die avonture van sufsak en walgwors

26
Die Avonture van Sufsak en Walgwors Die nuwer werke deur Sufsak en Walgwors

Upload: coert-welman

Post on 16-Apr-2015

92 views

Category:

Documents


0 download

DESCRIPTION

Die nuwer verhale na die universiteitsjare

TRANSCRIPT

Page 1: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die�Avonture�van�Sufsak�en�Walgwors�Die nuwer werke

deur Sufsak en Walgwors

Page 2: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Al die stories vervat in hierdie bundel is ook verkrygbaar op die Woeswebwerf by http://www.woes.co.za/bydraers/besonderhede/sufsak-en-walgwors

Ondersteun Woes! Verbruikerswaarskuwings na aanleiding van ons publikasie op Woes: 1. Sufsak en Walgwors se stories moet verkieslik stadig gelees word. Of dalk selfs twee

keer. Ons het ook gehoor dit help om dit in 'n groep te lees. Blykbaar is mens dan geneig om dit meer te waardeer, aldus 'n paar van ons lesersvriende.

2. Terloops, ons skryf nie ondertone in ons stories nie. As jy iets tussen die lyne lees is jy

baie verbeeldingryk of onder die invloed van 'n onwettige middel. Stuur daarvan vir ons. 3. Sufsak en Walgwors is nie polities-korrek nie. Goed, waar begin ons... Sufsak en Walgwors (ook bekend as S&W) is die breinkind van Rupert "Sufsak" Stander en Coert "Walgwors" Welman en ons is twee afsonderlike diskrete mense. Storietyd saam met Sufsak en Walgwors 1 tot 12 (die ander bundel) is tussen 1995 en 1997 gepubliseer in die Venturi, die koerant van die destydse Tuks Ingenieurshuis, met een van ons vriende as die redakteur. Sy eerste probeerslag het bestaan uit drie artikels, 'n advertensie en omtrent 3 bladsye se Finansies & Tegniek grappies. Oulik, maar sonder byt. Toe nader hy ons om ons avonture met die algemene publiek te deel. Dis nou indien ingenieurstudente as algemene publiek getel kan word. En dis waar S&W gebore is. Vanaf storie nommer 13, wat die eerste verhaal van die “nuwe era” is, het ons die titel verander na Die Avonture van Sufsak en Walgwors. Dit is so herdoop omdat ons nog steeds avonture het, maar in ons nabetragting van elke avontuur lewer ons bietjie sosiale kommentaar. Ons is immers die man op die straat. En ook gryser en wyser as in ons studentedae, dus sien ons nou sulke goed raak. Hierdie verhale is individueel beskikbaar op Woes en kan gelees word deur op die klikskakel bo-aan die bladsy te kliek. Dit is dan ook die verhale wat vervat is in hierdie bundel. Tans skryf ons drasties minder weens werksdruk en gesinsverantwoordelikhede. Ons moet die rekeninge betaal op een of ander manier en ook darem bietjie aandag skenk aan ons gesinne. Meeste kommentaar op ons werk volg die volgende trant: vreemd, siek, dog deurspek met vlietende oomblikke van briljantheid. Geniet!

Page 3: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 1: Donkerkamertjie Die donderslae weerklink staties oor die radio, die dag is koud en raserig, vlae reën sif uit die hemele neer. Heerlike weer om toetskrieket in te kyk, solank dit natuurlik nie reën waar hulle speel nie. Die bostaande poging om meer ernstige letterkundige diepte in ons verhale in te bring, was duidelik ’n volslae mislukking. Dus gaan ons maar voort op die ou manier. Soos almal weet is adrenalien ʼn wonderlike ding. Walgwors het besluit dit is net die doepa wat Sufsak nodig het om sy gebroke hart te herstel. Hy’t immers op die kassie gesien dat dokters in dramareekse altyd roep vir adrenalien as iemand se hart makeer en die afsterwe van Sufsak se gestreepte Suidoos-Burmese Mofmol Grietjie het diep letsels gelos. Ongelukkig het die twee se huishulp hulle versameling Samoosa-Slakke aangesien as vullis en dit laat wegry. Dit is tog alombekend dat dié diertjies ʼn hoogs-gekonsentreerde vorm van natuurlike adrenalien afskei. Wat nou gemaak? ʼn Rooftog op Pretoria Akademiese Hospitaal voel net verkeerd en die privaat hospitale se sekuriteit is net te goed. Dus is natuurlik vrygestelde adrenalien die antwoord. S&W het gehoor dis gesond om organies te gaan. Met die bostelegraaf skakel Walgwors die Nieu Seeland konsulaat. Hulle is tog immers die mal mense wat rekspring, elektriese heinings en Kiwi vrugte uitgevind het. Die dame by die konsulaat het met ʼn bitter swaar aksent (siestog, hulle sukkel ook maar in Kiwiland om die rooi taal te besig) aan die S&W verduidelik van die “Extreme Touring Wêreldbeker” wat, soos die noodlot dit wou hê, die volgende dag arriveer op SA bodem. Dit was wonderlike nuus hoewel Sufsak nog gewonder het hoe ʼn Wêreldbekersport iets te doen kan hê met ʼn Eskom Toring. Met twee strykplanke en drie rolle sisal tou op die dak is ons twee semi helde fort na die se naaste Eskom Toring. Die trippie in die S&W-mobiel na die kragstasie was vreemd genoeg sonder voorval, maar dit was nogal ’n gesukkel om deur die hekke te kon kom tot binne-in die kragstasie. Kan jy glo dat sekuriteitsmense nie oortuig is dat die Eskom Toring Wêreldbeker beslis gehou moet word by die plek met die hoogste Eskomtoring nie? Een van die wagte het selfs vir ons gevra of ons draks geëet het. Ons het nie geweet mens kan drake eet nie. Wat Walgwors hardop laat wonder het of draakvleis wit of rooi vleis is, proe seker maar na hoender. Nodeloos om te sê, ons beroemdheid het toe tog hekke oopgemaak. Na ’n halfuur se vrugtelose gesukkel in die skroeiende son om die allemintige toring te bestyg het ons twee semi-helde erg mismoedig en warm begin raak. Die toring was aansienlik hoër as die bloekomboom by die laerskool waar ons twee manne hulself tydens LO geslyp het vir die sport. Tydens die gesukkel daag daar toe twee jong dames op, verskriklik geïnteresseerd in ons twee manne se pogings. Gelyke geleenthede het darem ook sy voordele want sjoe, dames in uniform (met boeie) maak dinge in ʼn man, selfs ʼn semi-held wakker. Die twee dames vergesel S&W toe na ʼn kamertjie toe met net een groot lig direk in die manne se bakkies, wat hulle nogal soos springhase laat voel het. Die twee dames en ons semi-helde het ʼn heerlike geselsie gehad hoewel Sufsak begin kla het oor al die moeilike vrae in die rooi taal. Op ’n stadium het hulle met mekaar gesels in hulle taal. Sufsak wou weet waaroor hulle praat en Walgwors, wat die span se taalmeester is het aan Sufsak verduidelik dat die dames iets sê van hulle wil ons in die donker los en is hoogs gemotiveerd om te voel. Skielik verhelder Sufsak se gesig, en hy verduidelik geanimeerd aan Walgwors dat dit ’n aangename meevallertjie is: die twee dames wil saam met hulle donkerkamertjie speel. Die twee dames was nog diep in gesprek oor ons twee semi-helde toe die manne by hulle verbyglip en opgewonde na die ideale kamertjie soek. Na vele draaie het ons op ʼn kamer afgekom, maar die lig daarbinne was nie van die beste nie. Wel, ons twee semi-helde weier

Page 4: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

om donkerkamertjie te speel as dit nie ordentlik donker is nie, aangesien Walgwors se tone nog steeds gloei na die AEK episode en sy Crocs (Walgwors is modebewus) dit nie ordentlik kan demp nie. Dit maak wel oulike kolletjies teen die dak. Noodgedwonge moes ons eers ’n paar ligte gaan afskakel voor mens ordentlik kan speel. Na die draai van ’n paar verstelknoppe was dit donkerder, maar die flitsende rooi ligte en alarms het ons effe onrustig gestem, op ons senuwee gewerk en nogal ingemeng met ons donkerkamertjie poging. Iets dringends moes aan hierdie onaanvaarbare situasie gedoen word en na ’n naarstiglike rondgeskarrel het Sufsak ’n baie groot skakelaar ontdek. Siende dat Walgwors skugter is vir skakelaars (’n storie in eie reg waarby ons nie nou sal kan uitkom nie) moes Sufsak die afskakelwerk doen. Skielik is daar stilte en die allerlieflikste donker. Vreugde! Sufsak laat ’n uitgelate jodel van plesier los wat Heidi sou laat bloos van opgewondenheid. Begelei deur die gloed van Walgwors se tone is ons inderhaas terug na die kamertjie met die lig, maar die dames was verdwene. Ons het ook plek-plek mans in blou oorpakke met flitse gesien wat regtig nie die doel van die speletjie verstaan nie, dus het ons maar moed opgegee en teruggery na ons blyplek toe. Dit het egter gelyk of ons speletjie tog aftrek gekry het want daar was oral donkerte. Kan dit wees dat ons die oorsaak was van ʼn landswye fenomeen soos BMX ry, die Swart Kat (Walgwors se neef), of albaster speel? Oral waar ons kom het mense donkerkamertjie gespeel! Die manne kon skaars hul emosies beteuel. Dit was ongelooflik opwindend, want uiteindelik sal S&W hulle status kan verhef bo dié van semi-helde. Is dit moontlik dat ons semi-helde tot nasionale ikone in dieselfde liga as Hestrie en Jurie verhef kan word? Sal die aksiefigure anatomies korrek wees? Sal hulle sterk, dog sensitiewe kante beklemtoon word op Huisgenoot se voorblad? Slegs die tyd sal leer... Ons gebruiklike gesondheidswenk: Onlangse in-diepte navorsing het getoon dat die beste manier om iemand se mond toe te maak sonder permanente skade is om drie afgeskilde skyfies van ’n Benede-Georgiese Suurpomelo (die suurste ter wêreld) sfinktergewys toe te dien. Dit kan mondelings ook geneem word, maar die effekte is meer dramaties op die voorgeskrewe manier.

Page 5: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 2: De La Rey

Daar is ’n ou bekende volksliedjie wat sing van ’n magtige dreuning wat oor die veld gesweef kom. Deesdae is daardie magtige dreuning die geroep na ’n leier vir die Boerevolk. Iemand wat hier op ons bodem ’n soortgelyke rol kan vervul as wat Chuck Norris vir die algemene Amerikaner doen. Wel, ons twee semi-helde het hierdie oproep gehoor en toe ook, soos dit goeie semi-helde betaam, besef dat ons semi-held status kennelik nie voldoende is om die nood van ’n honger volk te stil nie. Dit is immers nie aldag dat ‘n mens ’n weergalose leier soos oom Chuck opdiep nie. Ons plig en opdrag was in groot vetgedrukte hoofletters vir ons uitgespel: De la Rey, ons kom jou haal. Die volk het jou nodig. Maar waar sou 'n mens so ’n soektog begin? De la Rey het immers al in die vroeë tagtigs verdwyn. Ons het wel twee moontlike wegspringpunte gehad. Dit was óf die destydse SAUK (tans beter bekend as die Es-Y-Bie-Sie) óf Tafelberg. Dit is immers die plekke waar De la Rey homself meestal bevind het in die laat sewentigs en vroeë tagtigs. Die twee plekke is egter ’n beduidende afstand verwyder van mekaar en ’n keuse moes gemaak word waar om die soektog te begin. Ander mense sou dalk opgedeel het en albei roetes terselfdertyd gevolg het om sodoende meer doeltreffend te wees, maar nie S&W nie. Ons is ’n onverdeelbare span, soos Rooi en Blou of Brakanjan en die Musketiers. Daar was dus net een ding om te doen... Na 'n blitsige, dog felle 347 rondtes van dolos-kaasdoek-assegaai (goeie Afrikaans vir ching-chong-cha), het Sufsak die nodige 23 spel voorsprong gehad om sy keuse te bekragtig en ook af te dwing. Dis immers hoe die reëls werk. Die ou SAUK argiewe in Aucklandpark was dus die gekose wegspringplek om ons volksleier-skattejag te loods. Met die oog daarop dat hierdie dalk gevaarlike werk kon wees (dis immers in Johannesburg) was Walgwors vasbeslote om homself te bewapen met sy oorle oupa-grootjie se Boere-oorlog Lee-Metford 303 en selfs Sufsak se geduldige verduideliking van die implikasies van die Ontwapeningswet het hom nie van stryk gebring nie. Die dreigement dat Walgwors nooit weer melktert by sy ma sal kry nie het hom wel oortuig om die skietyster agter te laat. Maar Walgwors se ma is darem nie geheel en al harteloos nie. As troosprys het sy hom darem toegelaat om sy oupa se tonteldoos saam te neem indien hulle dalk moeilikheid in donker plekke sou raakloop. Die S&W mobiel is in streng boeretradisie bestyg en die twee semi-helde was fort na Aucklandpark. Gelukkig onthou Sufsak nog die posisie van die geheime tonnel-ingang wat hy in detail bestudeer het tydens die Onmoontlike Sending-avontuur. Die tonnel was natuurlik gebou vir die Groot Krokodil wat destyds besondere genot geput het uit private nuuslesings deur Haas Das. Daar is egter tot vandag toe nog bespiegelinge oor die aard van die verhouding tussen Piet Muis en die Groot Krokodil. Die trippie in die tonnel af het baie teëstribbelende emosies in Sufsak losgemaak. Sien, die finale vernietiging van Borrie en die Geel Heks is een van Sufsak se groot persoonlike vetes. Dit is 'n gevolg van jarelange sielkundige skending in die man se prille jeug. Hy kry nog steeds gereelde nagmerries van Borrie en die Geel Heks. Vir een of ander onverklaarbare rede het Kerrie egter nooit voorgekom in die drome nie. In elk geval, Walgwors was baie trots op Sufsak se self-dissipline om hierdie sakie ter syde te skuif vir die duur van hierdie sending. Nadat S&W die geheime deur binne die Aucklandpark-gebou agter hulle toegemaak het, het Walgwors die tonteldoos begin aanvuur om lig op die onderwerp te gooi. Eensklaps word die lig aangeskakel en plotseling bevind hulle hulself midde-in grootsheid. Karel Kraai, Sarel Seemonster, tannie Magda, Oscar, Knersus (gelukkig sonder sy jagtande), Koning Rosekrans, Karel Kat en Kwaaitjie Kabouter het hulle met ope arms verwelkom. Maar daar was nie tyd vir jolighede nie. Dit was tyd vir werk. Plig voor plesier. Met ’n waardige stilte het

Page 6: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

die skare die pleidooi van ons twee semi-helde aangehoor en ook met 'n gejuig bevestig dat dit die beste idee is wat hulle sedert die 1986 Kavaliers rugbytoer gehoor het. Karel (Kat, nie Kraai nie) het aangebied om die manne na De la Rey te neem, maar aangesien sy helikopter ’n twee-sitplek model was het die driemanskap nie ingepas nie en hulle moes toe maar noodgedwonge te voet verder. Die langverwagte ontmoeting was egter meer van ’n ontnugtering vir S&W as enigiets anders. Hulle het gevind dat Kaptein Buks de la Rey gediagnoseer is met manies-kliniese bipolêre depressie. Ons was effe teleurgesteld dat ons held so verkrummel het, maar daar was darem ’n paar goeie redes. Dit het alles begin nadat Impala 1 onherstelbaar gelaat is deur die ineenstorting van die Atlas Vliegtuig Korporasie en die regering se nuwe Saab Grippens nie toegerus was met buiteruimtelike vermoëns nie. Die integrasie van die Krokone in 'n regering van nasionale eenheid het die bestaansreg van die Interster Bataljon verder gekniehalter. So ook Prins Karnati se aanstelling as die bevelvoerder van die nuutgevormde Afrika Unie Vredesmag. Tafelberg se ontwikkeling as 'n toeriste-mekka en die Interster-basis wat geslote verklaar is was ’n werklik bitter pil om te sluk. Op ’n ligter noot was Gorman die eerste opgetekende geval van 'n Krokon wat aan 'n dubbel-ken versmoring oorlede is. Kaptein Buks se probleme het egter nie opgehou nie. Pikkie was toe so wraggies die enigste stukkie elektronika wat deur die Millennium-gogga (Y2K) vernietig is. Die Professor is intussen aan ʼn eksotiese vorm van Krokon Alzheimer’s oorlede. Maar dit het wel op die lappe gekom dat hy al die tyd ʼn Krokon-spioen was wat Interster geïnfiltreer het. Gelukkig het hy by die Waarheids- en Versoeningskommissie amnestie ontvang vir sy dade en kon hy darem sy later jare as ʼn gelukkige, dog vergeetagtige ou man spandeer. Maar sekerlik die doodskoot was toe Lydia Viviers vir Buks gelos het met 3 kinders en ’n asembeklemmende Truworths-rekening om by Luitenant Buys in te trek. Kaptein Buks de la Rey is intussen medies ongeskik verklaar en is tans op militêre ongeskiktheidspensioen. Dit was 'n hartverskeurende verhaal en Walgwors het besluit om De la Rey in Vista hospitaal te laat opneem. Die twee helde het hom ook onmiddellik op 'n behandeling van Seeslangmelk en Haaitrane gesit. Dis ’n drankie wat 'n natuurlike en baie egalige bron van Serotonien is. Haaitrane is egter baie skaars want haaie huil nie maklik nie. Miskien sal De la Rey weer opstaan. Ons sal maar moet wag en sien... Terloops, tydens die avontuur is daar op vroeë prototipes van Riaan Cruywagen afgekom. Wat nogal verklaar hoekom die man nog steeds dertig jaar oud lyk... Alles van die beeste en groente by die huis. Ons gebruiklike gesondheidswenk neem hierdie keer die vorm van ’n verbruikerswaarskuwing aan. Amputasie is 'n ongesonde alternatiewe behandeling vir ingroeitoonnaels.

Page 7: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 3: Entrepreneurskap, tannie Manto en tradisionele medisyne Voorwoord: Hierdie storie was veronderstel om eintlik die eerste van ons nuwe stories te wees, maar weens politieke druk vanuit hoë plekke is ons weerhou daarvan om hierdie storie vars vanaf die sleutelbord te publiseer. Daar is nog steeds druk, maar ons kruip nou agter die Grondwet weg. Dis effens minder sissie as om agter ons moeders se rokpante weg te kruip. Die storie: Met ’n dosyn of wat jare van die nuwe Suid-Afrika reeds agter die blad het daar ’n nuwe vloekwoord ontstaan in ons nasie se woordeskat: WAM. Dis ’n afkorting vir bleek outjies met reguit hare wat knersus en gogga korrek kan uitspreek en hulle name staande in die stof kan skryf. Hierdie realiteit het ook ons twee semi-helde getref, soos die sagte, dog onmiskenbare plof van nat koeimis op ʼn warm teerpad, nadat hulle beide uiteindelik graad gevang het en die werkersklas probeer betree het. Vir ʼn WAM om in die nuwe SA te oorleef is daar net een uitkoms en dis entrepreneurskap. Ons twee semi-helde het gesit en stoei met die begrip, dolos-kaasdoek-assegaai gespeel daaroor en toe besluit om hierdie idee met oorgawe aan te gryp. Eerstens om die pot aan die kook te hou en tweedens omdat dit so ’n groot en indrukwekkende woord is. Tydens die menigte vorige avonture wat ons oor die afgelope klompie jare deurgemaak het, het ons mos nou al ʼn allemintige netwerk kennisse opgebou en behoort ons iets aan die gang te kan kry sonder te veel moeite. Dit is ook al ’n algemene feit in die volksmond (amper soos ’n koei) dat ons enorme kennis van boererate al ʼn magdom individue se lewens dramaties verander het. Dalk nie noodwendig verbeter het nie, maar beslis verander het. Wel, tydens ’n generiese koue en reënerige dag het Walgwors vir ’n verandering met ’n goeie gedagte vorendag gekom. Dit was dalk meer soos die geflikker van ’n opsitkers as die skielike opvlam van ’n LED, maar dit was die geboorte van ’n breinkind (net sonder kraamgeluide). Maar waar begin ʼn mens… S&W het in heimwee gesels oor hulle avonture en hulle wonder toe wat Jukskei-kameraad Themba van Tembisa deesdae aanvang. Soos beskryf hierbo helder Walgwors se gesig op en hy noem dat S&W die eerste Afrika-Boereraat tradisionele helingsentrum in die nuwe Suid Afrika gaan begin. Indien ons huiswerk ordentlik gedoen is, kan ons selfs aanlyn gaan en dit iets soos e-Sangoma-dot-kouza noem. Soos een man is ons in die Walgwors-mobiel Tembisa toe om by Themba te gaan kuier. Na ’n paar interessante draaie en ervaringe, wat ’n storie in eie reg kan wees, het ons twee semi-helde aangekom by Themba se plekkie in die son. Die man was nogal in sy noppies om veral vir Sufsak te sien, aangesien hy nog steeds by sy vriende met groot lof praat oor die innoverende manier waarop Sufsak ’n stuk jukskeiglas uit sy linker-seekoeiwang verwyder het met ʼn trekpleister van bobbejaanspinnekopspeeksel (linkerkies, regs werk nie so goed nie) en hiëna-oorwas (enige kant). Dit het Themba geïnspireer om homself te bekwaam as ’n tradisionele plaaslik-opgeleide natuurlike geneeskundige. In sy studies het die man ook uitgevind dat Sufsak se trekpleister baie goed werk as swartkoppie verwyderaar. Terwyl Themba besig was om die twee helde se lof te besing storm ’n kort en ronde tannie met snaakse hare, wat haarself as Manto voorstel, die praktyk binne. ’n Minder-bekende Walgwors-feit is dat hy deur hul huishulp op die rug grootgemaak is tot op skoolgaande ouderdom, wat ook die rede is hoekom hy sulke dun beentjies het. Een voordeel hiervan is egter dat hy deeglik onderlê is in Fanagalo en Sesotho. Hy ontsyfer toe dat tannie Manto erg sukkel met hoofpyne. Sufsak skryf opsluit ’n raad voor om die oormaat oorwas wat die

Page 8: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

hoofpyne veroorsaak te laat verdwyn. Sy raad was dat tannie Manto snags moet slaap met ʼn halwe proppie jenewer in die oor. Die mengsel van opgelosde oorwas en jenewer moet die volgende oggend opgevang word en dan gesnuif word wanneer ’n hoofpyn weer toeslaan. Die konsep van vuur met vuur beveg is ’n fundamentele begronding van S&W se gesondheidswenke. ’n Maand of wat later kry S&W ʼn oproep uit die bloute waar tannie Manto hulle vriendelik versoek en uitnooi om as ministeriële raadgewers te kom optree om “the Virus” vas te vat. Die salaris was ook aansienlik beter as wat mens sou verwag het om te kry by die Staatsdiens. Uiteindelik het ons twee semi-helde se groot oomblik aangebreek. Hierdie deurbraak was gemaak vir ons, aangesien Walgwors se oupa al lankal raad vir ʼn antivirale middel het. Dis ʼn drankie van suurlemoenskille geweek in beetsap en met knoffel na smaak, gelos om te fermenteer vir twee weke, wat soggens na ontbyt gedrink moet word. Een proppie per vyftig pond liggaamsmassa. Ons wonder nogal of tannie Manto die raad sal volg? S&W se konsultasiefirma loop pragtig (alhoewel ons nog nie aanlyn is nie) en die regeringsgeldjies help nogal om die rekeninge te betaal. Ons moes selfs 'n tydjie gelede nog een van tannie Manto se vriende te hulp snel. ʼn Oom Jakob het ons gebel en gevra hoe om van ’n virusinfeksie skoon te kom. Gelukkig was dit verspot maklik. Sufsak weet mos al jare dat daar niks beter is as ʼn goeie weeklikse stort met ’n blokkie groen Sunlight seep om jouself te reinig nie. Man, dis lekker om mense so te hulp te kan staan. Ons gebruiklike gesondheidswerk: Vlakoek en Walgwors se ma se melktert gaan dalk nie help met cholesterol nie, maar die suiker-trip is so lekker mens gee nie eintlik om nie. Arriewarrie! S&W

Page 9: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 4: Met die maan gepla Met die Eskom-geborgde duisternis in ons landjie tydelik opsy geskuif, is Sufsak en Walgwors se kanse om hulle status tot bo dié van semi-helde te verhef daarmee heen. Hulle was nie eens gebel deur Mense nie en ook nie deur gillende jong wulpse dames nie. Dit was ietwat van ʼn teleurstelling wat Walgwors maar afgemaak het as ʼn gebrek aan blootstelling. Daar was wel ʼn poedel wat teen Sufsak se been opgespring het maar die was as ʼn ewekansige niksseggende insident afgemerk na ʼn drie uur en veertien minute debat tussen die semi-helde. Ons kort dalk ’n agent. Maar nou ja, ons is nog steeds hard aan die werk met ons boereraatonderneming. Aangesien ons nog nie volwaardige helde is nie het ons elke dan en wan ’n blaaskans nodig. Ons sal ook volstaan by ons besluit om nie ons onderbroeke bo-oor ons gewone broeke te dra nie. Een voordeel van ons vaardighede wat so in aanvraag is by tant Manto is dat ons die terme en voorwaardes van ons dienskontrakte kon dikteer en kon seker maak dat ons soveel verlof het soos navorsingsproffies, aangesien dit sekerlik die mense in hierdie landjie van ons is wat die meeste verlof kry. Dis nou behalwe munisipale bestuurders wat vir korrupsie aangekla is en teen vol salaris by die huis sit en videospeletjies speel. In elk geval, tant Manto is mos weer hospitaal toe en ofskoon haar simptome nie ooreenstem met party sporadies opgemerkte newe-effekte van ons rate nie, was ons tog ietwat bekommerd. Sy is ook darem nie meer vandag se kind nie. Siende ons vir tyd en wyl min het om te doen wou ons van die gunstige verlofvoorwaardes gebruik maak. Wat nou gemaak met die tyd tot ons beskikking? ’n Minder bekende Walgwors-feit is dat hy nog altyd gefantaseer het om alleen te wees op koue, droë, afgeleë plekkies. Dus het hy ’n oppervlakkige belangstelling ontwikkel in sterrekunde. Hy het onlangs raakgelees van ’n maansverduistering in Maart wat mens hier in Suid-Afrika sal kan sien. Sufsak het opgewonde uitgevra hieroor. Walgwors het gelukkig geweet dat Sufsak dit gaan vra en het goed opgeswot voor die tyd. Baie geduldig verduidelik Walgwors toe vir Sufsak dat dit gebeur wanneer die maan deur die aarde se skaduwee beweeg wat Sufsak hardop laat wonder het of ons diereskaduwees sal kan maak op die maan soos hy deur die aarde se skaduwee beweeg. Sufsak se gunsteling is ʼn abstrakte verwerking van die paringsdans van die Arabiese langsterthaas. Dit is ’n kortstondige verwerking wat jou vir die res van jou lewe diep aanraak. Siende dat ons albei darem matriek Afrikaans geslaag het, het ons onmiddellik geweet dat die groot stad nie die plek is om so ’n eksperiment te loods nie, aangesien daar te veel lig is. Die platteland het geroep. Aangesien Walgwors ’n trotse Voortrekker is het hy geweet van ’n terrein waar hulle deeglik uit die stad uit sou kon kom, sonder om hulle ’n arm en ’n been te kos, wat ’n allemintige prys is vir ouens wat in ruilhandel glo. Mens moet egter 40km noord van Pretoria ry met die KwaMhlanga-pad hiervoor. Dit was altyd die Moloto-pad genoem, maar die naam is verander omdat die Moloto-pad baie gevaarlik was en die Gauteng regering gehoop het om die pad veiliger te maak. Oppad het S&W ’n erg rokende en liglose bus verbygesteek om die gevaar eerder in hulle truspieëltjie te kry. Daar was egter ’n klein entjie in die pad af ’n oom met ’n donkerbril, flits, ligbruin klere en wit handskoene wat vir ons beduie om langs die pad te stop. Blykbaar het hierdie oom nie gehou van ons verbysteek maneuver nie en toe dit blyk dat S&W vreesbevange was vir die oom het hy ’n voorstel gemaak dat ons dalk ’n paar geldnote op die pad kan laat val en dan verder ry. Dit was ’n kopkrapper want S&W glo net in ruilhandel. Sufsak merk toe op dat die oom dors lyk en bied hom ons termosfles vol koffie aan en ons is vort. Koffie is werklik bevrydend. Ons hoop net hy geniet ons eie persoonlike versnit, wat ʼn medium-geroosterde mengsel is van Gordiaanse bone, amandelekstrak en ʼn knippie Ivoorkus-kakao. Ons noem dit Mocca Almonchocca.

Page 10: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Uiteindelik na ’n lang gestoei het ons by die terrein aangekom en begin uitpak. Twee opvoustoele, 3 miljoen kerskrag flits, twee blikkies met vislyn tussen-in om te kommunikeer, gasbraaier, drie toiletrol binnekante, foelie, ’n knipmes met vergrootglas, ’n prisma, kladpapier, ’n verkyker, twee stoomstrykysters, ʼn kompas, sekstant, twee ou matras vere, ʼn kweperlat, twee pruike, ʼn outydse skietlood en lyntjie, 298 gewone albasters en twee ghoens, Walgwors se oupa se sjieling-versameling, drie hoepels, ʼn opblaas veerpyltjie stel, ʼn jaffel pan, drie botteloopmakers, ʼn arm pruimtwak, ʼn pakkie klinknaels, ʼn 4-pond kamer, ʼn gebreekte bobbejaan spanner en ’n tuba is versigtig uit die S&W mobiel gehaal en in plek gesit vir die groot geleentheid. Walgwors het stilweg gedink dat die S&W mobiel lanklaas skoongemaak is en gewonder hoekom Sufsak al hierdie goed ingepak het. Terselfdertyd het Sufsak stilweg gedink dat die S&W mobiel lanklaas skoongemaak is en gewonder waarom Walgwors so baie twak ingepak het. Soos wat maar altyd gebeur as mens haastig is, is iets vergeet. In hierdie geval, was dit die eetgoed. Dus moes die manne maar vlugtig gaan kos soek in die veld. Na ’n vrugtelose gesoek na wild om te jag moes ons maar tevrede wees met gestoomde maroelas. Deur die loop van die aand het Sufsak al hoe meer ongeduldig geraak. Omdat hy ook altyd nuuskierig is, het hy skelm gaan oplees oor die aarde-maan-kwessie en agtergekom dat die aarde teen amper 30 kilometer per sekonde om die son beweeg, wat baie vinnig is. Dit is selfs vinniger as die S&W mobiel teen ’n afdraande of ’n raserige hond met brandspiritus gesmeer op strategiese plekkies. Dus kon hy nie verstaan hoekom dit so lank neem nie. Toe die maan uiteindelik bo die oostelike horison verskyn was S&W verward. Hulle was onder die indruk dat dit eers baie later die aand gaan verduistering wees en hier verskyn die maan reeds verduister. Maar ons twee semi-helde laat hulle nie sommer ontstel nie en soos blits begin Sufsak sy arms en hande opwarm vir die langsterthaasdans. Walgwors het intussen die 3 miljoen kerskrag flits nader gebring wat sou dien as Plan B indien Sufsak se eksperiment misluk. Nodeloos om te sê kon ons geen teken van ’n skaduwee-dier op die maan bespeur nie. Selfs nie eens toe Walgwors die flits agter Sufsak gehou het en na die maan toe geskyn het, het dit gewerk nie. Dit was diep teleurstellend en die twee manne het toe maar die res van die aand vars lug ingeasem en albasters gespeel. Hulle het ook summier besluit dat werklike sterrekunde baie meer navorsing benodig as waarvoor hulle geduld het. ’n Paar dae later het Sufsak se oom Boudewyn egter aan hulle verduidelik dat Walgwors die kalender verkeerd gelees het en dat donkermaan ʼn amper maandelikse verskynsel is. Ons gebruiklike gesondheidswenk: Swamme in die naeltjie-area, veral as die area besonder harig is, moet nie uitgewas word nie, maar moet toegelaat word om die volle lewenssiklus deur te gaan, waarna die spore versigtig geoes moet word en twee keer met naellakverwyderaar gewas word en dan gedroog word teen kamertemperatuur (weg van wind en direkte sonlig) vir twee weke. Bêre dit in ’n bruin glasbotteltjie in jou badkamerkassie. Een teelepel hiervan in die oggend op ’n nugter maag, gemeng met suikerwater (na smaak) sal sorg dat jy skitterende gewigsverlies sal ervaar. Dit moet dalk ook genoem word dat jy bes moontlik niks sal kan eet vir die res van die dag nie en ’n BAIE aktiewe persoonlike rioleringstelsel gaan hê. Outeursnota: Hierdie verhaal het ‘n stortvloed kommentaar op Woes ontlok nadat ‘n gebruiker kommentaar gelewer het wat sekere ander gebruikers as boos ervaar het. Ons het nie. S&W het toe amptelik gereageer as volg. Goeiste! Om te dink dat ’n storie oor ’n klomp ouens wat ’n kalender verkeerd gelees het sulke reaksie kon ontlont.

Page 11: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Sufsak en Walgwors gaan nou spreek en die volk gaan nou luister. Kom ons kry gou ’n paar dinge agtermekaar. 1. Sufsak en Walgwors is beide ingenieurs en ons het net bloot nie die taalvaardigheid om

ondertone, botone of groottone van enige aard in te weef in ons stories in nie. Dit wat daar staan is wat ons bedoel het. Ons gaan ons bes probeer om ’n pienk ondertoon in te skryf in ons volgende storie. Om te kyk of ons kan. Kyk of jy dit sal kan raaksien.

2. Ons lewer nie kommentaar op ons eie stories nie. Hierdie is die eerste en hopelik die laaste. Ons staan heeltemal eenkant.

3. As jy wil ophou S&W lees oor iemand dodgy kommentaar gelewer het, doen so. As jy S&W wil begin lees oor dieselfde rede doen ook so. As jy nie S&W lees nie oor jy nie ons name kan uitspreek nie, gaan jy in elk geval tien teen een nie ons stories vang nie.

4. S&W is albei belydende Christene. 5. Volgens beide van ons is die maan ’n ronde klipperige ding wat drie dae na die aarde

geskep is en om die aarde wentel rofweg elke 29 dae. Omtrent so magies soos ’n dooie potplant.

6. O ja, die enigste Latyn wat ons ken is: semper in excreta, sed altum variat. Vir die wat nie Latyn verstaan nie, dit beteken “altyd in die (spreekwoordelike), dis net die diepte wat verskil”.

Ons hoop dit klaar dinge bietjie van ons kant af op. Vertel sommer vir al julle maats van S&W se stories en dat ons dit actually bedoel as skoon en relatief onskuldige humor.

Page 12: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 5: Pienk Parade Die onlangse kortstondige maankyk vakansietjie op die Voortrekkerplaas het ons twee semi-helde in ʼn lekker vakansieluim gelaat en om dié rede het hulle besluit om hulle verlofvoordele verder te benut en die Moederstad te besoek. Walgwors wou hoeka al die oorblyfsels van die Interster-basis gaan besoek en darem ook net ʼn kransie kosmosse gaan neerlê om erkenning te gee aan die bydrae tot sy vormingsjare. Dit is toe dat ons twee semi-helde van boesemvriend Woes verneem dat dit nou juis in die tyd is dat die “Cape Town Pride Parade” gaan plaasvind. Woes was nog besig om te verduidelik en raad te vra oor seningpyn as gevolg van te veel tik, toe die manne fort is Kaap toe. Ja-nee, siende dat hulle albei se voorsate in die Kaap aan wal gekom het in hierdie land van ons en omdat hulle immers baie trots Suid Afrikaans is, het hulle gedink dit is mos iets om te vier. Sufsak het intussen darem geleer om sy impulsiewe kompulsiewe gedrag te beheer met ʼn terapie wat hy van oom Sybrand geleer het. Jy plaas die geplukte wenkbroue van ʼn maagd agter die regteroor tesame met ʼn vars geplukte naeltjie. Gelukkig het Sufsak voldoende voorraad saamgevat op die tog, aangesien hulle verneem het dat sulke middele bitter skaars is in die Paarl en omgewing. Min mense plant deesdae naeltjie plante. Met sy impulse onder beheer het hy aan Walgwors verduidelik dat hul hierdie uitstappie deeglik moet beplan en alles deeglik moet ondersoek voor hulle weer opdaag sonder die nodige inventaris en proviand. Walgwors is ook nou al deeglik onderlê in die gebruik van die wêreld-wye web en het inderdaad navorsing gedoen oor parades in die Kaap. Met dié het Walgwors ook toe sommer ’n hele straalplaat vol liedjies saamgestel ter voorbereiding van die feesvieringe. Hulle kan dit dan in die S&W mobiel luister en oefen af Kaap toe sodat hulle al die liedjies daaronder sal kan saamsing. ‘n Mens kan mos nie die Kaapse klopse bywoon en nie saamsing nie. Met ʼn gejubel wat uitgestyg het bo die klank van “Daar kom die Alabama” is ons twee semi-helde vort na die Kaap. Twee dagreise verder verskyn Tafelberg op die horison. Walgwors slaan spontaan oor in Hoog-Hollands. Foeitog! Hierdie was nie ’n geval van die span se taalmeester wat alweer wou spog met sy talente nie, maar die ou Suid Afrikaanse indoktrinasie wat weer na vore gekom het. Die man het sy lewe lank al gewonder hoe moes Maria van Riebeeck gevoel het toe sy die eerste keer Tafelberg onder oë geneem het. Vir een of ander rede kon hy homself nie projekteer in Jan se skoene nie. Sufsak het dit baie geniet maar nadat Walgwors vir die derde keer na ’n kat beduie het en die woord elke keer kliphard in Hollands gesê het, het Sufsak ’n stokkie daar voor gesteek. Jy sien hy is eintlik ʼn kerkmens. Gelukkig was hulle al in ’n soortgelyke situasie en onthou hy hoe hy Walgwors gered het van die weerdonkie episode. Na ʼn goeie skoot anys en peper-sproei in die gesig kom Walgwors tot bedaring. Die deeglike beplanning van die toer het toe vrugte afgewerp. Walgwors het geweet dat niemand van dié wat wel weet hom sou vertel wat die koördinate van die Interster-basis is nie, maar dit sal iemand van semi-held status nooit onder kry nie. Hy het beeldmateriaal uit sy argiewe vergelyk met ʼn foto verkry van Google Earth en kon hy met ʼn 96% akkuraatheid bepaal waar om die krans te lê. En dit is toe ook gedoen. Daar was wel ’n effense vertraging toe Walgwors daarop aangedring het om van ʼn sekstant en kompas gebruik te maak om die posisie se akkuraatheid te verskerp. Na vier dae se toeriste aantreklikhede was dit tyd vir die parade. Die Parade was ongelukkig vir ons twee Semi-helde ietwat van ʼn teleurstelling. Nie een van die liedjies wat hulle so hard aan geoefen het op pad Kaap toe is gespeel nie. Na aanleiding van een van die liedjies het Sufsak in sy geestesoog probeer visualiseer hoe dit gaan lyk as dit mans reën en hoe die huise in die Kaap nog staande kan bly indien dit wel gebeur. Dit sal

Page 13: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

ook nogal ’n gemors afgee. Een vriendelike oom het wel aangebied om Sufsak se trompet te blaas, maar Sufsak was heel in die war want hy speel net die tuba. Die dames in die parade was geensins vriendelik met ons twee manne nie en wou niks weet van Walgwors se weergawe van “I want to break free” nie. Behalwe een dame. Sjoe, sy was baie vriendeliker as die dames van die ou Transvaal. Dit is nogal vreemd om ʼn dame te kry wat Walgwors se 6’2” raamwerk in die oë kan kyk. Walgwors was omtrent verbaas dat sy hom wou soen nog voor hulle eers hande vasgehou het. Die dame was egter nie besonders beïndruk met Walgwors toe hy haar ʼn raad voorskryf vir die groot karbonkel in haar keel nie. Sufsak moes na die tyd aan hom verduidelik dat hy gedink het dit was eerder ʼn adamsappel en nie ʼn karbonkel nie. Daar was ‘n vlot in die parade vir pas getroude paartjies en met groot skok het Sufsak gesien dat die adamsappel verskynsel in Kaapse dames nie uniek is nie, en aangetref word by verskeie ander dames in die optog. Hy het wel ʼn nota gemaak in sy dagboek om die vreemde verskynsel na te vors sodra hy terug by die huis is. Dit was egter effe kommerwekkend om so baie bruide met snorre te sien. Ons het altyd gehoor dat die Kaap sulke mooi meisies het. So is ons semi-helde effe teleurgesteld terug huis toe. Die vakansie was lekker maar die parade het nie regtig aan hul verwagtinge voldoen nie. Gebruiklike gesondheidswerk: Wingerdgriep moet soos volg behandel word; neem een weekoud Burundiese ganseier, twee Habanero rissies, ʼn radys, vier teelepels wasabi, een proppie melk en ʼn skoot woestersous. Meng al die bestanddele in ʼn versapper en drink met een teug. Die hoofpyn sal binne oomblikke vergete wees.

Page 14: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 6: Boewe, woewe en bloekombome Sufsak en Walgwors was op ’n lang vakansie om seker te maak dat die stof gaan lê het na hulle terugvoer op hulle laaste twee avonture. Met ons terugkeer na ons domisilie het Walgwors nie hooikoors gekry nie, wat ’n goeie aanduiding is van ontspande stof. Iets interessants wat ons oppad terug opgemerk het is dat die mense in Bedfordview vir ’n ruk lank weer die donkerkamertjie-fenomeen laat herleef het. Mens behoort lekker te kan speel in sulke groot huise en winkelsentrums. Om nie te praat van Teazer’s nie... Ons boereraatbesigheid is steeds goed op dreef, maar daar is onweer in sig. Ons goue-eier-gans is olik en dit affekteer die lewensvatbaarheid van ons werk as ministeriële raadgewers. Dit is nogal onrusbarend dat tannie Manto so stadig aansterk na haar operasie, aangesien S&W van kindsbeen af geleer is dat ’n paar happies rou lewer ’n mens oemf gee. Wel, tannie Manto het ’n hele lewer in en dit lyk nie of sy vinnig weer wawiele in die Parlementsgebou se gange gaan maak nie. Gelukkig lyk dit nie of oom Thabo haar sal laat gaan nie, maar ons vermoed dat haar uiteindelike opvolger ons bydrae nie heeltemal so waardevol sal ag as wat sy doen nie. Ons het gevolglik begin rondkyk vir ander moontlikhede, want ons was seker dat heelwat deure vir ons sal oopgaan, aangesien ons na ons maankyk-avontuur ’n werklike kultusaanhang het. Wel, ons twee semi-helde was skaars tuis toe ʼn krisis hulle in die gesig staar. Ooghoogte, met slagtande en speeksel wat spat!!! Dit was ʼn plakkaat, kompleet met ʼn krisisboodskap, wat die semi-helde noop om tot aksie oor te gaan. Tant Doortjie se “Opregte-egte Maltese Poedel” Frikkie is soek. Sy was immers hul kwaternêre inspirasie om hulself te laat bekwaam as natuurlike geneeskundige tegnici. Na ʼn vier uur en twee en dertig minute argument oor die geldigheid van tant Doortjie se bewering dat daar iets soos ʼn Opregte-egte Maltese Poedel bestaan (Walgwors lees Beeld en Sufsak se ma het so ’n woef gehad), besluit ons om nie tant Doortjie in dié argument te betrek nie, synde haar brose toestand. ʼn Ongemaklike skietstilstand word geroep. Die twee truppel toe oor na tant Doortjie. Truppel is ʼn diskreter vorm van huppel, veral handig om te gebruik as huppel onvanpas is soos met hospitaalbesoeke, huisbesoek, bedel, kollektes en begrafnisse. Met traangevulde oë vertel tant Doortjie ons die volle verhaal hoe drie mans in donker klere twee uur die oggend haar huis verlaat het met klein Frikkie onder die arm. Walgwors versorg tant Doortjie summier met ʼn mengsel van laventel olie en fyngemaalde papawerpeulpoeier, ʼn natuurlike kalmeermiddel, terwyl Sufsak ondersoek instel. Hy is welbekend met al Jessica Fletcher se speurvermoëns, synde hy haar grootste aanhanger is. Walgwors kon dit nog nooit oor sy hart kry om aan Sufsak te verduidelik dat sy net ʼn fiksionele karakter is en nie werklik bestaan soos Luke Skywalker nie. Met dié ontdek Sufsak ʼn stylvol opgefrommelde papier waarop geskryf is: “As julle vir Frikkie weer lewendig wil sien moet S&W onmiddellik na die Bloekombos by die Fonteinesirkel gaan.” Dit was geteken deur Koue Rilling, Kraaiklou en die Silhoeëtte. Sufsak staan en kopkrap. Die soutwater in Valsbaai het sy kopvel lekker laat uitdroog en hy het nog nie tyd gehad om dit met bosbewer-olie te behandel nie. Walgwors staan en kopkrap, aangesien hy nie dieselfde speurvermoëns as Sufsak het nie. Hy tob oor wat hulle moet inpak en wat hulle te wagte kan wees. Tant Doortjie kom gelukkig te voorskyn met haar bekende én berugte Koekenaap-volgraankoeksusters en terstond is ons twee semi-helde oortuig. Hulle is bereid om alle

Page 15: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

vooropgestelde vrese opsy te skuif en dit met al vyf arms aan te pak. Walgwors se vergroeisel op sy rug na die AEK episode begin nou al funksioneer as ʼn derde arm. Dit help nogal baie met rug krap en skouers vryf na ’n stresvolle dag. Teen hierdie tyd is tant Doortjie ook al vas oortuig dat Frikkie deur Sataniste ontvoer is. Met ʼn kattebak vol knoffel en kruise is die twee fort na die Bloekombos. Daar aangekom besluit Walgwors dat huppel dalk nie die beste manier sal wees om die situasie te benader nie. Jare se lanternbekruip in die Voortrekkers het hom ʼn ding of twee geleer. Sufsak neem vesting in agter Walgwors en die twee beweeg stiller as ʼn muskeljaatkat die bos binne. Diep in die bos kom ons af op ʼn groep van elf mans geklee in klere wat ons helde nog nooit voorheen in hierdie kombinasie gesien het nie, naamlik visplakkies, pienk Speedo’s en Batman-mantels. Roerloos word die situasie bekyk. Dit blyk dat Frikkie nie vasgebind is nie, maar wel stylvol geskeer is en met ’n palmtak koelgewaai word terwyl hy hondetjokkies en ganslewer gevoer word. Die res van die groep staan hand om die lyf en sing “How much is that doggy in the window” uit volle bors. S&W is oorbluf. Die twee semi-helde staan nog en tob oor die hele insident toe die argument oor die opregtheid van tant Doortjie se hond weer van voor af uitbreek. Dit was tydens ʼn akoestiese interpretasie van “Who let the Dogs Out” dat algar meteens bewus word van mekaar se teenwoordigheid. Vir sewe duisend seshonderd agt en dertig millisekondes heers daar ʼn uiters ongemaklike stilte. In 'n oogwink word die twee semi-helde omhels met ʼn oormaat manlike kontak wat Walgwors ongemaklik laat terugdink aan die Pienk Parade episode. Vriendelik word S&W genooi om by die kultus aan te sluit en die dertiental te voltooi. Die groep beywer hulle vir die volwaardige erkenning van die Maltese Poedel as ’n honderas en Frikkie is bestem om hul Alfa-reun te wees. Sufsak het natuurlik niks van die gesprek gehoor nie, aangesien hy heeltyd gedink dat daar geen manier is dat hy ooit weer sulke klere gaan aantrek nie. Walgwors kyk gereeld dr. Phil en besluit gevolglik dat hy as bemiddelaar moet optree. Hy verduidelik dat, as gevolg van hulle openbare beeld, S&W nie by enige kultus kan aansluit nie en dat tant Doortjie se 42-jarige hart aan skerwe is. In ’n japtrap is dit een monumentale tranedal wat herinner aan ʼn Titanic-vertoning tydens ʼn haarkapperskonferensie. Frikkie word sonder weerstand terugbesorg aan die tweemanskap en nadat elkeen sy naam in cerise naellak geteken het en plegtig belowe het om Frikkie slegs van ’n afstand af te bewonder word die blonde krulkop aan tant Doortjie terugbesorg. Ons gebruiklike gesondheidswenk: ’n Ernstige aanval van gieterboude kan lag-lag vasgevat word met die inneem van ’n halwe koppie organiese Vesuviaanse gelatien (in poeiervorm). Hierdie gelatien verhard tot 21.5MPa. Die opeenvolgende hardlywigheid is makliker om te behandel en medisyne vir hardlywigheid kan relatief goedkoop by enige supermark gekoop word.

Page 16: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 7: eNaTIS ’n Hartlike hallo aan al die Woes-maatjies, insluitende die skisofrene met meer as een skuilnaam. Sufsak en Walgwors het besluit dat, weens hulle groeiende aansien in die samelewing, hulle moet oefen om persverklarings vry te stel. Dit word blykbaar verwag om sulke goed te doen wanneer mens ’n sekere openbare profiel bereik het. Ons is egter nog nie daar nie aangesien Huisgenoot, Son, Zoo, die Mense-tydskrif of selfs Rian van Heerden ons nog nie gebel het vir onderhoude nie. Die Hillside Times het wel, maar ons was nie lus om ons name genoem te kry in Paula Prut nie. Maar mens kan bly duime vashou vir groter dinge. In elk geval, Kameraad Woes het ons gevra of ons nie bereid sal wees om ons herkuliese rekenaarkennis in te span om hom ’n bietjie te help met die webwerf nie. Daar was blykbaar ’n gekerm van sekere ooms gewees dat die manier van registrasie en items plaas nie optimaal is nie. Hierdie registrasie en indieningsprogram sou ook help om meervuldige skuilname op Woes deur dieselfde persoon te verenig onder ’n enkele intekenaar. Sufsak wonder of ons die soolswamme tussen sy tone se stories steeds sal kan plaas onder S&W se skuilnaam en of Sufsak en Soolswam dalk ʼn akkurater verteenwoordiging van die werklikheid sal wees. In terme van rekenaarkennis het S&W dit immers jare terug al reggekry om in die Amerikaanse CIA se hoofraam te kon inkom tydens die Onmoontlike Sending avontuur wat ons te beurt geval het terwyl ons nog op universiteit was. Derhalwe het ons opgewasse gevoel vir hierdie allemintige taak. Maar so ’n enorme diensdaad kan nie geskied sonder ’n bietjie opoffering nie. Ons sou wel moes tyd afknyp van ons Xonix-verslawing af om hierde goeie saak te ondersteun. Dis egter alles in ’n dag se werk vir ’n paar semi-helde. Die programmering (in masjienkode natuurlik) het baie goed verloop. Die meesterstuk was wel Sufsak se idee om ’n Xonix-gebaseerde gebruikerskerm te ontwerp wat ons toegelaat het om aan te hou speel terwyl ons programmeer. In die eindproduk sal dit ook enige gebruiker toelaat om speel-speel die werk klaar te kry. Dit is ʼn truuk wat Walgwors by sy ma geleer het, “multi-tasking” soos sy dit noem. Sy kry dit al jare lank reg om twee dinge gelyk te doen soos om 7de Laan te kyk en tegelykertyd die kos te verbrand. Walgwors se eerste poging om hierdie truuk te vervolmaak was om koerant te lees op die troon. Die vaardigheidsvlak van die gemiddelde rekenaargebruiker daarbuite is natuurlik ver benede dié van S&W, aangesien ons gekwalifiseerde semi-helde is en dus mag daar aanvanklike sporadiese produktiwiteitsineensinkings voorkom. Dit behoort egter speel-speel opgeklaar te word soos die gemiddelde spelpeil van die onderskeie rekenaargebruikers styg. Met die program so te sê klaar het ons voor ’n kopkrapper te staan gekom en dit was die interne terminologie. Sal ons gebruik maak van Woes-skuilname of gaan elkeen eerder ’n Woes-lisensie kry? Dit hou natuurlik belofte in want ons kan dan ʼn swaarvoertuig kode EC Lisensie (Extremis Creationis) vir Premium intekenaars wat skeppend is uitreik en ʼn kode EB Lisensie (Extremis Basicus) vir basiese intekenaars. Aangesien ons albei al skouers geskuur het met regte ingenieurs, waarvan een selfs verantwoordelik was vir die onwerp van die oorspronklike dak bo-oor die Kolonnade in Pretoria se ysskaatsbaan, het ons ’n voorliefde ontwikkel vir afkortings. Derhalwe het ons dit eNaTIS gedoop. Dit staan vir: “een Naam Tekort Identiteit Stelsel. Dit was te midde van hierdie harsingsgalop dat tannie Manto weer by ons twee semi-helde kom suurlemoentee drink het. Tydens die stimulerende geselsie het sy die manne laat weet dat sy ’n epifanie gehad het en dalk ’n salaris-aanvullertjie vir ons kan bewerkstellig. Ons moes ook ’n besoek verwag van ’n oom Jeff. ’n Week of wat later het oom Jeff toe jou werklik kom inloer en die manne ingelig dat die Departement van Vervoer ’n nuwe elektroniese lisensiestelsel soek. Hy het verneem dat ons reeds iets in dier voege aanmekaar geslaan het. Ons het hard probeer om vir oom Jeff te vertel dat dit eintlik vir Kameraad Woes bedoel was en dat Woes-lisensies en

Page 17: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

voertuiglisensies nie heeltemal dieselfde ding is nie. Basies soos wat ʼn slaggat en ʼn mangat nie dieselfde ding is nie. Selfs ʼn multimedia Powerpoint aanbieding deur Sufsak waar hy die verskille verduidelik in die kompleksiteit tussen die twee matriksstrukture, die intrinsieke insetveranderlike sensitiwiteit volgens die chaos-teorie en gebrek aan in-tyd inskakelingsvermoëns kon Oom Jeff nie eers oortuig nie. Die oom was van mening dat niemand eers die verskil sal agterkom nie en hy is vort met ons program. Ons is darem R500 elk en twee kaste Zimbabwiese bier betaal daarvoor. Elke saak het immers sy prys. Ons was wel nie heeltemal seker wat om met die bier te doen nie. As enige maats daarbuite dalk raad het, kan julle ons gerus kontak op interne Woespos. Dit het vir die tweemanskap gevoel of hulle ambivalent was oor die hele aangeleentheid, maar eintlik was ons voor twee vure. Ons het regtig gehoop ons name word nie daaraan gekoppel nie. Nie dat ons bang was dat dit nie sou werk nie, maar eerder omdat ons die werk gekry het ten spyte daarvan dat ons nie swart bemagtig is nie en dit kan vir jou ʼn werklike slaggat wees. Sufsak se vader was egter ʼn anti-Apartheid aktivis wat bekendheid verwerf het deurdat hy die koejawel vrugterolle met kasterolie gedokter het by ’n geheime Broederbond byeenkoms. Ons moet dalk vir die stormende flank Lukas betrek as ’n bemagtigingsvennoot, aangesien dit, volgens die presedent gestel deur die Kaapse Premier, aan ons ʼn 66,6% bemagtiging status gee. Nog ’n rede hoekom ons nie ons name gekoppel wou gehad het hieraan nie is dat ons nie wou gehad het dat Kameraad Woes daarvan moet uitvind nie, aangesien ons dit eintlik vir hom moes gedoen het. Ons het deeglik gaan navors oor gewetes en dit het ons laat skuldig voel. Maar bo alle verwagting was ons program ’n majestueuse sukses. Mense het selfs verlof geneem en ure lank tou gestaan om ons nuwe program te siene te kry en ten spyte daarvan is ons nog steeds nie genooi vir onderhoude nie. Dit laat mens natuurlik wonder hoe Jurie en Hestrie dit regkry om so gereeld op Huisgenoot se voorblad te wees. Ons vermoed hulle het seisoenkaartjies. Dit is tyd vir planne om beraam te word. Ons is redelik seker dat dit ’n waardige voorbladstorie sou wees indien S&W geboorte skenk aan hul eersteling. Walgwors is juis al ’n geruime tyd in die geheim besig om te beplan aan ’n vrugbaarheidskliniek wat in parallel kan hardloop met ons huidige bedryf. Ons kan voorlopig berig dat daar reeds beperkte sukses behaal is met aangepaste natuurlike tegnieke wat geskoei is op verskeie Middeleeuse alchemistiese resepte wat ons ontdek het in die SABC argiewe. Maar dit is ʼn storie in eie reg waarop ons later meer sal uitbrei. Ons gebruiklike gesondheidswenk: Hierdie is ’n raat wat Sloet Steenkamp vir Walgwors se oumagrootjie gegee het toe hulle nog gekys was. Hy het dit uit die persoonlike argiewe van Napoleon Bonaparte gekry terwyl hy ’n krygsgevangene was op St. Helena. Hierdie raat toon dat skedelhoofpyn se streke kortgeknip kan word deur ’n halwe oorryp St. Helena suurlemoen in elke armholte te vryf vir 5 minute lank. As dit nie werk nie, breek jou linker-pinkie. Dan is die hoofpyn onmiddellik vergete.

Page 18: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 8: Voorbladbabas Die kleur van sake het die afgelope ruk vir Sufsak en Walgwors beslis meer na die rooskleurige kant van die spektrum beweeg. Die hoogtepunt was ongetwyfeld toe tannie Manto weer amptelik die leisels by oom Jeff teruggeneem het. Dit het nogal ’n swaar las van ons skouers afgehaal. Sy kan mos nou weer op haar eie loop. S&W was die afgelope ruk besig met onbaatsugtige werk aangesien ’n taakgroep van die NG Kerk ons genader het om hulle te help in hulle soeke na die bestaan van die duiwel. S&W het mos immers ’n rukkie gelede (sonder dat ons dit eers agtergekom het) met hom te make gery toe ons per ongeluk ’n maansverduistering gemis het. Soos almal weet is S&W lui, dog hiperaktiewe mense wat ly aan aandagafleibaarheidsindroom en dit beteken dat ons gou verveeld raak met een ding en dan nuwe inspirasie soek. Sufsak het die taakgroep verwys na die 1974 uitgawe van Daan Retief Uitgewers se Kinderbybel (die een met Moses by die Rooi See op die voorblad) waarin daar duidelike foto’s van oom Niek is en daarmee was die saak beskou as afgehandel. Ons het toe besluit om iets minder onbaatsugtig te doen en glorie en aansien na te jaag. Wel dit was met groot geesdrif, soortgelyk aan die geesdrif wat geopenbaar word deur ʼn bronstige boerbokram in die lente, dat ons twee semi-helde hul volgende taak aangepak het. Ons is koersvas oppad om te verseker dat daar teen die einde van die jaar ʼn foto van S&W op die voorblad van Huisgenoot sal pryk. Die leser sal opmerk dat ons wel nie sê nie watter jaar nie. Hierdie diepgeankerde gedagte het ʼn harsingshopie (dinkskrum), indaba, lekgotla en bosberaad ontketen wat ʼn mens laat terugdink aan die debat in die dae van weleer oor die roete wat kaalvoet gevolg gaan word oor die Drakensberge tydens die Groot Trek. Wat ons twee semi-helde egter besef het is dat dit iets monumentaal sal moet wees. Iets groter as wat al hulle reeds-vertelde avonture saamgevoeg, opgemaal en as ʼn homogene mengsel in ʼn enkele kontinuum omvat is sal wees. Tydens hierdie gesprek het Sufsak ʼn onwillekeurige breinportret beleef en getob oor die smaak van die opgemaalde mengsel avonture. Proe seker maar na komododraak, wat natuurlik soos cajun hoender proe. Tydens die bovermelde titaniese intellektuele debat het S&W met ’n wonderlike gedagte na vore gekom. Hulle het besef dat indien hul die afgelope 100 jaar se Huisgenoot stories aseotropies distilleer (met ’n Wenresepte kookboek as pakking) sal hulle by die essensie van nuuswaardigheid uitkom. Geduldig skreeu Walgwors dat babas die antwoord is. Kyk maar na die mediadekking wat ontaard het toe die jeugdige Robbie Klay ʼn dametjie in die ander tyd geplaas het. Skande is ʼn daadwerklike trekpleister vir enige poniekoerant. Ons sou bes moontlik verskeie koerante se voorblaaie kon haal deur ’n terroristeaanval te loods op een of ander vrugtesapfabriek, aangesien Walgwors allergies is vir koejawel. Sufsak het steeds ʼn wrewel in koejawel, aangesien hy dit met die apartheidstryd assosieër na sy vader se sabotasie van ʼn Broederbond vergadering. Sufsak se beskeie mening was egter dat ons mik daarna om die Huisgenoot se voorblad te haal en as semi-helde darem sekere minimum standaarde moet openbaar. Na etlike dae en vele probeerslae was die meesterlike plan geformuleer en kon ons die denkproses staak. Sufsak sou die proefkonyn wees wat Steve Hofmeyr en Patricia Lewis se kind sou baar. Met dié dat hy slegs 4 maande swanger lyk met sy maag ingetrek sou ons dit vir lank genoeg kon verdoesel om die gewaarborgde sukses van die operasie te verseker. Dit het al die nodige bestanddele, soos intriges en nuanses, om selfs die mees getroue De Kat leser te oortuig om ʼn Huisgenoot te koop. Walgwors het destyds sonder dat enigiemand dit agtergekom het tóg in sy standerd agt geestesweerbaarheidsklas opgelet en hy weet gevolglik dat daar twee bestanddele is tot hierdie resep. Hulle het nodig om ʼn eier by tannie Patricia vas te lê en hulle moes saad by

Page 19: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

oom Steve kry. Met ʼn presisie waarby Eisenhower tydens D-dag sou kon baat vind het ons twee semi-helde die operasie beplan. Die Patricia-eier en die Steve-saad sou voor die tyd bymekaar gebring word en dan sorgvuldig in Sufsak se buik geplaas word vir behoorlike inkubasie. Walgwors beskou homself as ʼn amateur chirurg. Hy het immers op laerskool al dit reggekry om met sy egte, nagemaakte Taiwannese VicterXonix knipmes ’n siamese padda-tweeling te skei. Gevolglik het hy kans gesien vir die delikate operasie. Hy slyp darem elke maand die lem met skuurpapier. Ons sal liefs nie in verdere detail uitbrei oor die operasie nie siende ons dalk sensitiewe lesers kan ontstel. Na die operasie het Sufsak onmiddellik op ʼn vrugbaarheidsterapie gegaan wat behels het dat hy snags in Zimbabwiese bier moet bad en daarna met sy voete in vars beesmis moes slaap. Met alles wat teen 10000% styg in oom Bob se landjie behoort die bier nogal te help. (Dankie VLM!) Dit was om en by twee volmane later dat S&W besluit het om die operasie te aborteer, aangesien iets iewers rêrig skeef geloop het. Indien enigiemand gewonder het oor die spesifieke meting van tyd wat ons gebruik, laat ons toe om dinge op te klaar. S&W het jare gelede al oorgeskakel na ʼn antieke Persiese maankalender. Volgens hierdie kalender is hulle nou al 40 jaar oud en Walgwors het gehoor dat ouer mans wat hulle jare goed dra veel aantrekliker is vir die skoner geslag. In elk geval, Walgwors het aan Sufsak verduidelik dat hy van mening is dat hulle eerder ʼn swaeltjie-eier as ʼn duifeier by tannie Patricia se huis moes gevat het. Sufsak het die gedoente oordink en tot die gevolgtrekking gekom dat boontjiesaad dalk ook nie die aangewese saad was om by oom Steve te vat nie. Daar was darem tog ʼn brokkie goeie nuus. Sufsak is nou die pa van ʼn pragtige vuilpienk duifkuiken Donsie en Walgwors se bek water al vir sy ma se groenboontjie bredie gemaak van sy tuis-gekweekte groenbone. Ons twee semi-helde het ook ʼn kosbare les geleer met hierdie avontuur. Die gejaag na status en erkenning is net eerbaar as jy dit nie doen ten bate van jou eie belange nie. Huisgenoot moet mens uit die bloute nader om op die voorblad te verskyn. Dan lyk die foto ook meer natuurlik. Ons gebruiklike gesondheidswenk: Wanneer ʼn treksel van dennenaalde afkomstig uit ’n Mondi-bos en Cullinan turksvy-dorings met die vroegoggend ghif uit jou linkeroog gemeng word en kloksgewys oor ʼn kaasdoeklappie gesprinkel word, kan dit handig te pas kom wanneer tandpyn toeslaan. Plaas dan die stukkie kaasdoek terstond onder die tong en in ’n ommesientjie is jou tandpyn iets van die verlede.

Page 20: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 9: Hospitaalkaskenades Afgesien van die tydjie wat afgeknyp was om sneeumensies in detail te ontwerp en te bou was S&W die afgelope ruk betrokke gewees in die landswye staking. Dit was ʼn situasie doelgemaak vir ons twee semi-helde. Nee, dit was meer soos manna uit die hemele vir manne met ons kundigheid en statuur. Die land se mense het in nood verkeer en slegs ʼn handjievol was beskikbaar om vir die miljoene te sorg. Iets moes daaraan gedoen word! Ons is immers in indirekte diens van die regering en derhalwe soos die weermag verplig om handjie by te sit. Die verpleegpersoneel en onderwysers was aan’t staak en ons helde was byderhand om te help. Daar was egter ʼn kortstondige vaartboggel in ons pad. Ons moes besluit waar ons gaan hand bysit. Gaan ons in die onderwys of verpleging in beweeg? Die besluit was gelukkig sonder verwyl afgehandel deur ʼn vinnige 375 rondtes van dolos-kaasdoek-assegaai (soos gereelde lesers van ons avonture weet is dit die Afrikaanse weergawe van ching-chong-cha). Walgwors was in sy noppies toe die uitslag, 4 ure en 47 minute later (ons het daardie tipe tyd), ten gunste van verpleging val, siende dat Emily Hobhouse al sedert ʼn skooltaak in standerd 2 sy grootste heldin van alle tye geword het en as inspirasie gedien het vir sy mediese toekoms. Hy wou egter nooit ʼn dokter word nie, aangesien ʼn beroep slegs edel is indien jy min geld daarvoor ontvang. Die debat duur natuurlik voort of dit ook die geval is met Amerikaanse tele-evangeliste, maar dit is ʼn onderwerp vir ʼn ander dag. Sufsak het vir Walgwors genoeg tyd gegee om sy verpleging-fantasie uit te leef maar hom vriendelik versoek om die verpleegster uniform, wat die “vriendelike” oom in die Kaap vir hom gegee het, uit te trek toe hulle die domisilie verlaat. Met ʼn groot geesdrif soos wat geopenbaar word deur ʼn dronk eerstejaar student vol testosteroon op die Joolplaas tydens die rockkonsert is die tweemanskap fort na Tshwane Distrikhospitaal. Dit moet net genoem word dat Sufsak baie opgewonde was toe hy gehoor het dat oom Steve daar sou diens doen. Indien die geleentheid homself weer voordoen kon ons dalk weer probeer om saad te bekom. Maar dié keer vir ʼn meer edele oogmerk. Sien, Sufsak se ma is so ʼn groot Steve aanhanger dat haar bynaam velcro is en sy wil ʼn “pampoen” groei, vrot maak en verbrons of so iets. En Steve se pampoene is juis so gewild. Aangekom by die wit gebou wat voorheen vernoem is na ʼn motorwedren kommentator, bemerk ons twee helde dat hulle taak groter is as wat aanvanklik vermoed is. Gemoedere het hoog geloop en die manne het onmiddellik begin om aan die massas wit-dulsies-en-papaja-saad-ekstrak gemeng met Gilamonster sweet en towersampioene toe te dien, aangesien dit ʼn baie amuserende natuurlike kalmeermiddel is. Dit is dieselfde kalmeermiddel wat Dingaan destyds vir Piet Retief skelmpies ingejaag het voor hy hom laat vermoor het. Geskiedkundiges was vir jare verbyster dat Piet met ʼn glimlag op sy bakkies vermoor is. Die mense was skoon oorstelp met die aandag en het uit dankbaarheid begin om te sing en dans. ʼn Tipe van “affirmative aerobics”. Na sowat twee ure se jolige dans en sing bemerk Walgwors dat hulle dalk besig is om die verkeerde groep mense te bedien, omrede hy van mening is dat pasiënte gewoonlik binne ʼn hospitaal gevind sal word. Die hospitaal was soos Genesis in die Bybel: dor en leeg. Walgwors was druk besig om ʼn filosofiese, dog induktiewe denkproses deur te gaan om die hospitaal se entropiese toestand metafisies te koppel aan aardverwarming, evolusie en die rooilig-effek toe Sufsak besef dat hulle dalk self te veel sampioene verorber het. Skielik tref dit ons twee semi-helde soos ʼn rooiwarm treinspoor teen die tandvleis dat hulle hulself tans in die hospitaal se onderdak parkering bevind. Meteens is daar ʼn konsensusbesluit dat ons twee semi-helde hulself onmiddellik uit die beskonke toestand moet ruk. Die besluit het beide so skielik oorval dat ons eers moes stilstaan om ons asems terug te kry. Dit was ʼn bittersoet gevoel, amper soos die gevoel wat mens kry as jy ʼn ribbebeen kraak met ʼn lekker nies. Maar terug by die vertelling. Die S&W koffer vol natuurlike middels word nader gesleep. Soos mal professore uit ʼn ou Hitchcock film word daar gekook en gewerskaf. Konkoksies wat herinner aan Sufsak se afsluk-dop op sy een-en-twintigste verjaardagpartytjie word spoedig gebrou. Tyd, soos almal sedert 1905 weet, is ʼn relatiewe begrip en dit was relatief laat na sononder toe die twee oor-nugter helde (ons moes die brousels proe-toets) met ʼn reggae-metal interpretasie van Steve

Page 21: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

se Pampoen, in Sesotho, die hospitaal binne steier. Deeglike nabetragting het getoon dat ons erg eksplosiewe gedragsversteurings die direkte gevolg was daarvan dat ons suiwer medisinale alkohol verwar het met suiwer Noorweegse mineraal water vanaf die Ovian gletser. Dit het natuurlik totaal onbeplande gevolge teweeg gebring. Sufsak het opgeëindig in die lykshuis waar hy homself verbeel het hy is Dr Quincy. Dit het op die ou einde vier sekuriteitswagte geneem om hom los te skeur van die nadoodse ondersoek wat hy besig was om uit te voer op ʼn rubber tuinslang. Walgwors se haas onstuitbare momentum is finaal gestuit met ʼn bedaarmiddel van epidermiese proporsies waarvan hy so baie gehou het dat hy tot vandag toe steeds die resep probeer naboots. Nodeloos om te sê, eindig die twee semi-helde in die hospitaal op, nie as verpleegkundiges nie, maar as pasiënte. Dit het nogal ʼn Babelse verwarring tot gevolg gehad onder die twee semi-helde, aangesien Walgwors oortuig was dat hy dr. Quinn Medisyne Doedie se alter ego is en dus eerder sorg moet gee as ontvang. ʼn Minder-bekende feit is dat Dok Quinn en Emily Hobhouse ʼn jeughostel kamer gedeel het op ʼn Everest-ekspedisie in Nepal voordat hulle paaie geskei het en albei op wonderbaarlike wyse in die pasiënt-sorg professie beland het. Gelukkig het ons eie wingerdgriepkuur wat ons met die algemene publiek gedeel het tydens ons Pienk Parade avontuur tot ons redding gekom. Walgwors sweer tot vandag toe nog hoog en laag dat Oom Steve se tannie Natasha hom versorg het terwyl oom Steve sy liedjie “Deur Jou Vingers Val” in die agtergrond gesing het. Sufsak wou nie Walgwors se fantasie bederf nie en het gevolglik geswyg oor die gehawende ysmasjien langs Sufsak se kamer wat nou en dan met ʼn dreunsingende, dog skor musikale geroggel ys voortgebring het en die snel blesrakende mop wat ʼn skoonmaker langs sy bed vergeet het. Gelukkig het beide van ons twee semi-helde snel aangesterk en beide is heilig oortuig dat hospitale nie lekker plekke is nie. Hul privaatpraktyk is beslis beter, aangesien daar minder dinge is om gelyktydig op te konsentreer. Een goeie nagevolg van ons twee semi-helde se misavontuur is dat hulle nooit enige van die pasiënte kon bystaan nie. Wat in hierdie geval ʼn goeie ding is, aangesien dit ʼn verkeersknoop van Gordiaanse afmetings in die hoofstad se strate sou veroorsaak as al die pasiënte eensklaps ontslaan moes word by die hospitaal. Vir ons gebruiklike gesondheidswenk gaan ons hierdie keer fokus op hoes, aangesien dit winter is. Meng 2 pinte perdeby-heuning (baie skaars, maar baie effektief), 12 dessertlepels vars, soutlose Jerseybotter, 1 botteltjie Paregorie, 1 botteltjie Turlington, 1 teelepel fyn Jamaikagemmer, 1 bottel pepermentlikeur, 1 botteltjie borsdruppels, 1 eetlepel gliserien, 1 glas langlewemelk, 2 eetlepels asyn, 1 groot blikkie Samboksalf en vanielje na smaak. Skud goed voor jy dit gebruik. Gebruik 2 keer per dag op ʼn nugter maag. As dit nie werk nie, sit swart watte met ru-kasterolie tussen die blaaie en asynkompresse op die voorkop en slape wanneer jy gaan slaap. Eet ook drie blokkies Brooklax. Die hoes is gewaarborg om Orwelliese onderdrukking te ondergaan na die eerste eksplosiewe hoesbui.

Page 22: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 10: Zimbesi Dit was ʼn grou donker nag. Nee, dit het niks te make met arbeid verbonde aan die begrafnisskof nie, of selfs in ʼn begraafplaas nie. Dit was bloot ʼn grou donker nag. Eintlik het dit niks te make met die res van die storie nie, maar dit klink dramaties om so te begin. Dramaties pas egter, aangesien ʼn drama homself hieronder afspeel. Drama is so ʼn sagte woord. Hierdie was nie drama soos 7de Laan nie maar meer soos Knight Rider. Sufsak is ook ietwat van ʼn dramakoningin en het met groot fanfare, gebalde vuiste, rooi-gehuilde oë en ʼn linkervoet wat op en af wip aangedring op die insluit van die reël. Aangesien Sufsak nommer 14 skoene dra het die skokgolwe van sy voet tik Walgwors naar gemaak en het hy ingestem. Na ʼn langerige afwesigheid kan ons twee semi-helde getuig dat ons rakelings ontsnap het met ons lewens en vandag gelukkig is om wel ons storie te kan vertel. Walgwors is nog steeds so vreesbevange dat hy sy gedeelte van die storie uit Engeland vertel, want dis al waar hy glo dat hy relatief veilig is. Ten minste tot die stof gaan lê het. Die duisende manlike (en vroulike) aanhangers wat ons ontmoet het tydens die Kaapse Parade het seker gewonder wat van ons twee semi-helde geword het. Die verhaal begin sowat ses maande gelede. Ons twee semi-helde is uit die bloute geïnspireer deur ʼn skottel rum-en-rosyntjie roomys om in Koning Holhek se spore te trap deur ʼn ekspedisie aan te pak na die bolope van die Zambezirivier. Sufsak het na ʼn besoek aan die Gulde van Natuurlike Helers (die GNH) te hore gekom van ʼn seldsame vampieragtige nagjagtende erdwurm in die bolope van die Zambezi wat die potensiaal toon om opsigtelike spatare in die binnebeen se intensiteit merkbaar te verminder. Eenstemmigheid is onmiddellik verkry in die S&W geledere. Dit het gehelp dat Walgwors laringitis van die linkerkeel gehad het. Soos dit twee semi-helde betaam is die ekspedisie tot in die kleinste besonderhede en met die pynlikheid van ʼn perfeksionistiese rekenmeester beplan. Walgwors het by een van sy geskorste oud-Voortrekker vriende ʼn handleiding deur ʼn ene Mark Thatcher as geskenk gekry wat deeglik aandui hoe mens kan oorleef in Afrika met net een blikkie Militêre KOO Sousboontjies (dubbel die woema) of iets dergeliks. Behalwe vir die voorgeskrewe Kalashnikov jaggewere, die Antonov 47-model, het Walgwors dit werklikwaar reggekry om al die nodige proviand vir die avontuur bymekaar te maak by sy plaaslike hoek kafee. Die S&W mobiel moes ook ʼn metamorfose ondergaan ter voorbereiding van die ekspedisie. ʼn Ekstra brandstoftenk is agterop die kattebak vasgegom en die suspensie is met 6 imperiale duime gelig. ʼn Graaf, plastiek emmertjie, sinkbad, twee warmwater sakke, ʼn visstok, waterpas, bandsaag, drie kompasse (mens kan nooit te versigtig wees nie), ʼn sekstant, sonhorlosie met kalibrasiekurwe en een stel sokkies is op die dak rak vasgebind. Met paspoorte in die gatsak is die twee toe fort in ʼn noordelike rigting. In ʼn land effens noord van Mzansi (fo sho!), waarvan S&W plegtig belowe het om nie die identiteit bekend te maak nie, het ons begin om die bolope van die magtige Zambezi te benader. Op een arbitrêre verlate stofpad kom ons op ʼn lorrie af wat langs die pad staan met stoom wat by die enjinkap uitborrel. S&W moes natuurlik hul semi-held status gestand doen en het onmiddellik gestop om hulle 5 hande by te sit. Na ʼn gespook van ’n paar uur het ons die vragmotor aan die gang gekry. Asof enige iemand iets minder kon verwag. Die twee vriendelike polisiemanne wat die lorrie bestuur het belowe net daar plegtig om ons te beloon met ʼn smaaklike ete in die volgende dorp. Die oplossing om die trok te verkoel was so geniaal dat ons nie anders kan as om dit gou in detail te bespreek nie. Walgwors het vinnig agterop een van die polisiemanne se boeteboekie die hitte-oordrag kapasiteit van die lorrie se verkoelingstelsel gesimuleer en bereken dat die

Page 23: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

area benodig vir voldoende hitte-oordrag per geluk gelykstaande is aan die area van ons sinkbad. Die visstok is omgeskakel in ʼn semi-buigbare buis en die verkoelingstelsel is aan die lorrie se kragbron gekoppel. Die enigste negatiewe effek van die modifikasie was dat die passasier sy sitplek kwyt is aangesien dit opgeneem was deur die sinkbad. En dis toe natuurlik dat een van die polisiemanne (ook heel toevallig die een wat sy sitplek kwyt is) op ons agtersitplek opeindig en dis net daar waar die oorryp papaja die waaier volspoed tref. Die man ontdek Walgwors se oorleef-in-Afrika-met-net-een-blik-militêre-KOO-sousbone-handleiding en voor ons kon sê “Knuppeldik aan Koningskos” bevind die twee semi-helde hulleself binne-in ʼn militêre tronk. Vir maande lank was ons ondervra. Ons vermoed dat die klompie daar bo ʼn bietjie sukkel met Engels, aangesien ons die storie 567 keer moes herhaal voor ons uiteindelik ontsnap het. Dit blyk die ouens daar naby die bolope van die Zambezi kon skynbaar nie die lorrie reggemaak kry nie, aangesien hulle die begroting uurliks moes aanpas en die rekenmeesters net nie kon tred hou met die wispelturige dollar-dollar wisselkoers nie. Met ʼn begaafde plan wat vaseline, naaktheid en ʼn kitsdieet ingesluit het, het die twee semi-helde ontsnap. Walgwors het die lorrie se drade warm gemaak en met mooi kragwoorde oortuig om te vat. Moeilik om te glo, maar ons het wrintiewaar sonder voorval tot terug by ons domisilie in sonnige Suid Afrika gereis. Elke silwer randjie het ongelukkig ʼn donker wolk en hierdie verhaal se hartseer is dat ons die S&W mobiel kwyt is. Dit was ʼn groot slag en ons moes baie Baltiese Slakogies eet (ʼn natuurlike kalmeermiddel) voor ons oor die trauma gekom het. By navraag het ons uitgevind dat ons mobiel die burgemeester se nuwe ampsmotor geword het in die dorpie waar ons gevange gehou was. Ons sit darem nou met ʼn lorrie as S&W mobiel. Nodeloos om te sê is ons maandelikse diesel-begroting in sy peetjie in. Dalk sal twee turbo-aanjaers, 26-duim semi-gladde bande en ʼn drukvin die brandstofverbruik verbeter. Walgwors is nog altyd effens paranoïes (seker omdat mense hom regtig agtervolg) en is toe vort Engeland toe tot die stof gaan lê het. Hy kry ook hooikoors van stof, maar dit is nie sy amptelike verskoning nie. Sufsak vermoed dat hy bloot net verward is en eintlik op soek is na ander lede van die Thatcher familie. ʼn Interessantheid is dat die lorrie se hele agterkant gevul was met ZEC-gemerkte kartondose vol papiere met foto’s van vermiste persone op. Daar is een spesifieke ou oom met so ʼn klein snorretjie soos ʼn Duitse diktator (ons wonder of hy vir ʼn bo-lip Brazillian vra by die skoonheidsalon) wat ons dink iemand dringend op soek is na, want op elke papiertjie is daar langs sy gesig ʼn kruisie getrek. Indien iemand weet van so ʼn persoon kan hulle S&W via die Woes webtuiste kontak. Ons gebruiklike gesondheidswenk is hierdie keer spesifiek van toepassing op mense wat met militêre bedrywighede besig is. Indien jy bang is om gemartel te word stel ons voor dat jy steurgarnale in jou stewels en onder jou arms stoor op ʼn permanente basis. Sufsak is ook met onderhandelinge besig vir die patentering van die nuwe tronk-gebaseerde gewigsverlies dieetplan met verskeie telebemarkingsinstansies. Maar dis nie al nie! Tot later.

Page 24: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Die Avonture van Sufsak en Walgwors – 11: Oorlog onder die sterreruim Hoezit tjommas! Lekka om terug te wees in woeste Zuid Afrika. Baie dinge het gebeur in ons afwesigheid. Zefrikaans is in, dit is weer kief om têppit te wees en ons hoop algar catch ons vibe. Sad om te sê, ons skiem om Zefrikaans te praat is cooler as ons; derhalwe sal ons eerder oudergewoonte poog om FAK-Afrikaans te besig. Ons is seker, wel om doodeerlik te wees ons hoop van harte, dat die eerste gedagte wat in almal wat hierdie avontuur lees se kop inskiet iets klink soos: “Hoera, ons semi-helde is terug! Vanaand slaap die hele Suid-Afrika beter.” Die groot vraag is waar was ons die afgelope geologiese rukkie? Byt vas vriende, familie en getroue lesers. Dit is ’n verhaal van epiese afmetings wat ons brand om te deel. Tydens ons Zimbesi avontuur het ons soos Dawid en Jonatan bevriend geraak met ’n wonderlike persoon. Dit is ’n man van daardie wêreld wat in eie reg, sonder hoë-verrigtingsvitamienaanvullings, volledige heldestatus verwerf het. Nee, dit was nie die Ruiter in Swart of Staal Burger nie maar ’n man met soortgelyke vaardighede, by name Hans Alleenloper. Sufsak en Walgwors het via die bostelegraaf verneem dat Hans gevange geneem is deur ’n ene Abbaj Rondawel, ’n boef van monumentale proporsies en dimensies. Hier volg ‘n agtergrondskets vir jou gebring met die komplimente van ons borge: Abbaj is ‘n brandmaer Ubumvumbu van 400 kilogram. Dit mag na baie klink, maar ’n gemiddelde volwasse manlike Ubumvumbu laat die skaal kreun onder ‘n volronde 800kg. Sy doopnaam was J gewees, maar nadat hy ABBA opgeëet het, is hy herdoop na Abbaj toe. Wanneer laas het jy vir ABBA in lewende lywe gesien? In elk geval, Abbaj het ’n horde losprysjagters ’n beloning van ‘n selfoon met 100 000 voorafbetaalde minute op aangebied as hulle vir Hans lewend kon vang. Sufsak en Walgwors het verder verneem dat ‘n vindingryke boef met bynaam Babavet ons vriend Hans gevange geneem het. Hans het, heldestatus of te nie, slegs een swakheid en ons vermoed dat dit tydens een van hierdie oomblikke was wat hy gevange geneem is. Hans verloor alle konsentrasie wanneer hy Sterstreke in die Huisgenoot lees. Die vindingryke Babavet het vir Hans in ‘n kokon van modder vas gepleister. Ons weet dat modder nie te skrikwekkend klink nie, maar hierdie spesiale modder bestaan uit Eskomvliegas, karboniet en boombas van ‘n kokerboom uit Newcastle se wêreld en is bykans onvernietigbaar. Die bostelegraaf was afgelewer deur ’n jong dame uit Zimbesiland. Sy het ons in soveel woorde (regtig, in SOVEEL woorde) laat verstaan dat Hans verlief is op haar. Hy weet dit nog nie, maar sy sal dit binnekort met hom deel. Die jong dametjie was vreeslik selfvoldaan en het geweier om haar hande vuil te maak tot so ‘n mate dat Walgwors haar Prinsessie Luiaard begin noem het. Prinsessie Luiaard het ons twee semi-helde gevra dat hulle haar oom Ben Knopie moet besoek vir wysheid, raad, advies en goeie perskemampoer. Hy was haar enigste hoop. Hy het toevallig ook beskik oor vaardighede wat ons semi-helde kon voorberei vir ’n reddingspoging wat waardig is van ‘n gedig of twee. Oom Ben was ’n eksentrieke dog fassinerende skisofreen. Dit was egter bra moeilik om die man te ontsyfer. Hy was heilig oortuig dat hy beskik het oor magiese kragte en dat daar ’n Keiser op sy spoor is met ’n handlanger wat so geheg is aan sy mombakkies, toegerus met die klankbaan van ‘n obsene telefoonoproep, dat hy dit pal dra. Oom Ben... Ai, ons glimlag steeds as ons terugdink aan sy snaakse stories.

Page 25: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Gelukkig vir ons lesers kan ons nou vir julle Oom Ben se lewensfilosofie verduidelik. Ons gaan dit vertaal in Afrikaans, aangesien dit makliker is om die filosofie te vertaal Afrikaans toe as wat dit is om ons verhale in Engels te probeer vertel. Dit is die filosofie van die Silver Vos. Anders as wat meeste mense sou dink is die Vos die mees edele, ons sal selfs so ver gaan om te sê die edelste, dier in die diereryk. Die Silver Vos het ’n ligter bokant en ’n donkerder onderkant. Oom Ben het gesê dat ons moet versigtig wees vir ’n vos se donker kant want dit kan lei tot kwade dinge wat nie heilsaam is nie. Dit het ons meer as anderhalf jaar gevat om die filosofie onder die knie te kry. Wel dit is ons weergawe. ’n Ander weergawe is dat Oom Ben sy koffie-afsaksels ‘n kwartdraai te ver gedraai het en ons as idiome of iets in dier voege uitgeskel het. Ai Oom Ben darem... Met ons nuutgevonde kennis en vaardigheid en ook toegerus met slegs twee Maglite flitse en bruin mantels met kappies het ons die tog noordwaarts tot in diep donker Afrika getrotseer. Oom Ben het daarop aangedring dat ons die twee flitse saam met ons neem, ten spyte van die feit dat ons die flitse as nutteloos beskou het omdat hulle slegs sowat ‘n meter vorentoe skyn. Sufsak s’n het aarbeipienk geskyn terwyl Walgwors s’n ‘n mooi tiemiegroen was. Prinses Luiaard se padaanwysings was van boverwagte gehalte en ons het net 33 keer verdwaal. Gelukkig het ons albei jare gelede swembaddens skoongemaak wat gelei het tot ‘n goeie sin vir rigting. By Abbaj Rondawel se bose herehuis aangekom, sien ons dat Hans inderdaad in ‘n kokon van modder gevange gehou word. Die kombinasie van Oom Ben se opleiding en jarelange lanternbekruip vaardighede aangeleer in die Voortrekkers het ons ongesiens die basis binnegedring. Oom Ben is verseker nie lekker daarbo nie. Sy advies om die flitse te gebruik om Hans te bevry was ondeurdag. Dit het ons twee semi-helde ‘n hele imperiale week gevat om al die modder af te kap met die flitse. ’n Skerp swaard of mes sou veel nuttiger gewees het. Abbaj en sy handlangers het ons betrap terwyl ons niksvermoedende ontsnap het. Die weeklange gekap met die flitse en die gesleep van ‘n bewustelose Hans se hakskene het hulle blykbaar laat rot ruik. Weens die spanningsinhoud van dit wat nou voorlê sou hierdie ‘n goeie tyd wees om die vioolmusiek te speel wat gespeel is in daardie fliek wat gaan oor die vis met die groot kakebeen wat in 1975 vir die eerste keer gewys is. Sufsak en Walgwors was egter albei van mening dat daardie musiek baie herinner aan die vierde beweging uit Dvořak se negende Simfonie. In ieder geval, die spanning loop hoog, musiek word benodig. Laat rol katrol! Oom Ben se raad was darem nie heeltemal van nul en gener waarde nie. Midde-in die spanningsvolle situasie gewaar Sufsak meteens dat die natuur in hulle guns is. ’n Silwer Vos loop jou wrintiewaar ewe nonchalant tussen Walgwors se bene deur. Sufsak en Walgwors onthou beide sonder enige telepatiese bybedoelings oom Ben Knopie se gunsteling woorde: “Walgwors, gebruik die Vos.” Plotseling gryp Walgwors die Silwer Vos en werp dit in die algemene rigting van Abbaj se bakkies. Die arme dier verdwyn tot sy groot ontsteltenis iewers tussen Abbaj se derde en vierde dubbelkenne. Abbaj was ook effe omgekrap daaroor. In die verwarring kon ons ontsnap en uiteindelik verduidelik waar ons was vir twee jaar. Daar is darem een troos en dit is dat ons betyds is vir die grootste sport gebeurtenis in Suid-Afrika se geskiedenis. Die Jukskei Wêreldbeker skop volgende naweek in Grabouw af. Heeeehaaaa! Vir ons gebruiklike gesondheidswenk moet ons ‘n wonderlike ontdekking deel: ‘n mens kan morfien gebruik vir hoofpyn en maagpyn en liefdespyn, maar dis nie maklik bekombaar nie en blykbaar ook nie te goed vir mens op die lange duur nie. Aftreksel van ‘n heel ingelegde volwasse anakonda sal beter werk en is geheel en al organies.

Page 26: Die Avonture van Sufsak en Walgwors

Sela Na hierdie storie het ons tyd woes begin uithardloop en is geen verdere stories geplaas nie. Dit sal deel vorm van ‘n nuwe bundel. Dankie vir die ondersteuning en groete, S&W