matriekverslag - solidariteit.co.za · slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat...

25
www.solidariteit.co.za 0861 25 24 23 * Solidariteit Navorsingsinstituut Solidariteit Beweging Matriekverslag Saamgestel deur die Solidariteit Navorsingsinstituut Desember 2015 Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en die vooruitsigte vir die matrieks van 2015

Upload: vannguyet

Post on 17-Apr-2018

256 views

Category:

Documents


11 download

TRANSCRIPT

www.solidariteit.co.za 0861 25 24 23*

SolidariteitNavorsingsinstituut

SolidariteitBeweging

Matriekverslag

Saamgestel deur die Solidariteit Navorsingsinstituut

Desember 2015

Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en die vooruitsigte vir die matrieks van 2015

Inhoudsopgawe 1. Inleiding ......................................................................................... 3

2. Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark ................................................ 4

2.1 Die arbeidsmark – oorsigtelik .................................................................... 4

Grafiek 2.1.1: Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in die derde kwartaal van 2015 ......... 4

Grafiek 2.1.2: Werkloosheid in Suid-Afrika van 2008 tot 2015 ..................................... 5

Grafiek 2.1.3: Die werkskoers in Suid-Afrika van 2008 tot 2015 .................................. 6

2.2 Die invloed van opleiding in die arbeidsmark ........................................... 7

Grafiek 2.2.1: Suid-Afrikaanse bevolking ouer as 19 volgens opleidingsvlak .............. 7

Grafiek 2.2.2: Die graad 2-klas van 2004 se vordering deur die skoolstelsel ............... 8

Grafiek 2.2.3: Werkskoers volgens opleidingsvlak: 2008 tot 2015 ..............................10

2.3 Die invloed van opleiding en ouderdom op inkomste ............................ 11

Grafiek 2.3.1: Werkende bevolking van 19- tot 64-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak en maandelikse inkomste ...................................................................12

Grafiek 2.3.2: Werkende bevolking volgens ouderdomsgroep en maandelikse inkomste ....................................................................................................................14

Grafiek 2.3.3: Werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en maandelikse inkomste ..........................................................................15

Grafiek 2.3.4: Werkende mense met ʼn graad as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en maandelikse inkomste ..........................................................................15

Grafiek 2.3.5: Werkende mense van 18- tot 24-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak, inkomste en ouderdom ......................................................................16

3. Uiteensetting van 2014 se matriekuitslae ................................. 18

3.1 Slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat ................... 18

3.2 Uitslae van 2014 se voltydse kandidate – per vak .................................. 20

Grafiek 3.2.1: Maklike vakke ......................................................................................20

Grafiek 3.2.2: Moeiliker vakke ....................................................................................21

Grafiek 3.2.3: Moeilike vakke .....................................................................................22

Grafiek 3.2.4: Matrieks met hoër as 60%, 70% en 80% in sekere vakke ....................23

4. Gevolgtrekking ............................................................................ 25

3

1. Inleiding

Die matrieks van 2015 wil uiteenlopende dinge ná matriek gaan doen. Sommige sal, soos

hulle reeds beplan het, kan gaan studeer, terwyl ander se planne deur hul matriekuitslae in

die wiele gery sal word. Daar sal ook ʼn groep wees wat geen planne vir verdere opleiding het

nie en dadelik sal wil gaan werk – soos hul voormalige skoolmaats wat die skool reeds vóór

matriek verlaat het.

Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is ongelukkig steeds in ʼn swak toestand. Hoewel

werkloosheidsvlakke en ander aanwysers van maand tot maand en van kwartaal tot kwartaal

verander, is daar steeds geen sterk verbetering nie. Werkloosheid is in die algemeen hoog

en onder jong mense nóg hoër. In die arbeidsmark vaar matrikulante nie veel beter as hul

maats wat hul skoolloopbane reeds vroeër beëindig het nie. Soos in vorige jare is die goeie

nuus egter dat mense wat oor ’n tersiêre kwalifikasie in een of ander vorm beskik – al is dit ʼn

diploma of ʼn sertifikaat – wél veel beter in die arbeidsmark vaar as diegene wat slegs oor

matriek beskik.

ʼn Matrieksertifikaat is ongelukkig nie werklik goeie voorbereiding vir die moderne

werksomgewing nie. Een van die redes hiervoor is dat ʼn baie klein getal matrikulante elke

jaar goeie uitslae in sleutelvakke soos Rekeningkunde, Wiskunde, Lewenswetenskap en

Fisiese Wetenskappe behaal. Hierdie groep matrikulante is in elk geval tipies ook die groep

wat nie direk ná skool die arbeidsmark wil betree nie en wat eerder verder wil studeer.

Inkomstedata toon egter ook dat selfs jong mense wat ná verdere studies die arbeidsmark

betree, nie moet verwag om onmiddellik hoë salarisse te verdien nie, hoewel salarisse (veral

vir diegene met verdere opleiding) wel vinnig styg namate ouderdom, en dus ondervinding,

toeneem.

In hierdie verslag word ʼn ontleding van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark gedoen. Van die

inligting verkry uit die 2011-sensus word ook ontleed om te bepaal watter invloed

akademiese kwalifikasies en ondervinding op inkomste het. ʼn Uiteensetting van die

matriekuitslae van 2014 vorm ook deel van die verslag.

4

2. Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark

Suid-Afrika gaan al dekades lank onder uiters hoë werkloosheid gebuk. Hierdie werklikheid

maak dit ook dikwels vir jong mense moeilik om werk te kry aangesien die aanbod van

werkers, veral werkers met min opleiding en ondervinding, die huidige vraag vêr oorskry.

In hierdie afdeling word die arbeidsmark en die wyse waarop opleiding ʼn rol daarin speel,

dieper ontleed.

2.1 Die arbeidsmark – oorsigtelik

Tans word die getal werkende mense in Suid-Afrika van 15- tot 64-jarige ouderdom deur

Statistieke Suid-Afrika op sowat 15,8 miljoen geskat. Alle sektore is hierby ingesluit: formeel,

informeel, landbou en huiswerkers. Grafiek 2.1.1 toon hoe hierdie mense by die totaal van

sowat 55 miljoen mense in Suid-Afrika inpas.

Grafiek 2.1.1: Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in die derde kwartaal van 2015

Die werkende groep maak slegs sowat 43,8% van die totale getal mense van

werksouderdom (15 tot 64) uit. Hierdie koers word die arbeidsopnamekoers of die

5

werkskoers genoem. Die werkskoers gee eintlik ʼn beter idee as die werkloosheidskoers van

die stand van die arbeidsmark.

Suid-Afrika se werkskoers van 43,8% vergelyk swak met die koerse van lidlande van die

Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) wat in 2013 gemiddeld

op 65,3% gestaan het, met Ysland wat met 81,8% die hoogste werkskoers gehad het, en

Turkye (waar baie vroue om godsdiensredes nie werk nie) die laagste koers (49,5%) gehad

het. Die koerse van twee lande wat in talle opsigte soortgelyk aan Suid-Afrika is, Brasilië en

Meksiko, was onderskeidelik sowat 67% en 61% – veel hoër as dié van Suid-Afrika.

As Suid-Afrika die gemiddelde OESO-werkskoers van 65,3% wil ewenaar, moet daar 7,8

miljoen meer werkende mense in die land wees nog voordat enige bevolkingsgroei

ingereken word – dit verg ʼn styging van die huidige 15,8 miljoen tot 23,6 miljoen. Veel meer

mense in Suid-Afrika bereik egter jaarliks werksouderdom as wat aftree of om ander redes

(sterftes inkluis) ophou werk.

Die volgende grafieke toon hoe die werkloosheidskoers, volgens sowel die eng as die breë

definisie, sedert die begin van 2008 gestyg het, terwyl die werkskoers weens die resessie in

2008 afgeneem het.

Grafiek 2.1.2: Werkloosheid in Suid-Afrika van 2008 tot 2015

6

Grafiek 2.1.2 toon duidelik waarom dit in Suid-Afrika beter is om die uitgebreide (of breë)

eerder as die eng definisie van werkloosheid te oorweeg. As slegs die eng definisie beskou

word, lyk die uitwerking van die resessie, wat aan die einde 2008 begin het, nie te erg nie.

Die eng werkloosheidskoers het slegs met minder as drie persentasiepunte van 22,8% tot

25,5% gestyg. Die uitgebreide definisie wys egter baie duideliker hoe die ekonomiese

resessie die arbeidsmark getref het, met ʼn werkloosheidskoers wat met sowat vyf

persentasiepunte van 29,5% tot 34,4% gestyg het.

Grafiek 2.1.3: Die werkskoers in Suid-Afrika van 2008 tot 2015

Grafiek 2.1.3 toon hoe die werkskoers bly daal het selfs aan die einde van die ekonomiese

resessie in September 2009. Van 2010 tot op hede het die koers weer langsaam begin styg,

maar nie genoeg om weer 2008 se vlakke te bereik nie omdat die getal mense van

werksouderdom vinniger styg as die getal mense wat werk het.

Die werkskoers van jong mense (van 15- tot 24-jarige ouderdom) in Suid-Afrika het ook

gedaal, van sowat 17% in 2008 tot 13,4% aldus die nuutste data. Onder hierdie groep jong

mense is die werkskoers egter nie die beste aanwyser om te gebruik nie aangesien ʼn groot

aantal van die 15- tot 24-jarige bevolking nog op skool is of voltyds studeer en voor die hand

liggend nie werk nie. ʼn Beter aanwyser onder jong mense is daardie persentasie wat nie

7

werk nie en ook nie met opleiding besig is nie. In die derde kwartaal van 2015 was hierdie

koers onder Suid-Afrika se 15- tot 24-jariges 29,6%; met ander woorde byna een uit elke drie

jong mense in Suid-Afrika sit en niksdoen.

2.2 Die invloed van opleiding in die arbeidsmark

Suid-Afrika se arbeidsmark word reeds dekades lank oorweldig deur ʼn groot ooraanbod van

mense met geen of min opleiding wat dit moeilik vind om werk te kry of om werk te behou.

Wanneer hierdie mense wel werk kry, is die vergoeding gewoonlik relatief laag. Vergoeding

is, direk of indirek, aan waardetoevoeging (produktiwiteit) gekoppel. Dit gebeur selde dat

mense met lae of geen opleiding soveel waarde kan toevoeg as mense met hoër of beter

opleiding. Daar is dus ʼn sterk verband tussen opleiding en vergoeding.

Hoewel meer jong mense in Suid-Afrika tans sekondêre en tersiêre opleiding as voorheen

voltooi, verlaat ʼn groot aantal steeds die skoolstelsel voordat hulle matriek voltooi het. Dit

bring mee dat opleidingsvlakke in die arbeidsmark nie so vinnig verander as wat andersins

die geval sou kon wees nie. Grafiek 2.2.1 toon hoe die samestelling van die Suid-Afrikaanse

bevolking ouer as 19 jaar volgens opleidingsvlak van 2002 tot 2013 verander het. Die syfers

is op data uit Statistieke Suid-Afrika se jaarlikse Algemene Huishoudingsopnames gegrond.

Grafiek 2.2.1: Suid-Afrikaanse bevolking ouer as 19 volgens opleidingsvlak

8

Daar kan gesien word hoe die onderste twee kategorieë van volwassenes met geen

opleiding of opleiding wat nie sekondêre opleiding (hoërskool) insluit nie, gekrimp het. Die

ander kategorieë het gegroei: mense met matriek (of die ekwivalent daarvan) as hoogste

opleidingsvlak maak nou sowat 28% van die volwasse bevolking uit teenoor die 22% in

2002, terwyl die aandeel van mense met tersiêre opleiding van 10% in 2002 tot 13% gestyg

het. Tersiêre opleiding sluit hier alle kwalifikasies in wat op ʼn hoër vlak as matriek verwerf is

– nie slegs graadstudies nie.

Hierdie verbetering in die opleidingsvlakke van die Suid-Afrikaanse volwasse bevolking is

positief, maar die proses verloop ongelukkig baie stadig. Die 13% van volwassenes wat oor

enige vorm van tersiêre opleiding beskik, is ook steeds gans te laag.

Hoewel dit nie heeltemal ʼn akkurate weerspieëling van die fynere dinamika van die Suid-

Afrikaanse skoolstelsel is nie, toon grafiek 2.2.2 hieronder die graad 2-klas van 2004 se

progressie deur die skoolstelsel tot in matriek in 2014. Die graad 2-klas van 2004 word

gebruik eerder as die graad 1-klas van 2003 aangesien daar bepaalde probleme met die

data vir die graad 1-klasse is.

Grafiek 2.2.2: Die graad 2-klas van 2004 se vordering deur die skoolstelsel

9

Daar was ʼn groot afname in leerlinge van graad 2 tot matriek oor die betrokke tydperk, met

net meer as die helfte van die graad 2-groep van 2004 wat nie aan die einde van die 11 jaar

vir die matriekeksamen ingeskryf het nie.

Leerlinge wat vinniger of stadiger as die norm deur die stelsel vorder, het natuurlik ʼn invloed

op hierdie tipe syfers, wat beteken dat elke jaargroep se syfers nie noodwendig slegs

betrekking het op individue wat in 2004 saam in graad 2 was nie. Ter illustrasie: sowat 9%

van alle leerlinge in 2009 was besig om ʼn graad te herhaal en sowat 13% van alle 16-jariges

het in 2009 nog nie graad 7 voltooi nie. Die syfers oor die grootte van elke jaargroep word

ook beïnvloed deur faktore soos leerlinge wat die skoolstelsel onvermydelik permanent

verlaat weens faktore soos siekte, gestremdheid, emigrasie of sterfte. Deur die jare voeg

immigrasie ook bykomende leerlinge tot die groep toe.

Ten spyte van hierdie voorbehoude oor die data toon dit tog dat slegs ʼn klein groepie, minder

as vier uit tien van die oorspronklike graad 2-klas, wel daarin kon slaag om ʼn

matrieksertifikaat binne die minimum tydperk te verwerf. Hierdie tendens verklaar waarom

die samestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking volgens opleidingsvlak so stadig

verander. ʼn Groot getal mense verlaat skool te vroeg, hoewel diegene wat in uiters

disfunksionele skole is nie daarvoor geblameer kan word indien hulle nie die waarde van ʼn

skoolopleiding kan insien nie.

Nietemin maak mense met matriek as hoogste kwalifikasie wel ʼn groeiende deel van die

volwasse bevolking uit. Ongelukkig is ʼn matrieksertifikaat op sigself nie veel werd in die

arbeidsmark nie. ʼn Matrieksertifikaat is gewis nie ʼn paspoort tot werk wat veel beter

vergoeding as ongeskoolde handearbeid bied nie. Dit is deels as gevolg daarvan dat daar

tans meer mense met matrieksertifikate is as wat ʼn paar dekades gelede die geval was. ʼn

Groter aanbod van mense met matrieksertifikate beteken dat die relatiewe waarde daarvan

afneem, selfs al is daar geen verandering in standaarde op individuele vlak nie.1

In grafiek 2.2.3 word die werkskoers (wat in afdeling 2.1 hierbo bespreek is) volgens

opleidingsvlak uiteengesit.

1 Opleidingstandaarde wat verander, kan natuurlik ook ʼn invloed hê, maar of dit in Suid-Afrikaanse skole oor die afgelope dekade of twee gestyg of gedaal het, val buite die bestek van hierdie verslag.

10

Grafiek 2.2.3: Werkskoers volgens opleidingsvlak: 2008 tot 2015

Die geringe verskil tussen diegene wat minstens graad 7 voltooi het (die groen lyn in die

grafiek); diegene wat tot so ver as graad 11 gevorder het (die pers lyn); en diegene sonder

enige formele opleiding (die blou stippellyn) kan duidelik hier gesien word. Hierdie drie

groepe bly maar deurentyd na aan mekaar, met ʼn werkskoers van ongeveer 30% tot 35% in

die data van die afgelope ses jaar. Enige kwalifikasie laer as matriek beteken dus feitlik niks

vir ʼn persoon se kans om werk te hê nie.

Diegene wat wel matriek as hoogste kwalifikasie het, vaar slegs ʼn bietjie beter, met ʼn

werkskoers wat naby 50% bly vassteek. Hierdie syfers word wel tot ʼn geringe mate

skeefgetrek, want op enige gegewe datum is daar ʼn sekere getal mense wat wel matriek as

hoogste kwalifikasie het, maar nog nie werk nie omdat hulle verkies om verder te studeer.

Nietemin, selfs met dié faktor ingereken sou die werkskoers vir matrieks nie veel hoër styg

nie.

Die groot verskil kan by tersiêre opleiding gesien word. Rondom 75% tot 80% van alle

mense wat oor een of ander vorm van tersiêre opleiding beskik, het wel werk. Tersiêre

opleiding verbeter ʼn persoon se kans op indiensneming tot ʼn baie groot mate – tot ’n veel

groter mate as matriek alleen.

11

Tersiêre opleiding verhoog boonop potensiële verdienste omdat ʼn persoon met meer kennis

en die vermoë om daardie kennis toe te pas, meer waarde kan toevoeg. Die menslike

samelewing is op kennis gebou – dit is die bron van vooruitgang en verbeterde

lewensomstandighede. Mense wat oor die kennis beskik om ʼn verdere bydrae tot hierdie

verbetering te lewer, sal altyd daarvoor vergoed word. Dit is die rede waarom mense soveel

tyd en geld, en potensiële verdienste sal opoffer om wel skool te gaan en verder opgelei te

word. Hulle oordeel korrek dat die moeite, geld en tyd wat hulle in opleiding belê later ʼn

veelvuldige opbrengs sal lewer.

Gesien teen die agtergrond van ʼn moderne kennisekonomie verbaas die hoë

werkloosheidskoers in Suid-Afrika dus nie, aangesien skaars 13% van die volwasse

bevolking oor tersiêre opleiding beskik.

2.3 Die invloed van opleiding en ouderdom op inkomste

Die werkskoers en die kans van mense in Suid-Afrika om werk te kry, vorm die een deel van

die vraag oor wat opleiding vir ’n individu kan beteken. Die ander deel het te make met die

invloed wat opleiding op vergoeding het wanneer ʼn persoon wel werk het.

Om hierdie vraag te help beantwoord is die data van die 2011-sensus oor werkende mense

in Suid-Afrika ontleed. Drie faktore – opleiding, ouderdom en inkomste – is ondersoek.

12

Grafiek 2.3.1: Werkende bevolking van 19- tot 64-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak en

maandelikse inkomste

Dit is duidelik dat opleiding ʼn baie groot invloed het op die inkomste wat ʼn werkende persoon

verdien. Hou ook in gedagte dat hierdie data slegs werkende mense insluit. Indien alle

mense ingesluit word, of hulle nou werk of nie, is die kontras tussen die laer en hoër

opleidingsvlakke nog groter omdat dit dan ook inreken dat mense met minder opleiding meer

sukkel om werk te kry.

Grafiek 2.3.1 toon die volgende:

• Minder as 5% van alle werkende mense wat geen opleiding het nie, het in 2011 meer

as R6 400 per maand verdien. Dieselfde geld vir werkende mense met voltooide of

onvoltooide laerskoolopleiding.

• Op onvoltooide sekondêre vlak, maar sonder ander naskoolse opleiding, is

inkomstevlakke ietwat hoër, met sowat 10% van dié groep wat in 2011 meer as

R6 400 per maand verdien het. Hierdie mense is waarskynlik funksioneel geletterd en

het basiese syfervaardighede wat sommige van hulle in staat stel om iets meer as

ongeskoolde handearbeid te verrig.

• Onder werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie (met geen ander

diploma of sertifikaat nie) word die eerste groot verskil in inkomste bespeur: Bykans

13

30% het in 2011 meer as R6 400 per maand verdien en meer as 13% het meer as

R12 800 per maand verdien.

In afdeling 2.2 is aangetoon dat matriek alleen nie ʼn baie groot invloed het op ʼn

persoon se kans om werk te hê nie, maar hier is dit tog merkbaar dat matriek wel ʼn

invloed op inkomste het wanneer ʼn matrikulant wel werk kry.

• Die resultate van die volgende vlak mag ietwat verrassend wees. Die vlak het

betrekking op mense wat nie matriek het nie, maar wat wel een of ander tersiêre

diploma of sertifikaat het. Byna 50% van hierdie mense het in 2011 meer as R6 400

per maand verdien en meer as ʼn kwart het meer as R12 800 per maand verdien.

Daar is selfs ʼn beduidende groep van 8,1% wat meer as R25 600 per maand verdien

het. Hierdie groep het baie uiteenlopende kenmerke aangesien die gehalte en nut

van die onderskeie sertifikate en diplomas verskil. Dit is egter duidelik dat al verwerf

hulle nie matriek nie, diegene wat wel ʼn ander kwalifikasie verwerf tog goeie

vooruitsigte kan hê. Veral wanneer hierdie groep met die groep wat slegs ʼn

onvoltooide sekondêre skoolloopbaan het vergelyk word.

• Die groep werkende mense wat oor matriek, asook ʼn sertifikaat of diploma beskik, is

die eerste groep waar meer as 50% ʼn inkomste van hoër as R6 400 per maand

verdien het. Die inkomste van meer as 30% het meer as R12 800 per maand beloop

en 9,1% het meer as R25 600 per maand verdien.

• Die volgende groep, mense met universiteitsgrade, hoër diplomas of gelykwaardige

kwalifikasies, toon die grootste sprong in inkomstevlakke. Byna 80% van hierdie

groep het in 2011 meer as R6 400 per maand verdien. Meer as die helfte het meer as

R12 800 per maand verdien en byna ʼn kwart het meer as R25 600 per maand

verdien. ʼn Beduidende 7% het selfs meer as R51 200 per maand verdien.

• Die volgende opleidingsvlak – ʼn honneursgraad of hoër – toon ook ʼn beduidende

styging in inkomstevlakke. Meer as 85% van hierdie groep het in 2011 meer as

R6 400 per maand verdien; sowat 68% meer as R12 800 per maand; 38% meer as

R25 600 per maand; en sowat 16% meer as R51 200 per maand.

Oor die algemeen toon hierdie data presies wat te verwagte is. Hoe meer tyd (en geld)

iemand aan opleiding afstaan, hoe groter is die vergoeding daarvoor. Daar is natuurlik

uitsonderings op hierdie beginsel, maar sulke uitsonderings is gering.

Opleidingsvlakke is een van die belangrikste faktore wat bepaal wat ʼn persoon in staat is om

te produseer en wat hy of sy gevolglik as inkomste kan kry. Ervaring – direkte

werksondervinding sowel as algemene lewenservaring – is die ander baie belangrike faktor.

Daar is ongelukkig geen groot, oorkoepelende datastelle wat direkte werksondervinding

14

meet nie, maar ouderdom kan gebruik word om die uitwerking van werk- en lewenservaring

te beraam. Iemand wat 40 jaar oud is, kan maklik meer as twee dekades se

werksondervinding hê, terwyl dit onwaarskynlik is dat ʼn 18-jarige enige noemenswaardige

werksondervinding sal hê.

Grafiek 2.3.2: Werkende bevolking volgens ouderdomsgroep en maandelikse inkomste

Hierdie grafiek toon die invloed wat ouderdom op inkomste het. Tot en met die groep van 40

tot 49 jaar is daar ʼn sterk progressie van stygende inkomste namate mense ouer word. Dit

begin bevestig watter invloed ondervinding op inkomstepotensiaal kan hê. Hierdie grafiek

bevat egter eintlik te veel data om ʼn baie duidelike aanduiding van die effek van ouderdom

en ondervinding op inkomste te gee omdat dit alle opleidingsvlakke saamgooi.

Die volgende twee grafieke toon die groot verskille wat opleiding en ouderdom saam

meebring duideliker aan. Die eerste grafiek toon slegs die inkomstekategorieë van mense

met matriek as hoogste kwalifikasie in verskillende ouderdomsgroepe aan en die

daaropvolgende grafiek toon die inkomstekategorieë vir mense met ʼn graad of ekwivalente

kwalifikasie aan.

15

Grafiek 2.3.3: Werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en

maandelikse inkomste

Grafiek 2.3.4: Werkende mense met ʼn graad as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en

maandelikse inkomste

16

Die kontras tussen die inkomstepotensiaal wat ʼn graad bo ʼn matrieksertifikaat bied, is hierbo

vir elke ouderdomsgroep duidelik. In die ouderdomsgroep van 23 tot 29 jaar het byvoorbeeld

slegs sowat 18,4% van die werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie meer as

R6 400 per maand in 2011 verdien. In dieselfde ouderdomsgroep het sowat 67,3% van

diegene met ʼn graad as hoogste kwalifikasie meer as R6 400 per maand verdien.

Albei grafieke toon ook duideliker aan watter invloed ondervinding kan hê, met nie eens 10%

van die groep van 19- tot 23-jariges met matriek as hoogste kwalifikasie wat meer as R6 400

per maand verdien het nie, terwyl byna 30% van die 30- tot 39-jariges met matriek as

hoogste kwalifikasie meer as R6 400 verdien het. Die kontras is selfs groter wanneer die

verskille volgens ouderdom in grafiek 2.3.4 beskou word. Hierdie tendense kan op laer

ouderdomme ook gesien word en word in die volgende grafiek uiteengesit.

Grafiek 2.3.5: Werkende mense van 18- tot 24-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak,

inkomste en ouderdom2

2 Die grafiek toon die inkomste in 2011 (volgens VPI aangepas tot 2014) op die 75ste persentiel aan. Met ander woorde, 75% van elke groep verdien minder as die aangeduide bedrag en 25% verdien meer. Op die hoër opleidingsvlakke word die laer ouderdomme nie ingesluit nie aangesien daar te min 18-jariges is wat reeds sertifikate of diplomas verwerf het; te min 18- en 19-jariges wat reeds ʼn graad verwerf het; en daar te min 18- tot 21-jariges is wat reeds ʼn honneursgraad of hoër verwerf het om betroubare resultate in die data te toon.

17

Hier kan duidelik gesien word dat daar vir elke opleidingsvlak, selfs net met een jaar verskil

in ouderdom, alreeds groot verskille kan wees, veral op die hoër opleidingsvlakke. Op elke

opleidingsvlak styg inkomste namate ouderdom (en dus ervaring) toeneem. Kyk byvoorbeeld

na die groep met matriek plus ʼn sertifikaat of diploma as hoogste kwalifikasie (die groen lyn).

Die werkende 20-jariges in hierdie groep se inkomste op die 75ste persentiel is sowat

R6 000, maar vir die 24-jariges met soortgelyke kwalifikasies is dit meer as R11 000.

Hierdie data toon dat dit ongetwyfeld waardevol is om selfs op ʼn jong ouderdom ʼn

kwalifikasie hoër as matriek te verwerf. Vergelyk ook byvoorbeeld die inkomsteprofiele van

24-jariges wat slegs matriek het en diegene wat matriek plus ʼn sertifikaat of diploma het. Die

24-jariges wat slegs matriek het, se inkomste op die 75ste persentiel is skaars meer as

R5 500 per maand, terwyl dit vir diegene wat matriek plus ʼn sertifikaat of diploma het, meer

as R11 000 is.

Die data toon wel dat diegene wat pas afgestudeer het nie moet verwag om sommer met die

intrapslag by hul eerste werk dieselfde salaris te verdien as ouer mense met meer

ondervinding nie; dit toon egter wel dat vergoeding oor die algemeen redelik vinnig styg

namate ondervinding toeneem, veral op die hoër kwalifikasievlakke.

18

3. Uiteensetting van 2014 se matriekuitslae

In 2014 was daar ʼn geringe daling in die matriekslaagsyfer van 78,2% in 2013 tot 75,8%.

Hierdie verandering is nie veelbeduidend nie aangesien die persentasie van matriekleerlinge

wat slaag op sigself nie ʼn goeie maatstaf vir die werklike gehalte van die Suid-Afrikaanse

skoolstelsel is nie. Daar is ander probleme wat veel meer aandag behoort te geniet, soos die

groot getal leerlinge wat die skoolstelsel voor matriek verlaat; die relatief lae slaagvereistes;

en die vraag of die meeste matrieks wat slaag, wel vir tersiêre opleiding voorberei is. In die

vorige afdeling is reeds uiteengesit hoe matriek nie meer werklik vir mense ʼn beduidende

voorsprong in die arbeidsmark gee nie.

3.1 Slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat

Een van die grootste probleme met die matriekeksamen is dat die slaagvereistes vir ʼn

matrieksertifikaat eenvoudig te laag is. Dit beroof die sertifikaat van baie van sy potensiële

waarde. Matrikulante hoef slegs een amptelike taalvak op huistaalvlak met 40% of hoër te

slaag. Twee ander vakke, buiten Lewensoriëntering, moet met 40% of hoër geslaag word. ʼn

Verdere drie vakke moet met 30% of hoër geslaag word en een vak kan gedruip word. Die

laagste eenvoudige gemiddelde slaagpunt wat ʼn matrikulant dus kan hê, is 30%, hoewel die

laagste ware slaagpunte realisties nader aan 40% sal wees. Selfs ʼn gemiddeld van 40% is

egter te laag om van enige waarde in die beroepswêreld of as voorbereiding vir tersiêre

studies te wees. Die feit dat die slaagpunt so laag is, veroorsaak ʼn verlies aan vertroue in die

standaard van alle matrikulante se kwalifikasies, selfs dié wat goeie punte behaal.

Die waarde van ʼn matrieksertifikaat wissel nie slegs volgens die gemiddelde punt wat behaal

word nie, maar ook volgens die vakke wat geneem is. In die geval van sommige van die

“maklike” vakke is daar elke jaar haas geen druipelinge nie. Dit dui daarop dat die inhoud,

vraestelle en/of assessering van die betrokke vakke op so ʼn lae standaard is dat ʼn slaagpunt

geen aanduider van werklike aanleg of vaardigheid in die betrokke vakgebied is nie, ongeag

die punt wat behaal is. Een van die redes daarvoor dat soveel mense met matrieksertifikate

sukkel om werk te kry, of min verdien indien hulle wel werk kry, is dat hulle nie die regte

vakke geneem het nie of nie die vereiste standaard in die regte vakke behaal het vir die

sertifikaat om aan te toon dat hulle werklik iets nuttigs tydens hul skoolloopbane aangeleer

het nie.

19

Die volgende tabel illustreer die dilemma. Dit toon ʼn basiese vakkeuse vir ʼn matrikulant,

asook die persentasie van 2014 se matriekkandidate wat die vakke geneem het en dit op die

30%- en 40%-vlakke geslaag het. Die persentasies in vetdruk toon op watter vlakke ʼn

matrikulant watter vakke moes slaag om ʼn matrieksertifikaat te verwerf.

Vakkeuses % voltydse kandidate wat in 2014 met 30% of hoër geslaag het

% voltydse kandidate wat in 2014 met 40% of hoër geslaag het

Afrikaans Huistaal 99,8% 96,9% Engels 1ste Addisionele Taal 97,7% 82,8% Toerisme 97,5% 83,2% Lewensoriëntering 99,6% 97,8%

Wiskundige Geletterdheid 84,1% 59,5%

Besigheidstudies 77,9% 53,8%

Rekeningkunde 68,0% 44,3%

In die geval van ʼn matrikulant wat die vakkeuse hierbo uitgeoefen het, was Besigheidstudies

die grootste struikelblok. Slegs 77,9% van die ongeveer 207 659 voltydse kandidate wat dié

vak in 2014 geskryf het, het dit met 30% of hoër geslaag. Die volgende struikelblok was

Engels 1ste Addisionele Taal se 82,8%-slaagsyfer op die 40%-afsnypunt.

Die algehele slaagsyfer van 75,8% in 2014 is naastenby dieselfde as die slaagsyfer vir die

vak wat in hierdie voorbeeld as die grootste struikelblok vir ʼn “maklike” matriek hierbo

uitgewys is – presies wat te verwagte is. Dit dui daarop dat beter of swakker slaagsyfers in

enkele vakke vir ʼn groot verandering in die algehele matriekslaagsyfer verantwoordelik kan

wees.

Al die vakke op die lys het wel waarde, maar nie noodwendig waarde vir die arbeidsmark nie.

Goeie taalvaardighede is ʼn vereiste vir byna enige taak of enige soort werk, maar 40% in ʼn

taal is beslis nie “goed” nie. Om wiskundig geletterd te wees, is ook belangrik, maar ook nie

op ʼn 30%- of selfs ʼn 40%-vlak nie. Dié skoolvakke bied goeie agtergrondkennis maar rus ʼn

matrikulant nie werklik toe met vaardighede vir die arbeidsmark of vir tersiêre opleiding nie.

20

3.2 Uitslae van 2014 se voltydse kandidate – per vak

In die volgende grafieke word die uitslae van die matriekvakke wat deur ʼn beduidende getal

leerlinge geneem is in meer besonderhede uiteengesit. Dit sluit slegs die uitslae van voltydse

kandidate in. Leerlinge wat ʼn paar vakke herhaal het, word dus uit hierdie syfers gesluit.

Daar is ʼn duidelike onderskeid tussen drie breë groepe vakke – hier onderskei as “maklik”,

“moeiliker” en “moeilik”.

Die eerste groep, wat in grafiek 3.2.1 getoon word, bestaan uit die “maklike” vakke waarin

feitlik geen leerlinge druip nie, terwyl die meerderheid 50% of meer behaal. Dit bestaan uit

die huistaalvakke en Lewensoriëntering. Hierdie vakke is noodsaaklik maar dit bied leerlinge

geen bemarkbare vaardighede nie, behalwe dalk vir die klein minderheid wat werklik in

taalvakke uitblink.

Grafiek 3.2.1: Maklike vakke

In die groep hierbo is die dinamika van Afrikaans en Engels ietwat anders as dié van die

ander tale, met ʼn veel groter proporsie leerlinge wat 40% tot 50% behaal het vergeleke met

leerlinge wat die ander tale geskryf het. Nog ʼn uitsondering is Lewensoriëntering, waarin ʼn

21

baie hoër proporsie leerlinge meer as 80% behaal het vergeleke met die meeste

huistaalvakke.

Dit kom voor asof die huistaalvakke, met die moontlike uitsondering van Afrikaans en Engels,

nie werklik met die nodige erns aangebied en geassesseer word nie aangesien bykans geen

leerlinge minder as 50% in hierdie vakke behaal het nie. Dit is feitlik gewaarborg dat alle

matrikulante hierdie vakke met 40% of hoër sal slaag.

Die tweede groep vakke is dié wat ietwat moeiliker is; waarin ietwat meer leerlinge druip en

die grootste groep ongeveer 40% tot 60% behaal. Dit is vakke soos Toerisme,

Rekenaartoepassingstegnologie en Verbruikerstudies. Hierdie vakke is ietwat meer relevant

vir moontlike werk- of studiedoeleindes as die vakke in die eerste groep maar nog steeds

geen gewisse paspoort tot ʼn werksgeleentheid nie.

Grafiek 3.2.2: Moeiliker vakke

Ondanks ʼn mate van afwyking in die uitslae wat in hierdie vakke behaal is, volg hulle

breedweg tog dieselfde patroon, waar minstens twee-derdes van die matriekleerlinge wat

hierdie vakke neem dit met 40% of hoër slaag.

Die derde groep bestaan uit die vakke wat werklik ʼn verskil ten opsigte van werksvooruitsigte

of voorbereiding vir tersiêre studies kan maak – die sogenaamde “moeilike” vakke.

22

Ongelukkig, maar nie verbasend nie, is hierdie groep ook die vakke waarvan die uitslae die

swakste is, met ʼn beduidende getal leerlinge wat nie 30% behaal nie en dikwels ook ʼn

meerderheid wat nie 40% kan behaal nie. Slegs ʼn baie klein persentasie behaal 70% of

meer in hierdie vakke.

Grafiek 3.2.3: Moeilike vakke

Wiskundige Geletterdheid en Geskiedenis is tot ʼn mate uitsonderings in die groep “moeilike”

vakke in grafiek 3.2.3 hierbo, omdat die groep leerlinge wat nie 30% kon behaal nie relatief

klein is. Die waarskynlike rede vir die relatief klein groep wat nie 30% kon behaal nie is dat

die vakke wel makliker as die ander vakke in die groep is.

In die geval van die oorblywende vakke in hierdie groep kon ongeveer die helfte van die

matriekleerlinge wat daarvoor ingeskryf het, nie 40% behaal nie. Wat veral kommerwekkend

is, is dat bykans 47% van die leerlinge wat Wiskunde geskryf het en byna 40% van die

leerlinge wat Fisiese Wetenskap geskryf het, nie eens 30% kon behaal nie.

Bostaande grafieke toon die uitslae van matrikulante in verhouding tot die grootte van die

groepe wat die vakke geskryf het, maar dit is ook relevant om die absolute getalle van

leerlinge wat spesifieke vakke op ʼn aanvaarbare vlak geslaag het, te ondersoek. Grafiek

23

3.2.4 toon die getal voltydse matrikulante wat in 2014 ʼn punt van 60% of hoër in sleutelvakke

behaal het in verhouding tot die totale matriekgroep.

Grafiek 3.2.4: Matrieks met hoër as 60%, 70% en 80% in sekere vakke

Dit is uit hierdie grafiek duidelik dat die skoolstelsel se uitset van matrikulante wat werklik

goed in hierdie sleutelvakke presteer, uiters gering is. Dieselfde data word in die volgende

tabel persentasiegewys uitgedruk:

Uit die 532 860 voltydse matrieks

van 2014

Uit die 1 109 201 graadtwees

van 2004

60% + 70% + 80% + 60% + 70% + 80% +

Rekeningkunde 3,9% 2,3% 1,2% 1,9% 1,1% 0,6%

Lewenswetenskap 8,9% 4,6% 1,8% 4,3% 2,2% 0,9%

Wiskunde 5,7% 3,1% 1,4% 2,7% 1,5% 0,7%

Fisiese Wetenskap 3,9% 2,3% 1,2% 2,0% 1,1% 0,5%

Skaars een uit elke 150 graadtwees van 2004 kon in 2014 ʼn punt van 80% of hoër in Fisiese

Wetenskap, Wiskunde of Rekeningkunde in matriek behaal. Skaars meer as een uit elke 100

kon ʼn punt van 70% of hoër behaal in hierdie vakke. Selfs met die afsnypunt vir “goeie

prestasie” verlaag tot 60% lyk die situasie nie veel beter nie.

24

Ondanks die herhaaldelike amptelike gejuig oor slaagsyfers is bogenoemde jammerlike

persentasies jaar na jaar die skoolstelsel se uitset. Uit hierdie klein poel matrikulante moet

elke jaar se inname van goed geskoolde beroepsrigtings soos ouditeure, ingenieurs, dokters

en mense in ander tegniese beroepsrigtings opgelei word. Dit is goeie nuus vir die matrieks

wat wel in hierdie klein groep val omdat hul vaardighede in aanvraag is, maar slegte nuus vir

Suid-Afrika se maatskaplike en ekonomiese vooruitsigte in die geheel.

25

4. Gevolgtrekking

Sonder verdere opleiding sal die matrieksertifikate van die grootste groep van 2015 se

matrikulante ongelukkig van min waarde wees. ʼn Matrieksertifikaat is wel ʼn administratiewe

vereiste vir die meeste soorte tersiêre studie en word ook benodig vir toelating tot sommige

beroepe. Verder is dit prakties van geringe waarde. Mense met ʼn matrieksertifikaat kry wel

ietwat makliker werk as mense daarsonder, maar nie naastenby tot dieselfde mate as mense

met hoër kwalifikasies nie. Mense met ʼn matrieksertifikaat wat wel werk het, verdien oor die

algemeen nie veel meer as diegene sonder matriek nie.

Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is steeds onvriendelik teenoor jong mense, selfs al het

hulle ʼn matrieksertifikaat verwerf. Die moderne ekonomie vereis meer – méér kennis én die

vermoë om daardie kennis toe te pas.

Dit gaan waarskynlik moeilik wees vir diegene wat hul matrieksertifikate in 2016 ontvang het

en dadelik wil begin werk om werk te kry – veral ʼn werk wat goeie vergoeding bied. Natuurlik

word niemand hiermee afgeraai om wel vir werk, énige werk, te soek nie. Enige werk is beter

as om te sit en niksdoen. Die beste opsie bly egter om verdere opleiding te kry. Selfs

diegene wat nie matriek slaag nie en nie kans sien om dit te herhaal nie, kan hulle verder

bekwaam aangesien naskoolse opleiding nie aan ʼn universiteit hoef te wees nie. ʼn Sertifikaat

of diploma in talle tegniese en beroepsgerigte rigtings, wat aan ʼn betroubare instelling

verwerf is, kan selfs meer waarde as ʼn matrieksertifikaat bied.