kerkraamwerk - hennie van deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · web...

83
Gebed om vrede Vader, U genade is so groot, elke sondaar in sy nood smul elke dag en mildelik (sy magie sommer trommeldik) aan U genadebrood. Hoor dan nou ons hartsgebede: skenk ons kerk net rus en vrede; neem tog weg die stryd en nyd, bewaar ons van hardvogtigheid, genees die wonde van die kwaad, leer ons U taal van liefde praat. ----------------------------------------------- HIERDIE BOEK WORD IN DANKBAARHEID OPGEDRA AAN ELKE LERAAR WIE SE KOSBARE VOETSPORE KRUIS EN DWARS DIEP IN MY LEWE KEEP. EK ONTHOU HULLE MET GROOT DANKBAARHEID, BEWONDERING EN ONTSAG. DR. FRANCOIS HANEKOM VAN MELKBOSSTRAND VERDIEN N DUBBELE DANKIE. DIT IS HY WAT MY AANGEPOR HET. --------------------------- ----------------------- 1

Upload: others

Post on 29-Oct-2020

1 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

Page 1: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Gebed om vrede

Vader, U genade is so groot, elke sondaar in sy nood smul elke dag en mildelik (sy magie sommer trommeldik) aan U genadebrood.

Hoor dan nou ons hartsgebede: skenk ons kerk net rus en vrede; neem tog weg die stryd en nyd, bewaar ons van hardvogtigheid, genees die wonde van die kwaad, leer ons U taal van liefde praat.

-----------------------------------------------

HIERDIE BOEK WORD IN DANKBAARHEID OPGEDRA AAN ELKE LERAAR WIE SE KOSBARE VOETSPORE KRUIS EN DWARS DIEP IN MY LEWE KEEP. EK ONTHOU HULLE MET GROOT DANKBAARHEID, BEWONDERING EN ONTSAG. DR. FRANCOIS HANEKOM VAN MELKBOSSTRAND VERDIEN ‘N DUBBELE DANKIE. DIT IS HY WAT MY AANGEPOR HET.

--------------------------------------------------

1

Page 2: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

‘N WOORD VOORAF

Elk ketter het sy letter. Elkeen wat oor kerksake ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi – en dié is deesdae nie skaars nie - kan iewers in die Skrif ‘n teks opdiep, al is dit hoe windskeef of uit konteks, om sy eie insigte “vers en kapittel” te staaf.

Wees egter gerus. Moenie skeur nie …/Die kerk op die voorblad word nie met ‘n teologiese sousie opgedis en as evangelie aangebied nie. Ek maak nie aanspraak dat ek dan nou die antwoorde ken wat ander ontwyk nie. Kerkkwessies word prakties deur die bril van ‘n gewone lidmaat beskou; wel een wat 35 jaar in die koerantwese agter die rug het. As redakteur van Die Volksblad (nou net Volksblad) in die stormagtige jare tagtig was ek midde-in die turbulensie. Daardie ervaring bied ‘n bepaalde agtergrond, wat ek graag deel.

Net met een instansie het ek ‘n langer verbintenis as die 35 jaar by Naspers. Dit is die NG Kerk. Ons saamloop strek oor ses dekades in verskillende hoedanighede. Ek was dus bevoorreg om die kerk uit twee hoeke goed te leer ken – dié van waarnemer en deelnemer; as toeskouer op die kantlyn en speler op die veld. Dit is die perspektief waarteen Moenie skeur nie…/ Die kerk op die voorblad gestalte gekry het.

In my lewe was ek soms nader aan die kerk. Soms verder. Sy invloed deur die jare was (is) egter onmeetlik. In my geseënde aftreejare op Melkbosstrand raak ek al hoe meer bewus van ‘n diepe behoefte aan kerklike geborgenheid. Ek is terug op die ouderlingsbanke, waar ek ook in die gemeente Berg-en-Dal, Bloemfontein, vir etlike termyne was. Ek dien ook as voorsitter van die gemeentebedieningskommissie en is een van drie adjunkte wat die hoofouderling ter syde staan. In 2003 het ek die eerste keer die binnekamers van ‘n Sinode as afgevaardigde betree – ‘n belewenis!

Dié boekie volg die pad wat ek met die kerk geloop het. Dit bevat my ervarings, asook ‘n klompie waarnemings, insigte, standpunte, kommentaar, kantaantekeninge en reaksies oor die kerk vandag en die enorme uitdagings voor hom. In die finale instansie weerspieël dit maar net die subjektiewe sienswyses van een mens. Waar kry ‘n mens in elk geval honderd persent objektiwiteit? Dié bestaan net in dagdrome.

Verwag tog geen teoretiese dissertasie nie. Al sou ek wou, sou ek in elk geval nie opgewasse of toegerus wees om die eietydse kerkkwessies diepgaande te ontleed en akademies te beredeneer nie. Ek is immers geen teoloog of geleerde kerk-filosoof nie. Deur die jare het ek wel ‘n goeie kwota teoloë en kerk-filosowe van naderby leer ken, meesal tot my eie verryking.

Teen die agtergrond van my bevoorregte dubbele rol gaan haal ek my storie ver. Ek loop dalk wye ompaaie. Te ver en te wyd? Oordeel asseblief self.

Hennie van DeventerMelkbosstrand

2

Page 3: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

www.hennievandeventer.com/kerk.html

3

Page 4: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

1. JY MOET SKRYF!

“Kaalgat dominee sien sy gat.” Toe ek hierdie brutale koerantplakkaat teen ‘n lamppaal in die Tygervallei noord van Kaapstad opmerk, was dit geen verrassing om die poniekoerant Son se naam bo-aan te sien nie. Dit is maar, volgens sy ongure reputasie, sy styl.

Presies waaroor die blad so uitasem berig het, kon ek nie raai nie. Eers toe die pynlike sage van ds. Laurie Gaum, 34-jarige leraar van die St. Stephen’s-gemeente in Kaapstad, en sy verbitterde lewensmaat Douw Wessels, ‘n sielkundige van Durbanville, in Die Burger vir groot opskrifte begin sorg, het vir my lig opgegaan.

Uit professionele nuuskierigheid het ek – wat begin 1998 afgetree het as kaptein van Naspers se koerantespan - die eerste uitgawe van Son gekoop. Daarna net nog een keer weens ‘n berig wat onder my aandag gebring is oor ‘n romantiese avontuur van ‘n persperoonlikheid wat aan my goed bekend is. Nooit weer nie.

Uit die veroordelende kommentaar van die gerespekteerde prof. Lizette Rabe van die Universiteit van Stellenbosch en uit ander geloofwaardige oorde het ek egter te wete gekom hoe erg daardie koerant met die Gaumstorie tekere gegaan het. Son se plakkaat was geoordeel aan hierdie reaksie nie die enigste aspek van sy dekking wat alle grense van joernalistieke ordentlikheid oorgesteek het nie.

Vir Frits Gaum, Laurie se pa, ken ek uit my Tukkiedae. Ons was in 1958 saam in een of twee eerstejaarklasse. Later was albei bedrywig in die studentejoernalistiek. Frits het lid van die jaarblad, Trek, geword en ek redakteur van die studentekoerant, Die Perdeby.

Frits is later Stellenbosch toe waar hy as predikant afgestudeer het. Daarna het gevolg ‘n vrugbare loopbaan in die bediening waarin hy tot op Moderatuurvlak diep spore sou trap. In 1986 is hy van die Hugenote-Kollege se korrespondensie-arm Bybelkor na Die Kerkbode (sedert 2003 sonder die Die) toe om die alombekende dr. Tappies Möller as redakteur op te volg.

Ek was teen daardie tyd al vyf jaar lank redakteur van Die Volksblad (wat in 2001 ook sy Die verloor het) in Bloemfontein. Dit was onvermydelik dat die twee studentejoernaliste van die jare sestig se paaie in die groter joernalistieke arena weer sou kruis.

In 1992 het ek Kaap toe gekom as uitvoerende hoof: koerante van Naspers. In daardie hoedanigheid het Frits kom aanklop met sy blink idee om een uitgawe per maand van Die Kerkbode as bylae by die drie Afrikaanse dagblaaie, Die Burger, Beeld en Die Volksblad in te voeg. Ek was dadelik positief en het – teen die gedugte weerstand in van ‘n gerekende redakteur soos Willem Wepener (Rapport, Beeld en later Insig) – daarin geslaag om die direksie se stempel te kry. So is die ekumeniese maandblad Algemene Kerkbode (later Kruispunt) gebore.

4

Page 5: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Al het ons nooit mekaar se drumpels deurgetrap nie, wil ek waag om te sê dat ‘n gesonde verhouding van wedersydse welwillendheid en agting daardeur tussen Gaum en Van Deventer gevestig is. Frits het by meer as een geleentheid - ook in sy onthouboek Op pad met God en mense – na my kant toe ‘n buiging gemaak oor my aandeel as “lojale kerklidmaat” agter die skerms om dié ideaal te verwesenlik om ‘n kerkblad in “elke NG huis” te kry.

Ek haal hierdie geskiedenis op om te verduidelik waarom ek oor Son se hantering (soos ek daarvan bewus gemaak is) so onthuts was – in so ‘n mate dat ek my genoop gevoel het om dadelik ‘n ondersteunende e-pos-boodskap aan Frits te stuur. Daarin het ek op geen onsekere wyse nie afstand tussen my en hierdie nuwe Naspers-telg geplaas.

Na my gevoel is die Gaums deur Son weer “aan die lamppale opgehang” (Frits se woorde) soos die Sondagblad Rapport voorheen op 21 April 2002 ook gedoen het met ‘n plakkaat wat dit uitbasuin: “NG hoë se sakeryk steier” – nou net op ‘n nog onsmaakliker en vernederender wyse.

Natuurlik was die kerklike media-debakel waaroor Rapport destyds berig het, nuuswaardig. Die Laurie Gaum-onthullings was nog nuuswaardiger. Die beskuldigings dat ‘n leraar van die N.G. Kerk - boonop ‘n Gaum! - hom in ‘n vaste homoseksuele verhouding aan promiskuïteit besondig het, het sekerlik nuwe elemente tot ‘n emosionele kerkkwessie bygevoeg. Die bisarre selfmoord van Wessels het die storie se nuuswaarde dramaties opgejaag. (Lees ook hoofstuk 12: Eenders maar anders)

Al sou ek die eerste wees om vir persvryheid in die loopgraaf te gaan staan en koerante se nuustaak met alle mag te verdedig, staan ek egter ewe sterk vir billikheid, selfdissipline en die absolute waarheid van wat gepubliseer word. Waar my reaksie in die Rapport-geval net ‘n vae ongemaklikheid was, was my indruk nou dat geregtigheid hoegenaamd nie geskied het nie en dat die arme Frits – met sy hele familie - ernstig te na gekom is. Ek sou nie maar weer soos laas met Rapport ‘n stilswyende toeskouer kan wees nie.

My boodskappie was kort en kragtig: “Frits, Dit moet ek van die hart kry: dat ek die Here dankbaar is dat ek met skoon hande kon loop (uit my topbestuurspos by Naspers), voor die tyd van Son en sy bedenklike joernalistiek. Baie sterkte. Hennnie van Deventer. “

Frits het dadelik op my boodskappie gereageer: “Beste Hennie, Baie dankie vir jou briefie en goeie wense in ‘n moeilike tyd. Ek vertrou dat jy in Die Burger sal toetree tot die debat oor poniekoerante ([Lizette] Rabe gister, [Ingo] Capraro [redakteur van Son] vandag)! Dit sal regtig saak maak as juis jy (seker bedoelende as koerantmens wat Christelike waardes aanhang) nou iets sê.”

Ek was in die moeilikheid, want in my redakteursdae het ek geen geheim van my standpunt gemaak nie dat afgetrede politici hul neuse uit die politiek moet hou.

5

Page 6: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Trouens toe P.W. Botha sy opvolger, F.W. de Klerk, in die openbaar begin roskam, het ek daaroor op Die Volksblad se voorblad ‘n ope brief aan hom geskryf – “the most unusual form of editorial comment”, volgens die rubriekskrywer James McClurg in die Cape Times. In die brief neem ek Botha dit sterk kwalik dat hy met sy kritiek die “jammerlike tradisie” voortsit van voorgangers soos John Vorster oor wie se optrede hyself “diep veronreg” gevoel het.

Nou vra Frits ek moet Son aanvat. Ek was in ‘n stryd. Ek was lus en doen dit. Aan die ander kant het ek besef Naspers-leidsliede soos Ton Vosloo, voorsitter, en Salie de Swardt, besturende direkteur van Media24, albei persoonlike vriende, sal so ‘n agteropskop uit Melkbosstrand nouliks op prys stel. Ek het my boweal gebind gevoel deur die presedent wat ekself vir oud-politici uitgestippel het.

In my antwoord het ek die dilemma probeer verduidelik:

“Frits

Jammer, ek gaan jou teleurstel. Ek neem nie meer uit eie inisiatief aan koerantdebatte deel nie. Dit is ‘n beginselbesluit na ernstige besinning binne ‘n bepaalde konteks.

“Veral in debatte oor koerante en koerantkwessies is oud-redakteurs se swye goud. Soos oud-politici s’n in die politiek. Vide die skade wat mense soos John Vorster en P.W. Botha hulself aangedoen het deur nie op die regte tyd tot ruste te kom nie.

“Dis regtig ‘n onomstootlike feit: niemand se kritiese mening irriteer koerante soos dié van oud-redakteurs nie, nes niemand politieke leiers so omkrap soos beterweterige voorgangers nie.

“As ‘n koerant ‘n mens om ‘n mening sou vra, is dit natuurlik ‘n ander saak. Maar hulle sal nie!

“Wat Son betref: Naspers het daardie bed opgemaak. Hy moet maar daarop slaap. Ek kan nie dink alle leidsliede is so verblind dat Lizette Rabe nie hul gewetes sal prik nie. En hopelik sal sy nie ophou om dit te doen nie. Soos ek haar ken, sal sy nie gaan lê nie.

“ Terloops, ek kan met Capraro saamgaan dat die poniekoerant ‘n plek onder die son het. Maar poniekoerante kan darem nie alle ordentlikheid en waardes oorboord gooi nie, wat die Londense “tabloids” ook nie doen nie. Selfs nie die geelstes onder hulle nie.

“ Vir Son, lyk dit vir my so van die kantlyn af, want ek het nog net twee gekoop (die eerste een en die een oor Tim du Plessis se romantiese manewales), is die strewe om so ploertig te wees as wat moontlik is. In styl, aanbieding, inhoud, taalgebruik, ens.

“Groete

“HvD”

6

Page 7: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Jy moet skryf! Daardie versugting het ek al vroeër uit Frits Gaum se mond gehoor. Dit was so half en half ‘n verwyt dat ek oor alles en nog wat die pen optel, maar in die talryke hedendaagse persdebatte oor kerksake geen bydrae probeer lewer nie.

Hoekom dit so was, kon ek nie juis verklaar nie. Maar vir sake in Frits se oë regstel, was dit in daardie stadium neusie verby. Die “beginselbesluit na ernstige besinning in ‘n bepaalde konteks” waarin ek in die eerste paragraaf van my e-pos-briefie verwys, was ‘n tweede struikelblok. Ek het pas na lang aandrang aan my vrou, Tokkie, belowe dat ek my van my instinktiewe briefskrywery sal afsien. Onmiddellik en geheelenal. Sy het naamlik geoordeel dat ek in daardie opsig my rakleeftyd bereik het, en dat net ‘n lastigheidswaarde oorbly so ver dit die koerante betref. Na een of twee frustrerende ervarings met briewe wat snippermandjie toe is, moes ek met haar saamstem.

Jy moet skryf! So het ook dr. Francois Hanekom, een van die drie leraars van die gemeente Melkbosstrand, op my gewete kom inspeel. Dit is hy wat die gedagte van ‘n boek oor die woelinge in die kerk die eerste keer geopper het.

“Hoekom ek?”

Omdat jy ‘n koerantman was en met ‘n “helikoptervisie” van bo af na die saak kan kyk, was sy betoog. Teoloë praat daaroor, maar - al is dit hoe relevant en stimulerend - is dit ‘n interne debat met ‘n beperkte scopus.

Boonop is die N.G. Kerk in ‘n stadium sterk gekoppel aan die Nasionale Party. Mense trek sekere parallelle tussen wat met die NP gebeur het en nou met die NGK gebeur. Daar is politieke dinge wat saamloop en die saak ‘n ander dimensie gee.

“Jy’s in die bevoorregte posisie dat jy as koerantman van buite af ‘n historiese belewing van die pad gehad het, maar ook as kerkraadslid en NP-lid vir jare – die proses van binne ervaar het en nog ervaar.

“ Hierdie verhouding van ekstern/objektief” - hy glo my klaarblyklik nie dat ware objektiwiteit net in die dagdrome van idealiste bestaan nie! – “en subjektief/intern gee vir jou ‘n multi-visionêre blik op sake. Jy kan m.a.w. deur verskillende brille kyk.”

Ek het dr. Francois bedank vir sy vertroue en belowe ek sal “daaraan dink”, maar ek was ver van oortuig. Dit het vir my na ‘n enorme stuk werk gelyk waarteen my 64 jaar op aarde, my luilekker status as afgetredene en ontspanne lewe langs die see (met ewe ontspanne winters in die Bosveld) rebelleer het. Geruime tyd het ek niks verder gevorder nie as ‘n paar haastige nota’tjies op ‘n los stukke papier – net om my gewete te paai.

Op Sondag 15 Mei 2005 is die Sondagblad Rapport die wêreld in met die hoofopskrif “N.G. Kerk kan skeur” (daaroor later meer). ‘n Week later preek ds. Marius Falck, ook van Melkbosstrand, oor die belydenis: “Ek glo in ‘n heilige, algemene christelike kerk.”

7

Page 8: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Hy lewer ‘n boeiende, uiters aktuele preek, en kom sommer gou by die hart van die saak: “Pas op, kerk, fokus op jou taak en jou roeping. Want al is Satan verslaan, is hy soos ‘n grommende vasgekettingde hond wat jou kan seer byt as jy te na aan hom gaan staan.

“Hoe ken ons dit nie? Hoeveel kerke staan nie vandag in Suid-Afrika as gevolg van politiek nie, omdat die gemeente hierdie party gesteun het en daardie een weer daardie party? “ het hy gevra. “ Hoeveel gemeentes is nie begin omdat dominees geweier het om saam te werk nie? Hoeveel gemeentes het nie geskeur oor maatskaplike krisisse nie, die bo-dorp-kerk, die onder-dorp-kerk?

“Toe kom die charismate teen die konserwatiewe – kerke wat etiketteer, julle is so en ons is so – en nou die nuutste, ‘die liberaliste, die post-moderniste, vs die behoudendes’. Die liberaliste wat sal sê: ‘Jesus Christus is nie werklik maagdelik gebore nie, die Woord moet so ‘n bietjie aanpas.’ En die behoudendes wat sê: ‘Die Woord is onfeilbaar – Jesus Christus is maagdelik gebore.’ Ja, die slang lig sy kop op!”

Op daardie oomblik dink ek aan die Nat-kerk en Sap-kerk op Potchefstroom (die moederkerk en die Mooirivierkerk) waar ons koshuiskinders van Jack Pauw en Ons Hoop, seuns- en meisieskoshuise van die Hoër Volkskool, Sondagaande om die beurt die diens moes bywoon. Ek dink ook aan Winburg se Nat- en Sap-kerk waar ek dikwels verbygery het.

En ek dink met deernis aan my vorige gemeente, Welgemoed in Bellville, ‘n sieraad van ‘n gemeente, wat so pynlik in twee stukke gespat het weens ‘n stryd oor die doop. Dit laat ds. Marius se woorde in my gewete inbrand, omdat ek so onbetrokke my gang bly gaan.

Sy slot is ‘n anekote oor Alexander die Grote, beroemde krygsman en militere strateeg wat die wêreld verower het, en dit gehaat het as iemand dros. Soldate bring toe ‘n jong man na hom wat in n grot weggekruip het, te bang om te veg. Die jong man was vreesbevange. Al hoop wat hy gehad het, was dat die keiser hom sou begenadig as hy hoor dat sy naam ook Alexander is. Maar die keiser snou hom toe: “Young man, or you change your name or your conduct.”

“Partykeer antwoord ons ook dat ons naam “Kerk” is, vervolg ds. Marius. “Of ons rammel ons belydenis af: dat ons in ‘n heilige, algemene Christelike kerk.glo. Sou God dan - met piëteit gesê - nie dalk tot ons roep nie: ‘Of julle verander julle naam of julle optrede!’ “

Toe, klaarblyklik as ‘n spontane nagedagte: “Soms voel ek om die N.G. kerk wat ek lief het, voor die bors te vat en te ruk, en dan daardie woorde te uiter.”

Die gemeente sing die laaste “Amen”, en dit tref my skielik opnuut hoe ligsinnig maklik party mense praat van die kerk – my kerk – as iets soos ‘n voos stuk lap wat sommer net kan skeur, selfs oor blote ditjies en datjies. Nie altyd allemintige, heilige beginselsake nie.

8

Page 9: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Nee, goeie genugtig, dit kan ons mos nie toelaat nie, sê ek toe vir myself. Want as die kerk eers geskeur het, wat dan? Wie wen wat? Of is ons almal die verloorders?

Miskien moet ek tog maar weer oor dr. Francois se gedagte gaan nadink….

www.hennievandeventer.com/kerk.html

9

Page 10: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

2. OP DIE VOORBLAD

NG Kerk in krisis. NG Kerk kan skeur.Is dit amen vir die NG Kerk? Vroueleraar gooi tou op met NG Kerk ‘Eensgesindheid’ onder predikante is ‘kunsmatig en onwaar’ Swartgallige opskrifte soos hierdie bo kerkberigte wemel in die nuuskolomme van die media. Vet letters word ingespan om met mening die boodskap tuis te bring: lees hier, dis groot nuus.

In hoofartikels en rubrieke word ewe kwistig op kerksake kommentaar gelewer. Redakteurs en rubriekskrywers boor in op elke denkbare fout of tekortkoming wat hulle meen te bespeur en aan die groot klok wil hang. Dan word die roede nie gespaar nie.

In briewekolomme verskyn ‘n legio briewe wat die kerk vir ‘n honderd en tien dinge blameer. Professore takel mekaar kaalvuis oor geloofskwessies. Beskuldigings van “dwaalleer” word gehoor. Beswaarde lidmate kla oor optredes wat hulle nie welgeval nie; met soms, net soms, darem ook enetjie wat pleit: hande af, asseblief, dis my kerk en ek is daarin dolgelukkig.

Die jagseisoen is oop. Die NG Kerk is nie net in die nuus nie, die kerk IS nuus!

Natuurlik maak dit lojale lidmate seer as hul kerk so deurloop – soms totaal onverdiend. Baie beleef dit as ‘n demonstrasie van media-vyandigheid, en glo dit is deel van ‘n onheilige anti-kerkkampanje met die een of ander sinistere doel.

Vergun my drie kantaantekeninge:

(i) Om as nuusmaker beskou te word, is in ‘n sekere sin ook ‘n kompliment – dit sou veel erger en pynliker wees om so min waarde aan geheg te word dat die media die kerk doodswyg;

(ii) Dit is werklik geen nuwe verskynsel dat die kerk en sy doen en late opslae maak in die media nie;

(iii) Oor die nuuswaardigheid van die kerk – spesifiek die NGK, die tradisionele tuiste van die meeste Afrikaanssprekende Christene - kan nie geredeneer word nie; ook nie oor die wettige nuuswaarde van hope strydvrae wat lesers boei en beroer nie.

Nuut, vars, boeiend, prikkelend, wetenswaardig. Dit is van die woorde wat in die gedagtes opkom wanneer die begrip nuus ter sprake is. Die teenoorgestelde sou dan wees: oud, vaal, oninterresant, van nul en gener waarde vir enigiemand.

10

Page 11: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Dat kerksake buitengewone media-prominensie geniet, plaas dit vir seker in eersgenoemde kategorie. Dit dui op een oorheersende kernfeit: dat die kerk relevant, aktueel en van betekenis vir ‘n groot gros mense is.

Dit is so goed soos ‘n getuigskrif. Jy, kerk, staan jou plek vol in die gemeenskap. Jou doen en late is vir ons lesers so belangrik dat hulle gretig is om daaroor ingelig te word en van ons verwag om dit gereeld te doen.

Dat kerknuus soms as negatief, sensasioneel of afbrekend geag word, stempel dit nie as uniek nie. Dis die krisis en konfrontasie wat nuus maak, nie die doodgewone, goeie verloop van sake nie. Dit geld vir alles onder die son, ook vir die kerk. Koerante kan statistieke uithaal oor watter plakkate verkoop en watter nie. Glo my, daardie statistieke staaf wat ek hier skryf.

Al klink dit hoe brutaal, is dit doodgewoon waar dat as alles goed, voorspoedig en voorspelbaar verloop, dit geen nuus is nie – buiten in besondere omstandighede , soos wanneer ‘n ramp verwag of voorspel is en dit dan op die nippertjie afgeweer word.

In latere hoofstukke sal die verhouding tussen kerk en media en die aard van beriggewing oor die kerk deegliker onder die loep kom. In hierdie stadium moet dit egter van my hart kom: dat die kerk en kerkmense, al het hulle soms rede om gegrief te wees, nie onnodig kleinserig moet wees nie.

Elke opskrif, elke voorbladberig, elke hoofartikel of gepubliseerde brief weerspieël immers die een groot waarheid: die kerk leef en is springlewendig. Hy’s nog ver van dood. Dit is die goeie nuus wat agter die stroom slegte nuus versteek is.

‘n Tweede dwaling moet uitgewys word. Dit is die redelik algemene opvatting dat al die kritiek op die kerk en sy leiers ‘n nuwe ding is. Die sluise is nou opgetrek soos nog nooit, kla ‘n leraarvriend. Mense wat so dink, het ‘n kort geheue.

In die jare tagtig was dit een so erg. Dink maar terug. Toe ek van 1980 tot 1992 in Bloemfontein koerantredakteur was, was die kerk, wat die nuus van die dag betref, allermins op die agtergrond. So bitter soos die politieke broedertwis daardie tyd geword het, so onstuitbaar is die kerk op die politieke slagveld ingesleep.

Een van die wrange resultate van die diepgaande verskille oor rasseverhoudinge was die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1986 toe nagenoeg 40 000 lidmate en sowat 100 dominees van die NG Kerk weggebreek het.

Die kerklike sanksie vir die beleid van apartheid met sy vele gesigte het toenemend ‘n warm patat vir die kerk geword, en sy gespartel daarmee - soos weerspieël in die hersiening van Ras, Volk en Nasie, die aanvaarding van Kerk en Samelewing en die sogenaamde “status confessionis” (dat apartheid in stryd met die evangelie is) - is meedoënloos oopgevlek.

11

Page 12: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Die kerk se posisie ten opsigte van politieke en maatskaplike hervorming was, om dit sag te stel, uiters omstrede. Vurige meningsverskille was aan die orde van die dag. Vir vele mense was die kerk se versigtigheid op hierdie terrein ontnugterend en ‘n steen des aanstoots. Hulle het hul nie onbetuig gelaat nie. Voorstanders van die status quo het ewe energiek die skanse verdedig.

Sogenaamde “kleur-insidente” was volop, van die bywoning van begrafnisse tot by die deel van teekoppies by huiwerige kerklike toenaderings. Vir die media was sulke insidente kos.

Voorstanders en teenstanders van die politieke insigte van die dag was in slagordes teen mekaar opgestel. By geleentheid was die “debat” tussen pro- en anti-hervormers so emosioneel en robuust dat dit herinner het aan Paulus se woorde in Galasiers 5:15: “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie.” Terwyl rassisme vir sommige al hoe ongemakliker laat voel het, en vir party selfs ‘n skeldwoord begin word het, het ander dit aan die boesem bly troetel. Dit was al sekerheid wat hulle geken het in ‘n Afrikaland met ‘n oorheersende swart bevolking, en toenemend bedreig deur ‘n uitbarsting teen die permanente knegskap wat deur diskriminerende wette opgedwing is.

Dit was ook die tyd toe die Afrikaner-Broederbond en die vraag of predikante aan ‘n vertroulike organisasie durf behoort, prominent op die agenda was. Vurige debatte is oor hierdie twispunt gevoer, meermale in die kolomme van die openbare pers.

‘n Langer lys van strydvrae kan opgestel word as dit die bedoeling sou wees. Kom ons laat die verlede egter in vrede rus. Ons konsentreer liewer kortliks op kwessies wat vandag tweespalt bring. In latere hoofstukke word dan vollediger op van die huidige brandpunte teruggekom. Vyf verdelende faktore is in die vorige hoofstuk deur ds. Marius Falck uitgelig. Dit is partypolitieke skeidslyne, spanning tussen medeleraars, en die drie groot polariseerders van die hede: ryk vs. arm, charismate vs. konserwatiewe en – die nuutste – die liberaliste, of die sogenaamde post-moderniste, vs. die behoudendes.

Kerk en politiek bly ‘n brandpunt. Na die politieke omwenteling in 1994 is die wit partypolitiek egter nie meer so ‘n akute kwessie soos dit in ‘n stadium was nie. Voorheen politieke vyande vind mekaar in die aangesig van wat oor ou grense heen as ‘n nuwe bedreiging ervaar word.

Struwelinge op leraarsvlak kom ongelukkig meermale voor, selfs oor onbenullighede soos die prosedure rondom die bediening van die sakramente van nagmaal en doop. Moet wyn en brood gelyktydig bedien word? Wanneer moet die babas ingebring word? Jy kry leraars wat oor sulke sake sterk voel. Waarom, is moontlik ‘n kwessie vir sielkundige analise.

12

Page 13: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Gewoonlik as leraars mekaar misverstaan, is dit darem oor groter sake, soos die toutrekkery oor die doop en herdoop, wat ‘n sterk NG vesting soos die gemeente Welgemoed in Kaapstad se noordelikste stadsgebiede in sy fondamente laat wankel het.

Die NGK skop vas dat kinders eenmalig gedoop word. Talle lidmate voel hulle egter gedronge om hulle as volwassenes ‘n tweede keer te laat doop. Onder hulle is leraars, soos die twee wat in Welgemoed die breukspul veroorsaak het. Dat dit ‘n sensitiewe aangeleentheid is, val nie te betwis nie.

‘n Eerbiedwaardige hoofouderling van ‘n Kaapse NG gemeente sluk byvoorbeeld swaar aan die lot wat sy dogter te beurt geval nadat sy op grond van sterke geloofsoortuiginge die weg van ‘n herdoop gekies het. Sy is nou haar kerklidmaatskap kwyt. Sy vraag is: is dit die Christelike weg om mense oor ‘n geloofsdaad uit die kerk te skop?

Wat die vraag stekelriger maak, is dat baie ongeërgde lidmate wat maar min erg aan geloofsake het, rustig as lidmate voortgaan en sonder voorbehoud aan die Nagmaalstafel verwelkom word. Dit is ‘n vraag wat in al hoe wyer kringe in die kerk ge-eggo word. Klein of groot doop - klaarblyklik is daaroor nie klaar gedink nie.

Die skeidslyn tussen ryk en arm is so oud soos die berge. Wat ‘n nuwe element bybring, is dat kleur nou ter sake is. Die sindroom van bo-dorp en onder-dorp is veral aktueel in terme van die gesukkel om die ou NG kerkfamilie sogenaamd te “herenig”.

Die waarheid is dat die lede van die uitgebreide kerkfamilie grotendeels steeds volgens ras aanbid, ondanks al die energie wat deur besielde kerkleiers bestee word om die breuk tussen die (wit) NG Kerk, die (bruin) Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) en die (Indiër) Reformed Church in Africa (RCA) te heel.

“Ons is hartseer en verleë omdat ons na jare se gesprekke oor kerkhereniging nog nie veel gevorder het nie,” is op ‘n onlangse sinodesitting gesê.

Nie alle NG lidmate deel daardie sentiment nie. Vir eers kom die omstrede Belydenis van Belhar hier in die spel, ‘n VGKSA-belydenis wat vir baie wit broers en susters alte veel politieke bagasie in hom omdra. Die naam Alan Boesak is verreweg ook nie oral in NG kringe geliefd nie. Boweal skep die kwessie van ‘n bestaan in twee wêrelde met ingrypende verskille in kulture, standaarde en gebruike ‘n moeilik oorbrugbare kloof. .

Verskeidenheid in die kerk kan dit net sterker maak, pleit die advokate vir spoedige hereniging – selfs op die kleiner susterkerke se voorwaardes as dit dan moet. Nooit as te nimmer, skop die teenstanders vas. Hoekom hierdie hereniging in ons kele afdruk as nie eens in die geledere van Afrikansprekende wit Christene kerkeenheid bereik kan word nie? Dan noem hulle vinnig ‘n lang lys besware op, prakties sowel as ideologies. ‘n Harde neut om te kraak hierdie!

Dat ruimte gemaak moet word vir die uitlewing van verskillende spiritualiteite binne die NG Kerk word deesdae selfs deur rotsvaste tradisionaliste met ‘n sekere gelatenheid aanvaar. Musiek, rituele, liturgie en kanselstyle het die laaste jaar

13

Page 14: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

beduidend informeler geword. ‘n Charismatiese element is ingebring. Preke word in “power point”-verpakkings aangebied, lofprysing vind plaas met gospel-liedere op die maat van kitare en tromme, kerse word aangesteek, leraars en gemeentelede hef die arms omhoog…. Rip van Winkels sal hul oë nie kan glo nie.

Die strydvraag is waar die streep getrek moet word. Want nie almal is gelukkig en tuis in die karakter wat die kerk toenemend aanneem nie. Party voel selfs die kerk is “gekaap”, en kla dat die strewe tot groter gemoedelikheid dikwels in ‘n onstigtelike loslittigheid ontaard, wat nie “ekumenies” of “gereformeerd” genoem kan word nie. Klagtes word gehoor dat daar te veel “Bybelvreemde liturgiese rituele” en Rooms-Katolieke gebruike, soos die aansteek van kerse, is.

Sommige noem die ontwikkelinge in die kerk “vernuwing”; ander ervaar dit as “vernieling,” soos prof. Flip Theron, emeritus-professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch by geleentheid in Kerkbode opgemerk het in ‘n artikel met die opskrif: “Ons Reformeer, meneer!”

‘n Fyn balans is klaarblyklik nodig, en baie gaan afhang van hoe gemeentes hierdie vernuwing (of vernieling!) vorentoe gaan bestuur of dit groter krake in die NG mure gaan veroorsaak of nie. Ds. Falck noem ten slotte die uiteenlopende beskouings van die twee kampe wat hy as die liberaliste en die behoudendes aandui. Die liberaliste wat, volgens hom sal sê: “Jesus Christus is nie werklik maagdelik gebore nie, die Woord moet so ‘n bietjie aanpas.” En die behoudendes wat sê: “Die Woord is onfeilbaar – Jesus Christus is maagdelik gebore.”

Aan hierdie front woed nie net ‘n debat oor die maagdelike geboorte, of oor Jesus se opstanding of oor Jona in die vis se buik of oor watter ander Bybel-gegewe wat ongelowige Thomasse met vrae vervul nie. Dit sny dieper tot by die fundamentele kwessie van die letterlikheid waarmee die Bybel in toto gelees en vertolk moet word.

Sekere teoloë maak geen geheim daarvan nie dat hulle voorbehoude het oor ‘n Bybelvertolking wat nie die literêre en historiese konteks voldoende in ag neem nie. Hulle beskou dit as ‘n gevaarlike fundamentalisme - of die “dood in die pot”, soos prof. Fanie Snyman van die Vrystaatse Universiteit op die algemene predikantekonferensie van die NG K in Julie 2005 in Bloemfontein gewaarsku het.

Party gaan verder en bevraagteken onomwonde aspekte van die Bybel wat deur ‘n groot groep as kernwaarhede en ankers van hul geloof beskou word.

Laasgenoemde groep – die sogenaamde “behoudendes” - meen op hul beurt die Bybel word deesdae te vryelik vertolk om by moderne sienings aan te pas. Christelike standpunte word ter wille van algemene populêre menings afgewater. Sommige lidmate onderwerp hulle nie meer aan die gesag van die Bybel nie. Hulle is ontrou aan die belydenisskrifte. ‘n Gees van sekularisasie het die kerk binnegedring.

Vir baie gewone lidmate is dit ‘n verwarrende debat wat hulle onseker en ontredderd, selfs ‘n bietjie wanhopig, laat voel.

14

Page 15: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

In die eerste hoofstuk is die Laurie Gaum-geval as aanknopingspunt gebruik. Sedertdien het die Moreletapark-insident beroering gebring. Die NGK se weifelende hantering van homoseksuele mense is daardeur opnuut op die spits gedryf.

Die posisie met die skrywe hiervan was dat volwaardige lidmaatskap op grond van hul geloof alleen deur die Sinode vir gay mense gesanksioneer word, maar dat die kerk in dieselfde asem waarsku dit beteken nie hulle mag seksueel aktief wees nie. Omdat hulle ook nie mag trou nie, beteken dit dat van hulle ‘n selibate leefwyse vereis word.

Moreletapark se afdanking van ‘n gay orrelis nadat dit bekend geword het dat hy ‘n homoseksuele verhouding het, het volgens die stortvloed briewe in die pers in gay geledere diepe ongelukkigheid veroorsaak omdat hulle glo dat hulle onbillik verstoot word. Daarteenoor is baie heteroseksuele lidmate onversetlik in hul standpunt dat homoseksuele dade sonde is, kort en klaar.

Hoe die arme kerk uit die dilemma gaan kom, sal net die tyd kan leer.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

15

Page 16: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

3. NP IN GEBED

Wie of wat moet blameer word? Apartheid. Apartheid en die Nasionale Party.

As iets in Suid-Afrika skeefloop, moet jy maar weet apartheid word blameer. Van seksuele teistering op kantoor tot die padslagting tot vigs. Die NG Kerk kan bepaald ook ‘n vinger wys. Sy geloofwaardigheid is in die hart gewond, en wie dra die skuld?

Apartheid, natuurlik. Apartheid en die Nasionale Party. Geen twyfel nie dat daardie ontslape tweemanskap in die hartjie van daardie spinneweb sit en in baie van die huidige kerkwoelinge herleef. Hulle dra by dat lidmate dros. Van 1,8 miljoen op sy hoogtepunt tot 1,3 miljoen nou. Dit is hulle wat maakdat kerke leeg is en koerante se voorblaaie vol kerkstories. Dat selfs van kerkskeuring gepraat word. Hierdie stellings klink dalk na ‘n parodie op ANC-retoriek. Dit is nie. Dis die waarheid – of op sy minste ‘n amper-waarheid. ‘n Baie amper amper-waarheid.

Die NP in gebed. So is die NGK in ‘n stadium genoem. Of die gesegde sinies of sarkasties bedoel is, is nie nou ter sake nie. Feit is dat ‘n intieme vervlegting bestaan het. Dit het die kerk inderdaad bitter, bitter seergemaak. Dit is waarom hy so broos en weerloos staan voor elke opportunis wat ‘n byltjie wil slyp. .

Kritiek wat teen die kerk ophoop – of dit nou oor sy hantering van gays is of sy standpunte oor prof. Sakkie Spangenberg en die Nuwe Hervormers – word deur kritici deur sy jarelange steun vir apartheid regverdig. Sy ommeswaai hieroor het immers bewys: hy het gefouteer. ‘n Kerk kán verkeerd wees. Hy kan voete van klei hê. By implikasie is elke perd wat hy opsaal, nou in wantrouige oë verkeerd of dalk verkeerd.

Die kerk staan magteloos terwyl sy steun vir apartheid feitlik dag vir dag voor sy kop gegooi word, dikwels uit die geledere van die “Boetman-is-die-bliksem-in”-generasie wat vyf, tien, vytftien jaar gelede ontnugterd padgegee het. Die wrewel teen die NP wat die Afrikaners oor die politieke Rubicon van totale magsverlies die “beroofde land” ingelei en toe soos mis voor die son verdwyn het, word terselfdertyd op die kerk uitgegiet.

Die redenasie loop plus-minus so (uit ‘n brief van Gerrit Visser van Hartenbos in Die Burger na aanleiding van die kerk se standpunt oor onder meer die Nuwe Hervorming): “Die amptelike standpunt van die NG Kerk was in ‘n stadium dat afsonderlike aanbidding deur rasse beter is, dat gemengde huwelike onskriftuurlik is en dat apartheid Skrifgefundeer is. Die meeste lidmate, ek inkluis, het ongelukkig die

16

Page 17: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

persoonlike mening van “sekere teoloë, van wie heelwat nie in die NG Kerk is nie”, geignoreer en die amptelike standpunt onnadenkend nagevolg.

“ Wat ‘n verskriklike fout was dit nie! Duisende goedgelowige lidmate is amptelik op die verkeerde weg gelei. My aanbeveling: dink eerder vir jouself, moenie dat ander die dinkwerk doen nie.”

Baie gelowiges verlang klaarblyklik na ‘n intieme verhouding met die Here, maar voel ontnugter met die kerk. Dan borrel daardie ontnugtering uit soos in ‘n bydrae deur Louise Prinsloo, Pretoriase skrywer van kinderverhale, tot die rubriek Soos ek dit sien in Rapport (22 Mei 2005). Die opskrif is is “ ’n Babelse verwarring oor kerklike verandering”. Dit lees soos ‘n verdoemende klagstaat.

Prinsloo begin met apartheid wat met teksvers uit die Skrif gergeverdig is – “maar toe word apartheid volgens die Skrif as onding bewys en haas elke kerkleier of politieke figuur vra om vergifnis vir die sonde van apartheid.”

Dan spring sy na Sondagskool wat katagese geword het, Halleluja-liedere wat in ‘n stadium taboe was, die Nagmaal wat nou ook tuis en aan kinders bedien word, die Apostoliese geloofsbelydenis wat deur gemeentes se eie geloofsbelydenis vervang word, die weglating van die Onse Vader se laaste vier reëls, honderesies, perderesies en bonusobligasies, vroue wat hoed moes dra, predikante se togas en kerkrade se swart pakke.

Sy sluit af: “Gays en lesbiërs, ek is bevrees julle sal maar moet wag om te hoor hoe die Heilige Gees die Sinode lei voordat julle sal weet of julle eendag sal hemel toe gaan of nie – wat ‘n klug! Die Sinode neem besluite onder die dekmantel dat dit die Heilige Gees is wat hulle lei en intussen is dit hul eie besluite.”

‘n Kundige teoloog sou seker aantygings in haar skrywe kon uitwys wat nie honderd persent korrek is nie. Dit is egter nie die punt nie. Die punt is dat sy duidelik ontnugter, bitter en gekneus voel. Talle ander lidmate (of oud- lidmate) sal dit in wesenlike opsigte met haar eens wees. Almal is net nie in staat om hul ongelukkigheid met so ‘n vaardige pen te verwoord nie.

Die kritiek hierbo kom van mense wat skaam, jammer en kwaad is oor die verkeerde wat so lank as die regte, of enigste, weg aangedui is. Nie almal wat die kerk oor apartheid bykom, val in hierdie kategorie nie. Party is natuurlik woedend oor presies die teenoorgestelde rede. Hulle noem wat F.W. de Klerk en die NP gedoen het, “oorgawe”, ‘n woord wat selfs ‘n “verligte” koerant soos Die Burger later in ‘n hoofartikel in verband met die magsprysgawe gebruik het – ‘n onnodig aggressiewe vertaling, meen ek, van die Engelse woord surrender in ‘n Londense toespraak van De Klerk.

Feit is dat die uur van waarheid seker dag en datum bepaal kan word as daardie onvergeetlike waterskeidingsmoment van 2 November 1990. Daardie dag het die Volksraad gesmeriseerd sit en luister hoe De Klerk met die ontbanning van die ANC apartheid op die ashoop gooi. In net meer as ‘n uur is die land onomkeerbaar verander.

17

Page 18: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Was dit ‘n wedloop op die atletiekbaan, sou ‘n mens kon sê dat die NP met so ‘n kragtige eindpoging gekom dat hy stof in die NGK se oë geskop het. Dié het taamlik ver agtergebly. By sy Sinode in 1988 was daar immers geen pleidooi dat hierdie dinge gedoen moet word of dat Nelson Mandela uit die tronk op Robbeneiland moes kom nie.

‘n Warboel van emosies is deur die ontwikkelinge losgemaak. Onder meer het dit gelei het tot die snelle agteruitgang van die NP tot ‘n nul op die Suid-Afrikaanse politieke kontrak. In die NGK was dit die begin van ‘n slepende ongedurigheid, wat nie besweer is toe hy by sy Sinode van 1998 nederig ekskuus moes vra en by die ANC moes mooi broodjies bak nie.

In alle billikheid teenoor sowel NP as NGK moet ek as ‘n koerantredakteur in die 80’s darem hier tot hul verdediging kom. Kritici vergeet maklik hoe diep gesetel die Afrikaner-etos van daardie tyd om selfbehoud te midde van ‘n reuse-oormag gesentreer het. Ja, geregtigheid het wel al hoe sterker in die politieke leksikon begin figureer, maar dit was bepaald in ‘n tweeledige sin: geregtigheid vir ander wat nie geregtigheid vir die self uitsluit nie.

Ekself moes riemspring by die Max du Preez’s, Chris Louws en andere oor die Afrikaanse koerant se “ondersteunende rol” om ‘n bedenklike bestel in stand te hou. In my boekie is dit egter ‘n onregverdigheid. Die Afrikaanse koerant het, volgens my insigte, in sy kritiek en aanmoediging soms so ver voor instansies soos die NP en NGK uitgebeweeg dat hy in gevaar was om buite gehoorafstand te raak. Vir sy geloofwaardigheid en invloed sou dit noodlottig gewees het.

Onthou, ‘n koerant bestaan nie in ‘n lugleegte nie. Sy lesers bepaal sy karakter. ‘n Politieke party en ‘n kerk bestaan ook nie in ‘n lugleegte nie. Sy lede vorm die party en sy lidmate die kerk. Hulle IS die party, hulle IS die kerk. En die basiese sentiment onder lede van die NP en lidmate van die NGK was 25 jaar gelede nie om spreekwoordelik die ou Suid-Afrika af te breek ‘n nuwe te bou nie. Hulle wou hoogstens die oue hier en daar met pleister en verf ‘n moderner, nuwe aanskyn gee.

Onthou ook, die twee afsplinterings wat in die 80’s in Afrikanergeledere voorgekom het, was nie na links nie, maar na regs. Ek verwys natuurlik na die stigting van die Konserwatiewe Party (KP) in 1982, nogal onder die leiding van ‘n begaafde oud-leraar van die NGK en gewese redakteur van Die Kerkbode, dr. Andries Treurnicht, en die APK vier jaar later in 1986.

Dr. Treurnicht het aanvanklik net 22 Nasionale LV’s saam het hom geneem, kwalik genoeg om die magtige NP te skud. Die APK is gestig met nagenoeg 40 000 lidmate en sowat 100 dominees wat van die NG Kerk weggebreek het. (Van die NG lidmate wat hulle by die nuwe kerk geskaar het, was glo op sleeptou geneem deur ‘n gerug dat “vertroulik” uit die binnekring verneem is dat hul dankoffers aan die ANC oorbetaal word!)

18

Page 19: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Veral op die platteland, het die KP egter gedy. In die Vrystaat het daardie groei uitgeloop op wat ek in my loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman “Swart Woensdag” noem: 6 September 1989 toe die Vrystaatse NP die verkiesing met ‘n voltal van 14 setels in is, maar in ‘n swaai van ses persent ses daarvan aan die KP moes prysgee.

Op ‘n nippertjie was die NGK, wat die Vrystaat betref, nou die KP in gebed!

Die APK het nooit op kerklike terrein dieselfde impak gehad as die KP in die politiek nie. ‘n Mens kan egter met reg wonder watter persentasie NG lidmate in ‘n stadium hul kruisies vir die KP getrek het. Dat baie NG predikante met ‘n grenslose bewondering vir die sjarmante dr. Treurnicht saam met hom ‘n politieke skuif gemaak het, is ook onbetwisbaar. (Lees ook hoofstuk 5: “Goeie ou dae”)

Buitendien het die KP nie gehuiwer om vir partypolitieke propaganda die godsdienstige tamboere te slaan nie. In ‘n vuurwarm veldtog vir ‘n tussenverkiesing in Parys op 3 November 1983 het Jan van Zyl, oud-LV vir Sunnyside, byvoorbeeld by huisvergaderings loop en vertel ‘n stem vir die NP is ‘n verloëning van Christus.

Die Volksblad het ‘n berig daaroor geplaas – tot groot verleentheid vir die KP. Oor die korrektheid van daardie berig het ons nooit getwyfel nie – ons bronne was onberispelik – maar Van Zyl het nietemin kans gesien om ons by die Persraad te verkla. Uiteindelik is die koerant o.m. op grond van insiggewende insette deur die vermoorde teoloog prof. Johan Heyns, wat volgens skinderstories dan deur die Russe hier geplaas sou gewees het om die NGK tot ‘n val te bring, deur die Persraad in die gelyk gestel.

Ek noem hierdie geskiedenis omdat dit so ietsie verklap van die politieke klimaat van die dag, en die roeringe in Afrikanerharte waarmee die NGK uiteraand ook gekonfronteer is. Sulke werklikhede moet ‘n mens darem nie in beoordelings van gebeure in die verlede en mense se optredes in totaal ander omstandighede as wat nou heers, doodeenvoudig ignoreer nie.

Terug na vandag. Vir die Afrikaner wat reeds deur die geweldige omwentelings van die jare negentig onverhoeds betrap en in onsekerheid gedompel is, kom nou, na tien jaar van demokrasie, steeds eise en uitdagings wat gemoedere beroer. ‘n Mens dink aan kwellinge soos die Zimbabwe-faktor, misdaad, praatjies oor grondhervorming, stelselmatige marginalisering van Afrikaans, die praktiese implikasies van die godsdiensvryheid wat in die Grondwet gewaarborg word, die eindelose naamsveranderings van stede en dorpe, en die verlaging in standaarde van onderwys en mediese dienste. Die lys is nie volledig nie.

Die gevoel van onmag wat daarmee saamhang, kan neerslag vind in materialisme, soos al onder andere deur die Moderator, dr. Coenie Burger uitgewys is, of in ‘n soeke na geestelike geborgenheid en ‘n “nader kom aan die Here” op ‘n ander, “warmer” manier as wat die NGK sekere mense, volgens hul behoeftes, bied.

19

Page 20: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Oor die nuwe materialisme in ons midde het dr. Burger hom by geleentheid in Kerkbode soos volg uitgelaat: “Almal sê dat ons die afgelope tien, vyftien jaar meer materialisties geword het. Ons sal dom wees as ons nie die verband daarmee met die politieke veranderings in die land sien nie. Ons probeer bymekaarmaak wat ons kan omdat ons hoop dat geld en finansiële sekuriteit kan vergoed vir ons verlies aan politieke mag en sekuriteit.”

‘n Logiese volgende stap is ‘n uitreiking na wat as die welvaartsteologie bekend is. In hierdie teologie word rampe en teenspoed ongekompliseerd direk gesien as die gevolge van sonde, verduidelik dr. Ben du Toit, Direkteur: Kommunikasie van die NGK. Word die sonde bely en bekering vind plaas, word vergifnis en nuwe seen (in die vorm van konkrete voorspoed) belowe – soos in die bekende Jabes se gebed.

Mense met ‘n behoefte aan daardie soort teologie sal bevrediging maklik elders gaan soek as hulle dit nie in die NGK genoeg na hul sin kry nie.

Ander onsekeres vind ‘n veilige hawe in die lewe, vernuwing, opwinding en vreugde wat hulle, weer volgens dr. Du Toit, vind in die Pinkstergroepe, waar entoesiastiese eredienste beleef word, hulle welkom en geag voel, in nood bygestaan word, persoonlike aandag ontvang en voor gebid word - waar hulle dus die teenwoordigheid van die Here inniger ervaar.

Lojaliteit is in elk geval nie meer vanselfsprekend nie. Mense het gewoond geraak aan winkelrakke vol verbruikersware om te kus en te keur – van ontbytkos tot skoonmaakmiddels. Hierdie verbruikersmentaliteit word op die godsdiens oorgeplant. Ook op die keuse van ‘n kerk. Om te “pick and pray” word ‘n nuwe gewoonte. En ‘n tradisionele kerk soos die NGK is aan die verloorkant. Onvermydelik. Sonder ‘n voor die hand liggende oplossing.

‘n Vraag wat onbeantwoord bly, is waarom die NGK uit eie geledere steeds oor sy apartheidsverlede (ongelukkig soos dit wel was was) so genadeloos getrap word. Erger getrap as van buite by wie mense soos dr. Du Toit ‘n gesindheid van “glad you are back on board” waarneem.

Sou dit wees dat baie kritici steeds die persepsie van die NGK van vyftien jaar gelede het? Val hulle steeds windmeulens aan?

Of is hierdie selfkastydende onvergewensgesindheid ook maar ‘n produk van die jare 80? Sweef oor alles heen steeds die spook van die NP se ondergang -- soos Skoppensboer? Dit lyk mos so.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

20

Page 21: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

4. BRANDSIEKINSPEKTEURS

Jare gelede het ‘n gemeentelid dit op ‘n dag gewaag om dr. A.J. van der Merwe, gedugte ou kerkman van die Kaap, oor huisbesoek te treiter. Die beskuldiging was dat hy te min huisbesoek doen. “U weet, dokter,” het die gemeentelid gekla, “u moet darem onthou u is ons herder, en ‘n herder moet sy kudde besoek.” Waarop dr. A.J. met sy forse stem geantwoord het: “Nee, broer, jy maak ‘n fout. Ek is nie jou herder nie. Die Here is jou herder. Ek is maar net die brandsiekinspekteur.”

Willem Wepener, in lewe redakteur van Insig, Beeld en Rapport het in ‘n toespraak voor die Afrikaanse Skrywersgilde hierdie juweeltjie opgediep. Hy het bygevoeg: toe hy daardie storie hoor, het vir hom ‘n lig opgegaan oor wat die koerantman se taak nou eintlik is of behoort te wees – “brandsiekinspekteur van die volk.”

Deesdae is daardie twee kategorieë brandsiekinspekteurs nogal heelwat oorhoops. Diegene wat na die Here se kuddes omsien, kla dat die inspekteurs wat die volk bedien, hulle en hul kuddes stief behandel.

Alles goed en wel, hoor ek kerkmense terugkap oor die betoog in hoofstuk 2: Ja, al die aandag wat die kerk in die media kry, getuig seker van sy nuuswaarde vir ‘n enorme klomp mense. Ja, ons weet die kerk het in die 80’s ook maar kwaai deurgeloop. Ja, ons besef die brandpunte is baie. Maar wat te erg is, is darem te erg.

Kyk net die opskrifte, kyk die kritiese hoofartikels en rubrieke, kyk na die prominensie van giftige lesersbriewe. Kyk al die aandag wat die Sakkie Spangenbergs van die lewe kry. Is dit nou billik?

Vra jy sleutelmense in die kerk reguit hoe gesond (of ongesond) die verhouding tussen die kerk en die media is, word oor die regte formulering ietwat kopgekrap.

Dr. Ben du Toit se antwoord verraai frustrasie en selfs ‘n element van moedeloosheid: “Ek weet regtig nie. Ons het goeie, oop verhoudings met redakteurs en verslaggewers van verskeie dagblaaie, maar dit lyk nie altyd of dit help nie.”

Hy blameer onder meer ’n groter ingesteldheid om geld te maak, wat hy deesdae by koerante waarneem. “Om iets slegs en skandaligs oor die kerk te berig, maak altyd geld. ’n Koerant is ‘n besigheid en soek dus ‘n inkomste. Ekonomiese werklikhede is die belangrikste oorweging oor beriggewing, en nie morele waardes of lojaliteite nie. Dis ‘n verandering vir die NGK om te hanteer. Dit is ook ‘n verandering vir die Afrikaanse pers om te hanteer.”

Op die vraag of die media ‘n oor vir die Kerk en begrip vir sy uitdagings en probleme het, kom hy op die geldmaak-storie terug: “Hulle sê hulle het begrip, maar ons moet onthou hulle is daar om geld te maak. Hulle dien nie lojaliteite nie.”

21

Page 22: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Dr. Du Toit en van sy kollegas laat ook die lig op die generasie-faktor val. Baie maal is die redaksie van die koerante van die “Boetman-is-die-bliksem-in”-generasie wat die kerk vyf, tien, vytftien jaar gelede verlaat het en eintlik ‘n bietjie kwaad is oor die kerk se rol in die verlede – of net eenvoudig nie omgee daarvoor nie.

Van die joernaliste wil nie insien dat die NGK van vandag nie dieselfde is as die een van vyftien jaar gelede nie. Hulle beoordeel die kerk dus teen ‘n verouderde persepsie. “Dis nie ‘n klagte nie, dis net ‘n realiteit in baie gevalle,” merk dr. Du Toit op. Een ding staan egter vas: die kerk sal moet nuwe style aanleer om met hulle te praat.

‘n Verandering van die laaste vyftien jaar waaraan niemand werklik iets kan doen nie, staan in die Grondwet van 1994 vasgemessel.

Voor ’94 het die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika, volgens hul vertolking, deur die belange van hul lidmate indirek (en soms direk) sterk inspraak in die media gehad. Die kerke kon as’t ware bepaal wat in die gedrukte media gelees, oor die radio gehoor en op TV gesien word..

Met die aanvaarding van die nuwe Grondwet waarin die Handves vir Menseregte opgeneem is, word godsdiensvryheid en gelyke regte vir alle mense gewaarborg. Die openbare media moet hierdie regte weerspieël en eerbiedig. Die publiek word sedertdien aan ‘n uiteenlopende spektrum van Christelike en ander godsdienstige tradisies blootgestel.

“Die vraag van ons postmoderne tyd is nie meer ‘wat is die waarheid?’ nie, maar ‘wie se waarheid is waar?’” aldus dr. Du Toit.

Pols jy mediamense, ontvou ‘n prentjie van ‘n NGK wat wel besorgd is oor sy kommunikasie en graag iets daaraan wil doen. Baie gesprekke oor die onderwerp word intern gevoer. “ Ek dink egter, en ek dink hulle sal dit toegee, dat hulle sukkel om dit te hanteer,” sê Neels Jackson, gerespekterde kerksakeverslaggewer van Beeld.

Dit is geen unieke NGK probleem nie. Hy wens dat kerke in die algemeen veel beter na buite moet kommunikeer, sê Jackson. Die Katolieke is taamlik goed met hul woordvoerders by die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskopperaad. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het vroeër 'n formidabele mediakantoor gehad, maar deesdae sukkel hy baie met hulle. Hoeveel keer hy al gevra het, kry hy steeds nie hul verklarings direk nie.

Van sy kant af maak hy grootliks staat op goeie verhoudinge en kontakte en nie op die kerke se formele mediaskakelwerk nie.

Of die redakteurs 'n oor het vir die kerk en sy probleme? Die antwoord hang af van watter redakteurs 'n mens praat, sê die koerantmense. Daar is redakteurs met meer simpatie en begrip, terwyl ander (die “Boetman-kader”?) lyk of hulle 'n bietjie van 'n byltjie te slyp het met die kerk.

22

Page 23: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

In alle kerk bestaan verkeerde verwagtinge, kom dit soos uit een mediamond. Daar is in die Gereformeerde Kerk selfs mense wat die media op grond hiervan by alle kerkvergaderings wil verbied. Daardie mense wil graag hê die koerante moet hulle boodskap verkondig, en hulle “kan nie verstaan dat die Heidelbergse Kategismus nie nuus is nie, al bevat dit 'n klomp waarheid.”.

Sowel die kerk as die media is bereid om die hand in eie boesem te steek.

Soos politici vir Pieter-Dirk Uys, soos hy dit stel, die teks (in Engels: script) gee om hulle by te kom, erken kerkmense dat hulle presies dieselfde met die media doen. “Solank die kerk die teks gee, sal hy gelooi word,” sê ‘n jong dominee wat anoniem wil bly.

Hy verwys na die toring-debakel in die NG gemeente Brackenfell-Wes wat lank voorbladnuus was nadat ‘n pastoriemoeder, Kobie Swart, onwyslik opgemerk het dat die toring haar laat dink aan ‘n manlike fallus “ wat gedurig met die godin van die lug seksuele gemeenskap het”.

Die vergelyking het nie net haar gemeente van ongemak laat kriewel nie, maar landwyd mense aan die grinnik en spot gehad.

Die jong leraar sou ook kon verwys het na ds. Jannie Pelser se voorgestelde “mediavas” van dertig dae om protes aan te teken teen die ydellike gebruik van die naam van die Here in enige TV- of radioprogram, tydskrif, boek of koerant.

Dit was ‘n plan wat nogal by heelparty beswaarde Christene aanklank gevind het. Maar soos dr. Johann de Jager van Pretoria, ‘n kommunikasiespesialis in die private sektor, in Kerkbode van hom laat hoor het, is ‘n sogenaamde “mediavas” niks anders as ‘n mediaboikot nie. “Nie alleen misken hierdie ‘verdoeselende’ woord die intelligensie van duisende Christene nie, maar mediaboikotte is in die 21ste eeu net so naïef, verdag en Middeleeus-futiel soos boekverbrandery.”

Buitendien, kan ‘n mens byvoeg, is die kanse op welslae van so ‘n aksie feitlik nul, met uiters skadelike gevolge vir die kerk se geloofwaardigheid.

Van mediakant word weer toegegee dat kundige kerkverslaggewing, helaas, bra seldsaam is. Verslaggewers wat daarin spesialiseer om te probeer verstaan wat binne die kerk gebeur en hoe dinge ontwikkel, en dan hul verslaggewing daarop bou, is dun gesaai. Dit is die rede dat soms berigte verskyn wat nie van insig getuig nie en waaroor die kerke baie ontsteld raak.

'n Goeie voorbeeld hiervan is die gewraakte Rapport-hoofberig op Sondag 15 Mei 2005: ‘NG Kerk kan skeur”. Bo-aan die berig was die naam van 'n verslaggewer wat, volgens waarnemers, nog nooit by enige kerkvergadering gesien is nie.

23

Page 24: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Hy het al gesê daardie joernalistiek is soos om met twee SAKP-agterbankers van die ANC te praat oor hul frustrasie met die party se ekonomiese beleid, en dan een of twee van hul aanhalings te gebruik om 'n hoofberig te skryf dat die ANC in ‘n krisis is, het ‘n gesoute koerantman opgemerk.

Met die vorige Algemene Sinode het iets soortgelyks gebeur. Toe het 'n jong verslaggewer van Rapport (wat self 'n Katolieke agtergrond het en klaarblyklik nie die dinamika in die NG Kerk goed verstaan nie) op grond van een aanhaling die indruk gewek dat die NG Kerk nou ja gesê het vir gay dominees op die kansel.

Ook in Afrikaanse dagbaaie verskyn artikels oor kerke en die godsdiens wat sekere praktiserende joernaliste nie sou plaas nie omdat hulle dit as “ 'n klomp snert” beskou. Hul gevoel is dat die oordeel van diegene wat besluit om sulke berigte te plaas, hulle in daardie gevalle in die steek laat. Een voorbeeld wat uitgewys is, is die 'Ope brief aan God' wat in Januarie 2003 in Beeld verskyn het.

Daarin maak ‘n anonieme Beeld-leser ses aanklagte teen die Christelike kerk by God aanhangig, onder meer dat Suid-Afrikaanse kerke tot minder as ‘n dekade gelede “saamgespan het om ‘n volk te mislei om te glo dat apartheid in ooreenstemming met U wil is. In die grootste skynheiligheid en met die nodige vrome maneuvreerdery is dieselfde kerk (sic) nou die grootste voorstander van menseregte en demokrasie.”

Ek het die deur van my redakteurskantoor in Bloemfontein al in 1992 toegetrek – dertien jaar gelede. Einde 1997 het ek as uitvoerende hoof: koerante van Naspers die tuig neergelê. My begrip vir die huidige dinamiek in kerk-media-verhoudinge sal dus noodwendig gebrekkig wees. Dit gee ek geredelik toe.

‘n Belangrike vraag is egter of op topvlak voldoende met mekaar gepraat word. Van die waarde van praat, praat, praat kan immers elke kerk- en persleier van my generasie getuig.

Izak de Villiers, die digter-dominee wat na ‘n draai by die vrouetydskrif Sarie redakteur van Rapport geword het - ironies genoeg, die tweede predikant in daardie onwaarskynlike stoel na prof. Wimpie de Klerk – vertel in sy voorwoord tot Frits Gaum se boek, Op pad met God en mense, van een so ‘n gesprek.

“Op ‘n dag het hy (Frits Gaum) as lid van die Moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk ‘n afspraak met my aangevra – ek toe hoofredakteur van Rapport.

“Die Moderatuur wou die ‘verhouding tussen die kerk en Rapport’ met my bespreek. Ek het hulle in my kantoor ontvang en Johan Heyns het die gesprek ietwat aggressief-opgewonde aangevoer met die bedekte beskuldiging dat ‘die media (eintlik Rapport) die kerk nie altyd baie goedgesind is nie.’

“Voordat hy ver met sy betoog kon vorder, het ek hom skerp onder kruisverhoor geneem, met die duidelike implikasie dat hulle as kerkleiers voor hul eie deur moes gaan vee. Ek het Heyns gekonfronteer met onaangename feite oor leeruitsprake en die gedrag van ampsdraers wat ek slegs met moeite uit die hoofopskrifte kon hou.

24

Page 25: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

“ Heyns het vir alle praktiese doeleindes gou die aftog geblaas en veral twee persone het die gesprek in ‘n versoenende toon voortgesit: Frits Gaum en Kobus van der Westhuyzen van Kaapstad. ‘n Merkwaardige gesprek oor kerk en media het gevolg.

Teen die einde van die samesprekinge het Heyns weer begin deelneem en ek en die Moderatuur het gesels soos dit kollegas van weleer betaam, mense met ‘n liefde vir God en die kerk, maar nie sonder vrae nie, mense met begrip vir mekaar en meesal ad idem, maar ook nie sonder verskille in hul siening nie. ………….. Ons is as broers uiteen.”

Soortgelyke gesprekke as hierdie een met geslote deure in Izak de Villiers se kantoor het hulle redelik gereeld ook by ander koerante afgespeel. Ek haal hierdie ene aan, en redelik volledig, oor die vrugte daarvan. De Villiers het aan die einde aangebied om die destydse Voorligter by geleentheid in Rapport in te voeg soos Algemene Kerkbode by die dagblaaie van Naspers ingevoeg is. So is Kruispunt gebore – ‘n amptelike kerk publikasie in ‘n Sondagkoerant!

Ek besef om die Afrikanerbond (sedert 1993 ‘n Bond sonder “Broeders”) hier te noem, is om hard op ‘n paar liddorings te trap. Ter wille van die waarheid moet ek dan maar trap. Feit is dat die verhouding tussen kerk en media destyds nie net in direkte een-to-een-gesprekke tussen verteeenwoordigers van daardie twee instellings ter sprake gekom het nie. Dikwels was daaroor ook drukke meningswisseling in Afdelingsvergaderings van die AB (waarheen redakteurs gereeld genooi is) en in die Uitvoerende Raad (waarvan ek bevoorreg was om vir twee termyne van 1985 tot 1992) lid te wees.

Twee medelede in die UR van daardie tyd het in NG Moderature gedien, te wete Kobus van der Westhuyzen en Flip van der Watt. Die Gereformeerde Kerk was op senior vlak verteenwoordig deur Tjaart van der Walt en die Hervormde Kerk deur Gerrit Veldthuyzen, wat later redakteur van Die Transvaler geword het. Oorgenoeg kans het gekom om formeel en informeel gedagtes te ruil.

Boonop het die UR ‘n “binnebaan” tot Afrikanerleiers van elke denkbare dissipline gebied. Deure is oopgemaak vir openhartige, vertroulike beraadslaging soos na die omvorming van die Broederbond tot net ‘n Afrikanerbond ongelukkig doodgewoon doodgeloop het.

Ek onthou ook ontmoetings op eksotiese bestemmings soos die walle van die Zambezi- en die Okavangorivier, wanneer kerklui en persmanne by geleentheid saam gaste van die SA Weermag was om meer oor die grensoorlog te wete te kom. Onder die dak van ‘n Afrikanag met die sterre so naby dat jy voel jy kan daaraan vat, ontdooi ‘n mens nogal.

Klaarblyklik word nie meer so druk oor en weer saamgekuier nie. Maar dat die verhouding net kan vlot as tog wel gereeld met mekaar gepraat word, lyk vir my soos die konstatering van ‘n vanselfsprekendheid. Word voldoende met mekaar gepraat?

25

Page 26: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

“Seker nie – veral nie van die kerk se kant gesien nie”, sê Ben du Toit. “Dis egter ‘n totale eenrigting-verkeer. Die topvlak van die koerante het nog nooit in die afgelope twee, drie jaar van hulle kant af gesprek met ons gesoek nie. Andersom wel dikwels.”

“Ek is nie seker hoeveel die moderators en redakteurs met mekaar praat nie,“ sê Neels Jackson. “Ek dink nie dis baie nie. Ek weet dat Coenie Burger al self by verskeie redakrteurs 'n draai gemaak het.”

Klaarblyklik haper aan die verhouding. Ewe klaarblyklik kan swak kommunikasie van die kerk via die nuusmedia nie net op hierdie een of daardie een se brood gesmeer word nie. Albei laat maar die bal val, soos ook voorheen, in my tyd, die geval was.Julle sal met mekaar moet praat, mense. Anders gaan nie net die verhouding verder skade ly nie, maar ook die saak. As lojale Naspersman vir 35 jaar moet ek darem ten slotte, tot my spyt, vir Ben du Toit gelyk gee dat aan daardie front veranderings gekom het wat in aard en omvang plek-plek ook vir my onverklaarbaar is.

Die stigting van Son is ‘n voorbeeld. Ek glimlag heimlik as ek dink hoe manne soos Peter de Lange, Mike de Vries, Dik David de Villiers, Billy van der Merwe en Pietman Hugo sou gereageer het as ek met die idée vorendag sou gekom het. Hulle sou die hoof van koerante by die venster van die direksiekamer op die agttiende verdieping van die Naspersentrum uitgeboender het!

Saam met Son se koms het by die Pers ‘n individualisme ontstaan wat vir oud-amptenare soos ek vreemd is. Die kollektiewe waardestelsel is skynbaar iets van die verlede. Elkeen doen sy eie ding. Burger-mense sal bv. vinnig vir jou se: ja, maar dis Son, en dan hul hande in onskuld was.

Ek weet een verweer is die wins aan nuwe koerantlesers. ‘n Ander is dat Son bied wat die mense wil hê.

My antwoord op die eerste is of iemand al die koste bereken het in die verlies van ‘n kollektiewe Persmoraliteit. Die antwoord op die tweede is in die punt wat Lizette Rabe in die debat oor Son se hantering van die Laurie Gaum-storie gemaak het.

Koerante kan nie skuil agter wat die mense wil hê nie, het sy teruggekap, want dan kan die dwelmhandelaar dit ook as verskoning gebruik om sy ware te smous. Die vraag moet nie wees wat die mense wil hê nie, maar wat vir hulle goed is. Sela.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

26

Page 27: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

5. “GOEIE OU DAE”

Christen-redakteurs? Hy het gedink die twee begrippe is wedersyds uitsluitend! So het ‘n verergde leraar in September 1984 in die imposante Sinodale sentrum in Pretoria die wind uit my en kollega Willem Wepener, destyds redakteur van Beeld, se seile gehaal.

Ons twee het pas vir ‘n beroering onder die versamelde broeders van die noordelike Sinodes gesorg deur die kerk van daardie tyd se skete, volgens ons diagnose, een vir een te lys. Ons gasheer, die wellewende ds. Henno Cronjé, wat toe inligtingsbeampte van die Noord-Transvaalse Sinode van die NG Kerk was, het hard probeer vure doodslaan.

Onthou asseblief dat albei hierdie redakteurs darem Christen-lidmate is, het hy in ‘n stadium gepaai. “Hmf,” het die betrokke leraar, nou volstoom op die oorlogspad, gesnork: “Dit blyk nie uit hul koerante nie.”

Ja, misverstand tussen kerk en media se rolspelers is geen nuwe verskynsel nie. Dan dink mense nog al wat leef beef – ook predikante en redakteurs - was daardie tyd knus onder dieselfde apartheidskombers. Vergeet dit! Juis die wanbegrip tussen kerkmense en joernaliste was immers die aansporing vir ds. Henno om die groot inligtingsbyeenkoms te reël. Hy wou ons aan mekaar blootstel in die hoop dat sulke kontak gemoedere kon kalmeer en groter rustigheid sou bring – die weg wat ek ook nou vir strydendes aanbeveel.

Kom ons hoop op groter onmiddellike welslae as daardie aand!

Sprekers aan kerklike kant was prof. Johan Heyns van die Universiteit van Pretoria, wat later, waarskynlik weens sy vooruitstrewende politieke denke, die koeël van ‘n sluipmoordenaar ten prooi geval het, en prof. Mias de Klerk van die Vrystaatse Universiteit, ‘n Godsman uit die ou skool wat aansienlik minder vooruitstrewend in sy benadering tot kerkvraagstukke was.

Ook prof. Mias en my kollega Wep is reeds ter ruste sodat my herinneringe van die gebeure feitlik ongekontroleerd kan staan. Ds. Henno – ‘n vriend vir wie ek later in Londen gaan kuier het - is darem nog in die rondte. Hopelik vind hy nie te veel fout nie.

Miskien moes die tema – Kerk en Politiek – my en Wepener tot beter insigte gelei het as om in daardie leeukuil in te stap. Maar ons wou ds. Henno, wat ons as ‘n soort bondgenoot beskou het, nie graag in die steek laat nie. Buitendien was ons van wat ‘n

27

Page 28: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

mens die minder terughoudende soort redakteurs, kan noem. Wat ons op die hart gehad het, het ons uitgeskud!

Dis ‘n cliché om te beweer dat die atmosfeer in die groot saal gelade was. Die kritiese afwagting was egter aanvoelbaar, wil ek nou, twintig jaar later, nog beweer.

Van die broeders het ongemaklik begin rondskuif toe Wepener wegtrek met die stelling dat die kerk leier moet wees en nie ‘n volgeling in die politiek nie, verwysende natuurlik na politiek in die breedste sin van die word en nie die enge partypolitiek nie.

Volgende op sy spyskaart was ‘n lys insidente waaroor die kerk homself, volgens die strydvaardige kollega, moet afvra wat ‘n buitelander, wat die Afrikaner en sy kerk glad nie ken nie, van mense sou dink wat tot sulke dinge in staat is.

Hy het as voorbeeld genoem lidmate van die Bloemfonteinse gemeente Noordhoek wat in 1975 gedreig het om hul kerklike bydraes te onttrek omdat ‘n bruin vrou die Oujaarsaand-diens bygewoon het. Sy het op die vloer gesit – ‘n scenario wat nogal herinner het aan ‘n grappie (?) wat destyds in omloop was:

Die koster kry ‘n swart vrou op haar knieë in die kerk.“Wat doen jy?”“Ek was die vloere”. “O, dan kan jy maar voortgaan. Ek dag jy bid.”

‘n Pynlike voorbeeld van Kaapse oorsprong, was toe ds. Gideon Boshoff van Clanwilliam gereël het dat ‘n bruin skoolhoof, mnr. Johannes Joorst, nie saam met blankes in die kerk se konsistorie sy Unisa-eksamen mag afle nie. (“O, my liewe, lekker Hantamwyk!” - Met apologie aan C. Louis Leipoldt.)

In daardie stadium was ‘n brommende beroering in sekere banke hoorbaar. Maar Wepener het maar pas op stryk begin kom. Hy takel daarop daardie taai toffies die Ontugwet en die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike. Met die aanvanklike doel, om die swakkeres teen hulleself te beskerm, kan hy nie fout vind nie, het hy gesê.

“Maar kan u met u hand op die hart se dat dit ook nog die geval was toe sekere leraars naarstiglik in die Skrif vir regverdiging van die twee wette in die Skrif rondgesoek het?

“’n Mens wonder ook hoe daardie selfde mense sal voel en watter regverdiging hulle daarvoor gaan aanvoer as die Regering nou wel sou besluit om die twee wette af te skaf.”

Vyandigheid was in die groot saal aan’t oplaai. Dit was so duidelik soos daglig. Die tafel was gedek vir die man uit die Vrystaatse hoofstad – op ‘n tedere 43 een van die jonger manne teenwoordig. Soos Wepener, val ek toe weg met ‘n opgawe van gebreke en tekortkominge, soos ek dit waarneem. Dit sluit in:

28

Page 29: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Die skadelike verspeling van belangrike geleenthede om ‘n Christelike protes te laat opklink, bv. oor gedwonge verskuiwings;

Botsende standpunt en vertolkings, selfs tussen Sinodes, oor o.m. die Belhar-belydenis (wat toe al begin branders maak het!), oop kerkdeure vir alle gelowiges en diskriminerende wette;

Kerkrade wat rustig voortgaan om Sinodale leiding te veronagsaam, bv. oor die toelating van gekleurdes by begrafnisse;

Individuele leraars wat lustig deelneem aan die verpolitisering van bv. kultuur en onderwys, asook op ander wyses “met lomp vingers in die politiek vroetel”.

In daardie stadium kon een broeder hom nie meer beteuel nie. “Noem voorbeelde,” snou hy my toe uit die agterbanke toe. Maar gelukkig was ek op so ‘n intervensie voorbereid.

Soos die verspreiding van ‘n regse pamflet in ‘n konsistorie voor die erediens, kon ek antwoord. Of ‘n leraar wat van die kansel verkondig dat die nuwe Grondwet die werk van vier Kommuniste is. Of ‘n ander wat, ook van die kansel af, die skinderstorie versprei dat in die P.W. Botha-kabinet ‘n Satansaanbidder sit.

My gewildheid was duidelik nie besig om toe te neem nie. Maar ek het deurgedruk:

“Die kerk en sy leraars sal bedag moet wees op die gevare wat politieke onnadenkendheid en voortvarendheid inhou; die vertwyfeling wat dit kan bring, die emosie wat dit kan losmaak en bowenal die skade wat dit kan inhou vir die beeld van die kerk en sy ampsdraers wat tog met ewigheidswaardes behoort te handel.

“Die vraag is of die kerk hom nie onnodig laat rem deur broeders wat die eise van kerkwees in die jare tagtig nog nie voldoende aanvaar en verwerk nie.

“ Die vraag is of die kerk nie te te sensitief is vir die gevoelens van diegene wat angsvallig aan die status quo vasklou nie.

“In die verlede is al deur kerkleiers gewaarsku dat swakke mense met onvolkome insigte hulle nie die die rol van regters moet aanmatig nie, asook teen liefdeloosheid, onverdraagsaamheid en politieke moedswilligheid binne die kerk. Klaarblyklik sal dit nie by lou en geïsoleerde vermanings gelaat kan word nie. Ongetwyfelkd bestaan die behoefte aan groter dissipline en sal volhardend na binne gepraat moet word om duideliker en ernstiger as in die verlede teen wat verkeerd, skadelik en sondig is, te vermaan.” Die debat wat gevolg het, plek-plek bra vies en aanvallend, is deur Die Kerkbode versigtig bestempel as “’n lewendige bespreking waarin die tersaaklike nie altyd die botoon gevoer het nie.”

Ons dagblaaie was minder terughoudend. Hulle het nie gehuiwer nie om dit pront op die naam te noem: “‘n Skerp ver-regse aanval deur onder andere leraars wat kort tevore in Silverton ‘n reaksionere beraad van 193 leraars bygewoon het.”

29

Page 30: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Cronjé is deur veronregte kollegas as sondebok uitgesonder oor sy “ongevoeligheid” om twee redakteurs van “regeringskoerante” te nooi, wat “’n eensydige politieke standpunt verkondig”.

Dr. Kerneels van Heerden van Rietfontein-Oos, een van die 193, was een van die kwaaistes. Leraars wat die stigting van die Afrikaner-Volkswag bygewoon het, laat hulle nie meer “deur koerantmannetjies voorsê nie”, het hy laat hoor. Geesgenote het gekla as ‘n predikant hom nie meer in pas met die Regering voel nie, kry hy nie sy standpunte gepubliseer nie – soos die Silverton-193.

Dr. Tienie Zeeman, vroeër van Berg-en-Dal, Bloemfontein, het later vir my geskryf een van die simpatieker broeders was so onthuts oor sy mede-maneldraers se onvriendelike ontvangs dat hy my en Wepener om verskoning wou kom vra. Hy was egter bang dat dit hom sou “etiketteer”.

Wepener het na die tirade geantwoord: skerp aanvalle is vir ons nie ongewoon nie. Die ervaring wys egter dat dié wat die skuldigste staan, gewoonlik die skerpste reageer. Dit het nie gemoedere laat bedaar nie!

Ja, die kerkdebat van die tyd was robuust, en sulke aanvalle inderdaad nie ongewoon nie.. Om jou Christenskap in die openbaar betwyfel te kry, was een van die minder aangename aspekte. Maar ook daarvan had ek in my kort redakteursloopbaan van drie jaar toe al vorige ervaring.

Nie lank nie nadat ek die leisels by Die Volksblad oorgeneem het, het nou wel nie die “kerk” nie, maar ‘n hoogleraar in Bybelkunde, prof. Calvyn Lombard, vergesel van ‘n leraar, ds. A.M. Herholdt, en ‘n skoolhoof, Samuel Herman, kom kla dat hy tekens van “pornografie” in die koerant gewaar. Hy was beswaard oor te veel wedstryde en foro’s van “skamel geklede” meisies. “In sy poging om sirkulasie te verhoog, het die nuwe redakteur in ‘n ‘stewig Christelike publiek’ in Bloemfontein sy hand oorspeel.” (Die skimp was duidelik: dat die nuwe redakteur self nie so “stewig Christelik” is nie!” )

Op ‘n dag is ‘n bitsige telefoonoproep oor ‘n advertensie vir ‘n dobbelhuis op Thaba Nchu ontvang. “Mnr. Van Deventer, ek weet nie of u ‘n Christen is nie,” het die vrou losgetrek. Toe steek sy vir my ‘n lang, veroordelende preek af.

Ligpunte was daar darem ook. Juis oor die getuienis van die Silverton-193 het Die Volksblad ‘n hoofartikel geskryf wat deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk in geheel opgeneem is “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

30

Page 31: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

6. KORTBROEK TOT COTTESLOE

Uit my kleintyd, lank, lank gelede, onthou ek rygoed soos die perdekarretjie waarmee my Oom Danie du Plessis my en ma Baby op Kaallaagste se stasie kom haal het as ons op die plaas in die distrik Paul Roux kom kuier, voor-oorlogse DKW-tjies met hout raamwerke en Amerikaanse koepees met kattebak-sitplekke en trapplanke.

Huis was ‘n baksteen-skakelhuisie in Diagonalstraat, Kimberley. Daar is my pa, Seun, kort na hervestiging uit Babanango in Noord-Natal op 21 Junie 1946 skielik oorlede. In Diagonalstraat het ek met my speelgoed-“vetdiere” plaas-plaas gespeel en met duiwe en skilpaaie geboer. Van daar het my ma soggens per fiets na haar werk in die Kimberleyse sentrale gery en saans teruggekeer. Daar het oupa Herklaas Visser met sy kierie in die hoek in die sonnetjie gesit en Die Volksblad lees.

Skool was die Laerskool Diamantveld, ‘n lang wit gebou met gewels, oorkant ‘n begraafplaas met baie sipresse, en met die leuse: Concordia res parvae crescunt (deur gesamentlike inspanning kom groot dinge tot stand). Vandag is dit verkort (en gemoderniseer) tot: “van krag tot krag deur samewerking”.

Eerste herinneringe aan die kerk steek vas by die Sondagskool, waarvan ek ‘n mooi foto van ons Sub A-klassie het – deurgaans netjies gebaadjie- en gedas. Ek gaan vandag nog so kerk toe terwyl ander, jonger ouderlinge oopnek en in hempsmoue rondom my sit. Ek onthou dat ons elke Sondag ‘n teksversie uit die vuis moes ken. Daarmee was ek nogal oulik. Ek onthou veral die Hallelujaliedere “Jesus roep my vir ‘n sonstraal”, “Liewe Jesus, ek is klein” en “Jesus min my salig lot”.

Heerlik is dit nou om, na ‘n lang onderbreking weens bedenkinge oor die gewydheid daarvan, in Melkbosstrand se NG kerk weer uit volle bors Hallelujas te kan saamsing: “ ’n Sonstraal, ‘n sonstraal, Jesus roep my vir ‘n sonstraal.” En: “ O Jesus, neem my, o Jesus, neem my, o Jesus neem my en vorm my tot U eer.” Om nie te praat nie van: “ Al is ek ook swak en blind, nogtans noem Hy my sy kind.”

In 1950 is ons Natal toe vir ‘n kort tussentydse verblyf by my Oom Martiens en Tannie Dinah Maritz op Boshoek, naby Vryheid. Dit is waar ek met huisgodsdiens kennis gemaak het. Na aandete ete is die Bybel gebring, Oom Martiens het bril opgesit en in dowwerige lamplig goed gelees wat ek nie altyd verstaan het nie. Maar ek en my niggies, Lina en Elsa (Asja, het ek haar glo as kleuter genoem), moes verslag doen wat ons onthou het – wat soms ‘n penarie veroorsaak het.

Toe trou ma Baby weer en ons trek Durban toe. Ons gemeente is Berea. Die dominee was ds. John Adler, pa van Johan wat later ‘n bekende in die skakelwese was. Van hom onthou ek veral een Sondagaand-preek waarin hy uitgevaar het teen die “witgepleisterde grafstene” wat in die kerkraadsbanke sit maar ongereeld kerk toe

31

Page 32: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

kom. Ek was verbaas dat hy, volgens my insigte, met die verkeerde mense geraas het: diegene wat wel in die kerk was.

Ek onthou ook die uitsig van die kerkterrein af op die groen Greyvillerenbaan waar spogperde soos Milesia Pride en ander Julywenners Saterdae reisies gehardloop het. Sondae was die baan stil en leeg, maar aanloklik groen en goed versorg.

Die volgende stasie op die lewensreis was Potchefstroom. Eers was ds. G.D. Worst, leraar van die moedergemeente, later oom Bey, die befaamde ds. Beyers Naudé, en ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith wat jare later saam met sy oud-medeleraar op die voorpunt van die stryd sou wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking.

Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die Hoër Volkskool se twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het: “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

In ‘n stadium was ek kringleier van die CSV. Tot my spyt moet ek die kortstondigheid van my bekleding van daardie posisie bely, omdat ‘n intense belangstelling in die doen en late van die inwoners van Ons Hoop in die skemerte voor studietyd nie met die tye van CSV-kringbyeenkomste versoenbaar was nie. Mnr. W.L. Steyn (Oom Stompie), vrygesel-wetenskaponderwyser wat later in sy huis wreed vermoor is, het in sy jaarverslag afkeurend na Demasse verwys. Ek het vermoed ek was onder andere in sy visier nadat ek nageslaan het ‘n Demas is iemand op wie jy nie kon staatmaak nie, ‘n tou-opgooier, nogal omdat hy “die teenswoordige wêreld liefgekry het”. .

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande na my sestiende verjaardag, by ds. Bey belydenis van geloof afgelê. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon.

32

Page 33: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Nou het ons nie meer Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.

In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.

Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Die meisies moes in gelid kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie. Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was. Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het. Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water … “ en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders….” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg.

Ek onthou ook dat een van my Sondagskoolonderwysers, Daan Alberts, in Johannesburg, ek vermoed in die onvoltooide Eskomgebou, oor die kop geslaan en van ‘n hoogte afgewerp is. Dié moord het vanselfsprekend onder ons vir ‘n groot opskudding gesorg.

In 1958 is ek Tukkies toe. Met die nuutgevonde vryheid nog ‘n ongewone weelde was my kerkbywoning aanvanklik wisselvallig. Maar daardie studentegemeente groei op ‘n mens en ds. Kobus Potgieter, latere moderator met aansienlik ander insigte as die Beyers Naudé’s en die Nico Smiths van die lewe, was ‘n gewilde studenteleraar.

Die ware konserwatief, volgens ons insigte van daardie tyd, was die Hervormde studenteleraar ds. Mossie van den Berg, met wie ek later in die Joolbladredaksie as sensor te make sou kry. Hy was toe al nie ‘n man vir allerlei ligsinnighede nie en het

33

Page 34: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

teen grappies wat hy as te stout geag het, vasgeskop met dieselfde onverbiddelikheid as wat hy hy later in die politiek sou openbaar om teen die eerste huiwerige hervormings van die sogenaamde verligtes vas te skop.

As jong koerantman en lid van die Ruiterwag, junior arm van die Afrikaner-Broederbond, sou my paaie ‘n paar jaar later weer met syne kruis toe ek as uitgenodene ‘n Wagpos van die Ruiterwag, waarvan hy die Hoofwag was, in die Vaaldriehoek moes gaan toespreek.

Hy het my daardie aand trompop geloop omdat ek, na sy mening, die edele ideale wat ek by die “Voortrekkeruniversiteit” geleer het, gou by die koerant in Bloemfontein gaan laat verwater het. Die verhouding was daarna vir altyd versuur.

Onder die Tokkelokke van daardie tyd was manne wat later diep spore in die kerk sou trap, soos Piet Meiring en Frits Gaum. Ek kan vrymoediglik konstateer dat die goeie verhouding wat op kampus gesmee is, tot vandag voortduur.

Ek het op Tukkies gekom, taamlik naiëf oor die politiek en des te meer oor die kerkpolitiek. Toe die Cottesloebom in 1961 bars, was ek bra in die war, want, hoewel ek ‘n leser van Die Transvaler was, was ek van die politieke onderstrominge in die kerk – en veral die heftigheid daarvan – redelik onbewus. Maar ek was ‘n stoere Verwoerdman, en dit was nie juis ‘n kwessie waar my lojaliteit sou val nie.

Op Woensdagaand 8 Maart is ‘n monstervergadering in die grote Rautenbachsaal gehou waarheen etlike honderde Tukkies opruk. Op die agenda was die politieke en staatkundige implikasies van sekere besluite wat by Cottesloe geneem is. Ferdi Hartzenberg, my senior op Volkies, stel ‘n mosie dat die bantoe geleer moet word hy sal nooit op direkte politieke regte kan aanspraak maak nie en dat die enigste blywende oplossing vir die land “uiteindelike totale skeiding van blankes en nie-blankes en ‘n gedifferensiëerde ekonomiese ontwikkeling van die naturel in sy gebied ” is

Die meerderheid stem ten gunste van die Hartzenbergmosie en die studentekoerant Die Perdeby (waarvan ek daardie jaar redakteur was) bevind:

“Hiermee het die vergadering ‘n magtige mandaat in die hande van die VSR (Verteenwoordigende Studenteraad) gelê om namens die studente van UP deur middel van die ASB (Afrikaanse Studentebond) sterk aan te dring op selfs drastiese maatreëls ten einde die apartheidsbeleid ten volle te verwesenlik.”

Dit was ‘n standpunt waarvan latere HvD-kommentare oor die landspolitiek en die kerk se rol op die pad na ‘n nuwe Suid-Afrika aansienlik afwyk.

Die grootmenswêreld stel egter ander eise as die relatief sorgvrye, beskutte bestaan van skolier en student. Dit is seker nie ongewoon nie dat insigte kan verander en ou standpunte (in die gewraakte woorde van dr. Andries Treurnicht) vir beteres verruil word.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

34

Page 35: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

7. KOERANTMAN

Die een oomblik skryf jy in die studentekoerant hoofartikels oor belangrike kwessies soos Cottesloe. Die volgende skryf jy ‘n berig oor die prys van aartappels op die Bloemfonteinse mark: “Aartappels is nou teen ‘n appel en ‘n ei te koop….”

Die afstand tussen die studente- en die grootmensjoernalistiek is groot. In eersgenoemde kon jy die kitaar slaan. In laasgenoemde leer jy gou jou plek ken. Om kommentaar te lewer en standpunte te stel, is nie ‘n verslaggewer se taak nie.

Na ‘n vinnige draai in die Persgalery van die Volksraad word ek boonop hoofsubredakteur en ‘n jaar of drie later nuusredakteur van Die Volksblad. ‘n Dekade verloop waarin my enigste kontak met die kerkpolitiek is om te besluit op watter bladsy ‘n berig moet kom en hoe prominent, of, later, watter verslaggewer stuur ek na watter geleentheid.

Ek is nie lank in Bloemfontein nie toe moet ek ‘n swart pak gaan koop, kompleet met onderbaadjie. En ‘n wit das. Ek word diaken in die Klipkerk (die gemeente Bloemfontein-Noord). Op 31 Desember 1966 word ek en Tokkie op Bultfontein in die huwelik bevestig deur my neef ds. Bertus du Plessis (wat hom twintig jaar later by die nuut gestigte APK aansluit). Ons laat huis bou en beland in die domein van die gemeente Berg-en-Dal. Die swartpak moet dadelik weer afgestof word. ‘n Geseënde verbintenis kom tot stand waarin ons tot enorme persoonlike verryking oor baie jare vir dr. Tienie Zeeman en sy vrou, Marie, leer ken en lief kry. As pastor sou jy sy gelyke ver moet gaan soek. In drie lange maande wat ons seun, Johan, in die Nasionale Hospitaal was nadat hy op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer is , was dr. Zeeman byvoorbeeld elke middag langs die hospitaalbed of het hy saans na besoektyd aan ons voordeur geklop vir ‘n vars rapport.

Hy kon ‘n mens ook laat sweet. Vir ‘n dooponderhoud het jy byvoorbeeld tuis besoek ontvang, en was daar nie kans om jou lyf skaars te hou as jy nie die antwoord op ‘n vraag ken nie. Die bedaarde dr. Tienie sit jou eenvoudig met ‘n houtoog en aankyk. Al kom dit ook hoe wurgend oor jou lippe, as hy klaar sy vraag gestel het, wag hy geduldig op jou antwoord. Dan is dit jou beurt!

Na sy aftrede het hierdie man uit een stuk hom op Witbank gaan vestig, waar hy intens gemoeid was met krisisberaad, sonder enige vergoeding. Hy het in sy vrye tyd tuin gemaak en tennis gespeel – en kliphard geskryf. Meer as twintig boeke het uit sy pen verskyn en meer as 200 000 eksemplare is verkoop. Ek vermeld graag dat ons in kontak gebly het tot met sy dood vroeg in 2005. Hy was vir my ‘n geestelike vader.

35

Page 36: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Toe die roepstem in 1974 kom om Beeld in Johannesburg te gaan help stig, is die afskeid van Die Volksblad, Bloemfontein, ons huis in Dan Pienaar, Berg-en-Dal, die Zeemans, kollegas en vriende nie maklik nie. Die nuwe uitdaging is egter onweerstaanbaar opwindend.

Fontainebleau in Randburg word ons gemeente, en – tot my stomme verbasing – word ek sommer met die intrap ouderling. Op ‘n tedere 33 jaar gebeur dit nie met jou in Berg-en-Dal nie. Op die joernalistieke front is Johannesburg in vele opsigte ‘n openbaring. ‘n Groter veranderingsdrif dryf Beeld se hoofredaksie as wat ek by Die Volksblad ervaar het, en ook die kerk kry gereeld kritiek. By Beeld is sy beeld dié van ‘n groot swygende monoliet wat alles wat in die land gebeur, maar net klakkeloos goedkeur. .

In 1974 verskyn ook die sinodale rapport Ras, Volk en Nasie, waarmee senior kerklui veral Europa platry om kritici te probeer oortuig dat die kerk nie voete sleep nie en doen wat hy kan om gemeenskaplike antwoorde te soek vir die ingewikkelde kwelvrae wat die land se rassesamestelling aan staat en kerk opdwing. Oor hierdie publikasie word lewendig diskoers gevoer, ook in Beeld se kolomme.

Ekself vind in Ras, Volk en Nasie heelwat wat hoopgewend is; kollegas soos Ton Vosloo, latere redakteur, is egter van mening dat die bietjie beweging wat daarin bespeur kan word, in die Suid-Afrikaanse opset eenvoudig weer ‘n geval van mosterd na die maal is - te min, te laat. In die belangwekkende werk oor die kerk se rol in Suid-Afrika Storm-kompas deur Nico Smith, Frans O’Brien Geldenhuys en Piet Meiring, ‘n boek wat in 1981 al sterk leiding gegee het, lewer Ton ‘n bydrae oor die kerk se beeld na buite. Toe ek dit lees, kon ek hom agter sy lessenaar sien sit en praat.

By my formele werk as nuusredakteur erf ek in Beeld se beginjare ‘n ander mantel: om vir ‘n bestendige stroom politici en kerkmense as kanaal na Ton Vosloo te dien om oor Beeld se standpunte te gaan opheldering soek. In die proses kom ek agter dat ek in hierdie lopende debat al hoe meer aanklank vind by wat Vosloo dink as by van die beswaardes. ‘n Moeisame tog na ‘n nuwe politieke lotsbestemming begin.

In 1976/77 bring ek as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts, deur. Die daaglikse kontak met Amerikaanse en ander buitelandse joernaliste in die Niemanprogram is ‘n goeie toets vir die oortuiginge waarmee ek in die VSA aangekom het. Dit kan nie anders nie as om ‘n mens oor sekere van jou eie insigte terug te stuur tekenbord toe. Jy dink, jy dink en jy raak al hoe ongemakliker oor die stand van sake daar in die verre Suid-Afrika.

Met my terugkeer word ek assistant-redakteur van Beeld, en begin ek ‘n rubriek Onder Vier Oë waarin ek weekliks ‘n uitvoerige onderhoud voer met iemand in die nuus. So beland ek in die kantoor van dr. O’Brien Geldenhuys, Direkteur van Ekumeniese Sake van die NGK, iemand wat self ook agttien jaar gelede saam met sy swaer Beyers Naudé en andere by Cottesloe vir ‘n nuwe koers gepleit het, en dus by implikasie in my Perdeby-hoofartikel bygekom is.

36

Page 37: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Waar dr. Naudé – Oom Bey, soos ek hom op Potchefstroom geken het – as NG leraar bedank en die Christelike Instituut gestig het, het dr. Geldenhuys daarteenoor vir homself die taak gestel om aan homself en sy kerk getrou te bly, en steeds teenstrydige standpunte binne die kerk met mekaar te probeer versoen.

Die forse gestalte met sy silwerwit kuif vertel in die onderhoud hy het na Cottesloe “op die snykant van ‘n mes” geloop en dit was nie maklik of aangenaam nie. Die feit dat die kerk hom nou, op die laaste skof van sy bediening, met die delikate werk as ekumeniese amptenaar vertrou het, is egter vir hom die bevestiging van die besondere taak.

Dit word ‘n gesprek van meer as twee uur. Hy stel o.m. as persoonlike ideaal dat die NGK die inisiatief sal neem om ‘n nuwe Suid-Afrika tot stand te help bring, omdat dit die kerk is wat die Bybelse norme vir ware naasteliefde het en ook vir wat dit beteken om werklik van diskriminasie weg te beweeg.

Met daardie ideaal kan ‘n mens jou maklik versoen, dink ek toe ek wegstap – diep onder die indruk van een van die formidabelste kerkmense in ‘n lang ry van formidabeles wat ek bevoorreg was om te leer ken.

Dit is met daardie ideaal vir die kerk ook in my eie hart dat ek in 1980 Bloemfontein toe is om redakteur van Die Volksblad te word. Ek vestig my toe weer in Dan Pienaar, in my ou gemeente Berg-en-Dal wat in ‘n stadium kon spog dat nie minder nie as veertien leraars en oud-leraars binne sy gemeentegrense woon,. Die span het ingesluit die Moderator van die Algemene Sinode, prof. Pieter Potgieter, en die dekaan van die Teologiese fakuklteit aan die Vrystaatse Universiteit, prof. Mias de Klerk. Geen wonder nie dat die ouderling uit Fontainebleau hier eers weer ‘n “vakleerlingskap” as diaken moes voltooi.

Ideaal en werklikheid is nie altyd karperde nie. In die Vrystaat, veral op die platteland, was die werklikheid waarmee ek gou te doene gekry het dat begrippe soos ‘n “nuwe Suid-Afrika”, “ware naasteliefde” en “wegbeweeg van diskriminasie” verreweg nie deur almal omarm is nie.

Die Volksblad se geesdrif vir hervorming, en ongeduld met rassisme in al sy verskyningsvorme het hom bepaald nie oral geliefd gemaak nie, en die nuwe, jong redakteur moes dit maar ontgeld. (Lees ook Hoofstuk 5: “Goeie ou dae” )

Een kenmerk van die aanslag uit regse oorde -- want dit is wat dit was, ook op kerklike gebied – was hoeveel kritiek in verdoeselde vorm by die koerant opgedaag het. Klagtes oor “swak smaak”, “onfatsoenlikheid” en “sensasiebelustheid” was volop. ‘n “Kruipende verderf” is waargeneem. Die redaksie kon die ware oorsprong van die ongelukkigheid egter met ‘n stok aanvoel. Dit was ‘n suurheid oor politieke beskouings wat toenemend uiteen geloop het.

‘n Patroon wat hom in verskeie verhoudings herhaal het, was dat met die leiers van instellings goeie gesindhede gehandhaaf is, terwyl op die voetsoldaatvlak vuur en swael getrotseer moes word.

37

Page 38: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Die Vrystaatse NG Sinode het byvoorbeeld ‘n aanprysende mosie aanvaar oor die koerant se “mooi gesindheid”, en met die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid is deurgaans rondom die koerant se Kersfonds hartlik saamgewerk. Vir sekere leraars, en teoloë, was die gesindheid egter allesbehalwe mooi en samewerking ondenkbaar.

‘n Dominee wat by ‘n kollega kom huisbesoek doen het, het nie doekies omgedraai nie: “Julle koerantmense is maar ‘n anderster spesie. Uit eie ervaring kan ek nie baie respek vir julle hê nie.”

Een herhalende haakplek was dat die ewige “kleurinsidente” – van die weiering van swartmense by begrafnisse tot die reservering van sekere teekoppies net vir blankes – ywerig deur Die Volksblad aan die kaak gestel is. Daaroor is selfs een keer met my eie gemeente ‘n potjie geloop.

Toe dit uitlek dat Retha Terblanche, jong vrou van die nuwe leraar, ds. Gert Terblanche, vinnig noodstappe gedoen het om te vermy dat besoekende swart susters uit die gemeentelike koppies drink, is ‘n prominente berig geplaas. Dit het haar in trane en haar man baie ongemaklik gehad. Ek moes in die pastorie gaan troos, want ek was daardie tyd ook lid van Berg-en-Dal se swartspan en die betrokke leraarspaar nogal besonder goedgesind – is dit trouens tot vandag toe!

‘n Ander relletjie by Berg-en-Dal was oor die lone van swart werknemers. Ek het geoordeel die kerk se lone (R50 plus R30 vir busgeld) en ‘n voorgestelde verhoging tot R60 plus R30 selfs vir daardie tyd, 1982, onvoldoende is. My argument was dat “verouderde en onrealistiese lone wat nie tred hou met die van ander sektore nie, juis vir die kerk, meer as vir elke ander werkgewer, ‘n dwingende gewetensaak behoort te wees.” Die Eiendomskommissie wou eers rug styf maak. Die kerkraad het egter met ‘n meerderheidstem agter my ingeval.

In 1991 het die dagbestuur oor Kerk en Samelewing ‘n “kommentaar” geproduseer waarin hy hom, soos ek dit in ‘n kritiese document gestel het, nie agter die Algemene Sinodale Kommissie inwerp nie, maar hom “langs, bo of onder” die ASK posisioneer. Ek kon my nie daarmee vereenselwig nie, omdat die hand van ‘n klein drukgroep sigbaar was. Die dagbestuur het dit ook “vreemd” en “onaanvaarbaar” gevind dat prof. Willie Jonker, as “buitestaander, sonder opdrag” by die Rustenburgberaad die skuldbelydenis oor apartheid gedoen het.

Na aanleiding van my dokument is ek toe saam met proff. Pieter Potgieter en Pieter Rossouw (seun van Pierre Rossouw) gekoöpteer om die dagbestuur met ‘n nuwe, minder wederstrewige, formulering te help. Die regse lede van die dagbestuur was bloedrooi van ergerlikheid toe hulle die aftog moes blaas. Die Volksblad se hoofredaksie in die dekade 80 was, soos sonder twyfel by geen ander koerant nie, ‘n groep oortuigde Christene en lojale lidmate. Oor kwessies soos Sabbatsheiliging en Christelik-nasionale onderwys, asook verskeie morele en etiese sake is leiding probeer gee wat ons nie net met ons joernalistieke gewetens nie, maar ook met ons Christelike gewetens kon versoen.

38

Page 39: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Ons politieke standpunte het ons telkens aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware steunpilaar was Sarel Venter, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy was ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.

Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf, onder meer die ene wat volledig deur Die Voorligter oorgeneem is (Hoofstuk 5: “Goeie Nuus” ). Ek kon telkens aan hom gaan oordra met watter waardering dit ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het.

‘n Medewerker was ds. Johan Lombaard, wat later Moderator van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk geword het. Ek het hom die “kapelaan” van Die Volksblad genoem, en ‘n mens kon maar altyd op sy knoppie druk om ook met persoonlike krisisse van kollegas uit te help. Ook was hy ‘n waardevolle klankbord. Hy is nou nog ‘n vriend. Omdat ons ons ingespan het om die kerk regverdig en met eerbied te behandel, ook as ons kritiek uitspreek, was ons gevoelig vir houe wat ons as onverdiend en onbillik beskou het. Sommige sal beweer ons was oorgevoelig, soos toe ons die NGK se Vrouediens tereggewys het oor hul lof vir die SAUK se godsdiensprogramme, terwyl hulle ons beriggewing oor kerksake miskyk. Ons was egter nie altyd oorgevoelig nie.

Een van die groot geeste van daardie tyd in die Vrystaat was prof. De Klerk (Oom Mias). Die dekaan is wyd beskou as “geestelike vader van die regses in die Vrystaat” en het nie geskroom om in briewe en toesprake Die Volksblad oor “liberale” sienswyses voor stok te kry nie.

Wat hom van ander vasskoppers, soos onder andere sy kollega prof. Evert Kleynhans en die Bybelkundeprofessor, Calvyn Lombard, onderskei het, was dat ons -- wonderlik om dit te kan getuig – op persoonlike vlak nie net beskaafde nie - selfs ‘n relatief ontspanne - verhouding kon handhaaf.

‘n Voorbeeld wat ek en my huis met die hoogste waardering onthou, was toe my vrou, Tokkie, se bejaarde weduweemoeder, Marietjie van Wyk, tot haar hoe ontsteltenis ontdek daar is op Bultfontein iemand in haar graf langs haar man wat lank-lank gelede vooroorlede is.

Hoe die iemand by haar verby geglip het, kan niemand verklaar nie, want vir jare het sy getrou oor hom gewaak. Maar nou is die iemand daar, en wat nou gemaak? 'n Opgrawing en 'n herbegrafnis is immers 'n gewigtige saak. Boonop is die ou kerkhof nou vol.

Die stadsklerk bied namens die munisipaliteit 'n nuwe graf in die nuwe begraafplaas aan. Gratis en verniet. Hy word vinnig die deur gewys. Se voet, sê Ouma. "Moet ek op die oordeelsdag langs 'n vreemde man wakker word?"

39

Page 40: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Die gemeentedominee kom mooipraat, maar hy maak ook nie hond-haaraf nie. Ten einde raad kry ek die ingewing: “Oom Mias!” Hy was lank die vertoornde skoonmoeder se vertroude oud-leraar daar in die mieliedriehoek.

Ek ry na sy huis ‘n paar strate weg, waar sy vrou die deur taamlik wantrouig oopmaak. Haar hele houding verraai dat sy wonder: “Wat kom soek die liberale koerantman nou hier?” Maar die dekaan nooi my in en in die studeerkamer verduidelik ek vir hom die penarie.

Die volgende is dat hy aanbied om oor te kom Macedonië om te kom help. En dis sy oorredingsvermoë wat die knoop deurhak om haar ‘n kompromie te laat aanvaar: dat die munisipaliteit op sy koste die nodige sal doen om Oupa se rusplek in ‘n dubbele graf te omskep.

Sjoe! Dankie, “Oom Mias”!

By ‘n tweede reddingspoging was die professor met die welluidende preekstem ook betrokke, maar hierdie keer was die koerant in die verknorsing. Maak kennis met die sage van die verkiesingsmemorandum.

Die gewraakte dokument is opgestel om vir Die Volksblad se buitekantore leiding te gee in die dekking van ‘n verkiesingskampanje. Dit is onderteken deur Willie Kühn, ‘n assistant-redakteur wat later redakteur van Beeld en Huisgenoot (en ‘n digter) geword het.

Die kern is dat Die Volksblad vierkant agter die NP staan en kliphard gaan veg om sy destydse regse opposisie, die HNP, met die kous oor die kop huis toe te stuur. ‘n Beleid van “geen genade” nie word teenoor die opposisie aanbeveel . Gelukkig bevat die memorandum darem ook die volgende voorskrif: “Feite moet honderd persent korrek wees.” Maar dit help maar min.

Vier dae nadat dit uitgestuur is, is dit (met komplimente van ‘n regse jong kollega) in vyandige hande. Van doer in die Knersvlakte tot knap by die Zambezi hoor politieke gehore net van die “verskriklike skande” van die verre Vrystaatse koerant.

Toe dit lyk of HNP-gehore verveeld raak, stop iemand die stuk vir die Engelse pers in die hand. En daar begin die aanslag van vooraf, tot konsternasie in die direksiegange in die Kaap.

Uiteindelik doen ons ‘n dapper ding. Ons kondig aan ons gaan die memorandum, volledig publiseer, woord vir woord, met daarby ‘n teologiese beoordeling uit die hoek van die Christelike etiek. Daarvoor vorder ons prof. Mias op – en hy stel ons nie teleur nie.

Sy bevinding? In die stuk kom wel – “net soos in die optrede van ander politieke partywerkers en joernaliste weerspieël word” – minder gelukkige sinsnedes voor.Daarin staan egter niks wat nie eie is aan verkiesingspraktyke van alle partye en koerante in demokratiese lande nie. “Om die swakhede van ‘n beleid of die bontpratery en politieke oneerlikheid van ‘n kandidaat onder die soeklig te plaas, kan nie in verkiesingstyd sonder meer as oneties of onregverdig beskryf word nie”

40

Page 41: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Dan ook: “Wanneeer die etiek ter hand geneem word, moet terselfdertyd “gekyk word of die hande wat dit hanteer, skoon is.” ‘n Veroordeling van die veroordelaars! Ons kon “Oom Mias” gerus soen. Die ware betekenis van hierdie stuk geskiedenis staan egter vas tot vandag toe. Dit is die rotsvaste integriteit wat dit aan sy kant openbaar.

HOOFSTUK 8: Laaste skof

HvD en kerk na koms na Kaap. Rol om Kerkbode in dagblaaie te kry. Gemeentes: Welgemoed. Melkbos en Krugerpark. Traumas in Welgemoed, Melkbos en Krugerpark. Botsing met Gawie Gouws oor koerante. Wes-Kaapse sinode. Standplaasruiling – ‘n pad vol slaggate.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

41

Page 42: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

9. OOM GHRIESPOMP SE GARAGE

Die Vrystaatse Administrateur Louis Botha -- ‘n joviale tydgenoot in die 80’s in Bloemfontein -- was bekend om sy raak grappies. Skynbaar was sy voorraad onuitputlik. Een van sy gunstelinge kom by my op as ek, soms kopskuddend, soms oorbluf, al die veranderinge rondom my betrag.

Die grappie gaan oor ‘n jong man wat sy geboortedorp besoek. Hy gaan loer in by ‘n tannie wat hy as kind geken het en wat nog maar al die jare daar woon. Hy vra haar uit oor al die bekende bakens wat nie meer bestaan nie:

“Tannie, wat het geword van ou ‘miester’ Cohen se negosiewinkeltjie daar op die hoek?” “Ai my kind, het daardie omgewing nie verander nie. Daar is nou ‘n nuwe Pick ‘n Pay. Jy sal die wêreld nie ken nie.”

“Tannie, en oom Ghriespomp Goosen se garage?” “Ai my kind, het daardie omgewing nie verander nie. Daar is nou ‘n yslike Mercedes-handelaar. Jy sal die wêreld nie ken nie.”

So verloop die gesprek totdat sy opmerk dat hy seker al vergeet hoe sy vir hom in sy babadae doeke moes aanspeld. “Ai tannie, het daardie omgewing nie verander nie. Jy sal die wêreld nie ken nie.”

In my 64 jaar op aarde tot hiertoe, van 1941 op Babanango tot 2005 op Melkbosstrand, het ook die kerk die weg van “miester” Cohen se winkeltjie en oom Ghriespomp se garage gevolg. Ek kan oor hom presies dieselfde verwonderde woorde uiter: “Ai, het daardie omgewing nie verander nie. Jy sal die wêreld nie ken nie.”

Die karakter van die erediens – prediking, Bybelvertalings, Liedboeke en musiek, liturgie, kanseltaal, kanseldrag, alles – die voorkoms van kerkgeboue, die plek van gekleurdes, die posisie van die vrou, noem maar op. Niks, maar niks, het gebly soos dit was nie. Dit is natuurlik nie vreemd nie. Die wêreld staan nie stil nie. Die sekerste ding naas die dood, het iemand op ‘n keer opgemerk, is dat daar verandering sal kom, onstuitbare, ongelooflike verandering op elke terrein. Van motors tot medisyne. Van huise tot die huwelik. Van kuns tot die kerk.

‘n Realistiese mens aanvaar: jy moenie dink dinge gaan in volgende 20 jaar minder verander as in vorige 20 nie. Jy moet daarop voorbereid wees. Jy moet jou ook staal om nie rigied vas te klou aan ou gebruike wat vir jou en mense van jou generasie geborgenheid skep nie.

42

Page 43: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Soms moet ‘n mens tog jouself knyp. Jy kan skaars jou eie oë en ore glo, ook oor hoe ingrypend dinge verander het, plek-plek onherkenbaar. Jy dink stilletjies: sou ‘n mens van jou ou leraars in ‘n tydmasjien kon verplaas na vandag, sou die meeste waarskynlik ‘n oorval kry as hulle moet sien wat nou in die kerk aan die gang is.

Die Sabbat self het natuurlik ingrypende chirurgie ondergaan. In die goeie ou dae is jy elke Sondag kerk toe. Vanselfsprekend. Na kerk het jy aangesit by ‘n tafel wat kreun onder skaapboud, gebakte aartappels, skottels vol groentes en stomende nagereg vars uit die oond. Daarna het jy gaan skuins lê . Kon nie juis anders nie.

Die dag is afgerond met ‘n kuier by familie of vriende waarvoor selfs die kinders mooi moes aantrek. Na ‘n ligte aandete (koue skaapboud en brood) het die aanddiens gewag. As jy nie kon gaan nie, is oor die radio geluister.

‘n Alternatief vir kuier was ‘n uitstappie met die gesinsmotor -- gewoonlik sommer so ‘n bietjie rondry en rondkyk in ‘n ander buurt as jou eie. Sondagmiddag-argitekte, het ‘n kennis se vrou die gereelde Sondag-invallers in hul spogbuurt onvriendelik genoem.

In Welkom, waar ek in Desember 1961 vakansiewerk gaan verrig het, was die gewoonte om rondom die perdehoef in die middedorp te kruie. ‘n Vreemde karrekavalkade, stadig om en om. In Bloemfontein weer was ‘n gewilde middag-tydverdryf om langs die pad te gaan parkeer en die verkeer dop te hou. Nie juis opwindend nie, maar darem iets om te doen as jy nie lus is vir kuier of om Maselspoort toe te ry nie.

As ‘n mens ‘n Sondagkoerant (Dagbreek en Sondagnuus en later Die Beeld) gelees het, het jy dit skelmpies gedoen. Jy het die kafeetjie op die hoek binnegesluip, tog maar hopende die dominee sien jou nie. Soos nou as jy ‘n Lottokaartjie gaan koop. Want leraars het van die kansel af teen die Sondagpers gepreek. Dit was “sonde”.

Verduidelikings dat die gewraakte Sondagkoerant eintlik op ‘n Saterdag geproduseer word; die Maandag-oggendkoerant wel op die Sabbat, het min indruk op hulle gemaak.

My eerste Sondagfliek onthou ek soos gister. Dit was op die lynboort die Pendennis Castle op ‘n vakansievaart in 1969 van Kaapstad na Durban. Ek het ongemaklik en skuldig gevoel. Vreemd? Wel, seker nie vir iemand wat grootgeword het in ‘n huis waar geglo is jy kan nie op ‘n Sondag naaldwerk doen nie. Dan “steek jy die naald in die Here se oog.”

Nog ‘n taboe was Sondagswem. Dit wek ‘n glimlag van herkenning as Jaco Kirsten in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger van 20 Augustus 2005 vertel hoe sy skoonma jare gelede blykbaar die dominee gebel het om te hoor of dit ‘n “sonde” is as hulle op ‘n Sondag swem – hulle het pas ‘n swembad by die huis gebou.

Dominee was paraat met sy antwoord: “Nee, as jy op ‘n Sondag in jou eie swembad swem, is dit nie sonde nie.” Dankie tog!

43

Page 44: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

“Wat sê die dominee?” Hoe min mense deesdae regtig omgee, staan ook hoog op die lys van dinge wat nie meer is soos dit was nie.

Uit later jare onthou ek die stryd oor Sondagsport op televisie. Prof. Wynand Mouton, eweneens ‘n gewaardeerde Bloemfonteinse tydgenoot in die 80’s, was voorsitter van die SAUK toe daardie turksvy geskil moes word. Die druk op hom was geweldig. Eers is klein toegewings gemaak waaroor nóg die kykers nóg die kerk tevrede was. Toe breek die damwal….

Vandag is Sondag inkopiedag, fliekdag, sportdag, ontspandag. Tienduisende voete stroom deur die groot sakesentrums. Lang toue vorm voor bioskope, teaters en sportvelde. Oorde loop oor van plesiersoekers. Sondag is boweal ‘n werkdag. Toonbanke moet beman word. Pompjoggies moet bontstaan. Eiendomsagente hou skouhuise. Kelners draf rond in propvol restaurants.

Dan hoor jy skrikmaak-statistieke. Net ‘n derde van die lidmate (van die NGK se 1,3 miljoen) woon deesdae die oggenddienste by. Net 3,6 persent -- wanneer die mense moeg gewerk, moeg gewoel en moeg gerinkink is -- die dienste in die aand. Wat het dan van hulle geword? Jy vra nog!

Nie net kerke ly skade nie. Wat van gesinne as pa of ma, of albei, op ‘n Sondag moet gaan werk? Watter waardevolle gesinstyd saam gaan nie so verlore nie? Kinders lê en loop vir kwaadgeld rond. Met ‘n sakgeldjie wat skuldig in die hand gestop is, moet hulle maar self sien en kom klaar.

Dit het ‘n gevestigde lewenspatroon geword wat onmoontlik is om om te keer. Maar miskien moet ons nie tog maar net skouers optrek nie. Moet hierdie maatskaplike verskynsel van ons tyd, en die onheile daarvan, nie dalk by navorsers indringender onder die loep kom nie? Die derde van die lidmate wat wel nog soggens in die kerk kom, moet in elk geval weet: ook “kerk” het baie, baie anders geword. Baie meer “modern”. Byderwets. Ontspanne. Daar was ‘n tyd toe ‘n mens skaars sou waag om in die kerk te hoes. Deesdae proes gemeentes vir spitsvondighede, lag hulle te lekker vir grappies en klap hulle hande dat dit dreun om waardering te betuig.

Die verskynsel van die “informele” of “lofprysingsdiens” is duidelik hier om te bly. Dit wen veld. ‘n Mens kritiseer nie, want Christene se spiritualiteite verskil, en dis mos reg so dat elkeen in die kerk sy Here op sy eie manier kan dien. (Lees ook hoofstuk 11: “Ons reformeer, meneer!”)

Maar ‘n moedswillige duiweltjie op die skouer herinner tog aan die jare 50 op Potchefstroom, daardie Sondagaande as nuuskierige koshuisseuns in klein groepies weggedros het om ons in Nieuwestraat oor daardie opgewekte Apostolies se “koddige” doen en late te verstom…

44

Page 45: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Ook die waardige dominee met sy indrukwekkende swart toga het ‘n reliek van die verlede geword – al was die rakleeftyd darem langer as die swartspan se manelle. Hy is vervang deur ‘n “een van ons” -- bepaald nie meer in uniform van die res van die gemeente te onderskei nie.

Dit voel soos gister toe oom Jan Marx in die konsistorie van Berg-en-Dal gereeld vir ds. Jan Slabber voor die stok kry oor sy ontbrekende toga. Ds. Jan het net meewarig geglimlag en onverstoord ongetoga op die kansel geklim. Hy het die tydsgees nie verkeerde gelees nie.

En die togas self? Liewe leser, wat van hulle geword het, is mos geen geheim nie. Party is in mottegif weggebêre. Dalk die meeste pryk Sondae op die preekstoele van die VGKSA. Dit is iets om oor te wonder hoeveel leraars van die dogterkerk die dankbare ontvangers van sulke kado’tjies was toe hul NG broers daarvoor nie meer nut kon vind nie. Waarskynlik nie min nie.

Kanseldrag het ‘n interessante geskiedenis. In die jare 70 was sy gemeente verbaas toe ds. Hannes Cronjé op ‘n Sondagaand (sic) met ‘n swart hemp (maar met ‘n wit das en baadjie) in Fontainebleau se kerk verskyn. Nou waag party avontuurlustiges dit met ‘n T-hemp en tekkies – so kan-nie-traak-nie dat ‘n gholf- klubhuis hulle die deur sou wys. In die gemeente Melkbosstrand is reeds amper twintig jaar gelede, op 23 November 1987, besluit om “uniforme ampsdrag” af te skaf. ‘n Toga is “akademiese drag” , nie “Bybelse drag” nie, het die eerwaarde kerkraad in sy wysheid besluit.

Leraars is tog versoek om wel die “akademiese drag” by die Nagmaal en doop te dra. Op gewone Sondae moet hulle asseblief “netjies, waardig en ordelik in ‘n donker pak en wit das die dienste bywoon.” Net die volgende jaar, 1988, is glo bygevoeg dat leraars in die hartjie van die somer van hul baadjies ontslae mag raak. Gekleurde hemde en dasse het terselfdertyd die groen lig gekry. Al probleem? Dis nêrens genotuleer nie.

Maar Melkbos is ‘n kusdorp. In Berg-en-Dal, Bloemfontein, trek die dominees steeds stemmiger aan, is my indruk. Trouens, enkele jare gelede het ek op ‘n deurreis ‘n Nagmaaldiens daar bygewoon. Prof. Pieter Potgieter het Nagmaal bedien, ‘n statige figuur in sy toga. Aan weerskante van hom was die gemeenteleraars, ds. Gert Terblanche en ds. Jan Lubbe. Ook in hul togas.

Of die togas in Berg-en-Dal nog gereeld uitgehaal word, weet ek nie. Maar ek het darem op Melkbos lekker met my deftige ou gemeente kom spog!

Ook “kanseltaal” is weg. “Ons lees nou uit Jesaja en wel uit hoofstuk 13 van verse 1 tot 10.” “Ek gee vir u Psalm 33, die eerste twee strofes.” Predikante praat mos nie meer so nie. Hulle praat soos ek en jy. Hulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het wat in die ou dae net in dagdrome bestaan het.

45

Page 46: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Een van die ou skool met ‘n bulderende stem was ds. J.J.K. van der Merwe, eers van Kimberley en later van Bloemfontein-Wes. By ‘n begrafnis moes hy by die graf die woord voer. Toe hy agter haar lostrek, skrik ‘n tannie aan wie sy magtige stem onbekend was, haar boeglam. Sy deins terug, struikel en beland ternouernood in die oop graf. “O gottatjie,” roep sy toe uit, “amper val ek in!”

Dis die reine waarheid. My betroubare bron is dr. Tienie Zeeman, wat ‘n klasmaat van ds. J.J.K. was.

Prof. Mias de Klerk kon self die desibels goed opjaag. By ‘n erediens in Berg-en-Dal raak hy in ‘n stadium selfs nog ernstiger as gewoonlik. Sy welluidende stem vul die liturgiese ruimte en klots deur die kerk. Toe wil Lindie, driejarige dogtertjie van ons bure, Chris en Annette van Rensburg, hardop weet: “Hoekom raas hy so? Ek sit dan stil.”

Deesdae is die teenoorgestelde ‘n taamlik algemene klagte: ek kan die dominee nie hoor nie. Hoe gevorderder die kommunikasietegnologie raak, des te meer fluister party, skynbaar in ‘n poging om rustige intimiteit te bewerkstellig.

Ons kerkgeboue self het baie verander – soos die modelle van motors.

Ongetwyfeld verrys nog nuwes wat argitektoniese sierade is. Party is egter ver van sierade. Met respek, van die nuwe ontwerpe herinner sterk aan verbeeldinglose fabrieksgeboue in ‘n nywerheidsgebied. ‘n Mens wonder onwillekeurig watter uitwerking ongelukkige ontwerpe soms het op wat binne die vier mure aangaan.

Die eenvoudige kerkie waarin ek op 16 Februarie 1941 deur ds. G.C. van Schouwenburg op Babanango gedoop is, is in 1916 gebou, twee jaar voordat die gemeente op 25 Mei 1918 selfstandig geword het. Van buite het dit maar baie soos ‘n saaltjie gelyk. Op ‘n pelgrimstog op my spore terug Noord-Natal toe in die middel-80’s was die gewydheid en atmosfeer in die ou plekkie (nou met ‘n yslike toring) egter tasbaar.

Kort daarna het ek die nuus gekry dat dit nie meer moontlik is om ‘n eie leraar te onderhou nie. Daar moet met Melmoth saamgesmelt word. Dit was soos ‘n persoonlike verlies.

Aan my kerk op Potchefstroom – bedoelende hier spesifiek die horingoue gebou -- voel ek na al die jare ewe geheg. Dis ‘n huis van die Here. Jy voel dit aan. Die ontwerp adem dit. Gelukkig val die intieme klein kerkie van die NG gemeente Krugerpark in Skukuza (waar die Van Deventers oorwinter) in dieselfde kader. As jy instap, spoel ‘n rustigheid deur jou.

As ek op Oudtshoorn kom vir die Klein-Karoo-kunstefees, sorg ek altyd dat ek minstens een uitvoering in die statige Moederkerk bywoon. Net om daar in te stap, is klaar ‘n geestelike lafenis, omdat die ontwerp ‘n mens so aangryp. As ‘n goeie koor inval, is dit soos engele wat sing.

46

Page 47: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

In baie moderne kerke wat dekades later opgerig is, ontbreek daardie aangrypende kerk-atmosfeer. Hulle praat nie met jou nie. Dis net baksteen en beton, glas en hout. Dis net vier mure en ‘n dak. In hulle kan jy maar konsert hou, of vergadering, en jy voel nie dat jy dan op heilige grond oortree nie.

Argitekte, hoe kon julle?

Dankie tog, die orrel beklee darem nog in die kerkmusiek ‘n sentrale plek. Maar begeleiding trek tog al hoe meer ‘n ander, joliger, jas aan – en in talle kerke word die voorste banke deesdae uitgeruk om ‘n verhoog in te sit. Dit is die nuwe voorkoms van die liturgiese ruim. Een komplikasie is dadelik deur ‘n orreliste aan die Weskus raakgesien. “Moet die verhoog nie te hoog maak nie,” het sy versoek, “want dan loer die mans onder die vroue se rokke in!”

Van die liedere wat ons nou so uit volle bors sing (o.m. die heerlike Oorwinningslied) was lank saam met die ou Hallelujaboek taboe. Totdat die nuwe Liedboek verskyn het, met baie ou gunstelinge in ere herstel, en met bestaande liedere met eietydse berymings in vloeiende Afrikaans. Allerlei bykomstige nie-amptelike liedboeke is deur ondernemende gemeentes saamgestel.

Kom laat ons sing! Net een krapplek: veral in die informele boekies is Engelse bra volop. Die “stoere Boere” moet walgooi vir ‘n vale! (Lees ook Hoofstuk 12: Moedertaal, geboortegrond)

www.hennievandeventer.com/kerk.html

47

Page 48: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

10. E-MAN-SIPASIE

‘n Witmanskerk. Dit was die NGK baie lank – met die klem op die woorde “wit” soos in “leliewit” en “man” soos in “manalleen”. Gekleurde gesigte is net soms by ‘n begrafnisdiens gesien, of as ‘n nederige takie – benede die koster se status -- verrig moes word. Vroue het “waardig, beskeie en ingetoë” (1 Tim. 2: 9) met hoed, handskoene en sykouse in die kerk gesit. Tee geskink by kerkvergaderings. Gebak en brou vir basaars … en vir kerkorrels

Sy wonder hoeveel kerkorrels in Suid-Afrika nie betaal is deur koesisters wat deur die susters van die Vrouediens gebak is nie, sê my vrou, Tokkie, altyd. Maar by koeksisters, pannekoek poeding en wat nog, daar is die streep getrek. Soos by vloere en vensters was by “nie-blankes” (in die onsensitiewe idioom van die tyd). Die e-man-sipasie (ekskuus, dames, vir die moedswillige woordkeuse!) van die twee groepe “onderhoriges” was geen pynlose, vinnige proses nie. Verreweg nie. Vandag lyk die kerktoneel egter dramaties anders as sê twintig jaar gelede. Ook hierdie omgewing het onherkenbaar verander – jy sal die wêreld nie ken nie!.

Wat die posisie van gekleurdes betref, is alles nog nie honderd persent nie – plek-plek is dit bra ver van honderd persent! In De Doorns sing boer en plaaswerker egter saam in die Oudraai-straatkerk, wat uit sy nate bars. In Moreletapark, Pretoria, word dienste in verskeie inheemse tale gehou. Oral in die land blom geïntegreerde gemeentes. Wat die vrou betref, sien ons hulle op ons kansels en in ons kerkraadsbanke. By die Kweekskool op Stellenbosch swaai ‘n vrou nou die septer. ‘n Mens hoor van ‘n feministiese invalshoek in die vertolking van die Bybel. Vroue met sterk menings oor enigiets onder die son is van die bekendste kerkname in die media. Elke tog begin met ‘n eerste treetjie. In die jare 60 en 70 het vooruitstrewende gemeentes vir huishulpe (toe nog “bediendes” genoem) begin “garagedienste” hou. Mense met goeie harte en netjiese motorhuise het die motorhuise een aand in die week vir ‘n diensie beskikbaar gestel. Nie alle broers en susters was egter oortuig dat dit werklik nodig en ‘n goeie ding is nie. Daar was mos “eie kerke” wat op af-Sondae besoek kon word!

Toe ds. Hannes Cronjé in die middel 70’s in Fontainebleau van die kansel sê “stop dit”, het ek die aand regop gesit. Hy het hom egter nie aan daardie skeptici se kant geskaar nie. Allesbehalwe. Sy beswaar was nie dat alternatiewe kerke beskikbaar was nie, maar dat die Woord van die Here “tussen ou verfblikke” verkondig moet word. Hy het kerksaal toe gemik met die “bediendes”.

48

Page 49: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Nie lank daarna nie was die kwessie landwyd op die lippe in ‘n vuurwarm debat. Prof. F.G. Heymann, ‘n ingenieursprofessor en ouderling in die gemeente Suidoos-Pretoria, was daarvoor verantwoordelik. Hy het baie Sondagmiddagslapies kom versteur met sy oproep dat gemeentes op ‘n Sondagmiddag hul geboue vir hul swart (en vanselfsprekend ook bruin) broers en susters beskikbaar moet stel.

Dr. Flip Theron, destyds predikant van die gemeente Welgelegen, Stellenbosch en later hoogleraar in Teologie, skryf daaroor in Stormkompas: “Hy (prof. Heymann) het (sommige van) ons (dominees se) oë oopgemaak vir die (kom ons stel dit sag) ongerymdheid daarvan dat medegelowiges, soms enkele blokke van ons kerke af, in ‘n garage die gemeenskap van die heiliges moet beoefen, terwyl ons geboue opgerig is met geld wat nie vir ons volk nie, maar vir die Here gegee is (het ons gesê).

“Minstens een dominee sluk sedert prof. Heymann se pleidooi heelwat moeiliker aan die nagmaalsbrood en –wyn omdat die formulier na ‘n beskuldiging begin klink het.”

My koerant, Beeld, het, tot sy eer, tot steun van prof. Heymann tot die debat toegetree. Klaar in die gewete geprik deur ds. Hannes se onverwagte Sondagaand-opmerking ‘n jaar of wat tevore, het ek nie probleme met die Heymann-standpunt en Beeld se geesdrif daarvoor gehad nie.

Maar daardie trek het nog ‘n rukkie gevat, in baie gemeentes seker langer, selfs heelwat langer, as in Fontainebleau. Dié was immers ‘n stedelike en oopkop-gemeente, waarskynlik meer blootgestel aan en gevoeliger vir die behoefte aan sy eie poorte as plattelandse gemeentes en gemeentes in buurte wat nie die voordeel het van lidmate wat hulle in hul beroepe en hul daaglikse handel en wandel in dieselfde mate op die voorposte bevind nie. Tog, saaldienste het mettertyd al hoe meer die plek van garagedienste begin neem.

Toegang tot die kerk self by die gewone eredienste was egter ‘n perd van ‘n ander kleur. In die NG Kerk is hierdie stuk apartheid stadigaan stuk-stuk afgebreek. Vir die APK is dit selfs nou nog die dun ent van die wig. APK-lidmate wat getroue werknemers by ‘n begrafnis wil akkommodeer, moet maar bakhand gaan aanklop by ‘n NG kerk, wat deesdae selfs op die verre platteland daarmee gemaklik is. Werknemers hoef darem al lank nie meer op ‘n eerbiedige afstand by die graf van ‘n NG lidmaat die laaste eer te gaan betuig nie!

Ek dink Berg-en-Dal was ‘n baanbreker toe hy in die middel 80’s vir ds. C.G. (Collins) Gordon, ‘n bruin leraar van die NG Sendingkerk Heidedal, genooi het om ‘n Sondagaand in die gemeente ‘n diens te kom hou.

Ds. Gordon het altyd vertel dat hy eintlik ‘n Skot is, maar dat hy sy Skotse bloed op die rugbyveld uitgesweet het. Hy was so Afrikaans as kan kom, en is wyd in die Bloemfonteinse blanke gemeenskap gerespekteer. My kollega Sarel Venter het soms vergaderings van die (bruin) Heidedalse bestuurskomitee bygewoon, en ds. Gordon het dit dan gewoonlik met Skriflesing en gebed geopen. Volgens Sarel het hy altyd gedink die ou man praat, lees en bid net soos sy een oupa - of soos menige ander bejaarde wit Christen-oom uit ons jonger jare.

49

Page 50: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Die tema was iets oor die sending, hoogdrawend in akademiese Afrikaans geformuleer. Toe kom ds. Gordon en hy preek nie oor die tema wat, ietwat paternalisties, vir hom gegee is nie; hy preek oor die Verlore Seun.

Ek was daardie tyd taamlik voor in die koor as hervormingsgesinde wat my in my koerant en elders nie onbetuig gelaat het oor die noodsaaklikheid van toenadering nie. Die aand was dus, na my oordeel, in ‘n sekere opsig dan ook ‘n toets vir die reg of verkeerd van my oortuiginge.

Toe die besoeker ‘n preek afsteek wat ietwat ongesofistikeerd op die oor val, was ek taamlik verleë, en in die konsistorie het ek my gewaarwording met prof. Potgieter gedeel. Ek onthou in nederige dankbaarheid die ligte rapsie wat ek toe by hom gekry het. Die preek was wel eenvoudig, het hy my op een punt gelyk gegee, maar dit was eg en innig en Skriftuurlik suiwer. Nee, vir hom hom het dit nie ongemaklik gestem nie, en hy is eintlik verbaas dat ek so reageer. ‘n Mens moet maar in die saak, soos in ander, jou voete op die grond hou en nie buitensporige verwagtinge koester nie. Dat daardie vermaning my tot selfondersoek genoop het, moet ek geredelik erken.

Nou is dit 20 jaar later. Baie water het in die see gevloei. Ook in my eie gemeente, Melkbosstrand, aanbid swart, bruin en wit saam. In ons diakenbanke sit ‘n leier wat nie ‘n wit vrou is nie. Die gemeente het ‘n lewendige Moses-aksie (Melkbos Opheffing-, Evangelisasie – en Sendingspan) vir sy bosslaper-gemeenskap, en ‘n informele gekleurde koortjie sing soms in die erediens.

‘n Besoeker skryf : “Watter wonderlike gevoel van warmte en gemoedelikheid het ons ervaar toe ons daar instap……….. ons het gesien daar is ook gekleurdes wat lidmate is. Daar is geen onderskeid gemaak tussen kleur en taal nie.”

‘n Mens kan redeneer of die vordering op die netelige verhoudingsterrein vinnig genoeg is. Maar dat rede tot dankbaarheid bestaan, is gewis. Mense wat weier om die vordering raak te sien, is doodgewoon stiksienig, glo ek.

Die beklemtoning van die “man” in emansipasie was met kwade wil, soos hierbo bely is. Ek wou van my strydvaardige vriendinne laat rooi sien, soos ander man-woorde soos man-ure, bemanning, manhaftig (selfs mangat!) hulle dit ook laat doen. Seker verstaanbaar as ons mans hulle so lank onder die duim gehou het asof ons ‘n Goddelike man-daat daarvoor het!

Ja, ook vir die vrou was haar opmars in die kerk inderdaad ‘n moeisame een. Lank, bitter lank, is sy tot ‘n minderwaardige tweedeklas-burger gereduseer. My generasie was al 40 verby, toe is die kerklike “ampte” en indabas nog nie vir die vrou oop nie. Die Vrouediens was hul enigste eiland.

Dat die moeders des volks hulle hierdie gedwonge onmondigheid so verbysterend lank geduldig en gedwee laat welgeval het, het hierdie waarnemer nogal verbaas. So verbaas soos ek nou nog is dat die Huweliksformulier met sy klem op vroulike onderdanigheid nog nie onder modieuse spykerhakkies vertrap is nie!

50

Page 51: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Toe die vroue in die kerk begin murmureer en vrae vra, was ek dus heimlik aan hulle kant – en ek haal dit nie op om enigiemand se guns te wen nie. Maar die manne het maar net elke keer weer hul harte verhard.

In 1982 kom die eerste “toegewing”: ja, vroue kan maar diakens word. ‘n Medediaken in Berg-en-Dal se vrou het sinies gereageer: “Gmf, ek moes nog maar altyd namens ou Coenraad loop en kollekteer. Nou kry ek net ‘n lisensie om dit te doen!” Baie het seker so gevoel.

Nog agt jaar later val die groot bastionne: die ampte van ouderling en predikant word oopgegooi. ‘n Mens kon verwag dat dinge toe sou begin roer. Maar het dit? Berg-en-Dal was een van die gemeentes wat maar traag was om die manlike eksklusiwiteit in die ouderlingbanke prys te gee, ondanks konstante vrae en vermanings van sekere simpatieke broers by kerkraadsvergaderings.

Miskien die pikantste stukkie geskiedenis van hierdie tyd is ongetwyfeld die geval van Sarah-Jane Wessels. Sy was na aan 60, die NGK se afsnypunt vir legitimasie as leraar, maar het nog nie aan al die vakvereistes voldoen nie. Toe klop sy by die kerk aan. Is ‘n toegewinkie nie moontlik nie?

Die antwoord was nee. Sy hou toe maar aan studeer. Mettertyd het sy aan al die vakvereistes voldoen, En 60 geword. Maar wat die NGK betref, was die saak afgehandel.

Toe kom die Verenigde Geref. Kerk (VGK) haar storie te hore. Sommer tjoef-tjaf, toe is sy gelegitimeer. Prop. Wessels was beroepbaar – ironies genoeg ook in die VGK se susterkerk die NGK! Ons koerante het ons saam met die land se vroue aan hierdie omgekeerde boontjie kry sy loontjie verlekker.

In Augustus 1999 is ‘n konferensie in Johannesburg gehou waar vroue kon mond uitspoel oor die afskepery in die kerk. Dit het gegons. In 2002 sê die Algemene Sinode na aanleiding van hierdie kongres: “ Jammer, jammer, jammer, ons het teen julle gediskrimineer en dit was sondig. Vergewe ons asseblief.”

Of na 2002 vinnig genoeg beweeg is om vir ou onregte te vergoed, is bepaald debatteerbaar. Aikona, sal die meeste vroue seker soos een man (!) verklaar. Dit sal nie maklik wees om hulle verkeerd te bewys nie. Vroulike predikante sukkel inderdaad nog maar om beroepe te kry, en selfs ouderlingsbanke bly in baie gemeentes ‘n sterk manlike vesting.

Feit is dat die gemeente Melbosstrand op 27 Oktober 2002 die eerste keer ‘n vrou hier hoor preek het. Dit was ds. Lindie Claassen van Malmesbury. Sy het nogal ‘n netjiese stekie ingekry. Toe dr. Francois Hanekom daarop wys dat sy die eerste vroulike leraar op Melkbos se kansel is, merk sy droog op: “Ek lees in die Bybel die Here het Adam aan die slaap gemaak toe hy sy ribbebeen gevat het om die vrou te skep. Ek lees nêrens dat hy hom weer wakker gemaak het nie.” Touché!

51

Page 52: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

Maar dat die kerkvrou se stem deesdae binne en ver buite die kerk gehoor word, is waar. Ek het hierbo verwys na “vroue met sterk menings” wat van die bekendste kerkname in die media is. Die meeste lesers kon seker raai dat die naam Christina Landman hier in my agterkop was. Sy is ook die eindredakteur van die Leefstyl-Bybel vir Vroue - ‘n Bybel wat volgens die uitgewers, Lux Verbi.BM “verrassende, verblydende dinge oor en vir vroue” meedeel. Die vrou wat by die Kweekskool dekaan is, is natuurlik prof. Elma Mouton.

Terwyl ek hier skryf, lees ek in Die Burger ‘n onderhoud met Laurie Gaum waarin hy ‘n preek van prof. Mouton as ‘n “ wow-preek” bestempel en dit betreur dat “’n wonderlike stem soos hare” so lank stil was. “Dit was ‘n tragedie vir die kerk.” Haar optredes by die predikantekonferensie in Julie 2005 in Bloemfontein word eweneens deur leraars wat daar was, in gloeiende terme beskryf.

So jammer dat ‘n jong vroulike predikant soos ds. Sunette Pienaar van die gemeente Skuilkrans, Pretoria, dan vir die kerk verlore moet gaan, omdat die kerk na haar sin nie progressief genoeg is oor ras, taal en kultuur nie.

Gelukkig darem loop sy nie soos prof. Irma Kroeze ‘n jaar tevore omdat sy as vrou nie meer welkom voel in die kerk nie, want “God het vir Adam geskep en die vrou as ‘n soort nagedagte” en in die kerk “is dit ‘n nadeel om vroulik te wees”. Daardie onheuglike era is hopelik vir altyd verby.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

52

Page 53: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

HOOFSTUK 11: “Ons reformeer, meneer!”

Nuwe, losser, informeler, gemoedeliker kerk. Pas op vir slaggate: gospelsangers met los tonge, ens. Wees jaloers op kansel, soos Carel Louwrens. Francois H. se waarskuwing oor “hoë balonne”.

HOOFSTUK 12: Moedertaal, geboortegrond

Word Afrikaans ‘n slagoffer? Ontleding van neiging om meer Engels te raak, veral in ons sang. Koninkrykskerk vs. kultuurkerk?

HOOFSTUK 13 Vergeet en vergewe?

Strewe tot kerkhereniging. Die Belydenis van Belhar. Boesakfaktor. Emosie by Sinode. Praktiese probleme. Wat van susterskerke? Wat van APK? Gevaar van eie mense vervreem. Kyk liewer na alternatiewe. Voorbeelde: oorkoepelende sinode; ander gemeenskaplike strukture. Groeiproses is nodig.

HOOFSTUK 14: Eenders maar anders

Stryd om die gays. Probleem gaan nie weggaan nie. Geblinddoek deur ‘n mynveld. Laurie Gaum/Moreleta-debakel. Opvallend: veral Afrikaners en NGK. Kerkmense se kinders. Briewekampanje: sterk drukgroep. Liefde die sleutel. Wat sou Jesus gedoen het? (Hennie S.). Maar gays moet darem ook begrip toon.

HOOFSTUK 15: Ek het ‘n droom

Kerk moet ‘n droom he. Moenie met haelgeweer skiet. SA is ‘n spesiale geval. Fokus op eie voordeur. Geweldige armoede. Gys van Schoor se preek.

HOOFSTUK 16: Dominee, is jy uitgebrand?

Verskynsel van dominees wat uitgebrand raak. Waarom? Wat is oplossings? Vergelyk agenda van Wes-Kaapse sinode. Beroep volgens regte profiel. Benutting volgens gawes. (Misdaadverslaggewer kan nie politiek skryf!)

HOOFSTUK 17: Vol in-mandjie

Kerk vandag is soos ‘n groot sake-onderneming. Lys bestuurskwessies . Moet met ‘n ferm hand bestuur word. Dissiplines, kommunikasie, ens. .

HOOFSTUK 18: Moenie skeur nie!

Lesse van politieke broederstryd in 80’s. Moenie in dieselfde slaggate trap. Pleidooi dat ons bly praat, nie uit loopgrawe op mekaar skiet nie. Mike B. van Geopende Deure se preek. Moet koste bereken – ook van ons misbruik van ons geloofsvryheid en gerief. Getuienis oor kerk se rol in my eie lewe. Predikantekonferensie en daarna.

www.hennievandeventer.com/kerk.html

53

Page 54: Kerkraamwerk - Hennie Van Deventerhennievandeventer.co.za/dev/wp-content/uploads/2016/05/... · Web viewHulle praat ook heelwat sagter, omdat hulle nou mikrofone en luidsprekers het

54