web viewin hierdie argumente het mense bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die...

6
1. Doop: Wie is reg en wie verkeerd? Christene stry al jare met mekaar oor twee basiese idees oor die doop. Die eerste is die verbondsdoop wat glo dat God die teken van die doop aan almal gee wat deel is van sy genade om mense te red. Deel van hierdie verbond of verhouding met God is dat ook kinders gedoop word omdat God nie wag dat jy vir Hom kies voor Hy vir jou kies en rein maak nie. Die tweede idee is die geloofsdoop wat van die veronderstelling uitgaan dat mens eers God se teken van redding kan ontvang as jy tot geloof gekom het en Christus as jou Verlosser aanvaar. Hierdie twee groepe Christene het so met mekaar gestry dat hulle selfs mekaar se geloof in twyfel begin trek het. In hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ander kant te luister. In Florauna is een van ons waardes dat ons erns maak met diversiteit en eers goed wil luister voor ons standpunt inneem. Ons dink dat ons nie eerlik na die verbondsdoop luister as ons dit afwys as teen die Bybel en as ’n ongeldige doop nie. Die verbondsdoop is ’n wonderlike bevestiging dat God Homself aan mense uit genade verbind. Kinders van gelowige ouers deel in hierdie verbintenis van God met mense. Die gevaar van die verbondsdoop is egter dat die doop nie regtig vir mense ’n werklikheid in hulle lewens is nie. Hulle het nooit die wonder van die doop as teken van God se liefde in hulle lewens deurlopend ervaar nie. Die doop en die Nagmaal is tog as sakramente bedoel om ons geloof te versterk en nie net as iets wat een maal lank terug met ons gebeur Doop en doopviering NG Gemeente Florauna

Upload: ngothu

Post on 06-Feb-2018

239 views

Category:

Documents


17 download

TRANSCRIPT

Page 1: Web viewIn hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ... Die standpunt oor die geloofsdoop word egter ook deur sommige

1. Doop: Wie is reg en wie verkeerd?

Christene stry al jare met mekaar oor twee basiese idees oor die doop. Die eerste is die verbondsdoop wat glo dat God die teken van die doop aan almal gee wat deel is van sy genade om mense te red. Deel van hierdie verbond of verhouding met God is dat ook kinders gedoop word omdat God nie wag dat jy vir Hom kies voor Hy vir jou kies en rein maak nie. Die tweede idee is die geloofsdoop wat van die veronderstelling uitgaan dat mens eers God se teken van redding kan ontvang as jy tot geloof gekom het en Christus as jou Verlosser aanvaar. Hierdie twee groepe Christene het so met mekaar gestry dat hulle selfs mekaar se geloof in twyfel begin trek het. In hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ander kant te luister.

In Florauna is een van ons waardes dat ons erns maak met diversiteit en eers goed wil luister voor ons standpunt inneem. Ons dink dat ons nie eerlik na die verbondsdoop luister as ons dit afwys as teen die Bybel en as ’n ongeldige doop nie. Die verbondsdoop is ’n wonderlike bevestiging dat God Homself aan mense uit genade verbind. Kinders van gelowige ouers deel in hierdie verbintenis van God met mense. Die gevaar van die verbondsdoop is egter dat die doop nie regtig vir mense ’n werklikheid in hulle lewens is nie. Hulle het nooit die wonder van die doop as teken van God se liefde in hulle lewens deurlopend ervaar nie. Die doop en die Nagmaal is tog as sakramente bedoel om ons geloof te versterk en nie net as iets wat een maal lank terug met ons gebeur het nie! In die verdediging van die verbondsdoop het gelowiges dikwels hulle ore doof gemaak vir die feit dat die verbondsdoop vir baie mense nie gehelp het om die genade van God te verstaan en beleef nie.

Die standpunt oor die geloofsdoop word egter ook deur sommige mense heeltemal verdraai. Dit is nie billik om te sê dat mense wat aan die geloofsdoop vashou nie aan God se genade glo nie maar hulle eie redding wil verdien nie. In die geloofsdoop tradisie is die klem bloot baie sterker op die verstaan van die teken van die doop en die doop as gebeurtenis waar die Heilige Gees in jou kom woon. In meeste geloofsdoop tradisies is daar een of ander seremonie soos inseëning wat ook kinders as deel van God se genade bevestig.

Doop en doopviering

NG Gemeente Florauna

Page 2: Web viewIn hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ... Die standpunt oor die geloofsdoop word egter ook deur sommige

Miskien is dit na jare se gestry nodig om breër oor die doop as teken van God se genade en redding te dink.

2. Wat beteken die doop?

Die Bybel herinner ons gereeld dat ons afgesonder voor God moet wees. Gelowiges behoort so te lewe dat hulle los is van die sonde en daarop fokus om toegewyd aan God te leef. In die Ou Testament vind ons egter dat die mense op allerhande manier onrein kon word en dan nie in God se teenwoordigheid kon kom nie (vgl. Levitikus 11-15, Deuteronomium 14). As jy onrein geword het moes jy ’n seremonie of rite ondergaan wat jou weer rein gemaak het. By hierdie seremonie was daar allerhande tekens wat jou kon help om te verstaan dat God jou rein wil maak en naby aan jou wil wees. (Vgl. Levitikus 14). Een van die belangrikste tekens in die seremonie was water. Die water moes vars wees (die letterlike vertaling uit die Hebreeus is “lewende” water) en uit ’n rivier of fontein uitkom en nie uit ’n stilstaande put nie of bak nie (vgl. Levitikus 14:5). Die seremonie met vars water het jou nie rein gemaak nie maar herinner dat God jou rein maak en ’n nuwe lewe wil gee. Omdat daar baie dinge was dat jou onrein gemaak het, was dit nodig om op gereelde basis so ’n reinheid seremonie te ondergaan. Die priesters moes ook seker maak dat hulle ’n reinheid seremonie ondergaan het voor hulle offers kon bring (vgl. Levitikus 16).

Met die verloop van tyd het hierdie gebruike hand uit geruk. Daar was naderhand duisende wette wat deur mense gemaak is oor wat jou onrein kon maak. Die klem het gou in die godsdiens op die nakom van wette en die verdien van jou verhouding met God begin val. Die wette was naderhand nie meer tekens wat jou aan God herinner het nie, maar het self soos ’n god geword (vgl. Matteus 23:13-28). Daar is baie plekke in die Bybel waar die wegbeweeg van ’n verhouding met God na die nakom van wette veroordeel word (Jeremia 7:1-15, Amos 41-5 en 5:4-9, Esegiël 11:13-21).

’n Goeie voorbeeld van hoe die mense oor reinheid gedink het kry mens by die optrede van Johannes die Doper. Hy het verkondig dat die messias na die wêreld toe sou kom. Maar voor die messias kon kom moes die mense rein gemaak word. Johannes reinig dan die mense deur hulle in die rivier te doop as teken dat hulle uitsien na die messias se koms en hulle harte oopmaak vir die boodskap van die messias. As Johannes vir Jesus doop is dit dan ook die teken dat Jesus net soos die priesters van ouds nou rein is en met sy bediening kan begin. Juis daarom wil Johannes nie vir Jesus doop nie – Jesus het mos nie nodig om gereinig te word nie, want Hy het geen sonde nie! (vgl. Matteus 3).

In hierdie skeefgetrekte wêreld waar die sonde in mense se harte kom woon het en elkeen self probeer het om naby aan God te kom, het die Vader sy Seun as Verlosser gestuur. Hy het ons in ’n verhouding met die Vader kom bring nie deur die wet te onderhou nie maar omdat ons uit genade gered word (vgl. Romeine 3:21-31). Jesus kom herinner ons weer dat die mens nie self na God toe kan kom nie maar hulle harte moet oopmaak vir God se genade en liefde. As hy aan die kruis sterf en opstaan maak Hy die mense los van die godsdiens dat jy jou redding voor God kan verdien (vgl. Johannes 5:18-29). Om rein te word, het dus nou niks meer te doen met ’n seremonie nie, maar om te weet dat God jou uit genade rein maak. Jesus vat dus ’n bekende gebruik van die tyd om jou met water rein te maak en leer sy dissipels dat die doop jou nou sal herinner dat jy net in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige

Page 3: Web viewIn hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ... Die standpunt oor die geloofsdoop word egter ook deur sommige

Gees rein word (vgl. Matteus 28:19) Dit is ook nie iets wat jy keer op keer hoef te doen nie omdat jy nie onrein word deur dinge waaraan jy raak of eet nie. As jy rein is deur God se genade is jy heeltemal rein (vgl. Johannes 13:6-10)! Die seremonie van die water was dus nou na Jesus se sterwe en opstanding nie meer net jou liggaam nie, maar is die teken dat elke mens nuut kan word en lewe net soos wat Jesus uit die dood opgestaan het (vgl. 1Petrus 3:21).

Die doop is dus nie ’n manier waarop ek vir God kies of die voorwaarde om die Heilige Gees te ontvang nie. Die doop het op sigself geen krag nie maar verwys na die krag wat in God lê. Deur die doop word ons vasgebind aan die genade van die Vader deur ons Verlosser Jesus Christus en word ons gemotiveer om elke dag al hoe meer die Heilige Gees na te volg in te groei in ons geloof.

3. ’n Paar sake waaroor ons verskil.

In die gesprekke oor die doop is daar heelwat sake waaroor mense die Bybel verskillend lees.

Vir party mense is die feit dat die Nuwe Testament meestal oor die doop van volwasse mense praat die teken dat die doop net as geloofsdoop bedien kan word. In die Nuwe testament lees ons die verhaal van mense wat gebreek het met die ou godsdiens en met ’n nuwe geloof begin het. Die Bybel vertel egter ook in die Ou Testament ’n ander verhaal van mense wat oor ’n lang tydperk van geslag tot geslag onder God se genade leef en hoe die genade ’n verbond of verbintenis tussen God en sy volk tot stand bring. Daar is ook tekste soos Handelinge 16:15 waar daar gepraat word oor die doop van ’n hele huisgesin. Dit is egter moeilik om uit die tekste te argumenteer dat die klein kinders was want die ouderdom van die lede van die huisgesin word nie hier gegee nie!

Die doop is vir party mense die geleentheid waar ek ’n nuwe mens word en my sonde afgewas word. Hulle gebruik tekste soos Titus 3:5 (in die oorspronklike Grieks is die letterlike vertaling van die doop die bad van wedergeboorte) en Handelinge 22:16 as bewys vir die standpunt. Die ander kant van die saak is egter dat mens nooit moet vergeet dat die doop jou juis help om te weet dat jy in Jesus Christus ’n nuwe mens geword het. As mens die teksverse sonder die boodskap van die res van die Bybel lees kan die doop maklik ’n krag word in plaas daarvan om ons na die krag en redding van Christus te verwys.

Vir ander mense is die manier waarop mens gedoop word baie belangrik. Die onderdompeling in die water sou dan die teken wees dat jy heeltemal skoongewas word of die besprinkeling van die water sou verwys na die sprinkel van die bloed teen die altaar as teken van die vryspreek van die sonde. Sonder om mekaar te probeer oortuig wie reg en verkeerd is, is dit belangrik om te onthou dat die water ’n teken is en nie self krag het nie. Net soos in die Ou Testament se reinheid seremonie waar vars water gebruik moes word om die nuwe lewe te simboliseer, is dit Jesus wat die water van die lewe is en nie die water self nie (vgl. Johannes 4:10 en 5:21)

4. Verbondsdoop in Florauna

Page 4: Web viewIn hierdie argumente het mense Bybel tekste gebruik sonder om met ’n oop gemoed na die ... Die standpunt oor die geloofsdoop word egter ook deur sommige

Florauna is deel van die geloofstradisie waar ons die verbondsdoop aan kinders en volwassenes bedien. Ons is oortuig dat die wonder van die verbintenis van God aan mense nie eers gebeur as ek in staat is om te antwoord op God se genade nie. Die doop is vir ons nie die teken van my aanvaarding van God se genade nie. By die doop fokus ons op God wat redding laat gebeur en nie die mens wat dit aanvaar nie.

Ons is egter oortuig dat die doop in die verbondsdoop tradisie nie tot volle reg gekom het nie. Ons moedig ouers aan dat die doop van kinders nie maar net ’n seremonie sal wees wat aan afgodery grens nie, maar ’n realiteit in die kind se lewe sal wees. Die kind moet opgroei met die wonder van die teken dat God Hom aan my verbind het lank voor ek vir hom kan kies. In hierdie opgroei saam emt die doop moet ouers kreatief maniere soek om die wonder van die doop ’n werklikheid in die kind se lewe te maak.

Die doop aan volwassenes is in die gemeente ’n wonderlike geleentheid waar mense wat nie as kind reeds die teken van God se genade ontvang het nie, dit as volwassen kan beleef. Ook in die doop van volwassenes is die klem egter nie daarop dat ek vir God kies nie, maar dat ons in die doop God se uitreik na ons erken en bely.

Ons is ook oortuig dat die mens natuurlik moet antwoord op God se genade en dat die Nagmaal die teken of sakrament is wat die bewys is dat ek God se genade in Christus aanvaar het. Elke keer as ons Nagmaal gebruik bely ons dat ons Jesus Christus as ons Verlosser aanvaar het en dat sy sterwe aan die kruis en sy opstanding my ou mens laat sterf het en my as nuwe mens laat opstaan het. Mense wat gedoop is sonder dat dit tot navolging van Christus lei verstaan nie die uitnodiging van Christus om tot ’n verhouding met die Vader te kom nie.

5. Doopviering as volwassenes

Een van die maniere waarop ons in Florauna die doop as realiteit in ons lewens vier is dat ons geleentheid skep waar ons in die kapel die kans gee vir mense om hulle doop saam met ander mense te vier en te bevestig. Dit gebeur in ’n erediens per geleentheid in ’n jaar op ’n Donderdagaand. Vir party mense is so ’n viering meer belangrik as ander en omdat ons daaraan glo om mekaar se spiritualiteite te eerbiedig skep ons ruimte vir diverse belewenisse. Die doopviering is nie ’n herdoop waar ons die verbondsdoop vervang nie, maar ’n geleentheid waar mense op spesifieke tye in hulle lewe die behoefte aan ’n meer tasbare vier van die genade van God in hulle lewens saam met ander gelowiges kan bely. Die manier waarop die doopviering plaasvind sal van diens tot diens en individu tot individu verskil.

Met die doopviering is ons nie besig om twee groepe in die gemeente te vestig waar die een groep die verbondsdoop erken en die ander groep die geloofsdoop nie. Ons erken bloot aan mekaar dat ons die wonder van God se uitreik na mense op meer as een manier kan ervaar en erken en dat ons ruimte vir mekaar daarvoor gee. Ons het inderdaad in die gemeente ontdek dat diversiteit iets is om te vier eerder as om te vermy!