terug na die bybel johan kriel 2010 12 · 2018. 11. 14. · vreemdeling geword het. van die bybel...

34
Johan Kriel Desember 2010

Upload: others

Post on 28-Jan-2021

3 views

Category:

Documents


1 download

TRANSCRIPT

  • ������������������������

    ������������

    ��������

    ��������������������

    Johan Kriel

    Desember 2010

  • 1

    VOORWOORD Is die Bybel waar? Kan ons dit vertrou? Is dit betroubare geskiedenis, óf is dit bloot net ’n versameling geskrifte van hoe mense lank gelede oor God gedink het? Óf is dit juis die wáre weergawe van die oorspronklike en outentieke vorm van godsdiens, waaruit alle ánder godsdienste (as afgodery) ontstaan het? Is die Bybel die geïnspireerde en gesaghebbende Woord van God, of is dit blote mensewerk? Die bedoeling van hierdie boekie is om die geloofwaardigheid en gesag van die Skrif duidelik uit die verf te laat kom en om sodoende mense se vertroue in die Bybel te herstel. Om waar te wees moet die Bybel histories betroubaar wees en as dit wél so is, het dit ook bepaalde implikasies vir die wetenskap. As dit die Woord van die Skepper-God is, dan kán die Bybel onmoontlik nie met die wetenskap in konflik wees nie. Ek hoop om in hierdie boekie ’n sterk saak daarvoor uit te maak dat die Bybel dié geïnspireerde bron van kennis is, sonder enige gelyke - ’n Boek waarvan die integriteit bo dié van alle ander boeke van alle tye uittroon. Ek aanbid nie die Bybel nie, maar die Outeur daarvan – die Een wat Homself in Sy Woord aan u en my bekend maak. Die Bybel vertel van dié Een wat die skrywers geïnspireer het, en daarom het dit noodsaaklik geword om dit te verdedig teen die verbete aanvalle wat vandag daarteen geloods word - want as die Woord onder verdenking kom, word die Outeur daarvan óók “verduister”. Johan Kriel.

  • 2

    INHOUDSOPGAWE

    _______________________

    VOORWOORD: 1 INLEIDING 3 HOOFSTUK 1 Hoe dwaalleer in die Kerk insluip 5 HOOFSTUK 2 Begin by die begin 10 HOOFSTUK 3 Die misterie van die sonde 14 HOOFSTUK 4 Die bronne wat egtheid rugsteun 15 HOOFSTUK 5 Eksakte beskrywings 23 HOOFSTUK 6 On-geromantiseerde waarheid 26 HOOFSTUK 7 Die rol van die Ballingskap 28 HOOFSTUK 8 Ongeëwenaarde Wysheid 29 HOOFSTUK 9 Hoe moet ons die inspirasie van die Heilige Gees verstaan? 30 SLOT 32

  • 3

    INLEIDING Om alles in perspektief te plaas, moet ek u net eers iets oor myself vertel: Ek het op die 23ste Februarie 1967 (in my vroeë twintigs) tot bekering gekom, tydens ’n reeks evangelisasie-dienste in ’n kerk in Primrose, Germiston. Op daardie stadium was ek ’n regte hardekwas-konstabel in die Speurtak van die SAP te Marshall Plein, Johannesburg. Die Here het daardie dag my lewe heeltemal omgekeer, in so ’n mate dat ek vir my vriende omtrent ’n vreemdeling geword het. Van die Bybel het ek só min geweet, dat ek die aand van my ommekeer nie eens geweet het waar Johannes 3:16 in die Bybel staan nie. Al boek van die Bybel wat ek voor daardie dag soms nog gelees het, was Spreuke. En dit was ook nie sonder frustrasie nie, want alhoewel ek kon sien dat wat daar geskryf staan, die waarheid is, kon ek nooit daarby uitkom nie. Dit was net eenvoudig te hoog vir my. By alles wat verander het, was die grootste verandering seker die liefde wat God vir Sy Woord in my hart geplant het. Ek het skielik verstaan wat die Woord van God sê, en ek kon nie genoeg daarvan lees nie. Maar my kennis van die Woord was nog erg gebrekkig en ek wou graag méér daaroor leer. So het ek op ’n dag vir Oom H.T. de Villiers gevra: “Hoe moet ek die Bybel lees om dit beter te verstaan?” Sy antwoord bly tot hierdie dag vir my kosbaar, want dit het ’n patroon in my lewe gevestig, waaroor ek nooit spyt sal wees nie. Sy woorde was: “Lees dit net Johan, lees dit net. Lees dit méér as enige ander boek. Hoe meer jy dit lees, hoe beter sal jy dit verstaan en hoe meer sal jy die verbande in die Skrif raaksien.”

  • 4

    Vanjaar (2010) is ek 43 jaar op die pad en lees ek die Bybel vir die 30ste keer deur. In die loop van die jare het ek van allerlei dinge kantaantekeninge gemaak en nou wil ek dit graag met ander deel. Dit is veral vir my belangrik om te probeer aantoon dat die Skrif nie maar net enige ou boek is nie; dat dit Goddelike gesag dra, en dat dit volledig betroubaar en waar is. In die lig van die hedendaagse neiging om die Bybel te devalueer, is dít nogal ’n groot uitdaging. Maar dis belangrik, want sónder die Bybel kan ons God nie ken soos Hy geken wil wees nie. My logika sê ook vir my dat as God die Skepper van hemel en aarde is - asook van die wetmatighede waarbinne die ganse werklikheid funksioneer - dan kan daar onmoontlik nie konflik tussen Sy geïnspireerde Woord en die wetenskap bestaan nie; en as dit in die wetenskap gaan oor die ontdekking van die volle waarheid – dan kan dit ook nie onafhanklik van God se Woord bedryf word nie. As ons konsekwent wil wees, moet erkenning van die Skepper en Sy Woord die onderbou van alle ware wetenskapsbeoefening wees, om enigsins realisties en werklikheidsgetrou te wees – want Hý is immers die Skepper en Onderhouer van die ganse bestaande werklikheid. In Sy Wese is die waarheid begrond. Ek is ook oortuig dat die Bybel se geskiedskrywing volledig betroubaar en waar is en ek hoop my pogings om dit aan te toon, sal vir baie mense nuwe lig laat opgaan en hulle ’n nuwe waardering vir die Skrif gee.

  • 5

    HOOFSTUK 1 Hoe dwaalleer in die Kerk insluip Dwaalleer is soos gif in jou kos; dit kan jou dood veroorsaak, sonder dat jy dit eens agterkom. Dit is wat tans in dele van die Kerk van Christus gebeur. Mense se geloof word ondermyn deur dwaling wat in mooi verpakkings vir hulle opgedis word; baie kom nie eens agter dat wat vandag as Evangeliese waarheid vir hulle opgedis word, radikaal verskil van die ware boodskap van die Skrif nie. So is daar teoloë wat nog ewe vroom sal bely dat hulle die Twaalf Artikels glo en hulle by die Gereformeerde belydenisskrifte hou, maar hulle versuim om te sê dat húlle vertolking daarvan radikaal verskil van die oorspronklike verstaan daarvan. Baie proffies en predikers glo doodgewoon nie meer aan die maagdelike geboorte van Jesus, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart, óf die wederkoms nie. Daarmee kom die kern-waarhede van die Evangelie in gedrang en word ’n groot vraagteken oor die bestaansreg van die Kerk geplaas. Die ergste ding wat die Kerk kón tref, is die opvatting van baie “godgeleerdes” (en al hoe meer lidmate) dat die Bybel nie die geopenbaarde Woord van God aan mense is nie, maar mense se woorde óór God. Met so ’n opvatting oor wat die Woord van God is, word die Bybel op sy kop gekeer. As dit is hoe ’n mens redeneer, kan jy van die Skrif maak net wat jy wil. En dit is wat vandag al hoe meer gebeur. In hierdie verband moet ’n mens ook iets sê oor die woord “konteks” en die wyse waarop dit vandag deur sommige geleerdes soos ’n towerstaf misbruik word. Dit is so dat ons die Skrif beter verstaan teen die agtergrond van die kultuur-historiese konteks waarbinne dit beslag

  • 6

    gekry het, maar sommige van vandag se “godsdiens-wetenskaplikes” gaan vêrder: Hulle wil nie net die Skrif lees in die lig van die historiese konteks daarvan nie, hulle verhef nou die konteks van óns dag tot die instrument waarmee ons die betekenis en boodskap van die Bybel kan verander. Dit kan dan beteken dat iets wat in die verlede verkeerd was, nie noodwendig vandag nog verkeerd is nie en omgekeerd, want ons moet kwansuis dinge besien vanuit óns konteks en vanuit óns konteks - vandag se verstaan van dinge - is dit nie meer in ons oë verkeerd nie. So word vandag se konteks normatief vir ons verstaan van die Skrif en so word die mens die regter wat besluit wat waar is of nie waar is nie. En wanneer dít gebeur, is dit die einde van ewige en onveranderlike waarheid en vaste norme en waardes – want dié kan ook oor tyd verander! Ja, selfs ons verstaan van God kan verander! Die skrikwekkende konsekwensie van so ’n beskouing van die Skrif, is dat die christelike kerk kan ontaard in ’n sinagoge van die Satan. Die kerk kan ’n plek word waar mense geleer word om téén die uitsprake van God in te gaan. Dis presies hoe erg dit is! Vraag is of dit nie alreeds aan die gebeur is nie? Hoe kon so iets gebeur? Ons almal kom met sekere vooropgesette idees na die Skrif. Dié opvattinge word gevorm deur dinge soos ons opvoeding, ons ervaringe, die tydsgees, die heersende wêreldbeskouing, ens. Hierdie vooropgesette idees word die voorveronderstellings waarmee ons die Bybel benader. Die rede waarom dit noodsaaklik is om ons voorveronderstellings op die tafel te plaas, is omdat daar

  • 7

    vandag hoofsaaklik twee uiteenlopende maniere is om na die lewe en die Bybel te kyk: Die een is ’n lewensbeskouing wat op evolusie begrond is en die ander aanvaar die Bybelse skeppingsverhaal. Dié twee vertrekpunte maak dat die Christendom vandag in twee groot kampe verdeel is. Aan die een kant is daar diegene wat meen dat alles ontstaan het soos dit in die Bybel beskryf word, maar aan die ander kant is daar diegene wat meen dat alles nog steeds evolueer. Uiteraard het dit geweldige konsekwensies vir hoe ’n mens oor die Bybel oordeel. Vir die kreasionis is die Bybel God se ware, onveranderlike Woord, waarin ewige en vasliggende waarhede vervat word. Vir die evolusionis is alle dinge aan verandering onderworpe – ook die betekenis van die Bybel én ons opvattinge oor God. Vir die konsekwente evolusionis is God ’n konsep wat oor tyd in mense se koppe ontwikkel het. As sodanig is dit ook iets wat vêrder kan evolueer. So het die monoteïsme, volgens hulle, uit die politeïsme ontwikkel. En sommige geleerdes verkondig breëbors dat ons sonder alle godskonsepte kan klaarkom. Hulle meen God is die skepping van mense en nie omgekeerd nie. Volgens hulle het die mens ’n God nie meer nodig nie. Nie alle evolusioniste is al so “ge-emansipeer” nie. Sommige wil nog aan die Bybel én evolusie vashou. Hulle glo dat God die wêreld deur evolusie geskep het. Volgens hulle sê Genesis Wié geskep het, nie hoé Hy geskep het nie. Ongelukkig vir hulle is evolusie lynreg in stryd met die Bybelse verhaal oor die skepping. Dit noop hulle om te rasionaliseer - en die Bybel bly telkens in die slag – dit moet voortdurend hervertolk word om by die evolusie-hipotese in te pas. Die Bybel word verkrag om evolusie diensbaar te wees. En dis dan wat die kernwaarhede van die Evangelie in gedrang kom – want

  • 8

    dit is nie met die sg. “wetenskap” van evolusie versoenbaar nie. Die groot jammerte is dat die Kerk hierdie onbewese en onbewysbare hipotese onkrities omarm het. Daar is doodgewoon nie ’n enkele stukkie wetenskaplike getuienis wat evolusie staaf nie. Dit is niks ánders nie, as ’n lang reeks aanmekaargeflansde aannames waarvoor daar nie die minste bewyse bestaan nie. Evolusie is nooit en nêrens te sien nie; dit bestaan slegs in die koppe van mense. Die ganse skepping presenteer spesie-spesifiek – van die geologiese kolom tot hierdie dag. Om ’n rangorde van dierelewe op te stel is geen kuns nie, maar om te beweer dat die een uit die ander oor miljoene jare evolueer het, is heeltemal ’n ander saak. Om dít te glo, moet jy tussen elke twee spesies (of soorte) die aanname maak dat die en uit die ander ontwikkel het. Op geen enkele wetenskaplike vakgebied is nog ooit enige getuienis van stawende feite aangebied nie. Niks wat in die naam van evolusie gepubliseer word, voldoen aan die vereistes van die wetenskap nie. Ons word gemesmeriseer om te glo dat die twak wat evolusioniste publiseer, wetenskaplike feite is. Dis hoog tyd dat die Kerk haar vergewis van die feite en ophou om haar deur leuens te laat mislei. Die teologie kan so ’n mistasting nie bekostig nie. Dit ondergraaf die Woord van God en is ten diepste die rede waarom lidmate “verhuis” na kerke wat nog glo dat die Bybel die Woord van God is. Evolusie is oëverblindery in die naam van wetenskap. Dis ’n illusie wat ontwerp is deur mense vir mense wat nie aan God aanspreeklik wíl wees nie. Vir die Kerk van Christus is dit die ergste gif denkbaar, ’n voortsetting van die oer-oue leuen: “Het God regtig gesê?” Hoe gouer die Kerk hiervan afskeid neem, hoe beter!

  • 9

    Die "verchristeliking" van evolusie lê ten grondslag van die teologiese relativisme van ons dag. Deïstiese evolusionisme is niks anders nie, as 'n moderne vorm van gnostisisme. Dit veronderstel dat die "meerdere" kennis van evolusie die mens "bevry" om God reg te verstaan en te dien. Die God van die Bybel word dan radikaal her-definieer, en daarmee saam die Bybel self en ook die ganse Bybelse etiek.

  • 10

    HOOFSTUK 2 Begin by die begin. Die kerk van ons Here Jesus Christus is gebou op die Woord van God, en die Woord van God is gebou op Genesis. As ons wil weet of die Bybel waar en betroubaar is, sal ons by die begin moet begin, by die merkwaardige stuk geskiedenis1 wat in Genesis 1 opgeteken is. Vir my is daar geen teenstrydigheid tussen die sigbare werklikheid en Genesis nie. Die skepping wat daar beskryf word, is dit wat ons elke dag rondom ons sien. Maar kom ons wees eerlik: niemand weet alles van die skeppingsproses nie, want geen mens was daar toe die hemel en aarde geskep is nie. Ons sal seker eers alles van die skepping weet wanneer ons die Skepper van aangesig tot aangesig sien. Maar ons kan tog ’n meer volledige prentjie van die skepping kry deur te kyk na wat ander Skrifgedeeltes ook daaroor getuig. Dit is alles in volkome harmonie met Gen.1:

    • Jes. 44:24 “Ek is die Here, Ek het alles geskep, Ek alleen het die hemel oopgespan, Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.”

    • Jes. 45:12 “Ek het die aarde gemaak; die mensdom wat daarop is, het Ek geskep. Ek het met my hande die hemel oopgespan en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.”

    • Jes. 48:13 “Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.”

    1 Gen. 2:4 “Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.”

  • 11

    • Job 26:7 “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie.”

    • Job 38:6,7 “Wie het [die aarde] aanmekaar gesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?”

    • Ps.136:5-9 “Hy het die hemel met soveel insig gemaak... Hy het die aarde op die waters gevestig…Hy het die groot hemelligte gemaak…die son om te heers oor die dag... die maan en die sterre om te heers oor die nag.”

    • 2Pet. 3:5,6 “Hiermee vergeet hulle [die spotters] moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het. En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het.”

    Lees dit nou saam met Gen.1:1,2 en kyk hoe pragtig sluit dit by mekaar aan: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” Dis merkwaardig dat die skrywers van die Bybel so lank terug al kon sê dat God die hemele “oopgesprei” en “aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee” het, die aarde “laat hang waar daar niks is nie”, en dat die aarde “uit water en deur water” ontstaan het. Onthou net, hulle het nie ’n Hubble Teleskoop of rekenaars gehad nie! Dit wat hulle duisende jare terug reeds geweet het, moes aan die eerste mense geopenbaar gewees het, want daar was geen ánder manier waarop hulle dit te wete kon kom nie. Vers 3 beskryf hoe daar lig op aarde gekom het: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” Dan skei God die lig en donker van mekaar en later word dit aand en weer môre (duidelik roteer die aarde op sy eie

  • 12

    as) en so loop die eerste dag ten einde en begin die tweede dag. Kreasioniste verskil oor die vraag of die skepping in ses 24-uur dae plaasgevind het, of nie. Sommige meen dat ons nie (son)tyd kan terugdateer vanaf dag 4 - toe die son geskep is - na die begin van die skepping nie, en verkies derhalwe om liewer te praat van ses skeppingsdae. Hoe dit ook al sy, dié verskille maak nie die geloofwaardigheid van die Bybel se verhaal van die skepping ongedaan nie en is beslis ook geen bewys vir evolusie nie; dit is bloot ’n aanduiding van hoe baie ons nog oor die skepping moet leer. Op die tweede skeppingsdag het God “’n gewelf” gemaak en “die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf” (Vers 7) Op die derde dag van die skepping is die grond en die water van mekaar geskei. Die grond word nou “aarde” genoem en die water “see”. Op dieselfde dag laat God plante uit die aarde voortspruit “elkeen na sy aard”. Die uitdrukking “elkeen na sy aard” word nie minder nie as nege keer in Gen.1 gebruik - dit word gebruik vir alle lewe wat God geskep het, plante sowel as diere. Ek dink as God iets ánders bedoel het, sou Hy dit ook baie duidelik gesê het! Soos ons reeds weet, sê die Woord dat die son, maan en sterre op dag vier gemaak is. (Dit is m.i. nie dieselfde “hemel” waarna in vers een verwys word nie, maar waarskynlik óns sonnestelsel.) Dit is die begin van “seisoene, dae en jare”. Op die 5de dag skep die Here “die groot seediere” en “al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard” (Gen.1:21).

  • 13

    Op dag ses maak God “die wilde diere op die aarde” en ook die mens. Dis uit hierdie stuk skeppingsgeskiedenis duidelik dat alle plante en diere op aarde tussen dag drie en dag ses gemaak is. En uit die res van Genesis is dit ook duidelik dat al die mense en landdiere op aarde later deur die Sondvloed uitgewis is2 - insluitende die oer-gediertes (soos dinosourusse) wat opgegrawe word - alles behalwe die mense en diere wat in die Ark behoue gebly het. Dit is hoe steenkool en olie ontstaan het uit hope en hope plantmateriaal wat in ’n kort tyd onder modder begrawe is. Kan ons dit glo? Absoluut! Want dit is presies soos die werklikheid presenteer. Alles – hede en verlede - getuig van ’n spesie-spesifieke skepping. Ook die tekens van Noag se vloed is oral te sien – ’n mens hoef maar net in ’n vliegtuig te ry en af te kyk; die merke wat deur aflopende water in gegroef is op die grond, is duidelik sigbaar – jy moet behoorlik blind wees om dit nie te sien nie! Genesis is geen mite nie; dis geskiedenis – geopenbaarde geskiedenis! En daar is niks wat eens by benadering daarmee vergelyk kan word nie.

    2 Gen. 6:5-8:22

  • 14

    HOOFSTUK 3 Die misterie van die sonde Die skepping is op die sesde dag voltooi. Van nou af vermeerder die geskape wesens, maar niks nuuts word meer geskep nie.3 Ook sterre en planete kan vermeerder, maar dit is nie in wese iets nuuts nie. Die mens is die kroon van God se skepping. God wil met sy skepping liefdevolle interaksie hê. Die enigste manier waarop dit moontlik is, is dat dié wat na Sy Beeld geskape is, die vryheid moet kan hê om te kies of hulle ook met Hóm interaksie wil hê, of nie. God, wat in liefde skep, wil wederliefde van Sy skepping teenoor Hom hê; Hy wil nie ’n poppespel hê nie. Gevolglik gee God vir die mens die keuse om Hom lief te hê en te dien, óf om sy rug op Hom te draai.4 Maar nog vóór God die mens die vryheid gegee het om Hom te dien of nie, het Hy rééds ’n reddingsplan in plek gehad: Indien die mens die ondenkbare sou doen en God verwerp, sou Hy vir Sy skepping ’n Weg terug na Hom berei. Jesus is daardie Weg en Sy offer vir ons sondes maak vir alle mense die Waarheid en die Lewe toeganklik. So word God se geliefde skepping weer deur Sy self-opofferende liefde met Homself versoen en kan ons in Sy heerlikheid deel. Die Bybel is die verhaal van hoe God geskep het, hoe die mens afvallig geword het en wat God deur al die eeue heen gedoen het om die mens na Homself terug te bring. Dit is die Boek waarin God sy liefde vir ons op skrif laat stel het, die verhaal van sy onbeskryflike geduld en onmeetbare genade vir ons. 3 Gen.2:2 4 Gen.2:16

  • 15

    HOOFSTUK 4 Die Bronne wat egtheid rugsteun Het die Bybel die karakter van ’n boek wat ’n mens kan glo? Kan jy by die lees van hierdie merkwaardige geskrif agterkom dat God hierin met jóú praat? Het die Bybel die inherente krag om lewe en bevryding, geloof en hoop, wysheid en kennis aan ons oor te dra – op ’n manier wat dit bó enige ander menslike geskrif verhef en wat van Goddelike inspirasie getuig? Dawid het duidelik geen twyfel daaroor gehad nie; In Ps.19:8-12 besing hy die Woord van God só: “Die Woord van die Here is volmaak: dit Gee lewe...is betroubaar...gee wysheid...dui die regte koers aan...bring blydskap...is helder...gee insig...is goed...staan altyd vas...is regverdig...kosbaarder as goud, soeter as heuning”. Verreweg die grootste gedeelte (bykans 60%) van die Bybel is geskiedenis. Aangesien die historiese gedeeltes betroubaar is, is dit alreeds ’n duidelike bewys dat bo-menslike krag daarin aan die werk was en steeds is. Dink daaraan: oor millennia het baie mense ’n aandeel gehad aan die skryf van ’n boek wat ons vandag die Bybel noem. Maar ten spyte daarvan is daar één deurlopende tema – God se liefdevolle bemoeienis met die mens – één tema wat konsekwent van begin tot einde die hele karakter van die boek bepaal. Is so iets regtig menslik moontlik? Kon enige mens of mense dit van begin tot einde oor eeue heen beplan en tot uitvoering bring? ’n Mens moet regtig in sprokies glo, om dít te glo! Is die geskiedkundige verhale uit die lug gegryp? Is dit merendeel net “mondelingse oorlewering” - soos so graag beweer word? Beslis nie. Daar is geen antieke geskrif wat eens by benadering na soveel geskrewe historiese bronne verwys nie. Die volgende lang lys

  • 16

    rugsteun die betroubaarheid van wat in die Bybel opgeteken staan, is kenmerke van die egtheid daarvan, én dit bewys dat daar reeds in Bybelse tye oor baie dinge baie deeglik boek gehou is. Ons kan maklik bo-oor hierdie inligting lees, sonder om te besef presies hoe waardevol dit éintlik is. Die lys wat hier vermeld word, is nie eens volledig nie. Dit sal die moeite loon om dit self in die Skrif na te slaan (die bronne word onderstreep):

    • In Num. 21:14 word daar verwys na “die Boek van die Oorloë van die Here” om aan te dui waar Israel o.a. in die woestyn kamp opgeslaan het; In 21:27 word “die digters” aangehaal - ook oor die tog deur die woestyn, op pad na Palestina.

    • In Deut. 31:24 word melding gemaak van Moses wat “hierdie wet, tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken het.” In vers 19 beveel die Here vir Moses “Teken hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete.” In die volgende hoofstuk word die lied dan woordeliks aangehaal.

    • In Josua 10:13 word “die Boek van die Opregte” aangehaal oor die stilstand van die son.

    • 1Kon.11:41 verwys na “die annale van Salomo”, waarin sy dade en wysheid opgeteken is. 1Kon.22:46 praat van die verhale oor Josafat, soos “opgeteken in die annale van die konings van Juda”.

    • 2Kon.15:15,21 verwys na “die annale van die konings van Israel.”

    • 1Kronieke bevat op sy eie ’n lang lys bronne. In 1Kron. 4:22 word na die seuns van Juda verwys, aan die hand van “lyste...uit ‘n ou oorlewering”. Van Simeon se nageslag word gesê: “...hulle is so in die geslagsregisters opgeneem.” (1Kron.4:33). Daar word ook van die lys gepraat (vers 38).

  • 17

    Wanneer daar in 1Kron.7:5,7 en 9 van Issaskar en Benjamin se geslagte gepraat word, word daar na die register verwys. Hoofstuk 9:1 gee insiggewende inligting oor die omvattendheid van die boekhouding: “Die hele Israel is in registers opgeneem. Hulle name staan opgeteken in die annale van die konings van Israel”. Die Aäronitiese diensgroepe is deur Semaja, Dawid se administratiewe amptenaar, opgeskryf, soos in 1Kron. 24:6 aangehaal. In hoofstuk 26:31 word daar verwys na “’n opname van die Hebrongroep” wat in die veertigste jaar van Dawid se regering gemaak is. Hoofstuk 27 begin so: “Hier volg ‘n opgawe van die Israelitiese familiehoofde... aanvoerders..en die toesighoudende amptenare ..” Die opname is deur Joab gemaak (v.24). Daar word ook in 1Kron. 29:29 verwys na die geskrifte van Samuel, Natan en Gad.

    • 2 Kronieke bevat net so ’n indrukwekkende lys bronne: In 9:29 word verwys na “Die verhale van die profeet Natan, Die Profesieë van Agija van Silo en Die Gesigte van die Siener Jedi oor Jerobeam seun van Nebat”; In 12:15 staan daar: “Die verhale oor Rehabeam...is opgeteken in Die verhale van die Profeet Semaja en die Siener Iddo, wat oor die geslagsregisters handel”; 13:22 verwys na “Die res van die verhale oor Abia...opgeteken in Die Kommentaar van die Profeet Iddo”; 16:11 maak ook melding van die annale van die konings van Juda en Israel waarin die verhale oor koning Asa opgeteken is; Volgens 20:34 is die verhale oor koning Josafat “opgeteken in Die Verhale van Jehu Seun van Ganani, wat (ook) opgeneem is in die annale van die konings van Israel”; 24:27 deel

  • 18

    ons mee dat detail oor koning Joas se lewe opgeneem is in “Die Kommentaar op die Boek van die Konings”; In 25:26 word daar weer verwys na die annale van die konings van Juda en Israel, waarin verhale oor Amasia opgeteken is; 26:11 maak melding van die telling en indeling van die leër van Ussia deur die sekretaris Jeïel; 26:22 verwys die leser na die verhale oor Ussia, wat deur die profeet Jesaja neergeskryf is; Uit 27:7 is dit duidelik dat ander verhale oor Jotam ook gelees kan word in die annale van die konings van Israel en Juda; In 30:6-9 word die inhoud van ’n brief van koning Hiskia aan die hele Israel en Juda woordeliks aangehaal; Volgens 31:14-19 was die Leviet Kore deur koning Hiskia opdrag gegee om ’n register van priesters en leviete saam te stel, t.w.v. hulle lewensonderhoud; in hoofstuk 32:32 word verwys na “Die ander verhale oor Hiskia...(wat) opgeteken is in Die Gesig van die Profeet Jesaja...en in Die Boek van die Konings van Juda en Israel”; Manasse se sondes is “opgeteken in Die Verhale van die Sieners” (33:19); Koning Josia het die Leviete opdrag gegee om hulleself familiegewys te orden vir die paasfees “soos dit bepaal is in die handleidings van koning Dawid van Israel en sy seun Salomo (35:4); Dit het die gebruik in Israel geword om treurliedere oor Josia te sing. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere (35:25); “Die ander verhale oor Josia is opgeteken in Die Boek van die Konings van Israel en Juda” (35:27); So ook die verhale oor Jojakim (36:8); Die Boek 2Kronieke word afgesluit met die skriftelike proklamasie van

  • 19

    koning Kores van Persië wat na sewentig jaar van ballingskap uitgereik is (36:22-23).

    • Esra begin waar 2Kronieke eindig, met die proklamasie van Kores, wat woordeliks aangehaal word (1:2-4); die goed wat Nebukadnesar uit die tempel verwyder het, is in opdrag van Kores deur Mitredat, die sekretaris van die tesourie, sorgvuldig en volledig gelys (1:7-11); ’n Opgawe is gemaak van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekom het na Jerusalem en Juda toe. Die hele lang lys word in 2:3-66 vermeld. Selfs die getal perde, muile kamele en donkies word aangedui; In hoofstuk 4:11-6 sien ons ’n afskrif van die brief aan koning Artasasta, waarin beswaar gemaak word teen die bou van die tempel. In vers 17-22 volg die koning se antwoord; In 5:6-17 is ’n afskrif van ’n brief van Goewerneur Tattenai en ander aan koning Darius om weer beswaar aan te teken teen bouwerk aan die tempel in Jerusalem; In die argiewe in Babel is daar ’n geskrif gevind wat verwys na die proklamasie van Kores (6:1-5); Koning Darius se skrywe in reaksie daarop word dan aangehaal (6:6-12); Na die voltooiing van die tempel is die indeling van die priesters en leviete gedoen soos dit in die boek van Moses voorgeskryf is (6:18); In hoofstuk 7:11-26 volg ’n afskrif van die volmag wat koning Artasastra aan Esra verleen het; Vanaf 7:27 tot 9:15 word Esra direk aangehaal. Dit is ’n outobiografiese bron wat deur die skrywer net so in die boek ingevoeg word; In hoofstuk 10:18 word die name gelys van die priesters wat met vreemde vrouens getrou het.

  • 20

    • In Nehemia tref ons ook ’n paar interessante bronne aan: In hoofstuk 6:6-7 haal hy aan uit ’n brief van Sanballat; In 7:5 skryf Nehemia “Ek het die register van dié wat eerste teruggekom het, in die hande gekry en daarin die volgende opgeskryf gevind” en dan volg ’n volledige lys, ingedeel volgens families “in totaal 42,360, afgesien van hulle slawe en slavinne; dié was 7,337. Dan was daar nog 245 sangers en sangeresse, asook 435 kamele en 6,720 donkies.” (7:66); Hoofstuk 11 bevat “’n lys van die hoofde van die provinsie Juda wat in Jerusalem gewoon het”; Hoofstuk 12:1-26 verwys na “’n lys van die priesters en leviete wat saam met Serubbabel...en Jesua teruggekom het”; In 13:1 word verwys na “die boek van Moses”.

    • In Ester word drie keer verwys na “die annale van die konings van Medië en Persië”, waarin die verhaal van die verraad teen koning Ahasveros opgeteken is (2:23; 6:1; 10:2). Hoofstuk 3 handel oor ’n proklamasie wat deur koning Ahasveros uitgevaardig is en wat toe wetgewing geword het, dat die Jode in sy ryk op die 13de van die 12de maand uitgeroei moes word. Daar word ook verwys na die Briewe wat Mordegai laat skryf het, waarin ’n regstellende proklamasie van die koning vervat is, en wat na al die Jode uitgestuur is (8:9 –16; 8:20), sowel as na die skriftelike opdrag van die koning dat Haman gestraf moes word (9:25). Die boek word afgesluit met ’n verwysing na “die volle verhaal...oor Moredegai” wat “opgeteken is in die annale van die konings van Medië en Persië”

    • In Daniël kry ons die Belydenis van koning Nebukadnesar, wat gestuur is “aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld

  • 21

    woon” (Hoofstuk 4); In hoofstuk 7 word ’n droom wat Daniël opgeskryf het, woordeliks weergegee; Hoofstuk 8 tot 12 is ’n stuk outo-biografie oor openbaringe wat Daniël ontvang het.

    • Lukas maak in sy skrywe aan Teofilus melding van “baie wat onderneem het om ’n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het...soos dit aan ons oorgelewer is deur...ooggetuies.”5 Dan skryf hy: “Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van vooraf te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge...heeltemal betroubaar is.” Hy sit sy noukeurige en betroubare beskrywing voort in die Handelinge van die Apostels met die verhaal van die groei van die Kerk (Hand.1:1ev)

    Opsommend kan ons met groot stelligheid sê dat die Bybel ’n boek is wat histories uitstekend geattesteer is. Die verhale waarvan die Bybel getuig, word aan werklike historiese gebeurtenisse gekoppel. Dit beteken dat dié verhale verifieerbaar was, en nog steeds is, gegewe genoegsame argeologiese fondse. Dis nie net los verhale wat in die lug hang, of uit die duim gesuig is nie en dra duidelik die karakter van werklikheidsgetroue en betroubare historiese geskrifte. Dit onderskei die Bybel van die mites, sages en legendes van ander godsdienste. NOTA: Baie mense staar hulle blind teen enkele verhale wat hulle meen die Skrif ongeloofwaardig maak, soos dat die Duiwel deur ’n slang met Eva gepraat het; die donkie wat met Bileam gepraat het; Jona wat vir ’n kort tyd deur 5 Luk.1:1,2

  • 22

    God in ’n vis lewend gehou is; yster wat op water gedryf het, ens. Vraag is, is die skepping nie van alle wonderwerke die heel grootste nie? En as God die ganse skepping in aansien kon roep, is dit regtig onmoontlik vir die Skepper om mense te genees, diere as sprekende werktuie te gebruik, ’n stad se mure te laat intuimel, Sy Seun uit ’n maagd te laat gebore word en uit die dood op te wek? Wat bly van die God van die Bybel oor as iets vir Hom onmoontlik is? Hy staan immers bó die wetmatighede van Sy eie skepping, en is nie daardeur gebind nie. Daarom is niks vir Hom moeilik of onmoontlik nie.6

    6 Luk.1:37

  • 23

    HOOFSTUK 5 Eksakte beskrywings Wat ’n mens vêrder ook opval by die lees van die Bybel, en wat die geloofwaardigheid daarvan nog vêrder verhoog, is die gedetailleerde presisie waarmee baie dinge beskryf word. Die volgende is slegs ’n paar uitstaande voorbeelde daarvan:

    • Die vele geslagsregisters7, wat soos ’n ruggraat deur die Skrif loop en die geheel aan mekaar verbind. Dit begin by Genesis en loop deur tot by die lewe van Jesus. En daar is ’n onmiskenbare integriteit aan hierdie lang lyste van name - hulle weerspreek mekaar nêrens nie en hulle is só akkuraat dat die ouderdom van die mensdom tot op Adam aan die hand daarvan bereken kan word. Baie mense vind hierdie lang lyste vervelig, maar as ’n mens besef dat dit eintlik merktekens van egtheid is, kry jy nuwe waardering daarvoor en sien jy dit in ‘n nuwe lig.

    • Die beskrywing van die bou v.d. die Tabernakel8 en die Tempel.9 Hierdie beskrywings is so presies dat mense vandag nog replikas daarvan kan maak. Die materiaal, hoeveelhede en werk wat gedoen moet word, word tot in die fynste detail beskryf – tot op die lissies en hakies wat die stroke materiaal van die Tabernakel aanmekaar moes heg.

    • Selfs die voorskrif vir die maak van die priesters se klere word in groot detail beskryf.10

    7 Gen.5:1; Eks.6:15,18; Mat.1:1 8 Eks.26, 27, 35, 36, 38-40. 9 1Kon.6 en 7; 2Kron. 3 en 4. 10 Eks. 28

  • 24

    • In Josia 13 tot 22 word akkurate beskrywings gegee van die grondgebied wat aan die verskillende stamme van Israel toegeken is.

    • Die verhale oor die geskiedenis van die konings van Israel. Elke koning wat oor Israel regeer het, se lewe en werk word beskryf – met vermelding van vele bronne wat die verhale rugsteun.11

    • Die beskrywing van die terugkeer van die bannelinge. Die hele proses van verifiëring van afkoms, plek van oorsprong in Israel, die beroeps-agtergrond van voorgeslagte (t.w.v. die behoud van korporatiewe geheue en vaardighede), hoe take in Israel in die verlede gedoen is en weer gedoen moet word, waar mense moet gaan woon, ens, word noukeurig beskryf 12

    • Die organisering van die terugkerendes uit ballingskap vir die Tempeldiens, streng volgens afstamming: priesters, profete, poortwagte, sangers en die wat vir orde en regspraak verantwoordelik is.13

    • Die eksakte beskrywing van die afmetings van die Tempel14

    • Die beskrywing van die inwyding van die Tempel in Salomo se tyd.15

    • Die gedetailleerde lys van die Tempelgereedskap wat 70 jaar tevore deur Nebukadnesar uit Jerusalem weggeneem is. Dit word beskryf tot op die hertelling daarvan.16

    11 Sien hierbo onder “Bronne” 12 1Kron.6 13 1Kron.22 ev. 14 2Kron. 3,4. 15 2Kron.6 ev. 16 Esra.1:7ev.

  • 25

    • Die numeriese opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekeer het na Jerusalem en Juda.17

    • Die akkurate beskrywing van wie watter deel van die muur rondom Jerusalem herstel het.18

    • Die noukeurige beskrywings van die lewe en werk van Jesus in die vier Evangelies.

    • Die handelinge van die apostels word ook vir ons as geskiedenis beskryf. Dis veel meer as net ’n mooi storie – dit word aan ’n hooggeplaaste gerig, wat vir seker nie tevrede sou wees met iets minder as die waarheid nie. 19

    ’n Mens sou nog vele voorbeelde by hierdie lys kon byvoeg, maar die oplettende leser sal besef dat hierdie maar net enkele voorbeelde is van die akkuraatheid waarmee die Bybel baie dinge beskryf, en dat dit tekenend is van die integriteit van hierdie wonderbaarlike geskrif.

    17 Esra 2 18 Neh.3,7 19 Hand.1:1,2.

  • 26

    HOOFSTUK 6 On-geromantiseerde waarheid Iets anders wat ook getuig vir die integriteit en waarheid van die Skrif, is die on-geromantiseerde vermelding van die waarheid; mense se sondes word nie toegepleister nie, maar verhale word vertel nes dit gebeur het. Hier is ’n paar goeie voorbeelde:

    • Sarai was kinderloos, toe gee sy haar Egiptiese slavin, Hagar, vir Abraham om by dié vir haar ’n kind te verwek. Abraham, die vader van die gelowiges, het hom daarby ingelaat!20

    • Lot het ná die verwoesting van Sodom en Gomorra in ’n grot gaan woon. Omdat sy dogters gemeen het dat hulle nooit mans sou kry nie, het hulle Lot dronk gemaak en by hulle pa verwagtend geraak.21

    • Toe Ragel nie verwagtend kon word nie, het sy Sarai se streke uitgehaal en haar slavin Bilha aan Jakob gegee om vir haar ’n seun in die wêreld te bring. Jakob – een van die stamvaders en kleinkind van Abraham - sê ook nie “nee” nie! Toe doen Jakob se ander vrou, Lea, boonop dieselfde ding.22

    • Moses, die “sagmoedigste man op aarde”, die man wat ’n hele volk vir 40 jaar deur die woestyn gelei het, vervies hom vir die volk en tree téén die bevel van God op.23

    • Dawid, die man na God se hart, die koning van Israel, vergryp hom aan een van sy

    20 Gen.16:1,2. 21 Gen.19:30-38. 22 Gen. 30:1-13. 23 Num. 20

  • 27

    leeraanvoerders, Urija, se vrou. Dan pleeg hy nog boonop moord om sy sonde te verberg. Die hele siek saga word vertel24; Later verkrag een van sy seuns, Ammon, Dawid se dogter Tamar en Dawid versuim om teen hom op te tree. Dit lei tot die opstand van Absalom en die moord op Ammon25, en uiteindelik die burgeroorlog wat volg26. Dawid se versuim om een van sy seuns, Adonia, behoorlik op te voed, word ook aan die lig gebring27

    • Jefta, die rigter, maak ’n heidense gelofte aan God om die eerste een wat na sy oorwinning by sy tuiskoms uit sy huis uit sou kom, te offer – teen die hele grein van God se wet in offer hy dan sy eie dogter. Dit word nie verbloem nie, maar beskryf28

    • Een van die ergste verhale van vergrype en die konsekwensies daarvan, is dié van die verkragting van ’n Leviet se byvrou in Betlehem. Die harde werklikheid word vertel nes dit gebeur het29

    Die punt is, soos Jesus tot die Vader bid: “U Woord is die waarheid!”30 Dit dra ’n inherente, maar duidelike en oortuigende integriteit en gesag in hom rond. Vir wie ook al wil hoor, is dit ’n onmiskenbare spreke van God déúr mense tót mense.31

    24 1Sam.11 25 2Sam.13 26 2Sam.15-18 27 1Kon.1:6 28 Rigters11:30-40 29 Rigters 19 en 20. 30 Joh. 17:17 31 2Tim.3:16; 2Pet.1:20

  • 28

    HOOFSTUK 7 Die rol van die ballingskap Uit die ondergemelde Skrifgedeeltes blyk duidelik dat groot dele van die OT teen die einde van die ballingskap finaal vorm aangeneem het.32 Die doel daarvan was meervoudig: na 70 jaar van vervreemding was dit nodig dat die nuwe geslagte geleer moes word oor die godsdiens van die voorgeslagte. Maar soos wat die terugkeer nader gekom het, moes daar ook ordereëlings getref word. Dit was ook noodsaaklik dat die Tempeldiens behoorlik gestruktureer moes word; dat mense moes kon terugkeer na hulle plekke van oorsprong; dat die historiese verskeurdheid tussen Juda en Israel oorbrug word; dat mense wat reg daartoe gehad het, in Jerusalem kon vestig; dat opportuniste uitgesif kon word, ens. Die ballingskap het gevolglik ’n belangrike bydrae gelewer tot die voltooiing van groot dele van die Woord van God. En as die ballingskap vir die ganse kerk daarná iets beteken het, dan was dit juis hierdie feit. Die ironie is dat die behoefte aan die boekstawing van God se heilshandelinge met Israel dalk nie so sterk sou gewees het, as dit nie vir die ballingskap was nie. Maar dit was juis die vervreemding, die weg wees van Jerusalem en die Tempel, wat die behoefte laat ontstaan het om God se liefde vir Israel vir die nageslag op skrif te stel. Die skrywers wou nie toelaat dat die nageslag vergeet van die Woord van God aan die voorgeslagte nie. En in en deur dit alles was dit God wat déúr mense Sy Woord vêrder op skrif laat stel het. Dis die eintlike wonder van alles. 32 Gen.36:31; Rigters 17:6; 18:1,30; 19:1; 2Kon.17; 1Kron.5:25-26: 2Kron.36:21-23.

  • 29

    HOOFSTUK 8 Ongeëwenaarde Wysheid In die Wysheidsliteratuur (Psalms, Spreuke, Prediker) vind ons wysheid sonder enige gelyke. Die wysheid van Spreuke is foutloos en omvattend. So ook dié van die Prediker. En die Psalms gee ons ’n werklikheidsgetroue weergawe van wat dikwels in die mens se gees aangaan; ’n mens kan daarmee assosieer – selfs wanneer pyn en lyding en opstand en twyfel ter sprake is. Dit is so tekenend van werklike mense in ’n werklike historiese omgewing. Boonop is dit geïnspireer; die Grote God het seker gemaak dat alle mense van alle tye daarvan verseker kan wees dat Hy hulle gemoedstemming te alle tye ken, en dat Hy hulle genadig wil wees en in ’n liefdevolle verhouding met hulle wil staan. Hierdie geskrifte het eenvoudig nie hulle gelyke in enige ander godsdienstige tradisie nie. Voeg daarby die Profetiese geskrifte van Jesaja, Jeremia en Esegiël, sowel as die kleiner profete en die Openbaring, en jy praat van ’n verstommende en bo-menslike bundel literatuur, waarin baie dinge wat vooruit voorspel is, reeds in vervulling gegaan het. Dit op sigself is al genoeg om enige regdenkende mens te oortuig dat ons nie te make het met ’n mensgemaakte geheel nie. En dan is daar nog die leerstellige-33 en ander briewe34 van die Nuwe Testament. Hier is daar so ’n eenheid en kongruensie van denke, dat dit eintlik lagwekkend is om te beweer dat dit op enige ander manier, as deur Goddelike inspirasie, tot stand kon kom! 33 Romeine tot Hebreërs 34 Jakobus tot Judas

  • 30

    HOOFSTUK 9 Hoe moet ons die inspirasie van die Skrif verstaan? Maar beteken alles wat hierbo gesê is dat die Bybel hoogstens net op ’n suiwer menslike vlak aanvaar kan word as ’n buitengewone boek sonder enige gelyke? Ja en Nee; dit is die Bybel inderdaad, maar dit is ook veel méér: die Bybel is God se geïnspireerde Woord.35 Die inhoud getuig daarvan, en logika wil dit hê dat geen mensgemaakte boek oor soveel millennia so onfeilbaar kan wees nie. Boonop is daar dele in die Bybel wat op geen ander manier bekend kon word nie, as deur die openbaring van die Heilige Gees self:

    • Die skepping36 • God se besluit oor die sondvloed37 • Wat die Here oor Sodom gedink het38 • Die gesprek tussen God en die Satan in Job39 • Jesus se gebed in Getsémané40 en sy plek in die

    hemel41 • Die openbaring van toekoms-gebeure aan veral

    die profete, Daniël en aan Johannes op Patmos. Baie mense het oor baie eeue meegewerk aan die skryf van die Bybel, maar dis duidelik dat God die hele proses – van begin tot einde - bestuur het. Hy het mense gebruik, met al hulle gawes, opvoeding en ervaring, om Sy Woord op skrif te stel – en Hy het Sy kerk gebruik om die versamelde geskrifte in een Boek bymekaar te bring.

    35 2Tim.3:16; 2Pet.1:20 36 Gen.1 37 Gen.6:5-7 38 Gen.18:17 39 Job 1 40 Mark.14:35-36 41 Mark 16:19

  • 31

    Maar deur die werking van die Heilige Gees is die eindproduk ’n Boek wat met reg die Woord van God genoem word.

  • 32

    SLOT Die Woord van God is die mees fenomenale en geloofwaardige geskrif wat ooit op aarde geskryf is. Niks ánders kan eens by benadering daarmee vergelyk word nie. Dit dra onteenseglik die karakter van waarheid en spreek met ’n gesag en met wysheid wat onmiskenbaar is. Dit openbaar aan ons die liefde van God wat geskep het, verlos het, en onophoudelik by Sy skepping betrokke bly. Kortom, dit is die geïnspireerde Woord van God. Dit bly natuurlik ’n ope vraag of iemand sonder die verligting van die Heilige Gees ooit werklik tot die besef kan kom dat die Bybel God se Woord is. Die Outeur verstaan immers wat Hy wou oordra en Sy Gees is gevolglik ook die Een wat die bedoelinge van God die beste aan ons bekend kan maak.42 Maar dit is ook waar dat baie mense, wat met ’n kritiese ingesteldheid die Bybel begin bestudeer het, tot ánder insigte gekom het. Jy kan beswaarlik erns maak met die Skrif sonder om by die Outeur daarvan uit te kom. Die probleem is dat die vooropgesette idees van mense, wat vooraf besluit dat die Bybel maar net blote mensewerk is, hulle kan verblind vir die waarheid. Ongelukkig kan mense se keuse vir ’n sondige leefwyse hulle óók verblind en ontoeganklik maak vir enige ánder siening as hulle eie.43 Dis waarskynlik ook hoekom sommige wetenskaplikes so ‘n venynige afkeur van die Bybel het. Die Bybel waarsku ons: “...daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle

    42 1Kor.2:14 “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.” 43 Rom.1:18-32

  • 33

    leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.”44 Petrus waarsku ook: “Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word.”45 En Hosea verwyt selfs die priesters van sy dag “omdat 'n hoergees die priesters beetgepak het en hulle aan hulle God ontrou geword (het).”46 Wat hieruit duidelik word, is dat ‘n mens se leefwyse bepalend kan wees vir wat hy oor God en Sy Woord glo. ‘n Losbandige lewe kan ‘n mens se verstand net so benewel soos enige verslawende middel. Baie mense is in verset teen God se Woord omdat hulle op dié wyse hulle eie leefwyse wil regverdig. As jy God, óf Sy Woord, kan wegredeneer, bly daar niemand meer oor teenoor wie jy in ’n geestelike of morele sin aanspreeklik hoef te wees nie. Daarom is dit in ons dag so noodsaaklik om die waarheid van die Woord te verdedig teen die aanslae wat daarteen geloods word. Alhoewel geen menslike poging ooit volledig aan die Bybel reg kan laat geskied nie, vertrou ek nogtans dat hierdie poging iets van die wonder van die Skrif belig het. Ek kan maar net hoop dat hierdie boek gelowiges in hulle geloof sal versterk, en dat daar wel mense sal wees wat by die lees hiervan ’n nuwe waardering vir die Bybel gevind het. Vir my is die Woord van God onteenseglik die kosbaarste van al my aardse besittings. Aan God al die eer! Johan Kriel

    44 2Tim.4:3,4; 45 2Pet. 3:3 46 Hos. 4:10