uitgenooi-reeks · 2020. 1. 13. · god nooi jou uit. god forseer jou nie. verstaan dít en jy...

11

Upload: others

Post on 24-Jan-2021

6 views

Category:

Documents


0 download

TRANSCRIPT

  • 32

    DR. ZANDER VAN DER WESTHUIZEN PSALM 23

    UITGENOOI-REEKS19 - 25 JANUARIE 2020

    Dit is heerlik om ‘n uitnodiging te ontvang. Die afgelope vakansie se uitnodiging om Kersfees by ‘n gedekte tafel aan te sit, is nog vars in die geheue. ‘n Uitnodiging laat jou welkom voel. Dit sluit jou in. Dit laat jou voel iemand gee vir jou om. Dit plaas nie druk op jou nie. Jy is dadelik meer gemaklik om deel te neem. Jy koop makliker in. Jy beweeg binne ‘n verhouding van liefde. Jy voel geseënd.

    Die oomblik as iets geforseerd is, skram jy weg. Jy voel nie lus vir iets wat op jou afgedwing word nie. Skielik wonder jy oor die agenda. Wie wil iets doen wat jy nie self kon kies nie?

    God nooi jou uit. God forseer jou nie. Verstaan dít en jy verstaan die hart van die evangelie!

    Ons jaartema vir 2020 is “Uitgenooi”. Die bekendste psalm is ons leuse vir die jaar. Vers vyf sê die Here laat jou by ‘n feesmaal aansit. Hy dek vir jou ‘n tafel - ‘n feestafel! Jy is die gas en Hy is die gasheer! Die hele psalm vertel ons wat die gasheer alles vir jou doen. Hy is soos ‘n herder wat vir jou alles gee wat jy nodig het. Hy lei jou na plekke waar jy kan rus. Hy gee vir jou krag en vrede. Hy is by jou as dinge moeilik gaan. Jy is nooit alleen aan sy tafel nie. Jou vyande is selfs jaloers daarop. Jy is welkom in sy huis. Hy laat jou besef: jy het tuisgekom.

    Die Here nooi jou uit om hierdie jaar aan sy tafel te sit. Gasvryheid is die hart van die evangelie: eet en drink, lag en huil, geluk en voorspoed, veiligheid en tuiskoms.

    Mag jy hierdie jaar die uitnodiging aanvaar om aan God se tafel te sit. Mag jy besef wat die uitnodiging oor die gasheer sê. Mag jy tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

    GOD NOOI JOU UIT

    Hoe laat ‘n uitnodiging jou voel?

    Wat is die verskil tussen ‘n uitnodiging en ‘n gedwonge opdrag?

    Wat tref jou in Psalm 23? (Probeer om die Psalm te lees binne die tafel-metafoor en nie binne die herder-metafoor nie.)

    Wat doen die gasheer in die psalm?

    Waaraan herinner etes, tafels en kuiers jou? Assosieer jy dit met God? Hoe kan jy “ryk” wees aan goeie dade?

    Wat beteken dit om die Here se uitnodiging te aanvaar?

    Kan die jaartema “Uitgenooi” hierdie jaar vir jou iets beteken?

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

  • 54

    Lukas verwys dikwels in sy evangelie na maaltye waarby Jesus betrokke was. Hy vertel onder meer van Jesus se ete by Levi (5:27-32), Simon die Fariseër (7:36-50) en twee ander belangrike Fariseërs (11:37-54; 14:1-24).

    Ons verneem ook van Jesus se nagmaal saam met die dissipels kort voor sy kruisiging (22:14-38), die ete saam met die twee mense van Emmaus kort na sy opstanding (24:13-35) en die opgestane Jesus se ete in die teenwoordigheid van sy dissipels (24:41-49). Dan is daar ook nog die ete wat Jesus self vroeër vir die groot skare voorsien het (9:10-17), asook die etes by Marta en Maria (10:38-42) en Saggeus (19:1-10).

    ‘n Bekende Duitse Nuwe-Testamentikus, Joachim Jeremias (1979) vestig ons aandag daarop dat maaltye ’n belangrike rol speel in Jesus se bemiddeling van die koninkryk van God aan mense.

    Deur sy tafelgemeenskap met sondaars en sosiaalveragtes, distansieer Jesus Hom nie net van die heersende godsdienstige status quo binne die samelewing nie, maar wys Hy ook op ’n sigbare manier hoe die aard en inhoud van God se nuwe wêreld daar uitsien.

    Lukas maak dit deur die loop van sy evangelie duidelik dat Jesus ’n godsdienstige “spelbreker” is. Een van die sigbare maniere waarop Jesus sy misnoeë te kenne gee met die verstarde godsdienstige sisteem van sy dag, is deur saam met “onwelkome tafelgaste” te eet, saam met mense wat nie geskik is vir deelname aan amptelike godsdienstige aktiwiteite nie.

    Die titel “sondaar” het onreinheid binne die Joodse wêreld simboliseer. As gevolg van die oortreding van wette, asook die voorskrifte rondom kos en ander reinheidswette, is hierdie sondaars as onbevoeg beskou en daarom uitgesluit.

    Godsdienstige Jode het geweier om saam met onrein mense te eet. Hulle was bang dat hulle kon “aansteek”.

    Tog is Jesus so dikwels in die geselskap van hierdie sosiaal uitgeworpenes opgemerk dat Hy later negatief geëtiketteer is as “’n vraat en wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars” (Luk. 7:31-35). Deur sy bereidwilligheid om saam met enigeen te eet, het Jesus sulke openbare maaltye benut as geleenthede om die bestaande godsdienstige grense te verskuif en ’n nuwe ingesteldheid teenoor alle mense sigbaar uit te beeld.

    DS. KARIN STEYN LUKAS-EVANGELIE – ETES

    UITGENOOI-REEKS 26 JANUARIE - 1 FEBRUARIE 2020

    GASVRYHEID

    Watter maaltyd in die Lukas-evangelie lê jou na aan die hart?

    Watter rol speel etes in ons samelewing?

    Watter effek het al die reëls en wette op die Joodse samelewing gehad?

    Op watter manier word mense vandag uitgesluit?

    Hoe hanteer die kerk “ander” mense?

    Wat is ons rol as Christene teenoor uitgeworpenes?

    Deel ‘n mooi etenstafelkuier waarby jy was met mekaar.

    Op watter manier spreek gasvryheid julle die week aan?

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

    Deur sy eie gee van Goddelike genade aan sondaars rondom die etenstafel, bewys Jesus dat Hy inderdaad die geneser van die siekes is (5:29-32).

    Hy verander ook die aard van die maaltye waarby Hy betrokke is vanaf seremonies (as herhaaldelike gebeure ter instandhouding en bevestiging van bepaalde werklikhede) na rituele (as status transformasies – van rein na onrein).

    Hoe sal ons wêreld vandag lyk as ons met dié nuwe ingesteldheid teenoor ander leef?

  • 76

    Vir gelowiges is die nagmaalstafel by uitstek die plek waar gasvryheid gesien en gewys word. Dit is dié plek waar vreemdelinge verwelkom word. Die tekens van brood en wyn herinner ons aan ‘n God wat ons nader nooi, wat ons in sy wêreld innooi. Wanneer Jesus die brood aan die nagmaalstafel breek, herinner Hy sy volgelinge aan sy teenwoordigheid by hulle. Hy vermaan hulle om Hom nie te vergeet nie.

    Dit is daar waar Hy ook vir hulle sê: Julle gaan My in mekaar ontmoet. Wanneer julle weer saam is en weer saam eet, gaan Ek by julle wees. En kyk goed na mekaar – en dan sal julle My raaksien.

    Ons word genooi om teenwoordig te wees aan God se tafel. Dit beteken jy sien, hoor, voel, ruik en proe alles op die tafel. Dit vra jou om met alles in jou “hier te wees”. Om ten volle teenwoordig te wees, is om met jou hele wese die Gasheer te beleef. Wanneer ek ten volle teenwoordig is, kan ek die gasheer se teenwoordigheid ten volle inneem. Dan vind die wonderwerk plaas: verandering!

    Die wonder van die nagmaalstafel is dat dit ’n plek van transformasie is. Ons kom daar as vreemdelinge aan, maar ons vertrek as God se vriende. Aanvanklik is ons die gaste, maar dan word ons weggestuur om, as gasheer en gasvrou, ander mense in God se nuwe wêreld te verwelkom. Wanneer ons Christelike gasvryheid aan ander betoon, neem ons deel aan God se transformerende werk op aarde. Ons teenwoordigheid in die wêreld maak dat die Gasheer deur ons teenwoordig is.

    Dit is dikwels vir ons moeilik om bloot net teenwoordig te wees. Ons gedagtes is maklik op ander plekke. Ons leef ook dikwels in die verlede of in die toekoms. Dan mis ons wat “nou” gebeur.

    God nooi jou uit om aan die nagmaalstafel te kom sit. Hy nooi jou om Hom in die “nou” as die teenwoordige Gasheer te beleef. Dit sal jou verander!

    DR. ZANDER VAN DER WESTHUIZEN LUKAS 22:7-23

    2 – 8 FEBRUARIE 2020 UITGENOOI-REEKS

    TEENWOORDIGHEID

    Wat beteken teenwoordigheid vir jou? Hoe dink jy daaroor as iemand jou vra “om teenwoordig te wees”?

    Hoe is God teenwoordig aan die nagmaalstafel?

    Jesus doen moeite om die ete saam met sy dissipels voor te berei. Wat sê Jesus daaroor vir ons wat betref die nagmaal?

    Hoe is die nagmaal gekoppel aan jou eie teenwoordigheid by die Gasheer?

    Wat trek jou “teenwoordigheid” weg by die tafel of in jou lewe in die algemeen?

    Hoe kan jy meer “teenwoordig” leef?

    Hoe kan jy seker maak jy beleef die Gasheer se teenwoordigheid in jou lewe?

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

  • 98

    Jesus word na ‘n ete genooi. ‘n Fariseër met die naam Simon stel sy huis vir die Rabbi oop. Terwyl hulle aan tafel sit, kom ‘n vrou van die dorp die vertrek binne en begin by Jesus se voete huil. Sy is jammer oor haar sonde. Sy bring reukolie en was sy voete. Sy soen dit selfs.

    Simon is ontsteld oor hierdie sondige vrou in sy huis. Hy is nog meer ontsteld daaroor dat Jesus niks doen aan haar optrede nie.

    Jesus verduidelik in ‘n gelykenis dat iemand met groter skuld groter dankbaarheid sal wys wanneer dit uit genade afgeskryf word. Die gaste is egter meer geskok oor die feit dat Jesus voorgee dat Hy sonde kan vergewe. In hulle denke kon net God sonde vergewe. So, wie dink hierdie Rabbi is hy?

    Simon (en sy gaste) mis egter die punt van die gebeurtenis. Jesus vra vir Simon in vers 44: “Sien jy hierdie vrou?”. Dit is die belangrikste vraag: Sien jy werklik die mens wat voor jou sit? Sien jy wat in haar lewe gebeur? Sien jy haar trane? Verstaan jy haar dade?

    Die vrou was iemand wat ‘n verkeerde lewe gelei het. Sy het dit iewers besef en dalk reeds vir Jesus ontmoet. Sy kan nie anders as om op hierdie draaipunt in haar lewe (weer) vir Jesus te kom soek nie. Sy

    weet sy is nie welkom in die huis van ‘n vername man nie. Sy weet sy is nie welkom in die godsdienstiges se teenwoordigheid nie. Hulle wil haar uitskuif. Hulle wil haar nie raaksien nie. In hulle oë is sy anders. Sy kan egter nie anders as om haar by Jesus se voete te kom neerlê nie.

    Jesus sien die vrou raak. Hy kyk deur die uiterlike en omvou haar hart. Hy besef dit wat sy doen, spreek boekdele. Hy verwelkom haar en vergewe haar sondes. Hy maak haar vry.

    Dikwels sien ons nie die “ander” raak nie. Ons kyk na die uiterlike en veroordeel op grond daarvan wat ons van iemand dink. Ons neem aan wat iemand se intensie is op grond van hoe ons oordeel hulle behoort op te tree.

    Die kerk is ook dikwels so. Ons hou van die “skoon” mense. Die mense wat “soos ons lyk en dink”. Ons maak tyd vir die wat dieselfde as ons is en verwerp die wat anders as ons is.

    Die verhaal van ‘n ete leer ons ‘n diep les oor ware gasvryheid. Ons behoort seker te maak dat ons, net soos Jesus, werklik “sien”.

    Die Here vra gereeld vir ons: “Sien jy die mens raak”?

    DR. ZANDER VAN DER WESTHUIZEN LUKAS 7: 36-50

    UITGENOOI-REEKS 9 - 15 FEBRUARIE 2020

    GOD SIENDIE “ANDER” RAAK

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

    Wat tref jou die meeste in die gedeelte?

    Wie is die vrou? Wat sien jy in haar?

    Hoekom sou Simon (‘n Fariseër) vir Jesus nooi vir ete?

    Wat is die betekenis van dit wat die vrou by Jesus se voete gedoen het?

    Hoekom kan Jesus haar sonde vergewe?

    Hoekom vertel die Lukas-evangelie vir ons van hierdie verhaal? Wat probeer hy daardeur vir ons leer?

    Watter mense voel asof Christene hulle nie raaksien nie? Hoekom?

    Wat kan jy doen om seker te maak jy sien werklik iemand raak?

  • 1110

    DS. WOUTER VAN WYK PSALM 34

    16 – 22 FEBRUARIE 2020

    Onlangse navorsing in Amerika is gedoen rondom die waarde van ‘n gesin wat saam eet. Hierdie navorsing was volledig binne ‘n sosiaal-wetenskaplike konteks gedoen. Dit beteken dat daar slegs gekyk is na die sosiale effekte van ‘n ete.

    Die resultate was verbysterend. Na aanleiding van die navorsing word genoem dat gesinne wat minstens vyf keer per week saam eet 50% minder probleme ondervind met dinge soos alkoholisme, depressie, eetsteurnisse en nog baie ander probleme. Dit wil dus lyk asof daar selfs vanuit sekulêre oorde die oortuiging bestaan dat etes van ongelooflike belang is.

    Dit is natuurlik ook duidelik wanneer ‘n mens die Bybel lees dat etes ‘n groot rol speel. Regdeur die Ou Testament is daar talle feeste en etes wat genoem word. Selfs die wyse waarop hierdie kos voorberei moet word, word in groot detail met ons gedeel. Dit is daarom ook nie verbasend dat etes ‘n groot rol speel in Jesus se bediening nie. ‘n Kommentator het op ‘n stadium lighartig genoem dat jy moet honger word wanneer jy die Evangelies lees, anders mis jy die vleis van die boodskap.

    Daarom is daar vir ons vandag as gelowiges steeds baie redes om erns te maak met etes. Etes het te make met ‘n oop uitnodiging. Dit het te make met gasvryheid. Dit het te make met ‘n deelname aan ‘n gemeenskap van gelowiges. Dit gaan oor gelykheid en eenheid. Nog ‘n ongelooflike belangrike rede vir saam eet, is dat dit ‘n geleentheid is om weer aan God se sorg herinner te word.

    Elke ete is opnuut ‘n teken dat God vir ons goed is. Dit is waarskynlik een van die kernwaardes vir enige ete in die Bybel. Met elke ete word die gelowige daaraan herinner dat ons alles in ons lewens aan God te danke het.

    Daarom is Psalm 34 ook in hierdie opsig relevant. Psalm 34:9 nooi ons uit: “Smaak en sien dat die Here goed is.” (1953 vertaling). Daar is soveel dinge in ons lewens wat ons graag wil oortuig dat God ons verlaat het. Al die geveg, benoudheid en aanslae van ‘n vyandige wêreld, is elke ete opnuut ‘n geleentheid om van die teendeel oortuig te word. God is teenwoordig. God bied aan ons skuiling. God is goed.

    UITGENOOI-REEKS

    GOD IS GOED

    Wat in die gedeelte tref jou die meeste?

    Dink aan etes wat jy al gehad het saam met mense. Is daar iets wat uitstaan wat jy wil deel?

    Hoe belangrik is dit vir julle om saam te eet?

    Verskillende vertalings van die Bybel vertaal vers 9 telkens anders. Lees gou as groep ‘n paar verskillende vertalings van hierdie vers saam deur en bespreek dit.

    Meeste psalms sal ook getuig van ‘benoudhede’. Dink julle daar is genoeg ruimte binne die kerk om ons kommer met God te deel?

    Wat sou vers 10 impliseer? Beteken dit dat God gelowiges ‘spesiaal’ hanteer sodat hulle nooit gebrek sal ly nie?

    Dankbaarheid is onbeskryflik belangrik vir elke persoon. Dit is wetenskaplik bewys dat dankbare mense ook meer gelukkig is. Watse rol speel dankbaarheid in julle lewe?

    Vers 19 sê God is naby die gebrokenes. Hoe sou ‘n mens dit interpreteer? Voel gebrokenes altyd asof God naby hulle is?

    Die psalm noem ‘n paar keer dat die mens by God moet skuil. Wat beteken dit prakties vir ons as gelowiges

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

  • 1312

    Die oorspronklike lesers van die Evangelies was goed op hoogte met Grieks-Romeinse maaltydgebruike soos byvoorbeeld die Simposium. Die Simposium was ’n geleentheid tot gesprek en debat (saam met kos en drank) wat direk na afloop van ’n formele banket gevolg het. Sedert die dae van Plato was hierdie simposiums ideale geleenthede om gesprek te voer met ander wat aan dieselfde gilde, filosofiese skool of godsdienstige groepering behoort het.

    Tydens sulke maaltye het die gaste gewoonlik rondom die gasheer en eregaste se hooftafel op banke aangelê wat in ’n u-vorm, bekend as ’n “triklinium”, gerangskik was. Hier het hulle dan met mekaar gesels en gedebateer.

    Ons lees van so ‘n etenstafelgeleentheid in Lukas 14. In Lukas 14:1-24 vind ons vier verhale wat almal op die Sabbat rondom die tafel afspeel. Die uniekheid van 14:7-11 is dat dit ‘n maaltyd is wat op die Sabbat plaasvind en dat die tafel gedek is vir groot konflik.

    Binne die Joodse samelewing, wat gegrond was op die primêre waardes van eer en skaamte, is openbare erkenning deur ander mense van groot belang vir individue se eie status en posisie. Jesus leer die aanwesiges egter die paradoks dat ware eer in sosiale interaksies slegs deur nederigheid verwerf kan word.

    Die maaltyd word hier die geleentheid waartydens Jesus ‘n gelykenis vertel. Oënskynlik lyk dit of die gelykenis oor etiket handel, maar eintlik handel dit oor die koninkryk van God. In hierdie tafelgemeenskap skep Jesus die geleentheid om iets oor die aard van die koninkryk van God te sê. Net sodra dit lyk asof Jesus vir hooggeplaastes ‘n nuwe tegniek wil leer oor hoe om by die beste sitplekke uit te kom deur met ‘n skyn van nederigheid op die agterste sitplekke te gaan sit, keer Jesus die appelkar om. Hy ontmasker daarmee die oppervlakkigheid van die bestaande sosiale sisteme en gedrag. Die hart van Jesus se lering aan die gaste word in vers 11 saamgevat. Daar is ‘n groot les te leer om altyd ontvanklik te wees vir nuut of anders dink. Van die vroegste tye af was maaltye die geleentheid om dié kuns as lewensvaardigheid aan te leer.

    Jesus herinner ons weer daaraan dat elke mens ‘n storie het en dat ons tyd moet maak om na mekaar te luister. Mag ons die jaar tyd maak om saam met mekaar te eet. Net dalk sit Jesus saam met ons aan tafel!

    DS. KARIN STEYN LUKAS 14: 7 -11

    23 – 29 FEBRUARIE 2020 UITGENOOI-REEKS

    GESPREKKE AAN TAFEL TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

    Wie hou van lekker eet en feesvier?

    Wanneer vier julle fees?

    Wat sien julle as gesin of vriendekring as ‘n lekker feesete?

    Wie sal jy graag wil nooi om saam met jou te eet as jy enige persoon vir ete kon nooi?

    Wat sal in jou huis gebeur as Jesus die een is wat by jou kom eet?

    Wat sal ‘n ete saam met Jesus vir julle beteken?

    Op watter manier sou so ‘n ete julle lewe verander?

    Hoe kan julle só met mekaar in families saamleef, dat elkeen in die familie ingesluit en gewaardeer voel?

    Skep ons genoeg ruimte in ons lewens dat almal welkom voel?

    Watter praktiese goed moet julle verander om meer met mekaar te kan gesels?

  • 1514

    Partykeer wonder ek wat sou gebeur het as Judas nie die brood by Jesus gevat het nie. Sulke soort vrae is eintlik sinneloos want ons weet alles het gebeur soos dit moes. Nogtans is ons al so gewoond daaraan om die skuld vir alles op Judas te pak.

    Dit is duidelik dat die Nuwe Testament self nie mal was oor die vent nie en ons het hierdie gevoel by hulle geërf. Iemand moet immers die skuld dra vir hierdie afgryslike dag. Iemand moet die sondebok wees. En Judas is kandidaat nommer een. Met verloop van tyd het die wêreld besluit om die skuld bietjie verder uit te deel deur die hele Joodse volk aanspreeklik te hou. Dit lei natuurlik tot anti-semitisme waaroor ek nie verder gaan uitbrei nie.

    Die punt is: iemand moet die skuld kry. Judas was daar, hy het die brood gevat, hy het uitgegaan en die soldate gaan haal, hy sal soen. Judas is daarom ons sondebok.

    Maar dalk mis ons iets baie belangrik in die proses. Ons kan met behulp van sosiaal-wetenskaplike inligting aflei dat Judas aan Jesus se regterkant gesit het. Om aan die eregas (Jesus) se regterkant te sit, is die grootste eer wat ʼn dissipel kon kry. Net hierdie brokkie inligting wys ons reeds hoe Jesus oor Judas gevoel het.

    Uit die res van die vertelling is dit ook duidelik dat Jesus nie skuld op Judas plaas nie. Die gebaar van voetewas moet binne die konteks van die Johannes-evangelie as simbolies verstaan word. Jesus was sy dissipels se voete, net soos wat Hy hulle sonde afwas. En wie se voete was Hy almal? Almal s’n. Judas se voete ingesluit. Selfs nadat Jesus te kenne gegee het dat Judas Hom gaan verraai, vergewe Jesus hom reeds. Selfs meer - Hy gee die dissipels opdrag om mekaar ook so te vergewe.

    Dit is wat ons by die nagmaal beleef. Een van die hoofelemente van nagmaal is dat ons saam bely dat Jesus elkeen van ons se sondes vergewe. Selfs al misken ons Jesus daagliks. Selfs al ignoreer ons God se opdragte. Selfs wanneer ons God verraai deur onsself uit te verkoop aan die dinge van die wêreld. Steeds vergewe Jesus ons. Ten spyte daarvan dat ons ALMAL sondebokke is.

    Die vraag is: voer ons dan ook Jesus se opdrag uit? Die nagmaal is nie net ‘n bevestiging van ons vergifnis van sonde nie. Dit is ook ‘n geleentheid vir ons om soos Jesus te wees. Deur mekaar se voete te was. Deur mekaar te vergewe.

    DS. WOUTER VAN WYK JOHANNES 13:1-27

    1 – 7 MAART - 2020 LYDENSTYD

    NAGMAAL TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

    Hoe het jy nog altyd oor Judas Iskariot gedink?

    Die feit dat Jesus sy dissipels se voete was, kan ‘n paar dinge beteken. Bespreek ‘n paar moontlike verduidelikings.

    Ons het die geneigdheid om sondebokke uit te soek. Is dit hoe Jesus te werk gaan?

    Die nagmaal is een van die waardevolste geskenke aan die kerk. Praat as groep saam oor wat die nagmaal vandag nog vir ons kan beteken

    Word daar iemand uitgesluit van die nagmaal in die verhaal? Bespreek.

    Vergifnis is een van die moeilikste dinge vir enige iemand om te doen. Hoe help hierdie gedeelte ons om opnuut te poog om te vergewe?

    Wie is die mense in jou lewe wat jy moet vergewe?

  • 1716

    My gunsteling fliek van alle tye is Chocolat wat in 2000 verfilm is. Wat my in die film raak, is die katolieke man wat sjokoade vir Lydenstyd opoffer en dan eindig hy in die sjokoladewinkel se venster op; vol en besmeer met sjokolade. Hy kon die versoeking net nie weerstaan nie. Dié fliek het my vir die eerste keer regtig laat dink oor “Lent” (nuwe seisoen).

    Jesus neem ons op reis saam met Hom in die wildernis in. Dit is sy lydenstyd.

    Hoe lyk die wildernis? Dis ‘n plek waar jy nie wil wees nie. ‘n Situasie waaruit jy nie kan kom nie. ‘n Plek van dors en donkerte. Maar ook ‘n plek van groei.

    In die 16de eeu skryf Johannes die Priester die boek: Die wildernis van die siel. Hierin word mense se ervarings van wildernis so mooi verwoord. Partykeer is ons in die wildernis oor drome wat verbreek is of dalk oor eensaamheid. Dis wanneer ons realiteit in die gesig staar en daar is net nie ‘n vinnige oplossing nie. Jy bevind jou dus in die wildernis as jy nie kan weghardloop nie.

    Ek het die laaste paar weke baie nagedink oor hoekom ons sekere tye in ons lewe in die wildernis beland. Ek glo dis omdat dele in ons lewe moet sterf. Dit bly vir my interessant dat die Heilige Gees Jesus in die woestyn inneem en Jesus se benadering tot hierdie reis is dan verrykend.

    Lees hierdie week herhaaldelik die verhaal van Jesus in die woestyn sodat die waarheid ook vir jou begin uitstaan - dit gaan nie vir Jesus oor WIE Hy is nie, maar oor WIE S’N Hy is!

    Dit laat ons wonder aan wie ons lewens behoort.

    DS. KARIN STEYN MATTEUS 4: 1-11

    8 – 14 MAART 2020 LYDENSTYD

    JESUS IN DIE WILDERNIS

    Gesels saam oor die betekenis van “Lent”.

    Deel met mekaar of julle al iets opgeoffer het in Lydenstyd en die ervaring daarvan vir jou.

    Hoe verstaan julle persoonlike woestyntye?

    Wat maak dit moeilik om versoekings te weerstaan?

    Lees Matteus 4 se woestynverhaal en deel met mekaar wat opnuut daarin uitstaan.

    Stop by elkeen van die versoekings op Jesus se reis en dink saam daaroor na.

    Om te sê dit gaan nie oor Wie Jesus is nie, maar WIE S’N Hy is, wys op ‘n identiteitsvraag. Hoe sal jy die vraag van identiteit antwoord?

    Hoe moet ons lyk as ons Jesus se identiteit aanneem?

    Deel verhale met mekaar waar julle na ‘n woestyntyd in julle persoonlike lewens gegroei het.

    Gesels saam oor hoe ons regtig iemand bystaan wat in ‘n woestyntyd is?

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

  • 1918

    Herodus Antipas was getroud met ‘n Arabiese koning se dogter. Hy het by sy broer, Filippus gaan kuier en op sy skoonsuster verlief geraak. Hy breek egbreuk en draai sy rug op sy eie vrou. Toe Antipas met haar trou, het Johannes die Doper in die openbaar homself daarteen uitgespreek. Herodus was ontsteld hieroor maar het nie teen Johannes opgetree nie. Tydens sy verjaarsdagvieringe het hy in ‘n swak oomblik belowe om sy nuwe vrou se dogter enige iets te gee wat haar hart begeer. Herodias (sy broer se eks-vrou) gebruik toe die oomblik om wraak te neem. Sy oorreed haar dogter om te vra vir Johannes die Doper se kop. Op die manier sterf Johannes die Doper op ‘n onregverdige en aaklige wyse.

    In Matteus 11:2-19 lees ons hoe Jesus oor Johannes die Doper gevoel het. In vers 11 lees ons “Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie”. Jesus was baie lief vir Johannes. Toe Jesus die nuus ontvang van sy dood, het Hy weggegaan om alleen te wees. Later in Matteus 17:12 vergelyk Jesus Johannes die Doper met Elia. Hy vertel dat hulle (die slegte mense) met Johannes die Doper gemaak het wat hulle graag wou. Jesus het geweet dieselfde lyding lê vir Hom voor.

    Wat doen ons wanneer slegte goed gebeur? Hier is die storie van ‘n korrupte politieke leier wat iemand wat teen hom

    uitgesproke was, vermoor. Agter dit sit daar boonop ‘n komplot! Jesus word op ‘n paar maniere hierdeur geraak. Hy beleef die verlies van ‘n vriend. Hy is ontsteld oor die onregverdigheid van dit wat gebeur het. Hy vrees (wetende) dat dieselfde met Hom gaan gebeur.

    Dit is tog interessant dat mense Jesus met hulle behoeftes omsingel juis wanneer Hy probeer om alleen te wees om deur al sy emosies te worstel. Hy kry hulle jammer en bewys liefde deur eers aan hulle aandag te gee.

    Jesus was bekend vir sy openlike kritiek teen die Herodiaanse dinastie. Hy was nie bang om teen ongeregtigheid te praat en op te staan nie. Ons moet dit ook doen.

    Jesus het ook gely in sy verlies. Hy het ook beleef wat ons beleef in tye van verlies, van seer en van aggresssie. Tog het Hy dit versigtig hanteer.

    Uiteindelik het Jesus aangehou om, ten spyte van sy eie seer, op ander te fokus. Hierin lê ‘n diep stuk lewenswysheid. Lyding kan dikwels veroorsaak dat ons selfsugtig word. Ons haak vas by ons eie emosies en seer. In die proses vorm ‘n ironiese patroon waar ek van ander vergeet. Jesus hanteer sy verlies en seer deur liefde teenoor ander te bewys. Op die manier eer Hy ook die nalatenskap van sy vriend.

    DR. ZANDER VAN DER WESTHUIZEN MATTEUS 14:1-14

    15 - 21 MAART 2020 LYDENSTYD

    AS SLEGTE DINGE GEBEUR

    Wat in die verhaal tref jou oor Johannes die Doper se lewe en dood?

    Waaraan laat die korrupsie in die verhaal jou dink?

    Watter lesse leer ‘n mens oor die gevolge van “swak oomblikke” en sonde in jou lewe?

    Hoe hanteer Jesus verlies in ‘n onregverdige situasie?

    Wat leer die gebeure jou van Jesus se menslikheid?

    Hoe reageer jy op verlies en seer?

    Hoe reageer jy op onregverdigheid?

    Watter les kan ons uit Jesus se reaksie leer?

    TYD MET ANDERGebruik hierdie gedeelte om as ‘n groep oor die teks en tema na te dink.

  • 012 809 0107 . 012 809 0445 [email protected]

    Henrylaan 51, Shere LH, Pretoria

    www.facebook.com/ngtygerpoort

    www.ngtyger.com

    nie ter wille van onsself nie