie nuttig gebruik word om die aandag op 'n spesifieke voorwerp te vestig of
selfs om van ongewenste voorwerpe ontslae te raak. Die foto hieronder is deur die vuil venster van 'n
vliegtuig geneem. Omdat daar op die wolke gefokus is, is die vuilgoed op die ruit tot so 'n mate uit fokus dat
dit nie sigbaar is op die foto nie.
Die korrekte ligverstelling
Soos reeds genoem kan die f-stop, tesame met die sluiterspoed, gebruik word om die korrekte
ligsverstelling vir die betrokke ligomstandighede te verkry. Teen die tyd wonder u seker al hoe u dit gaan
regkry om die korrekte verstelling te bepaal. Wel, hier kom dit nou:
Vir hierdie oefening kan u óf u handligmeter óf u kamera se ingeboude ligmeter gebruik.
Eers bietjie meer oor die ligmeterlesing:
'n Ligmeter is 'n meganisme wat die intensiteit van die lig meet en dan volgens hierdie lesing vir ons die
korrekte f-stop en sluiterspoed-kombinasie gee. Die meeste kamera's het ingeboude ligmeters wat wissel
van eenvoudige naaldtipe meters tot meer gevorderde elektroniese meters. Baie beginner fotograwe
sukkel om die korrekte lesing te verkry omdat hulle die ingeboude ligmeter van hul kamera's onder alle
ligkondisies vertrou. Hierdie ligmeters word egter baie beïnvloed deur domineerende donker of lig
agtergronde wat soms nie bydra tot die foto nie. Dit is dus belangrik om 'n ligmeter reg te kan gebruik en te
kan korrigeer vir probleem ligkondisies.
Alle ligmeters, handligmeters of ingeboude ligmeters, word normaalweg gekalibreer met 18% grys as hul
verwysing. 'n "Gryskaart" is dan ook een van die akkuraatste metodes waarmee u 'n ligmeterlesing kan
neem, indien u dit reg doen. 'n Gryskaart kan van enige professionele fotografie-winkel verkry word. Dit kan
soms baie duur wees, dus, voor u een gaan koop, lees eers die wenk hieronder.
Wenk
Om u eie gryskaart te maak, kan u enige rekenaar tekenpakket gebruik. Trek 'n blok en kleur dit in
met 'n RGB kleur van R=209, G=209, B=209 of CMYK kleur van C=21, M=14, Y=14, K=0. Andersins
kan u hierdie bladsy op maksimum resolusie uitdruk en 'n karton met min of meer dieselfde kleur
as die kolom hieronder by enige skryfbehoefte winkel gaan koop. 'n Gryskaart is 'n baie nuttige
instrument, ek stel voor u kry een.
Om terug te kom na die ligmeter. Die ligmeter neig om alle beligtings so na as moontlik aan 'n 18% grys te
kry. Dit sou beteken dat wannneer u 'n wit vel papier fotografeer, (met 'n ou kamera) die produk 'n grys
foto sal wees. Die kamera kompenseer dus vir die baie wit en maak die sluiterspoed vinniger, ten einde
minder lig deur te laat. Die foto is dus onderbelig. Indien 'n swart papier afgeneem word, sal die produk ook
grys wees. In hierdie geval bereik te min lig die ligmeter en die ligmeter vertraag die sluiterspoed ten einde
meer lig deur te laat. In hierdie geval sal die foto dus oorbelig wees. Die ingeboude ligmeters van
hedendaagse kameras is baie meer akkuraat as die van ou kameras. Hierdie ligmeters neem 'n
ligmeterlesing in 'n aantal verskillende areas in die vertoonvenster. Die ligmeter kan dus 'n probleemarea
identifiseer en die ligmeterlesing daarvolgens korrigeer (bv. 'n swart kol op 'n wit papier).
Die neem van die korrekte ligmeterlesing met behulp van 'n gryskaart en u kamera
Aangesien ons die sluiterspoed eers in die volgende module gaan behandel, sal ons in hierdie oefening met
'n sluiterspoed van 60 werk. Verstel dus die sluiterspoedverstelling van u kamera op 60 of 1/60.
Wenk
Indien u 'n outomatiese kamera met 'n LCD skerm gebruik, moenie 60 en 60" met
mekaar verwar nie. Sodra die sluiterspoed langer as een sekonde is, sal die
sluiterspoed as 'n " aangedui word. 60, '60 of 1/60 sal dus een sestigste van 'n
sekonde aandui en 60" sal sestig sekondes aandui.
Indien u nie 'n gryskaart tot u beskikking het nie, kan u enige neutrale oppervlak gebruik om 'n
ligmeterlesing teen te neem. 'n Groen grasperk is gereeld byderhand en is 'n goeie verwysing om te gebruik.
Sommige van die grys kamera-sakke wat tans beskikbaar is, is naby genoeg aan 18% grys.
Indien die voorwerp wat u wil fotografeer in die son is, staan in die son en hou die gryskaart voor die
kamera sodat die loervenster met die beeld van die gryskaart gevul word (waak daarteen dat u skaduwee
op die gryskaart val). Met die sluiterspoed op 1/60 gestel, verstel die f-stop tot die regte lesing verkry is
(sien onderstaande paragraaf in verband met die korrekte verstelling). Alle voorwerpe wat u nou in
dieselfde son gaan fotografeer, behoort korrek belig te wees. Indien u 'n voorwerp in die skaduwee wil
fotografeer, volg dieselfde prosedure as hierbo, maar sorg dat u kamera en gryskaart in dieselfde graad van
skaduwee as 'n voorwerp is.
Hoe gemaak as die voorwerpe in die skaduwee en dié in die son ewe belangrik is? Die beligting in hierdie
geval sal moeilik wees, maar nie onmoontlik nie. Neem 'n ligmeterlesing in die skaduwee en daarna een in
die son. Halveer die lesing ten einde die lesing tussen die twee te verkry. Voorbeeld: U hou u sluiterspoed
konstant op 1/60. Die lesing in die skaduwee is 1/60 en f 8. Die lesing in die son is 1/60 en f 32. Die korrekte
lesing sal dus 1/60 en f 16 wees. Oor die algemeen is 'n f 12 nie beskikbaar nie, dus sal u f 11 moet gebruik.
Wenk
Indien u lens nie met halfstopverstellings toegerus is nie, kan u met sommige lense
die -fstop verstelring verstel tussen twee verstellings en dit sal nog reg funksioneer.
Indien u dus f 11 moet gebruik en dit is nie op u lens beskikbaar nie, verstel dan die
fstop verstelring tussen die f 8 en f16 verstelling.
Die neem van die korrekte ligmeter lesing met behulp van 'n handligmeter
Die meeste ligmeters beskik oor twee opsies van ligmeting, invallende lig en weerkaatste lig. Indien u
ligmeter nie tussen die twee kan kies nie, sal dit gewoonlik slegs invallende lig kan meet. Met die invallende
opsie behoort u dieselfde tipe resultate te verkry as wat u van u gryskaart sal kry. Indien die wit doppie, wat
voor u ligmetersensor is, weg van die sensor kan skuif, kan u meter tussen die twee opsies varieer. Indien
die doppie vas is het u 'n invallende lig ligmeter.
Die verskil
Met 'n weerkaatste lig ligmeter meet u die lig wat van die voorwerp weerkaats word. Hierdie metode
behoort in die geval van probleembeligtings (heersend swart of heersend wit voorwerpe) meer akkuraat as
die gryskaartmetode te wees. Dieselfde hoeveelheid lig val op 'n wit en swart voorwerp in wat langs mekaar
onder dieselfde lig staan. 'n Donker voorwerp absorbeer egter meer lig as 'n ligte voorwerp en dus sal die lig
wat na die kamera teruggekaats word, minder wees as die van 'n ligte voorwerp. In hierdie geval sal dit
meer akkuraat wees om die lig te meet wat teruggekaats word na die kamera. In hierdie geval sal u die
doppie voor die sensor van die ligmeter wegskuif. U sal dan die ligmeter na aan die voorwerp hou (sonder
dat u skaduwee daarop inval) met die sensor na die voorwerp gerig.
Indien u 'n nabyskoot van 'n leeu wil neem, bestaan die moontlikheid dat sy nie gaan stillê sodat u die lig
kan meet wat van haar liggaam af weerkaats word nie. Die verskil in haar ligte en donker areas sal ook
verskillende hoeveelhede lig terugkaats na die kamera. In hierdie geval sal ons die doppie voor die sensor
inskuif en 'n invallende ligmeterlesing neem. Soos in die gryskaart voorbeeld sal ons die lesing in die son
neem indien die leeu in die son lê en anders om. Ons neem altyd die lesing deur die ligmeter na die son of
ligbron te wys. Waak ook daarteen dat u nie 'n sonlesing in u eie skaduwee neem nie.
Die korrekte verstelling
Kamera
Verskillende kameras beskik oor verskillende meganismes om die korrekte ligmeterverstelling aan te dui. In
ouer kameras is van 'n naald of liggies (fig A) gebruik gemaak. In die loervenster sal u 'n naald opmerk wat
op en af beweeg soos wat u die f-stop of sluiterspoed verstel. Indien hierdie naald in die middelste posisie
is, sal die ligmeterlesing korrek wees. Indien die naald bo die middel is, sal die lesing oorbelig wees. In
hierdie geval sal te veel lig die film bereik en moet die ligmeterlesing aangepas word deur óf die
lensopening te verklein (groter f-nommer) óf die sluiterspoed te verhoog . Indien die naald onder die
middel is sal die lesing onderbelig wees. In hierdie geval moet daar meer lig in die kamera ingelaat word
deur óf die lensopening te vergroot (kleiner f-nommer) óf die sluiterspoed te verlaag. Dieselfde geld vir
liggies wat in die plek van die naald voorkom. Die liggies is soms verskillende kleure, met groen in die
middel, rooi as oorbelig en geel as onderbelig.
Dieselfde beginsel geld vir die nuwer automatiese kamera's. In hierdie geval beskik die meeste oor 'n
grafiese voorstelling en 'n reeks lyntjies (fig B en C), soortgelyk aan dié van 'n liniaal. In die middel kom 'n
lang lyntjie voor, aan die bokant 'n + (plus) en aan die onderkant 'n - (minus). Die voordeel van hierdie
metode is dat, met behulp van die lyntjieskaal, kan u bepaal met hoeveel stoppe u lesing oor- of onderbelig
is. Meeste van hierdie skale is dan ook in halwe stoppe aangedui. Indien die aanduiding dus twee lyntjies bo
die normaal is, sal dit beteken dat u verstelling een stop oorbelig is. Indien u in hierdie geval die f-stop van
byvoorbeeld f 8 na f16 verhoog, sal die lesing normaal wees.
A B C
Indien u 'n probleem beligtingsituasie het, byvoorbeeld 'n persoon wat voor 'n venster staan met skerp lig
wat deur die venster skyn, kan u die volgende probeer: Beweeg nader aan u voorwerp totdat u die
loervenster heeltemal, of so veel as moontlik, met u voorwerp vul. Neem 'n ligmeterlesing en stel u kamera
daarvolgens. Beweeg nou terug na u verlangde posisie en, met dieselfde verstelling, neem die foto. Hierdie
metode word 'n kolmetingsmetode genoem (spotmeter reading). Indien u in hierdie scenario u ingeboude
ligmeter sou vertrou, sou u eindproduk 'n foto van 'n helder venster met 'n donker figuur voor die venster
wees. U sou geen of min detail in die donker figuur kon uitmaak nie. Wanneer u die bostaande metode
gebruik om u lesing te neem, sal die venster-area egter in so 'n mate oorbelig wees dat geen detail daarin
sigbaar sal wees nie. In die meeste gevalle is die venster egter nie die voorwerp van belang nie. Indien detail
van die venster ook belangrik is, moet 'n lesing van die voorwerp, soos hierbo beskryf, geneem word.
Daarna moet ook 'n lesing van die helder lig wat deur die venster skyn, geneem word. U sal nou 'n lesing
tussen die twee moet neem ten einde 'n beligting tussen die twee te verkry.
Die ondertsaande drie foto's is in dieselfde vertrek op dieselfde tyd geneem. In al drie gevalle is slegs van
die ingeboude ligmeter van 'n ou kamera gebruik gemaak.
Foto 1 - In hierdie foto is daar nie gekorrigeer vir die skerp lig wat deur die ventser skein nie. Die kind staan
met sy rug na die venster
Foto 2 - In hierdie foto staan die kind met sy regter-sy na die venster. Beligting is weereens bepaal, sonder
om die invallende lig in ag te neem.
Foto 3 - In hierdie foto staan die kind teen 'n hoek van 45º tot die venster, met sy regter-sy die naaste aan
die venster.
Ligmeter
Voordat u enige ligmeterlesings neem, sorg dat die filmspoedverstelling op u ligmeter ooreenstem met die
spoed van die film wat u gebruik of dat die spoedverstelling waarop die digitale kamera gestel is
ooreenstem met dit waarop die ligmeter gestel is. Indien u die lesing wat u van u ligmeter verkry, net so op
u kamera gaan toepas, gaan die filmspoedverstelling en ligmeterlesing van u kamera nie benodig word nie.
Indien u die lesing wat u van u ligmeter verkry op u kamera wil toepas, moet u u kamera ten volle manual
kan verstel.
Die figuur links toon 'n ou naaldtipe ligmeter
Aan die kant van die ligmeter is 'n knop wat u moet
druk. Rig die ligmeter na die ligbron of u voorwerp
en druk die knop. Deur die waarde in A, regoor die
naald, te gebruik, draai die verstelwiel sodat die
ooreenstemmende waarde in D gekies word. Die
verlangde f-stop en sluiterspoedverstellings kan
dan by B en C afgelees word. In hierdie geval sal u
byvoorbeeld vir 'n sluiterspoed van 1/60 'n f-stop
van f 22 gebruik Pas nou hierdie verstelling op u
kamera toe en neem 'n foto.
Oor- en Onderbelig
Soms is dit ook nodig om met opset 'n foto oor of onder te belig.
Wanneer u die ingeboude ligmeter van u kamera gebruik om 'n persoon wat teen 'n wit muur staan te
fotografeer, sal die foto onderbelig wees. Die ligmeter sal wel in die posisie staan waar dit beweer die
korrekte kondisies gekies is, maar soos ons reeds bespreek het, neig die ligmeter na 18% grys. Die ligmeter
sal dus 'n vinniger sluiterspoed voorstel as wat nodig is ten einde minder lig deur te laat en die wit in grys te
verander. Daar is 'n paar maniere om die probleem, en die omgekeerd daarvan, te oorkom.
Eerstens kan u bloot die sluiterspoed een of twee stoppe, afhangende van die grootte van die wit
agtergrond, stadiger maak. Indien die kamera se ligmeter 1/1000 voorstel, kies self 1/500 of 1/250. U kan
ook die probleem oplos deur die lensopening een of twee stoppe groter te maak. Ons oorbelig dus die foto.
Die term is relatief, ons oorbelig nie regtig die foto nie, maar relatief tot die kamera se ligmeterlesing
oorbelig ons die foto.
Indien u ‘n ou film kamera gebruik en indien u 'n reeks foto's op dieselfde agtergrond afneem en u die
beligtingskondisies dieselfde vir al die foto's wil hou, kan u die kamera flous deur verkeerde filmspoed te
kies (ons kan dit nie met digitale kameras doen nie). In die wit muur geval, wil die kamera die wit grys maak.
Ons veronderstel die fout wat die kamera se ligmeter begaan is presies een stop. Indien ons 'n 100 ASA film
gebruik en 'n 50 ASA vir die kamera spesifiseer, sal ons al die beligtings een stop oorbelig. Outomatiese
kameras het gewoonlik 'n ± teken. Met hierdie funksie kan u kies met hoeveel stoppe u die foto wil oor- of
onderbelig. Onthou, indien daar te veel wit is, oorbelig. Indien daar te veel swart of donker is, onderbelig.
Die meeste moderne kamera's se ligmeters is goed genoeg om die probleemsituasie te identifiseer en die
beligting dienooreenkomstig aan te pas.
Oefening
Ten einde te bepaal of u kamera se ingeboude ligmeter probleemsituasies kan hanteer, doen die volgende
oefening:
Neem 'n donker voorwerp, plaas dit voor 'n wit of ligte muur in die sonlig. Neem nou 'n ligmeterlesing deur
u kamera se ligmeter te gebruik en die loervenster ongeveer 20% met donker en 80% met lig te vul. Neem
nou u gryskaart en u kamera en neem 'n ligmeterlesing na aan die voorwerp in dieselfde lig. Noteer die
twee lesings en vergelyk dit met mekaar. Indien die lesings dieselfde is of minder as 'n halwe stop
uitmekaar is, behoort u kamera 'n probleemstituasie te kan hanteer. U kan ook uit die inligting van hierdie
oefening bepaal tot watter mate u kamera die probleemsituasie kan hanteer.
Wenk
Dit is altyd raadsaam om 'n klein sakboekie met u saam te dra. Noteer u verstellings
sodat u dit later weer kan bestudeer, of dalk wil u dieselfde effek met 'n ander toneel
verkry.
'n Paar wenke
Neem altyd jou voor- en agtergrond in ag. Dominerend lig of donker areas sal u ligmeter verwar en u sal 'n
foutiewe lesing verkry.
Onthou dat u voorwerp die belangrike item op u foto is. Probeer sover moontlik 'n ligmeterlesing van u
voorwerp te verkry. U kan dit doen deur óf 'n handligmeter lesing van u voorwerp te neem, óf nader aan u
voorwerp te beweeg, 'n ligmeterlesing van u voorwerp te neem en weer, sonder om aan die verstelling te
verstel, terug te beweeg ten einde die foto te neem. U moet u kamera in die manual-funksie gebruik om dit
reg te kry.
Indien u voorwerp lig of donker is (swart of wit), is dit raadsaam om 'n invallende ligmeterlesing te neem.
Gebruik hiervoor u handligmeter of 'n gryskaart. Al gedink wat se probleem 'n bruid met 'n wit rok langs die
bruidegom met die swart pak kan veroorsaak? Waar neem jy jou lesing? Neem 'n invallende ligmeterlesing
en vertrou dit. Jy kan selfs die foto 'n halwe stop oorbelig ten einde meer detail in die rok te sien. Die dames
is meer gesteld om die detail van die rok te sien as wat die mans is om die detail in sy pak te sien. Dit is 'n
moeilike beligting, maar stel die belangrike party tevrede.
Indien u beide donker en ligte areas in u foto wil gebruik, besluit watter een is die belangrikste en neem u
ligmeterlesing daarvolgens. Indien beide belangrik is, neem 'n lesing van elk en verstel u kamera op 'n lesing
tussen die twee.
As jy nie seker is nie, is dit altyd beter om jou negatief eerder effens te oorbelig as onderbelig. Deur die foto
effens te oorbelig sal die negatief altyd effens donker wees. Indien dit onderbelig is, is die negatief te lig en
kan jy detail verloor.
Lense
'n Groot verskeidenheid lense is beskikbaar vir verskillende gebruike. Die mees algemene hiervan is
wyehoek-, telefoto, gewone en zoomlense.
'n Normale of gewone lens het gewoonlik 'n fokusafstand
van 50mm. Ons noem dit dus dan 'n 50mm lens. Hierdie
lens het 'n vaste fokus afstand. Die fokusafstand van 'n
zoomlens kan verstel en die grootte van die lens sal dus
as iets soos 28-80mm aangedui word. Op die voorkant
van 'n lens kom gewoonlik die volgende inligting voor:
50mm 1:5.6. Hierdie inligting dui aan dat die lens 'n
50mm lens met 'n maksimum lensopening van f5.6 is.
Die onderstaande skets dui 'n voorstelling van die area wat in die verskillende lense sigbaar is, aan.
Hierdie foto is met 'n normale 50mm lens
geneem
Van presies dieselfde posisie is hierdie
foto met 'n 500mm lens geneem
Die gerief van 'n zoom lens is dat die fotograaf op een plek kan bly staan en die grootte van die foto kan
aanpas om by die verlangse komposisie aan te pas. Daar kan ook van ongewenste elemente ontslae raak.
Indie foto's hierbo het ons deur middel van 'n zoom lens van die heining, wat links onder in die eerste foto
voorkom, ontslae geraak.
Optiese Zoom vs Digitale Zoom Indien u ‘n digitale kamera gekoop het of wou koop sou u al gesien het dat die advertensies altyd melding
maak van “digital zoom” en “optical zoom”.
Digitale zoom is bloot die vasgevangde beeld wat vergroot word. Dit is dieselfde as om ‘n foto op jou
rekenaar oop te maak en die zoom funksie van die rekenaar te gebruik omdie foto te vergroot. Die digitale
zoom verswak die beeld kwaliteit en moet liefs nie gebruik word nie. Dus is die digitale zoom waardes in die
advertensie suiwer daar om die koper te verwar en die kamera te verkoop.
Die optiese zoom word verkry deur die vergrotings effek van die lens. Net soos die lense van ouds word die
beeld deur middel van lense vergroot voordat dit op die CCD vasgevang word.
Hoe groter die optiese zoom waarde, hoe meer veeldoelig gaan die kamera wees.
U sal let indien u ‘n SLR kamera met los lense koop word daar geen melding gemaak van die “zoom”
moontlikheid nie. Dit is omdat die “zoom” effek bepaal word deur die fokus lengte van die lens wat jy
gebruik soos hierbo beskryf.
Visoog- en Wyehoeklense
Hierdie lense word normaalweg gebruik wanneer 'n breë area in 'n beperkte ruimte gefotografeer moet
word. Die lens is egter geneig om reguit lyne wat aan die kant van die foto voorkom, te buig. Om die
probleem te oorkom moet daar ver genoeg van die voorwerp af gestaan word om vervorming te voorkom
of 'n langer lens moet gebruik word. Soms kan hierdie vervorming 'n interessante effek op die foto hê en
kan dus positief tot die voorkoms van die foto wees. 'n Visooglens wissel normaalweg tussen 6mm en 8mm.
'n Wyehoeklens wissel tussen 21mm en 35mm.
Let op hoe die deure in die voorgrond
vervorm is
Normale of gewone standaardlens
Hierdie lens gee gewoonlik die mees getroue weergawe van die voorwerp en afstande wat gefotografeer
word. Hierdie lens word dan ook algemeen vir misdaadtoneelfotografie gebruik, juis vir die rede. Die
fokusafstand van die lens is 50mm.
Telefoto- en zoomlense
'n Telefoto-lens is 'n lens met 'n vaste lang fokusafstand en 'n
zoomlens 'n lens met 'n verstelbare lang fokusafstand. Beide
hierdie lense kan die beeld van 'n voorwerp vergroot ten einde dit
te fotografeer. Die fokusafstand van hierdie lense kan wissel van
85mm tot meer as 1000mm. Telefoto-lense word algemeen vir
voël-, wild- en sportfotografie gebruik. 'n Zoomlens het een groot
tekortkoming: soos wat die fokusafstand van die lens verstel
word, verander die lensopening van die lens ook. 'n Akkurate
lensopeningverstelling is dus moeilik om te maak. Gewoonlik sal
die maksimum lensopening op die lens aangedui word deur twee
f-stop nommers, bv 1:4 1:5.6. Die eerste waarde sal die
maksimum lensopening van die lens aandui by die kortste
fokusafstand en die tweede waarde sal die maksimum
lensopening aandui by die langste fokusafstand. Die meeste van
ons sal nie die verskil agterkom nie en dit is eers as ons meer
presiese foto's begin neem dat hierdie 'n probleem sal raak.
Telefoto- en zoomlense is gewoonlik swaar en hoe langer die
fokusafstand, hoe swaarder raak die lens. Die maksimum
lensopening van die lens neem ook af soos wat die fokusafstand
toeneem. Omdat hierdie lense swaar is en omdat die fokusafstand so lank is, is dit raadsaam om hierdie
lens gewoonlik op 'n driepoot of ander stewige meganisme te gebruik. As gevolg van die lang fokusafstand
van die lens, sal die geringste beweging van die lens 'n groot beweging van die beeld veroorsaak.
'n Ander verskynsel wat by telefoto- en zoomlense voorkom, is dat die perspektief van die foto nie altyd reg
is nie. 'n Telefoto- of zoomlens is geneig om die diepte van die foto te verloor. Voorwerpe wat op 'n
normale (50mm) foto ver van mekaar sal voorkom, sal op 'n telefoto foto na aan mekaar lyk. Die diepte van
veld word ook deur die lengte van die lens beïnvloed.
Die kinders het in die onderstaande drie foto's op presies dieselfde plekke bly staan. Die
fotograaf het verskillende lense gebruik en het self vorentoe en agtertoe geskuif, ten einde
die grootte van die beeld dieselfde te hou. Let op die verskil in diepte van die foto's.
35 mm lens 80 mm lens 260 mm lens
Spesiale lense
'n Aantal spesiale lense is ook beskikbaar, maar gaan nie in hierdie kursus behandel word nie. Ons noem net
'n paar van die bekendstes.
Spieëllense
In 'n poging om die gewig en lengte van telefoto-lense te verminder, is 'n spieëllens ontwikkel. Hierdie lens
het gewoonlik 'n fokusafstand van 500mm of meer. Twee beperkings van die ontwerp is dat dit 'n vaste
lensopening het, wat ook gewoonlik baie groot is. Hierdie lense het dus nie 'n baie groot diepte van veld
nie. 'n Ander beperking is dat, as gevolg van die vorm van die spieëls, word kringe gewoonlik om helder
ligte of voorwerpe gevorm. Aangesien die fokusafstand van hierdie lense so lank is, is dit gewoonlik ook
raadsaam om hierdie lense op 'n driepoot of ander stewige meganisme te gebruik.
Perspektieflense
Word gewoonlik deur argitekte en gebou-fotograwe gebruik. Wanneer u 'n foto van 'n hoë gebou in die
stad wil neem, sal u merk dat die perspektief van die foto nie reg is nie. 'n Gebou sal byvoorbeeld nouer
word aan die bokant. Hierdie lens kan dan verstel word om die lyne ewewydig aan mekaar te hou.
Makrolens
'n Makrolens word gebruik om baie klein voorwerpe groot af te neem, 'n eenvoudige vorm van 'n
mikroskoop, maar by 'n baie laer vergroting. Die grootste beperking van hierdie lens is die verlies aan lig en
afname aan diepte van veld met toename in grootte. Soms is die lens ook so naby aan die voorwerp dat
behoorlike beligting van die voorwerp moeilik raak. Dit is ook raadsaam om hierdie lens altyd met 'n
driepoot of ander stewige meganisme te gebruik. Hierdie lens maak 'n hele nuwe wêreld vir die fotograaf
oop. Vorms, kleure en teksture wat normaalweg nie met die blote oog sigbaar is nie, word ontbloot. Ten
einde nog groter vergrotings te verkry word ook van "vergrotingsfilters" (magnifying filters), verlengbuise
(extension tubes) en konsertinabuise (bellows) gebruik gemaak.
Indien u nie 'n makrolens tot u beskikking het nie, kyk wat gebeur as u die standaard 50mm lens van u
kamera verwyder en dit omdraai. Hou die filterkant van die lens teen die kamera. Vroeër jare was daar ook
koppelstukke beskikbaar om die lens op hierdie wyse aan die kamera te koppel.
Hierdie is 'n makrofoto wat van 'n muskietvlerk
geneem is. 'n 100mm Makrolens met 'n 60mm
verlengbuis is gebruik.
Oefening
Oefening 1
Diepte van veld
Die doel van hierdie oefening is om u bewus te maak van die effek van die f-stop waarde op die diepte van
veld. U sal dus ook die effek self kan waarneem.
Stel u kamera op 100 ASA spoed (indien moontlik) of laai 'n 100 ASA, 24 exp, skyfiefilm in u kamera (indien
u film kamera gebruik)
Vind drie verskillende tonele met interessante voorwerpe in die voor- en agtergrond. Aangesien u die f-
waarde vooraf moet stel, sal u 'n ligmeter moet gebruik ten einde die korrekte sluiterspoed te verkry. Deur
u gryskaart of handligmeter te gebruik, neem een foto van elk van die tonele op een van elk van die
volgende f-waardes:
f 4 f 8 f 16
U is welkom om meer waardes te probeer, maar die verskil tussen hierdie drie waardes behoort groot
genoeg te wees om die effek waar te neem. 'n Redelike veilige reël vir beligting in die helder son is om f 16
en 1/250 as u verstelling te gebruik.
'n Voorbeeld van so 'n foto is 'n huis met 'n omheining, met die huis sigbaar deur die omheining of 'n blom
'n paar meter weg van 'n waterval.
Oefening 2
Ten einde die effek van die verskeie ligmetermetodes te illustreer moet die volgende oefening gedoen
word:
Kies 'n voorwerp in volle son met 'n ligte agtergrond, byvoorbeeld 'n kind wat voor 'n ligte muur staan.
Neem 'n ligmeterlesing en een foto op die volgende metodes: (Dit is raadsaam om 'n vaste f-waarde
vooraf te kies en slegs die sluiterspoed te varieer):
o 'n Normale ligmeterlesing deur slegs u kamera se ingeboude ligmeter te gebruik.
o 'n Kolmeterlesing van die voorwerp. Met ander woorde, u loop na die voorwerp, neem 'n gewone
ligmeterlesing van slegs die voorwerp (nie die agtergrond), noteer die lesing, loop terug na die
posisie waarvandaan u die foto wil neem en neem die foto op die bepaalde waardes.
o 'n Gryskaartlesing. Gebruik u gryskaart om die invallende lig op u voorwerp te meet.
In hierdie foto het
ons die "uit fokus"
waterval as
agtergrond
gebruik. Indien die
waterval in fokus
was, sou dit
steurend wees.
Hierdie effek is
verkry deur 'n
lensopening van f
5.6 te gebruik. Die
lensopening sal
egter varieer in
verhouding met die
afstand tussen die
voorwerp en die
agter-/voorgrond.
Die sluiterspoed
Die sluiter van 'n kamera is 'n meganisme wat die kamera in staat stel om die film, wat ligdig geseël is, vir 'n
voorafbepaalde tyd aan lig bloot te stel.
Twee tipes word algemeen in kameras gebruik, 'n lem- en blaartipe. Die lemtipe sluiter word in bykans alle
SLR kamera's gebruik en die blaartipe in die meeste professionele kamera's soos die mediumformaat
Hasselblad kamera's.
Die twee tipes sluiters
Die blaartipe sluiter Die lemtipe sluiter
Die Lemtipe Sluiter
Die lemtipe sluiter bestaan uit twee plate. Wanneer die sluiter losgelaat word, skuif die een plaat voor die
film weg. Lig word nou na die film deurgelaat. Die tweede plaat volg nou met 'n voorafbepaalde volgafstand
en beweeg weer voor die film in ten einde dit van lig af te sny. Wanneer die sluiter weer oorgehaal word,
beweeg albei plate saam terug na die beginposisie en dus sal geen lig die film bereik terwyl die kamera
oorgehaal word nie. Hierdie beweging van die plate kan óf in 'n horisontale óf in 'n vertikale beweging
beweeg, afhangende van die ontwerp van die kamera. 'n Gesinkroniseerde sluiterspoed word op die
kamera aangetoon. Hierdie sluiterspoed moet gebruik word wanneer 'n flits (flash) gebruik word om lig aan
die onderwerp te verskaf. Hierdie sluiterspoed is gewoonlik 1/60, maar kan ook varieer tussen verskillende
kameras. Hierdie sluiterspoed is gewoonlik in rooi op ouer kameras aangetoon. Outomatiese kameras is
soms geneig om nie te reageer wanneer 'n flits saam met 'n té vinnige sluiterspoed gebruik word nie.
Omdat die lig wat van die flits afkomstig is, in die vorm van 'n puls is, gebeur dit dat die film nie heeltemal
belig word wanneer die sluiterspoed te vinnig is nie (die sluiter maak oop en toe voordat die voorwerp
behoorlik belig is). Wanneer 'n té vinnige sluiterspoed saam met 'n flits gebruik word, sal slegs 'n gedeelte
van die film belig word. Wanneer u foto's met 'n flits neem en die een helfte van die foto is swart en die res
korrek belig, is die moontlikheid goed dat u 'n té vinnige sluiterspoed saam met die flits gebruik het. U kan
wel 'n stadige sluiterspoed saam met 'n flits gebruik indien u die korrekte verstelling daarvoor gebruik.
Die Blaartipe Sluiter
Hierdie tipe sluiters kom meestal in die mediumformaat kamera's soos die Hasselblad voor.
Die blaartipe sluiter lyk baie soos die diafragma wat die lensopening van jou lens beheer. Hierdie sluiter
kom gewoonlik ook in die lens van die kamera voor. U sal dus ook merk dat u op sommige van hierdie
kamera's die sluiterspoed met 'n sluiterspoedring op die lens verstel en nie op die kamera nie.
Wanneer die sluiter losgelaat word, beweeg die plate van binne oop en weer toe. Aangesien geen plaat
voor die film verbyskuif nie, sal die probleem soos hierbo beskryf nie by blaarsluiters voorkom nie. Tydens
flitsbeligting kan enige geskikte sluiterspoed dus gebruik word en geen gesinkroniseerde sluiterspoed kom
op die kamera voor nie.
Bepaal die korrekte sluiterspoed
U kan met behulp van sekere hulpmiddels die korrekte sluiterspoed vir 'n bepaalde f-stop bepaal. U moet
egter in gedagte hou dat die beweging van die kamera (ons almal bewe maar) 'n nadelige effek op u foto se
voorkoms kan hê (in Engels sê ons die foto is ge"blur"). Ten einde hierdie probleem te oorkom moet u altyd
sorg dat u sluiterspoed vinniger as 1/60 is. 1/60 is algemeen as die handsluiterspoedgrens bekend.
Sommige van ons kan wel foto's uit die hand by laer sluiterspoedverstellings neem. Ek persoonlik het al
bevredigende resultate by 1/15 verkry. Vir veiligheid, beperk uself tot 1/60. Indien u 'n stadiger sluiterspoed
moet gebruik, moet u die kamera op 'n driepoot of ander stewige voorwerp monteer. Indien u nie 'n
driepoot tot u beskikking het nie, kan u die kamera op 'n tafel, muur of klip laat rus terwyl u die foto neem.
U kan ook u arm teen 'n stewige voorwerp soos 'n muur, paal of tak stut.
Verskillende tipes foto's leen hul egter tot 'n minimum of maksimum sluiterspoed:
Flitsbeligting
Soos reeds hierbo genoem, moet die gesinkroniseerde sluiterspoed van die kamera gebruik word wanneer
foto's met behulp van 'n flits geneem word. Die korrekte f-stop en sluiterspoed kombinasie word volgens
die sterkte van die flits bepaal
Sportfoto's
Hierdie paragraaf geld nie slegs vir sportfoto's nie, maar ook oor die algemeen vir foto's waar beweging
afgeneem word.
Wanneer 'n voorwerp beweeg, moet 'n vinnig genoeg sluiterspoed gebruik word om die beweging te vries.
In die meeste gevalle sal 'n sluiterspoed van 1/250 vinnig genoeg wees om 'n persoon wat hardloop te vries.
Ten einde 'n vinniger sluiterspoed te kan gebruik, moet die lensopening dus vergroot word. Wanneer die
lensopening vergroot word, sal die diepte van veld verklein. Aangesien dit gewoonlik moeilik is om op 'n
vinnig bewegende voorwerp te fokus is dit noodsaaklik om 'n groot diepte van veld te gebruik, ten einde die
foutiewe fokus te korrigeer. Om hierdie rede gebruik sportfotograwe 'n vinniger film (of ASA verstelling op
digitale kameras), gewoonlik 800 ASA. Met 'n vinnger ASA waarde sal u die voordeel van 'n vinnige
sluiterspoed en 'n groot diepte van veld geniet.
Selfs die beweging van 'n tollende wiel kan gevries word wanneer die sluiterspoed vinnig genoeg is.
Spesiale effekte
Vir sekere foto's is dit wel noodsaaklik dat die beweging van die voorwerp gevries word. Die
teenoorgestelde effek kan egter baie mooi spesiale effekte lewer.
Beweging
Wanneer 'n redelike lae sluiterspoed
(1/60) gebruik word om 'n bewegende
voorwerp af te neem, en die beweging van
die voorwerp gevolg word terwyl die
sluiter in die oop posisie is, sal die foto die
gevoel van beweging oordra. Hierdie effek
kan op enige bewegende voorwerp
uitgevoer word.
Deur 'n lang sluiterspoed te gebruik (1/30 of
1' ) om 'n bewegende voorwerp te
fotografeer, kan 'n interresante effek verkry
word. So sal die ligte van beweegende
voertuie in die nag, gekleurde strepe oor die
foto trek.
Sluiterspoed of f-stop?
Noudat ons die sluiterspoed en die f-stop behandel het, sal u merk dat u twee veranderlikes het wat u kan
stel ten einde die verlangde resultaat in u foto te verky. Ons besluit gewoonlik vooraf wat ons in die foto wil
hê, sien of watter gevoel ons wil oordra. Afhangende van die verlangde eindresultaat verstel ons die een
veranderlike volgens ons behoeftes en pas die ander een aan volgens die ligomstandighede.
'n Paar praktiese voorbeelde:
Voorbeeld 1
U woon Jannie se eerste rugbywedstryd by en wil 'n paar aksiefoto's neem. Ten einde 'n mooi skerp beeld
te verkry sal u alle beweging moet vries. U besluit dus om 'n 800 ASA film of verstelling te gebruik en 'n
sluiterspoed van ten minste 1/500. Neem 'n ligmeterlesing in die son en bepaal die verlangde f-stop wat u
vir die ligkondisies saam met 'n 1/500 sluiterspoed moet gebruik. U hou dus die sluiterspoed konstant en
pas slegs die f-stop aan vir die huidige ligkondisies. Ons noem hierdie keuse "shutter priority". Indien u 'n
outomatiese kamera gebruik, behoort u te kan kies hoe u die outomatiese funksie wil gebruik. By die
meeste kamera's sal u 'n program kan kies wat slegs as "A" voorgestel word. In die "A" program kan u nou
kies tussen 'n verstelling genaamd "Av" of "Tv". Indien u "Tv" kies sal dit vir u moontlik wees om die
sluiterspoed "T" te verstel. Indien u nou die sluiterspoed op byvoorbeeld 1/500 stel, sal u kamera die f-stop
outomaties aanpas ten einde die korrekte ligmeterlesing te verky. U kan dus met 'n geruste hart foto's
neem en hoef nie elke nou en dan die gryskaart uit te ruk ten einde 'n ligmeterlesing te neem nie. Wanneer
u die f-stop u gegewe waarde wil maak en die sluiterspoed die veranderlike, kies dan die "Av" opsie en kies
in die "Av" opsie die verlangde f-stop. U kamera sal nou die sluiterspoed aanpas vir die korrekte lesing. U
moet egter nou waak dat die sluiterspoed nie te laag daal sodat die beweging van die kamera u foto nadelig
beïnvloed nie.
Voorbeeld 2
Klein Griet gaan matriekafskeid toe en die studio is nie beskikbaar nie. Om haar buite in die tuin af te neem
lyk altyd baie amateuragtig met plante in die agtergrond. Die steurende plante kan baie maklik in 'n mooi
sagte agtergrond omskep word. Verstel u lens op die kamera se maksimum of tweede grootste lensopening
(f 4 of f 5.6). Gebruik nou 'n ligmeter of ander metode om die geskikte sluiterspoed vir die lensopening te
bepaal. Verstel die kamera dienooreenkomstig. U moet nou in gedagte hou dat u 'n baie klein diepte van
veld gaan hê en dat enige beduidenis van foutiewe fokus op die foto gaan wys. Ek stel dus voor dat u 'n
driepoot gebruik. Posisioneer vir klein Griet ongeveer drie tot ses meter voor die plante en neem die foto.
Die agtergrond behoort soveel uit fokus te wees dat dit sal saamvloei en geen detail daarin teenwoordig sal
wees nie.
In bostaande voorbeeld het ons vooraf besluit dat ons 'n baie klein diepte van veld wil gebruik ten einde die
agtergrond uit te was. Ons het dus die lensopening as die konstante verstelling gebruik en die sluiterspoed
as die veranderlike. Ons noem hierdie verstelling "Apperture Priority".
Wenk
Wanneer 'n mens fotografeer word, fokus ons gewoonlik op die gesig en meer
spesifiek op die oë van die persoon. Wanneer ons na 'n foto van 'n persoon kyk, kyk
ons gewoonlik eerste na die gesig van die persoon.
Flitsbeligting
'n Flits ("flash") is 'n gerieflike draagbare ligbron wat meestal deur beginner fotograwe misbruik word. Hulle
is óf geneig om van die flits te verwag om alles te doen óf hulle gebruik dit nooit nie.
Wanneer die bestaande lig nie genoeg is om 'n foto te neem nie, maak ons van kunsmatige beligting
gebruik. Verskeie hulpmiddels is beskikbaar waaronder hammerkopflitse, los flitse, ingeboude flitse,
ringflitse en studio-ligte die mees algemeenste is. 'n Flitslig is ontwerp om dieselfde kleur lig as die son uit
te straal. Ons kan dus gewone dagligfilm saam met 'n flits gebruik.
Ons kan wel 'n driepoot en tydsbeligting gebruik om die binnekant van 'n huis te fotografeer, maar sal
hoofsaaklik twee probleme hê. Die kleur wat deur die tungstenlig uitgestraal word, sal veroorsaak dat die
kleur van die dekor en verf nie akkuraat op die foto uitgebeeld word nie. 'n Ander tekortkoming van die
tegniek is dat die skerpheid van die foto afneem namate die beligtingstyd toeneem. Die skerpheid van die
foto neem ook af wanneer die maksimum lensopening van 'n algemene lens gebruik word.
Om sodanige probleme te oorkom maak ons dan eerder van flitsbeligting gebruik. Deur van flitsbeligting
gebruik te maak, kan die ligkondisies beter beheer word - nie net die sterkte van die lig, maar ook die hoek
waarteen die lig op die voorwerp inval. Ons kan dus kies hoeveel skaduwee ons in ons voorwerp wil hê. So
kan 'n invulflits ook gebruik word om skaduwees in 'n voorwerp wat in die son gefotografeer word, te
verminder. 'n Invulflits is geen spesiale flits nie, dit is die gewone flits wat saam met die sonlig gebruik
word.
Die korrekte verstelling
Flitse word in verskillende sterktes vervaardig. Die sterkte van die flits word deur die gidsnommer (guide
number)van die flits aangedui. Normaalweg sal die naam en gidsnommer van u kamera saam aangedui
word, byvoorbeeld: "Vivitar Auto Thyristor 1600". In hierdie geval is die gidsnommer van die flits 16 (GN16).
Die gidsnommer word gebruik wanneer die korrekte f-stop met die hand bepaal moet word. Wanneer u die
gidsnommer deel deur die afstand wat u van die voorwerp is, behoort u die korrekte f-stop vir 'n 100 ASA te
bereken. So sal u, met die flits soos hierbo genoem, wanneer u 2 meter van die voorwerp is, f 8 gebruik(16
÷ 2 = 8 ).
Die meeste flitse het egter 'n glyskaal aan die agterkant van
die flits ten einde hierdie berekening te vergemaklik. Al wat u
hoef te doen is om die glyplaat (A) op die filmspoed van die
film wat u gebruik te stel. U kan nou die f-stop (B) wat u vir
die verlangde fokus afstand (C) moet gebruik, van die glyskaal
aflees.
So sal u vir die onderstaande figuur 'n f 5.6 gebruik wanneer
die voorwerp wat u wil fotografeer 4 meter van u is. Hierdie
waarde sal verskil vir verskillende flitse volgens die betrokke
GN waarde.
Outomatiese en semi-outomatiese flitse is tans ook algemeen beskikbaar. Die onderstaande figuur toon die
voorkant van 'n semi-outomatiese flits. Die semi-automatiese flits het 'n ingeboude aftsandmeter. Die flits
kan dus die aftsand tussen die voorwerp en die flits bepaal en die intensiteit van die lig wat uitgestraal gaan
word, beheer.
Die flits is in die figuur op die manual-funksie gestel. U sal in hierdie geval die korrekte f-stop van die
agterkant van die flits aflees, soos hierbo beskryf.
Om die semi-outomatiese funksie te gebruik moet u 'n keuse tussen die rooi of blou verstelling maak.
Indien u die blou verstelling kies, kan u die lens op f 4 vir 'n 100 ASA film of verstelling stel, sien agterkant
van flits. Met die f-stop op 4 gestel kan u nou enige voorwerp wat tussen 1.5 en 6 meter van u af is, afneem
en die flits sal die hoeveelheid lig aanpas volgens die afstand wat u van die voorwerp is.
Ten volle outomatiese flitse gebruik die ligmeter en fokusinligting van die kamera ten einde die korrekte
ligverstelling te maak. Indien u die korrekte outomatiese flits vir u kamera gebruik kan die flits en die
kamera met mekaar kommunikeer. U kan dus net die f-stop op u verlangde verstelling stel en die flits sal
weet op watter f-stop waarde u kamera gestel is.
Om flitsbeligting te vergemaklik, veral wanneer studio-ligte gebruik word, kan 'n flitsmeter gebruik word.
Hierdie toestel werk op dieselfde beginsel as die ligmeter. Kombinasies van flits- en ligmeters is ook
algemeen beskikbaar. Die flitsmeter word by u voorwerp gehou en na die flitslig gerig. Met behulp van 'n
afstandbeheer kan die flitsligte geaktiveer word en 'n lesing word geneem. Die lesing word op die skerm
gestoor totdat dit gekanselleer word. Die verlangde verstellings kan dan vanaf hierdie lesing gestel word.
Rooi Oog
Ons almal het al hierdie probleem gehad. Hoekom gebeur dit en hoe verhoed ons dit?
Die pupil van die oog raak grootter in die donker. Wanneer 'n skerp lig in die pupil geskyn word, sal dit 'n
rooi skynsel veroorsaak. Wanneer die skerp lig loodreg tot die pupil inskyn, sal die rooi skynsel teen
dieselfde hoek terugkaats. Die meeste ingeboude flitse is langs of baie na aan die lens gemonteer. Die lig
afkomstig van die flits sal dus baie na aan loodreg op die pupil inval en 'n rooi skynsel wat die lens bereik,
tot gevolg hê.
Die maklikste (nie altyd effektief) manier is om die kamera se rooi oog funskie te gebruik. Dit sal die flits
twee keer laat flits. Die eerste keer flits dit sodat dit die persoon se pupil kan verklein en die tweede keer
flits dit om die foto te neem.
‘n Ander maklike manier om hierdie probleem op te los, is deur 'n eksterne flits te gebruik. Hierdie flits
word gewoonlik bo-aan die kamera gemonteer en is dus aansienlik hoër as die ingeboude flits. Die lig wat
dus van die pupil teruggekaats gaan word, gaan nie die lens bereik nie en gaan dus nie 'n rooi oog
veroorsaak nie.
Nog ‘n metode is om 'n skerp lig in die persoon se oë te skyn net voor die foto geneem word. Die skerp lig
sal die pupil verklein en die rooi skynsel sal ook nie die lens bereik nie. Dit is dan ook waarom die meeste
hedendaagse outomatiese kamera's 'n "red eye reduction" funksie ingebou het. Hierdie funksie flits eers 'n
paar flitse voordat dit die foto neem. Hierdie flitse wat vooraf geflits word verklein dus die pupil en
voorkom die rooi skynsel.
Harde lig en sagte lig
Foto's wat slegs met behulp van 'n flits geneem is, is geneig om baie hard voor te kom. Die skaduwees is
skerp en donker. Een manier om hierdie probleem te oorkom is deur die lig, afkomstig van die flits, teen 'n
wit of blink voorwerp te bons. Hierdie voorwerp kan ook 'n muur of die dak wees, indien die dak laag
genoeg is. Bonskaarte is ook algemeen beskikbaar, selfs met staanders sodat u nie iemand nodig het om die
kaart vas te hou nie. Die koppe van die meeste flitse kan verstel ten einde die bons van lig te vergemaklik.
Onthou dat die afstand wat die lig vanaf die flits na die voorwerp beweeg, gaan verleng indien u dit bons,
die nodige aanpassing aan die verstelling moet dus gemaak word. U moet die totale afstand wat die lig
beweeg in ag neem. Dit sal dus wees vanaf die flits na die weerkaatsende voorwerp plus die afstand vanaf
die weerkaatsende voorwerp na die voorwerp wat u fotografeer.
Invulflits
Wanneer 'n voorwerp in die son gefotografeer word, is dit soms nodig om 'n flits of ander hulpmiddel te
gebruik om van die sterk steurende skaduwees ontslae te raak. Indien u 'n outomatiese kamera met 'n
ingeboude flits gebruik, sal hierdie ingeboude flits baie goeie resultate lewer. Die ingeboude flitse van die
meeste outomatiese kamera's is gewoonlik nie baie sterk nie en sal dus net die regte beligting as 'n invulflits
verleen. Wanneer u 'n eksterne flits gebruik, moet u nie dieselfde verstellings as die normale
flitsverstellings gebruik nie. Gebruik 'n lensopening, ongeveer twee stoppe kleiner as die flitsvoorgestelde
lensopening. Onthou om u sluiterspoed te beperk tot onder die gesinkroniseerde sluiterspoed van u
kamera.
U kan ook ander, meer natuurlike, hulpmiddels gebruik om die skaduwees in te kleur. Hierdie metodes
lewer gewoonlik 'n meer natuurlike, sagte resultaat, maar is nie altyd prakties uitvoerbaar nie. Die mees
algemeenste hiervan is om 'n reflekteerkaart te gebruik om lig op die onderwerp te werp. Aangesien die
skaduwee waarvan u ontslae wil raak, altyd aan die teenoorgestelde kant van die son is, kan u die sonlig
met behulp van 'n wit voorwerp of kaart op die voorwerp reflekteer. Jy kan selfs 'n item in die foto gebruik
om die sonlig te reflekteer. In die foto hieronder is die kaart, waarna die stappers kyk, gebruik om lig in hul
gesigte te reflekteer. So kan jy selfs 'n boek wat 'n persoon voor 'n venster sit en lees gebruik om meer lig in
die persoon se gesig te reflekteer en sodoende van die skaduwee ontslae raak.
Oefening
In hierdie oefening gaan ons kyk na die effek wat die sluiterspoed op die voorkoms van 'n foto het.
Gaan soek 'n toneel waar lopende water of verkieslik 'n waterval is.
Monteer u kamera op 'n driepoot.
Neem een foto op elk van die volgende sluiterspoed (bepaal self die geskikte f-stop)
1/500 1/125 1/30 of laer
Wenk
Dit is altyd raadsaam om 'n klein sakboekie met u saam te dra. Noteer u verstellings
sodat u dit later weer kan bestudeer, of dalk wil u dieselfde effek met 'n ander toneel
verkry.
Komposisie
Ons is nie almal bewus daarvan nie, maar daar is sekere dinge wat maak dat sekere dinge vir ons mooi lyk
en ander nie.
Deur 'n paar algemene riglyne te volg kan u ook 'n foto meer aanvaarbaar vir die menslike oog maak.
Onthou, hierdie is slegs riglyne en nie reëls nie. Daar is mense wat dit as reëls sien en alles wat buite hierdie
"reëls" val as verkeerd bestempel. Die meeste ander fotografie-publikasies praat van reëls van fotografie,
ek vermy hierdie woord met opset, juis omdat mense geneig is om die reëls té slaafs te wil nakom.
Die komposisie van die foto is dus die plasing van voorwerpe in 'n foto volgens voorgestelde riglyne ten
einde die foto meer aanvaarbaar vir die menslike oog te maak.
Deur sommige van hierdie riglyne te volg en toe te pas in u foto's, kan u dus u foto's van "snapshots" na
foto's verander. U moet ook egter daarteen waak om nie te veel van die riglyne in een foto te gebruik nie.
Soos u deur hierdie module werk, sal u agterkom dat komposisie nie iets is wat saam met fotografie gebore
is nie. Komposisie is saam met ons groot skilders gebore. Selfs die oudste van ou skilderye het 'n mate van
komposisie en gewoonlik 'n goeie komposisie daarby. So kan fotografie en skilder dus bymekaar gebring
word. Fotografie is ook 'n vorm van kuns. Dit is maklik om 'n foto te neem, maar om daardie asemrowende
Picasso te neem, is 'n kuns en daarvoor moet u die voeling hê. U kan emosie in u foto vaslê - hartseer,
blydskap, angs, u is die kunstenaar en u kan deur middel van u foto 'n gevoel aan u gehoor oordra.
Die Onderwerp
Elke foto moet verkieslik 'n onderwerp, 'n middelpunt van belangstelling, bevat.
Dit is iets waarom die foto draai, of waar die oog 'n rusplek kan vind en op kan konsentreer. Selfs as u 'n
landskap afneem, kan 'n klein huisie in die verte 'n onderwerp wees. Indien 'n foto nie 'n middelpunt van
belangstelling het nie, sal u merk dat, wanneer u aandagtig na die foto kyk, u oë heen en weer sal dwaal,
nie regtig sal weet waarna om te kyk nie, en belangstelling verloor. Die foto kan mooi wees, maar daar is
iets wat u pla.
Wat kan as onderwerp gebruik word?
Die onderwerp kan enigeiets wees. In 'n landskapfoto kan dit 'n boom, 'n huis, 'n dier, 'n mens, 'n fiets,
wolke, 'n berg, ens wees. In 'n algemene foto kan dit 'n kleur, 'n patroon, 'n voorwerp wees. In 'n portret
kan dit die "pose", die grimering, die glinster in die oog wees.
Daar is verskeie maniere waarop ons die middelpunt van belangstelling kan uitlig of beklemtoon:
Die onderwerp is gewoonlik ook die rede waarom u die foto geneem het. Ons kan die riglyne van
komposisie gebruik om die persoon, wat na u foto kyk, te help om sy aandag op die onderwerp te vestig.
Ons behandel hierdie riglyne in geen besondere volgorde. Elke foto of elke gevoel sal hom daartoe leen om
een of meer van hierdie riglyne in u foto's te gebruik. Ek wil weereens beklemtoon dat u daarteen moet
waak om te veel van hierdie riglyne in een foto te gebruik.
Die reël van derdes
Verdeel u foto denkbeeldig op in derdes. Plaas u onderwerp op
die kruis tussen 'n horisontale en vertikale lyn. Probeer so vêr as
moontlik om nie u onderwerp in die middel van die foto te plaas
nie.
Hierdie is seker die mees algemeenste en belangrikste riglyn wat
in fotografie gebruik word. Moet egter nie te hard probeer om u
onderwerp op een van die derdes te plaas nie. Soms is fotograwe
so gretig om sy onderwerp op een van die derdes te kry, dat hy
dele van die voorwerp afsny. U kan u onderwerp naastenby op
een van die derdes plaas.
Kyk na die foto van die motorfiets . Indien die motorfiets presies op die derdes geplaas was, sou slegs die
bufferreëlings in die agtergrond sigbaar wees en sou die gevoel van beweging nie so sterk oorgedra kon
word nie.
Die mees algemeenste toepassing van die wet van derdes is om te sorg dat die horison in jou foto nie in die
middel van die foto is nie, maar op een van die derdes. Sorg ook altyd dat jou horison horisontaal en nie
skeef is nie.
Weereens, dit is 'n riglyn. As jy voel jy gaan jou gevoel beter uitdra deur u voorwerp op 'n ander plek te
plaas, doen dit. Dit is jou foto, jou gevoel en jou kunswerk.
Inleidende lyne
Ons kan ook 'n lyn, of lyne gebruik om die kyker se oog na die voorwerp te lei. 'n Smal ou grondpaadjie wat
onskuldig na 'n huis in die bosse loop. Sonder dat jy dit besef, volg jou oë die pad totdat dit by die huis
vassteek. U kan nou reeds die lyn en die reël van die derdes met mekaar kombineer ten einde 'n sterker
foto te kry. Plaas u huis (fokuspunt) op die regter boonste derde. Laat u paadjie links onder begin en oploop
na u huis. Sodoende het u kyker se oë geen ander keuse as om hom op die huis te vestig nie.
Die leer lei die oog na die
opening in die heining. Let
ook op die ryk kleure wat
verkry is deur die huis in die
laatmiddagson te
fotografeer. Die fotograaf
moes plat op sy maag gaan
lê om die foto teen hierdie
hoek te neem.
Voorwerp aan kant van foto
Wanneer u voorwerp aan die kant van die foto geplaas word, onthou die volgende:
Indien die voorwerp beweeg, probeer dat dit in die foto inbeweeg en verkieslik ook van links na regs (die
meeste van ons is gewoond om van links na regs te lees en aanvaar dus beweging op 'n beeld van links na
regs as normaal).
Indien u voorwerp na iets anders as die fotograaf kyk, probeer om dié iets ook in te sluit. Moet nie hierdie
riglyn te slaafs volg nie. Baie mooi foto's kan geneem word van bv. "die alleen, hartseer kind wat in die
verte in tuur". 'n Iets waarna die kind kyk sou in hierdie geval afbreuk aan die foto gedoen het.
'n Diagonale komposisie, soos hieronder aangetoon, vertoon sterker as 'n reguit komposisie.
Presies dieselfde foto, net omgedraai. Neem 'n stukkie papier en bedek een
van die twee foto's. Kyk goed daarna. Bedek nou die ander foto en kyk
aandagtig na die onbedekte foto. Watter een hinder u die minste?
Voorgrond en perspektief
U kan diepte aan u foto verleen deur iets in die voorgrond te plaas. Wanneer u 'n mooi huis fotografeer,
kan u byvoorbeeld 'n blom in die voorgrond plaas ten einde diepte aan die foto te gee. U moet egter
daarteen waak dat die voorwerp wat u in die voorgrond plaas nie te dominerend is nie. U wil nie die aandag
op die blom vestig nie, maar op die huis. 'n Baie goeie manier om te verhoed dat die voorgrond-voorwerp
dominerend is, is deur dit, met behulp van diepte van veld, effens uit fokus te laat en deur die voorwerp so
te kies dat dit nie helderkleurig is nie. Deur 'n leeu te fotografeer met uit-fokus grashalmpies in die
voorgrond, sal die gevoel geskep word dat die leeu bekruip is. Dit maak die kyker bewus van die posisie van
die fotograaf ten opsigte van die leeu.
Die klippe in die voorgrond verleen diepte aan
die foto. Weereens die ryk leur van die
laatmiddagson.
Driehoek-komposisie
Word baie kragtig in portret-fotografie gebruik, maar is net so suksesvol in natuur- en stillewe fotografie. In
die komposisie poog u om u drie hoofkomponente sodanig te plaas dat dit 'n driehoek vorm. Die posisie
wat 'n persoon se arms en bene inneem op 'n portret-foto kan 'n driehoek vorm.
Raam die voorwerp
U kan ander voorwerpe in u foto gebruik om 'n natuurlike raam om u fokuspunt te plaas. Hierdie raam sal
dadelik die aandag op die voorwerp binne die raam plaas. Hier kan u self in natuurfotografie van takke of
bosse gebruik maak om u fokuspunt te raam. U raam hoef nie noodwendig 'n volle toe raam te wees nie.
Soms sal slegs 'n boom aan die een kant van die voorwerp reeds die gevoel van 'n raam skep.
Daar word deur 'n "raam" na die waterval
gekyk. Die aandag word dus dadelik op die
waterval gevestig.
Posisie van fotograaf
Dit is baie belangrik wanneer treffende foto's geneem word. Deur u posisie te verander kan u 'n heeltemaal
ander gevoel aan die foto gee. Dit is belangrik om te besef dat u nie altyd kan staan en foto's neem nie.
Indien u 'n mens afneem terwyl u staan, sal u sy liggaam vervorm. Die persoon se bene sal korter lyk en
bolyf langer. U sal merk dat wanneer u 'n vollengte foto van 'n persoon neem, u die kamera skuins na
onder sal moet hou ten einde die hele liggaam in te kry. Gaan dus eerder af op u knieë ten einde te
verseker dat die kamera loodreg tot die voorwerp bly. Hierdie verskynsel kan dan ook gebruik word om 'n
spesifieke gevoel oor te dra. Indien u 'n kind van bo fotografeer, sodat die kind moet opkyk na die kamera,
sal die gevoel van minderwaardigheid en angs oorgedra word. Indien u die groot magtige besigheidsvrou
fotografeer, plaas jouself in 'n posisie laer as die persoon sodat sy moet afkyk na die kamera. Dit dra die
gevoel van mag en grootheid oor. Moenie bang wees om selfs op jou maag te gaan lê om foto's te neem
nie. Wanneer jy 'n veldblom fotografeer, sal jou foto baie meer diepte hê as jy op jou maag langs die blom
gaan lê en die blom fotografeer eerder as om rustig op jou hurke te sit en die blom van bo te fotografeer.
Soms moet snaakse en ongemaklike posisies
ingeneem word ten einde bevredigende
resultate te verkry.
Diepte van veld
Skerp gefokuste voorwerpe het 'n sterk aantrekkingskrag op die oog. Deur 'n groot lensopening (f4) en 'n
lang lens te gebruik, kan jy daarin slaag om slegs jou onderwerp in fokus te kry. Alle aandag sal dadelik op
jou onderwerp gevestig word. Probeer die agtergrond neutraal hou en vermy helderkleurige items in die
agtergrond. Hoewel die items uit fokus gaan wees, sal 'n helder kol steeds die aandag trek.
Slegs die dame is in fokus, die voor en
agtergrond is uit fokus. Die oog het dus nie
'n ander keuse as om dadelik na die
onderwerp te beweeg nie. Wees egter
versigtig vir helder kolle in die agtergrond
wat die aandag kan trek.
Helder lig
Die oog is ook geneig om die helderste voorwerpe eerste raak te sien. Wees versigtig dat ander voorwerpe
in u foto nie helderder as u onderwerp is nie. Helder lig kan ook positief aangewend word. So sal die oog
geneig wees om die helder lyne wat deur sonstrale gevorm word, te volg tot by u onderwerp.
Deur die helder lig te gebruik wat
deur die venster skein, word die
onderwerp van die foto beklemtoon.
Let op die warm kleur van die
laatmiddagson.
Kleur
Ons sien dit elke dag in advertensies. Helder kleure trek dadelik die oog. Kleur kan nie slegs gebruik word
om u onderwerp uit lig nie, maar ook om 'n gevoel aan die foto te gee. Rooi en geel is dominerende kleure
en sal die oog dadelik trek. U kan dit gebruik om u onderwerp uit te lig en sigbaar te maak. Selfs as die
tannie met 'n rooi serp aan, het sal dit die ding doen. Blou en groen is meer neutrale kleure. Blou kan
gebruik word om 'n meer koue gevoel aan die foto te gee en groen rustigheid. Ons kan selfs kleur aan swart
en wit foto's gee (meer in donkerkamer kursus). Die mees algemeenste is om óf geselekteerde items te
kleur óf om 'n gekleurde skynsel aan die hele foto te gee. Die bekendste van hierdie skynsel is "Sepia tone",
ons almal ken dit as die outydse foto's.
Deur die vrugte in te kleur,
word die aandag dadelik op
die vrugte gevestig.
Hierdie foto is nie in die tweede wêreldoorlog
geneem nie. Die "Sepia tone" gee aan hierdie swart
en wit foto 'n antieke voorkoms.
Breek die reëls
Soos ek reeds genoem het, moenie hierdie riglyne te slaafs navolg nie.
Soms kan klem op 'n onderwerp gelê word deur juis die reëls te breek. Hierdie verskynsel word gereeld in
advertensie-fotografie gebruik. Jy kom dalk nie agter dat daar iets erg verkeerd is met die foto nie, maar jou
onderbewussyn weet daarvan Jy sal agterkom dat jy baie meer aan die "fotografies foutiewe" foto's dink as
aan dié waar al die "reëls" nagekom is. Jy kan ook enkele items beklemtoon daardeur. As jy byvoorbeeld 'n
enkele blom van naby teen 'n neutrale agtergrond afneem, sal die klem dadelik op die blom en die detail in
die blom val as die blom reg in die middel van die foto is.
Filters
U sal merk dat daar skroefdraad aan die binnekant van die punt van u lens voorkom. Hierdie skroefdraad is
daar sodat ons filters of ander bybehore aan die lens kan heg.
Dit is raadsaam om altyd 'n "UV" filter op al u lense te monteer. Hierdie filter gaan u hopelik minder as R50
kos. Die filter maak geen verandering aan die kleur of intensiteit van die lig wat deur u lens beweeg nie, dit
filtreer slegs die UV-strale wat deur die lens beweeg. Die hoofrede waarom sommige van ons hierdie filters
monteer is om die lens van stof en krapmerke te beskerm. Dit is goedkoper om 'n R50 filter te vervang as 'n
R3 000 of meer lens.
Daar is verskeie filters in verskeie grotes beskikbaar wat verskeie effekte op ons foto's sal hê. Sommige van
die filters doen regtig aaklige goed aan ons foto's wat eintlik meer by die "happy snappy" familie van
fotograwe hoort.
Die gebruik van kleurfilters is nie meer so algemeen met digitale fotografie nie aangesien die fotograaf
vandag die kleur na die tyd in PhotoShop gaan verander. Daar is wel filters wat baie nuttig is en wat die
kwalitiet van ons foto's kan verbeter:
Polaroid filter
Hierdie filter rig die lig wat deur die lens beweeg en filter slegs sekere frekwensies van lig. Die filter kan
gewoonlik in die rondte draai totdat die verlangde filter-effek verkry is. Hierdie filter is baie nuttig wanneer
'n voorwerp wat te veel blink gefotografeer word. Deur die filter te gebruik, kan die ergste van die blink
uitgefiltreer word. Hierdie filter raak meer effektief soos die hoek tussen die lens en die voorwerp afneem.
Indien u voorwerp dus loodreg tot die lens is, sal dit weinig tot geen effek hê nie. Somtyds is die blou lug
van die uitspansel effe wit. Dit is soms as gevolg van lig wat teen die waterdamp weerkaats word. Deur 'n
polaroid filter te gebruik kan ons hierdie weerkaatsing filtreer. Ons kan dus daarin slaag om 'n blouer lug en
witter wolke te kry.
U moet egter onthou dat die mate van filtrasie deur die posisie van die filter bepaal word. Indien u die filter
op 'n outomatiese-fokuslens gebruik moet u dus eers fokus en dan die filter verstel. Hierdie filter is 'n moet
vir enige fotograaf, of u nou motors binnenshuis of natuurfoto's neem, u sal baat vind daarby.
Foute en probleme
Hier volg 'n paar foto's, sommige goed en sommige sleg. Ons het kommentaar op hierdie foto's gelewer en
raad gegee soos wat die meeste beoordelaars by 'n fotografieklub sou doen.
Moenie wegskram van voorwerpe wat in jou pad is nie. Jy kan
dit nuttig in jou foto gebruik.
In hierdie foto is die draad suksesvol gebruik om die gevoel van
'n "steelfoto" te skep. Die vlerk van die vliegtuig in die
voorgrond vorm 'n natuurlike raam wat die onderwerp, die
Spitfire, beklemtoon. Die onderwerp beweeg wel van links na
reg in die foto, maar is ongelukkig te ver regs in die foto. Daar
is nie genoeg spasie vir die vligtuig waarmee dit in die foto in
kan beweeg nie.
Wees versigtig vir 'n steurende agtergrond.
In hierdie foto veroorsaak die agtergrond dat die foto,
onvergeeflik, as 'n swak foto geklassifiseer word. Die paal groei uit
die kind se kop. In hierdie geval sou 'n vlak diepte van veld ook nie
gewerk het nie, aangesien albei steurings ligte kleure is. Selfs met
'n klein diepte van veld sal die ligte kleur steeds steurend wees. In
hierdie geval moes die agtergrond verander word voordat die foto
geneem is.
Die lig is baie goed hanteer. Daar is
detail in alle donker areas en ook
detail in alle ligte areas. Die
onderwerp loop van links na regs in
die foto in. Die horisontaal is gelyk en
in die boonste derde van die foto. Die
helder weerkaatsing van die son, reg
langs die onderwerp, trek die oog na
die onderwerp. Ongelukkig is die
koppe van die skaduwees afgesny.
Die prentjie vertel 'n storie.
Die beweging van die boot is suksesvol gestuit. Die
beweging van die water is egter nog sigbaar wat 'n
gevoel van beweging in die foto bevorder. Die
komposisie is sterk met die inleidende lyn van die rant
van die boot en die helderkleurige baadjies van die
bemanning. Die aandag word dadelik op die
bemanning gevestig. Die agtergrond is dof genoeg om
nie steurend te wees nie en steeds skerp genoeg om
die lyne te volg. Daar kon bietjie meer spasie aan die
voorkant van die boot gelaat gewees het.
Die boonste vlerk wat uit fokus is, is steurend. Die
kol op die hoof vlerk is sterk geposisioneer en trek
die oog. Die agtergrond is goed uitgewas en die
diepte van veld is hier suksesvol gebruik. Die foto
toon mooi kleure en teksture wat kompenseer vir
die gebrek aan 'n konkrete middelpunt van
belangstelling.
Die meeste van ons sou ons kamera's gebêre het in
hierdie kondisies. Die rotse wat wegraak in die mis
gee diepte aan die foto. Aan die bo- en regterkant
van die foto is 'n groot area waarin geen detail
voorkom nie. Daar is ook geen middelpunt van
belangstelling nie. Die fotograaf kon nader aan die
rotse beweeg het ten einde minder van die leë
agtergrond in te sluit. Die stemming van die foto is
suksesvol geskep.
Baie beweging. Die motorfiets is nie heeltemal skerp
nie, maar dit kan bydra tot die beweging van die foto.
Die motorfiets is in 'n sterk posisie. Dit is op 'n derde,
beweeg in die foto in met genoeg spasie aan die
voorkant van die fiets. Die rooi kleur trek die oog
dadelik na die onderwerp.
Baie tekstuur en baie interessant. Iets wat ons nie elke dag
sien nie. Die horison is reguit en op die regte plek. Daar kom
nie te veel donker areas voor nie. Daar is wel nie 'n
middelpunt van belangstelling nie en die wolke is dus die
onderwerp.
Belangrik om te onthou
Voordat ons die kursus afsluit, 'n paar wenke om te onthou:
Indien ons foto's in die daglig neem, neem ons verkieslik foto's enige tyd tussen sonopkoms en vier ure na
sonsopkoms en weer vanaf vier ure voor sonsondergang tot en met sonsondergang. Die twee hoofredes is
skaduwees en die kleur van die lig. U sal merk dat die lig in hierdie tyd 'n baie sagter en ryker kleur het.
Gewoonlik net voor sononder beleef ons die mooiste en rykste kleure waarin mens kan foto's neem.
In die middel van die dag is die lig baie skerp, min of geen skaduwees kom voor nie, mense trek hul oë op
skrefies, motors blink te veel en al die diere slaap. Foto's wat tydens die middel van die dag geneem is, kom
gewoonlik baie hard, uitgewas en sonder detail voor.
Wanneer dit bewolk is, is die gebruik ook soms om die kamera te bêre. Mens kan egter baie interresante
foto's in bewolke of mistige weer neem, as jy in gedagte sal hou dat jou foto's plat, sonder skaduwees en
met min kontras gaan wees.
Wanneer 'n fotograaf in die natuur besig is om foto's te neem, onthou die volgende Engelse sêding: "The
only things we shoot is photographs and all we leave behind is footprints". Fotograwe mors en verniel nie,
ons wil volgende jaar weer daar gaan foto's neem. Indien jy die blomme in Namaqualand gaan afneem,
onthou die goue reël: "As jy die hek oop gevind het, los hom oop. As die hek toe was, maak hom asseblief
weer toe".
Indien jy nie seker is van die verstellings wat u vir die betrokke foto gekies het nie, "bracket". Dit beteken
dat u 'n aantal foto's van die betrokke onderwerp moet neem, by verskeie verstellings. Sodoende verseker
ons dat ten minste een van die verstellings die korrekte een was. Neem 'n foto op die verstelling wat u
gekies het. Neem nou nog drie foto's, elk 'n halfstop meer oorbelig as die vorige. Keer nou terug na u
oorspronklike verstelling en neem nou drie foto's, elk 'n halfstop meer onderbelig as die vorige. Indien u
negatief film gebruik, kan u "bracket" deur vol stoppe te gebruik.
Moenie skrik vir obstruksies nie. Jy kan dit soms positief tot die foto aanwend.
Wanneer jy landskappe fotografeer, pasop vir die telefoon- en kragpale. 'n Natuurfoto is 'n foto sonder
mensgemaakte elemente.
Maak seker jy het altyd ‘n ekstra stel gelaaide batterye byderhand.
Moet nie na die fotos op jou kamera se skerm kyk en besluit dit is ‘n slegte foto nie. Laai jou fotos eers af op
jou rekenaar en kyk behoorlik daarna voordat jy dit uitvee. Die beeld van die kamera se skermpie is oor die
algemeen baie sleg.
Verkoop jou fotos
Jy kan ook 'n ekstra geldjie verdien duer jou fotos te verkoop.
Daar is ‘n uitstekende eBoek op die Internet wat jou hiermee sal help. Die boek se naam is “Camera Dollars”
en jy kan dit by http://www.photosa.co.za/earn kry.
Die boek gee vir jou wenke oor hoe om beter fotos te neem, wat se fotos te neem om te verkoop, hoe om
jou fotos gereed te maak vir ‘n webtuiste en op watter webtuistes jy jou fotos kan verkoop.
Hier is so paar webtuistes waar jy jou fotos kan verkoop:
http://www.photostockplus.com/red.php?adid=692&creativeID=93
http://www.123rf.com/src_photosa
http://submit.shutterstock.com/?ref=2123
http://istockphoto.com/PhotoSA
http://www.fotosearch.com/photos-images/south-africa.html
http://www.shutterpoint.com/Home-Photographer.cfm
http://www.crestock.com/information-for-contributors.aspx
http://www.dotphotopro.com/pro/
Die Einde Onthou om so veel as moontlik te oefen, dit is die enigste manier om jou
fotografie te verbeter.